Hel
Definisie: Die woord “hel” kom in baie Bybelvertalings voor. In dieselfde verse gebruik ander vertalings “die graf”, “die doderyk”, ensovoorts. Ander Bybels translitereer eenvoudig die woorde in die oorspronklike tale wat soms met “hel” weergegee word; dit wil sê, hulle druk dit uit met die letters van ons alfabet, maar hulle laat die woorde onvertaald. Wat is daardie woorde? Die Hebreeuse sjeool en sy Griekse ekwivalent haiʹdes, wat nie op ’n individuele graf sien nie, maar op die gemeenskaplike graf van die gestorwe mensdom; ook die Griekse geʹen·na, wat gebruik word as ’n simbool van ewige vernietiging. Maar in die Christendom en in talle nie-Christelike gelowe word daar geleer dat die hel ’n plek vol demone is waar die goddelose, na hulle dood, gestraf word (en sommige glo dat dit met foltering geskied).
Toon die Bybel of die dode pyn verduur?
Pred. 9:5, 10: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie . . . Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk* waar jy heengaan nie.” (As hulle glad niks weet nie, ervaar hulle klaarblyklik geen pyn nie.) (*“Die graf”, KJ, Kx; “hel”, Dy; “Sjeool”, NW, AS, RS, NE, JB.)
Ps. 146:4: “Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne* gedaan.” (*“Gedagtes”, NW, KJ; “planne”, NAV, RS, TEV.)
Toon die Bybel dat die siel ná die dood van die liggaam voortleef?
Eseg. 18:4: “Die siel* wat sondig, dié moet sterwe.” (*“Siel”, NW, KJ, Dy, RS, NE, Kx; “die mens”, NAV, JB; “die persoon”, TEV.)
“Die begrip ‘siel’, met verwysing na ’n suiwer geestelike, onstoflike werklikheid, apart van die ‘liggaam’, . . . bestaan nie in die Bybel nie.”—La Parole de Dieu (Parys, 1960), Georges Auzou, professor in die Heilige Skrif, Rouen-kweekskool, Frankryk, bl. 128.
“Hoewel die Hebreeuse woord nêfêsj [in die Hebreeuse Skrifte] dikwels met ‘siel’ vertaal word, sou dit verkeerd wees om ’n Griekse betekenis daaraan te heg. Nêfêsj . . . word nooit voorgestel as iets wat apart van die liggaam funksioneer nie. In die Nuwe Testament word die Griekse woord psuchè dikwels met ‘siel’ vertaal, maar daar moet weer eens nie geredelik aangeneem word dat dit die betekenis het wat die woord vir die Griekse filosowe gehad het nie. Dit beteken gewoonlik ‘lewe’, of ‘lewenskrag’, of, soms, ‘die self’.”—The Encyclopedia Americana (1977), Dl. 25, bl. 236.
Watter soort mense gaan na die Bybelse hel?
Sê die Bybel dat die goddelose hel toe gaan?
Ps. 9:18: “Die goddelose sal teruggaan na die doderyk,* al die heidene wat God vergeet.” (*“Hel”, Dy; “Sjeool”, 9:17 in AS, RS, NE, JB, NW.)
Sê die Bybel ook dat regskapenes hel toe gaan?
Job 14:13: “[Job het gebid:] Ag, as U my maar in die doderyk* wou wegsteek, my wou verberg totdat u toorn bedaar het, my ’n bepaalde tyd wou stel en dan aan my wou dink!” (God self het gesê Job is “’n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad”.—Job 1:8.) (*“Hel”, Dy; “die graf”, KJ; “Sjeool”, AS, RS, NE, JB, NW.)
Hand. 2:25-27: “Dawid sê van Hom [Jesus Christus]: . . . U sal my siel nie aan die doderyk* oorlaat of u Heilige oorgee om verderwing te sien nie.” (Die feit dat God Jesus nie aan die hel ‘oorgelaat’ of daar ‘laat bly’ (KJ) het nie, gee te kenne dat Jesus ten minste ’n ruk lank in die hel of Hades was, nie waar nie?) (*“Hel”, KJ, Dy; “die doderyk”, NAV, TEV; “Hades”, AS, RS, JB, NW.)
