Bloed
Definisie: ’n Waarlik wonderlike vloeistof wat deur die bloedvatstelsel van mense en die meeste veelsellige diere vloei, voeding en suurstof voorsien, afvalprodukte wegvoer en ’n belangrike rol speel in die beskerming van die liggaam teen infeksie. Daar is so ’n hegte verband tussen bloed en die lewensprosesse dat die Bybel sê: “Die siel van die vlees is in die bloed” (Lev. 17:11). As die Bron van die lewe het Jehovah duidelike instruksies gegee oor hoe bloed gebruik moet word.
Christene word beveel om hulle ‘van bloed te onthou’
Hand. 15:28, 29: “Die Heilige Gees en ons [die bestuursliggaam van die Christengemeente] het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is [of, doodgemaak is sonder om die bloed te laat uitloop] en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen. Vaarwel!” (Die eet van bloed word daar gelykgestel met afgodediens en hoerery, dinge waaraan ons ons nie wil skuldig maak nie.)
Dierevleis mag geëet word, maar nie die bloed nie
Gen. 9:3, 4: “Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit alles aan julle. Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie.”
Enige dier wat vir voedsel gebruik word, moet behoorlik gebloei word. Een wat verwurg is of in ’n strik doodgaan of wat gevind word nadat dit gevrek het, is nie geskik vir voedsel nie. (Hand. 15:19, 20; vergelyk Levitikus 17:13-16.) Enige voedsel waarby volle bloed of selfs bloedfraksie gevoeg is, mag nie geëet word nie.
Die enigste gebruik van bloed wat nog ooit deur God goedgekeur is, is vir offerandes
Lev. 17:11, 12: “Die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel. Daarom het Ek aan die kinders van Israel gesê: Niemand van julle mag bloed eet nie; ook die vreemdeling wat onder julle vertoef, mag geen bloed eet nie.” (Al daardie diere-offers onder die Mosaïese Wet het die een offer van Jesus Christus afgeskadu.)
Hebr. 9:11-14, 22: “Christus, wat opgetree het as Hoëpriester . . . het . . . ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ’n ewige verlossing teweeggebring. Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ’n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees, hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien. . . . Sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.”
Ef. 1:7: “In Hom [Jesus Christus] het ons die verlossing deur sy bloed, die vergifnis van die misdade na die rykdom van sy genade.”
Hoe het diegene wat in die vroeë eeue G.J. bely het dat hulle Christene is die Bybel se bevele in verband met bloed verstaan?
Tertullianus (c. 160-230 G.J.): “Laat julle onnatuurlike weë beskaamd staan voor die Christene. Ons het nie eens die bloed van diere by ons maaltye nie, want dit bestaan uit gewone voedsel. . . . Tydens die verhore van Christene bied julle [heidense Romeine] vir hulle bloedwors aan. Julle is natuurlik daarvan oortuig dat die einste ding waarmee julle hulle van die regte weg wil laat afwyk vir hulle onwettig is. Hoekom glo julle, wanneer julle seker is dat die bloed van ’n dier hulle sal laat ril, dat hulle gulsig na mensebloed sal smag?”—Tertullian, Apologetical Works, and Minucius Felix, Octavius (New York, 1950), in Engels vertaal deur Emily Daly, bl. 33.
Minucius Felix (derde eeu G.J.): “Ons deins dermate van mensebloed terug, dat ons nie eens die bloed van eetbare diere in ons kos gebruik nie.”—The Ante-Nicene Fathers (Grand Rapids, Mich.; 1956), geredigeer deur A. Roberts en J. Donaldson, Dl. IV, bl. 192.
Bloedoortappings
Sluit die Bybel se verbod mensebloed in?
Ja, en die vroeë Christene het dit so verstaan. Handelinge 15:29 sê: “Onthou [julle] . . . van bloed.” Dit sê nie dat ons ons net van dierebloed moet onthou nie. (Vergelyk Levitikus 17:10, NAV, wat mense verbied het om “enige bloed” te eet.) Tertullianus (wat die opvattings van vroeë Christene verdedig het) het gesê: “Ons beskou die verbod op ‘bloed’ as (’n verbod) wat nog te meer vir mensebloed geld.”—The Ante-Nicene Fathers, Dl. IV, bl. 86.