Kom enigiemand ooit uit die Bybelse hel?
Openb. 20:13, 14: “Die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk* het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk* is in die poel van vuur gewerp.” (Die dode sal dus uit die hel verlos word. Let ook daarop dat die hel nie dieselfde as die poel van vuur is nie, maar in die poel van vuur gewerp gaan word.) (*“Hel”, KJ, Dy, Kx; “die doderyk”, NAV, TEV; “Hades”, NE, AS, RS, JB, NW.)
Waarom bestaan daar verwarring oor wat die Bybel oor die hel sê?
“Baie verwarring en misverstand is veroorsaak deurdat die vroeë vertalers van die Bybel aanhoudend die Hebreeuse Sjeool en die Griekse Hades en Gehenna met die woord hel vertaal het. Die eenvoudige transliterering van hierdie woorde deur die vertalers van die hersiene uitgawes van die Bybel was nie voldoende om hierdie verwarring en wanbegrip merkbaar op te klaar nie.”—The Encyclopedia Americana (1942), Dl. XIV, bl. 81.
Vertalers het toegelaat dat hulle persoonlike opvattings hulle werk beïnvloed in plaas van die woorde in die oorspronklike tale konsekwent weer te gee. Byvoorbeeld: (1) Die King James Version het sje’oolʹ met “hel”, “die graf” en “die kuil” weergegee; haiʹdes is daarin met sowel “hel” as “die graf” weergegee; geʹen·na is ook met “hel” vertaal. (2) Today’s English Version translitereer haiʹdes as “Hades” en gee dit ook weer met “hel” en “die doderyk”. Maar benewens die feit dat dit haiʹdes met “hel” vertaal, gebruik dit dieselfde vertaling vir geʹen·na. (3) The Jerusalem Bible translitereer haiʹdes ses keer, maar elders vertaal dit dit met “hel” en “die onderwêreld”. Dit vertaal geʹen·na ook met “hel”, net soos haiʹdes twee keer met “hel” weergegee word. Die juiste betekenisse van die woorde in die oorspronklike tale word aldus verberg.
Gaan die goddeloses vir ewig gestraf word?
Matt. 25:46: “Hulle sal weggaan in die ewige straf [“afsnyding”, Int; Grieks, koʹla·sin], maar die regverdiges in die ewige lewe.” (The Emphatic Diaglott sê “afsnyding” in plaas van “straf”. ’n Voetnoot lui: “Kolasin . . . kom van kolazoo, wat beteken: 1. Om af te sny; soos om die takke van bome af te kap, te snoei. 2. Om te bedwing, te beteuel. . . . 3. Om te kasty, te straf. As ’n individu van die lewe, of die gemeenskap, afgesny of selfs bedwing word, word dit as straf beskou;—vandaar hierdie derde figuurlike gebruik van die woord. Die hoofbetekenis is hier gebruik, want dit pas beter by die tweede deel van die sin en bewaar aldus die krag en skoonheid van die teenstelling. Die regverdiges gaan na die lewe, die goddelose na die afsnyding van die lewe, of die dood. Kyk 2 Thess. 1:9.”)
2 Thess. 1:9: “Hulle sal as straf ondergaan ’n ewige verderf,* weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte.” (*“Ewige vernietiging”, NW; “ewige verdoemenis”, NAV; “hulle straf sal wees . . . vernietiging wat vir ewig sal aanhou”, LB.)
Jud. 7: “Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aan geloop het, . . . [het] die straf van die ewige vuur ondergaan.” (Die vuur wat Sodom en Gomorra vernietig het, het duisende jare gelede opgehou brand. Maar daardie vuur het ’n blywende uitwerking gehad; die stede is nie herbou nie. God se oordeel was egter nie net teen daardie stede nie, maar ook teen hulle goddelose inwoners. Wat met hulle gebeur het, is ’n waarskuwende voorbeeld. In Lukas 17:29 sê Jesus dat hulle “vernietig” is; Judas 7 toon dat die vernietiging ewig is.)
Wat is die betekenis van die ‘ewige pyniging’ waarvan Openbaring praat?
Openb. 14:9-11; 20:10: “As iemand die dier en sy beeld aanbid en ’n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. En die rook van hulle pyniging [Grieks: ba·sa·ni·smouʹ] gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie—hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang.” “En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.”
Wat is die ‘pyniging’ waarvan hierdie tekste praat? Dit is opmerklik dat Openbaring 11:10 melding maak van ‘profete wat die bewoners van die aarde pynig’. Sulke pyniging is die gevolg van die vernederende ontmaskering deur die boodskappe wat hierdie profete verkondig. Openbaring 14:9-11 sê dat aanbidders van die simboliese “dier en sy beeld” “gepynig word met vuur en swawel”. Dit kan nie sien op bewuste lyding ná die dood nie, want “die dooies weet glad niks nie” (Pred. 9:5). Wat veroorsaak dan dat hulle soveel pyn verduur terwyl hulle nog lewe? Dit is die aankondiging deur God se knegte dat aanbidders van die “dier en sy beeld” die tweede dood, voorgestel deur die “poel wat brand met vuur en swawel”, sal ondervind. Die rook wat met hulle vurige vernietiging geassosieer word, gaan tot in alle ewigheid op omdat die vernietiging permanent is en nooit vergeet sal word nie. Wat beteken dit wanneer Openbaring 20:10 sê dat die Duiwel ‘tot in alle ewigheid gepynig gaan word’ in die “poel van vuur en swawel”? Openbaring 21:8 sê duidelik dat “die poel wat brand met vuur en swawel” “die tweede dood” beteken. Die feit dat die Duiwel vir ewig daar “gepynig” gaan word, beteken dat daar vir hom geen verligting sal wees nie; hy sal vir ewig bedwing word, in werklikheid in die ewige dood. Hierdie gebruik van die woord “pyniging” (uit die Griekse baʹsa·nos) herinner ’n mens aan die gebruik daarvan in Mattheüs 18:34, waar dieselfde basiese Griekse woord toegepas word op ’n ‘tronkbewaarder’.—RS, AT, ED, NW.
Wat is die ‘vurige Gehenna’ waarvan Jesus gepraat het?
Gehenna word 12 keer in die Christelike Griekse Skrifte gemeld. Vyf keer word dit regstreeks met vuur geassosieer. Vertalers het die Griekse uitdrukking geʹen·nan tou py·rosʹ weergegee met “helse vuur” (AB, NAV, KJ, Dy), “die hel se vuur” (LB), “vurige kuil” (AT) en “die vure van Gehenna” (NAB).
Geskiedkundige agtergrond: Die dal Hinnom (Gehenna) was buitekant die mure van Jerusalem. Dit was ’n ruk lank die terrein van afgodsaanbidding, onder meer kinderoffers. In die eerste eeu is Gehenna gebruik as die verbrandingsplek vir die vullis van Jerusalem. Die karkasse van diere is in die dal gegooi om deur die vuur verteer te word. Swawel is by die vuur gegooi om die verbrandingsproses aan te help. Ook die lyke van tereggestelde misdadigers, wat mense gemeen het nie ’n begrafnis in ’n gedenkgraf waardig is nie, is in Gehenna gegooi. Daarom het Jesus in Mattheüs 5:29, 30 gesê dat ’n mens se “hele liggaam” in Gehenna gewerp kan word. As die lyk geval het in die vure wat voortdurend gebrand het, is dit verteer, maar as dit beland het op ’n lys van die diep kloof, is die ontbindende vlees ingeneem deur die immer teenwoordige wurms (Mark. 9:47, 48). Lewende mense is nie in Gehenna gegooi nie; dit was dus nie ’n plek van bewuste foltering nie.
In Mattheüs 10:28 waarsku Jesus sy hoorders: “Vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel [“Gehenna”, NW].” Wat beteken dit? Let op dat hier geen melding is van pyniging in die vuur van Gehenna nie; hy sê eerder: ‘Vrees Hom wat kan verderwe in Gehenna.’ Deur die “siel” afsonderlik te meld, beklemtoon Jesus hier dat God al ’n persoon se lewensvooruitsigte kan vernietig; daar bestaan dus geen hoop op ’n opstanding vir hom nie. Die verwysings na die ‘vurige Gehenna’ het dus dieselfde betekenis as die ‘poel van vuur’ van Openbaring 21:8, naamlik vernietiging, “die tweede dood”.