Is ’n oortapping werklik dieselfde as om bloed te eet?
Wanneer ’n pasiënt in die hospitaal nie mondelik kan eet nie, kry hy aarvoeding. Gehoorsaam ’n persoon wat nooit bloed in sy mond gesit het nie maar bloed deur middel van ’n oortapping aanvaar het werklik die bevel om hom ‘van bloed te onthou’? (Hand. 15:29). Kom ons lig dit toe: ’n Man word deur sy dokter meegedeel dat hy hom van alkohol moet onthou. Sou hy gehoorsaam wees as hy ophou om alkohol te drink maar dit regstreeks in sy are laat spuit?
Is daar alternatiewe behandeling in die geval van ’n pasiënt wat bloed weier?
’n Eenvoudige soutoplossing, Ringer-oplossing en dekstran kan dikwels as plasma-uitdyers gebruik word, en dit is in feitlik alle moderne hospitale beskikbaar. Trouens, die risiko’s wat met bloedoortappings gepaard gaan, word vermy as ’n mens hierdie stowwe gebruik. Die Canadian Anaesthetists’ Society Journal (Januarie 1975, bl. 12) sê: “Die risiko’s van bloedoortappings is die voordele van plasmasurrogate: bakteriese of virusinfeksie, oortappingsreaksies en Rh-vatbaarmaking word vermy.” Jehovah se Getuies het geen godsdiensbeswaar teen die gebruik van bloedlose plasma-uitdyers nie.
Jehovah se Getuies vind in werklikheid baat by beter mediese behandeling omdat hulle nie bloed aanvaar nie. ’n Dokter het in die American Journal of Obstetrics and Gynecology (1 Junie 1968, bl. 395) erken: “Dit ly geen twyfel dat jou chirurgie geneig is om te verbeter in die situasie waar jy [die chirurg] opereer sonder die moontlikheid van ’n bloedoortapping nie. Jy is ’n bietjie aggressiewer in die vasklamping van elke bloeiende bloedvat.”
Alle soorte chirurgie kan met welslae sonder bloedoortappings uitgevoer word. Dit sluit opehartoperasies, breinchirurgie, die afsit van ledemate en die algehele verwydering van kankeragtige organe in. In die New York State Journal of Medicine (15 Oktober 1972, bl. 2527) het dr. Philip Roen gesê: “Ons het nie gehuiwer om enige en alle nodige chirurgiese prosedures uit te voer nie, al is bloedvervanging verwerp.” Dr. Denton Cooley, by die Texas-Hartinstituut, het gesê: “Ons is so beïndruk deur die resultate met Jehovah se Getuies [wanneer bloedlose plasma-uitdyers gebruik is] dat ons die prosedure op al ons hartpasiënte begin gebruik het” (San Diego se Union, 27 Desember 1970, bl. A-10). “‘Bloedlose’ opehartchirurgie wat oorspronklik vir volwasse lede van die Jehovasgetuie-sekte ontwikkel is omdat hulle geloof bloedoortappings verbied, is nou aangepas sodat dit met veiligheid in delikate hartoperasies op babas en kinders gebruik kan word.”—Cardiovascular News, Februarie 1984, bl. 5.
As iemand sê—
‘Julle laat julle kinders sterf omdat julle bloedoortappings weier. Ek dink dit is verskriklik’
Jy kan antwoord: ‘Maar ons laat toe dat hulle oortappings kry—die veiliger soort. Ons aanvaar dié soort oortappings wat nie die risiko van dinge soos VIGS, hepatitis en malaria meebring nie. Ons begeer net die beste behandeling vir ons kinders, soos sekerlik die geval is met enige liefdevolle ouer.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Wanneer daar ernstige bloedverlies is, is die grootste behoefte om die vloeistofvolume te herstel. U besef ongetwyfeld dat meer as 50 persent van ons bloed uit water bestaan; dan is daar die rooi en wit selle, ensovoorts. Wanneer baie bloed verloor is, stort die liggaam groot hoeveelhede opgegaarde bloedselle in die stelsel en versnel dit die produksie van nuwe selle. Maar vloeistofvolume is nodig. Plasma-uitdyers wat geen bloed bevat nie, kan in daardie behoefte voorsien, en ons aanvaar dit.’ (2) ‘Plasma-uitdyers is al met uitstekende resultate op duisende persone gebruik.’ (3) ‘Wat die Bybel in Handelinge 15:28, 29 sê, is vir ons selfs belangriker.’