Wat sê die Bybel is die straf vir die sonde?
Rom. 6:23: “Die loon van die sonde is die dood.”
Word ’n persoon na sy dood nog verder vir sy sondes gestraf?
Rom. 6:7: “Hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.”
Is ewige foltering van die goddeloses verenigbaar met God se persoonlikheid?
Jer. 7:31: “Hulle [afvallige Judeërs] het die hoogtes van Tofet gebou wat in die dal van die seun van Hinnom is, om hulle seuns en hulle dogters met vuur te verbrand—iets wat Ek nie beveel het nie en in my hart nie opgekom het nie.” (As dit nie in God se hart opgekom het nie, dan het en gebruik hy sekerlik nie so iets op ’n groter skaal nie.)
Ter toeligting: Wat sou jy dink van ’n ouer wat sy kind se hand in die vuur druk om die kind vir ’n oortreding te straf? “God is liefde” (1 Joh. 4:8). Sou hy iets doen wat geen weldenkende mense-ouer sou doen nie? Beslis nie!
Het Jesus geleer dat die goddeloses ná die dood gefolter word toe hy van die ryk man en Lasarus vertel het?
Is die beskrywing in Lukas 16:19-31 letterlik of bloot ’n illustrasie van iets anders? The Jerusalem Bible erken in ’n voetnoot dat dit ’n “gelykenis is in die vorm van ’n verhaal sonder verwysing na enige werklike persoon”. Indien dit letterlik opgeneem word, sou dit beteken dat diegene wat goddelike guns geniet, almal in die boesem van een man, Abraham, pas; dat die water op ’n mens se vingerpunt nie deur die vuur van Hades verdamp sal word nie; dat ’n blote druppel water verligting sal verskaf aan iemand wat daar ly. Klink dit vir jou redelik? Indien dit letterlik was, sou dit ander dele van die Bybel weerspreek. Sou ’n liefhebber van die waarheid die Bybel as ’n grondslag vir sy geloof gebruik as die Bybel homself so weerspreek het? Maar die Bybel weerspreek homself nie.
Wat beteken die gelykenis? Die “ryk man” het die Fariseërs voorgestel. (Kyk vers 14.) Die bedelaar Lasarus het die gewone Jode voorgestel wat deur die Fariseërs verag is maar wat berou getoon en volgelinge van Jesus geword het. (Kyk Lukas 18:11; Johannes 7:49; Mattheüs 21:31, 32.) Hulle dood was ook simbolies en het ’n verandering in omstandighede voorgestel: dat diegene wat tevore verag is, God se guns verkry het, en dat diegene wat oënskynlik tevore begunstig is, deur God verwerp is terwyl hulle gefolter is deur die oordeelsboodskappe wat verkondig is deur diegene wat tevore deur hulle verag is.—Hand. 5:33; 7:54.
Waar het die leer oor die helse vuur ontstaan?
In antieke Babiloniese en Assiriese opvattings word die “onderwêreld . . . beskryf as ’n plek vol gruwels waaroor gode en demone met groot krag en wreedheid toesig hou” (The Religion of Babylonia and Assyria, Boston, 1898, Morris Jastrow jr., bl. 581). Vroeë getuienis van die vurige aspek van die Christendom se hel word in die godsdiens van eertydse Egipte aangetref (The Book of the Dead, New Hyde Park, N.Y., 1960, met inleiding deur E. A. Wallis Budge, bl. 144, 149, 151, 153, 161). Boeddhisme, wat uit die sesde eeu v.G.J. dateer, het mettertyd sowel warm as koue helle geleer (The Encyclopedia Americana, 1977, Dl. 14, bl. 68). Afbeeldings van die hel in Katolieke kerke in Italië is teruggevoer tot Etruriese oorspronge.—La civiltà etrusca, (Milaan, 1979), Werner Keller, bl. 389.
Maar die werklike oorsprong van hierdie God-onterende leerstelling strek veel dieper. Die duiwelse begrippe wat met ’n hel van foltering geassosieer word, is godslasterlik en het hulle ontstaan by God se aartslasteraar (die Duiwel, wie se naam “Lasteraar” beteken), die een wat deur Jesus Christus “die vader van die leuen” genoem is.—Joh. 8:44, NAV.