Of jy kan sê: ‘Ek kan u standpunt insien. Ek veronderstel u sien u eie kind in daardie situasie. As ouers sal ons immers alles in ons vermoë doen om ons kind se welsyn te beveilig, nie waar nie? As mense soos ek en u ’n sekere soort mediese behandeling vir ons kind weier, sal daar beslis ’n baie goeie rede daarvoor moet wees.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Dink u dat sommige ouers dalk beïnvloed word deur wat God se Woord hier in Handelinge 15:28, 29 sê?’ (2) ‘Die vraag is dus: Het ons genoeg geloof om te doen wat God beveel?’
‘Julle glo nie aan bloedoortappings nie’
Jy kan antwoord: ‘Die koerante het stories gepubliseer oor sommige situasies waarin hulle gemeen het dat Getuies sou sterf as hulle nie bloed aanvaar het nie. Is dit wat u in gedagte het? . . . Waarom neem ons hierdie standpunt in?’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Het u u vrou (man) so lief dat u u lewe vir haar (hom) in gevaar sou stel? . . . Daar is ook manne wat hulle lewe vir hulle land waag, en hulle word as helde beskou, nie waar nie? Maar daar is iemand wat groter is as enige persoon of ding hier op aarde, en dit is God. Sou u u lewe waag uit liefde vir hom en lojaliteit aan sy heerskappy?’ (2) ‘Die geskil hier is in werklikheid lojaliteit aan God. Dit is God se Woord wat ons aansê om ons van bloed te onthou (Hand. 15:28, 29).’
Of jy kan sê: ‘Daar is baie dinge wat vandag taamlik algemeen is en deur Jehovah se Getuies vermy word—byvoorbeeld leuens, owerspel, diefstal, rook en, soos u gemeld het, die gebruik van bloed. Waarom? Omdat ons ons deur God se Woord laat lei.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Het u geweet dat die Bybel sê dat ons ons ‘van bloed moet onthou’? Ek wil dit graag vir u wys (Hand. 15:28, 29).’ (2) ‘U onthou moontlik dat God vir ons eerste ouers, Adam en Eva, gesê het dat hulle van elke boom in Eden kon eet, behalwe een. Maar hulle was ongehoorsaam, het daardie verbode vrug geëet en alles verloor. Hoe onverstandig tog! Vandag is daar natuurlik geen boom met verbode vrugte nie. Maar ná die Vloed van Noag se dag het God weer een verbod vir die mens gestel. Hierdie keer was dit in verband met bloed (Gen. 9:3, 4).’ (3) ‘Die eintlike vraag is dus: Het ons geloof in God? As ons hom gehoorsaam, het ons die vooruitsig op die ewige lewe in volmaaktheid onder sy Koninkryk. Selfs al sterf ons, verseker hy ons van ’n opstanding.’
‘Gestel ’n dokter sê: “Jy sal sterf sonder ’n bloedoortapping”’
Jy kan antwoord: ‘Kan die dokter, indien die situasie werklik so ernstig is, waarborg dat die pasiënt nie sal sterf nie as hy bloed ontvang?’ Dan kan jy byvoeg: ‘Maar daar is iemand wat ’n persoon weer lewend kan maak, en dit is God. Stem u nie saam dat dit ’n onverstandige besluit sou wees as ’n mens God die rug sou toekeer deur sy wet te oortree wanneer die dood jou in die gesig staar nie? Ek het waarlik geloof in God. Het u? Sy Woord beloof ’n opstanding vir diegene wat in sy Seun glo. Glo u dit? (Joh. 11:25).’
Of jy kan sê: ‘Dit kan beteken dat hý nie weet hoe om die geval verder sonder die gebruik van bloed te behandel nie. Ons probeer, indien moontlik, om hom in aanraking te bring met ’n dokter wat die nodige ondervinding het, of ons kry ’n ander dokter.’