Heiliges
Definisie: Volgens die Rooms-Katolieke leer is heiliges diegene wat gesterf het en nou saam met Christus in die hemel is en wat van die Kerk erkenning ontvang het vir buitengewone heiligheid en deug. Die Trentse geloofsbelydenis sê dat die heiliges aangeroep moet word as voorsprake by God en dat die relieke van heiliges sowel as beelde van die heiliges vereer moet word. Ander kerke beroep hulle ook op die heiliges vir hulp. Sommige gelowe leer dat al hulle lede sondelose heiliges is. Die Bybel praat baie van heiliges. Dit noem Christus se 144 000 geesgesalfde volgelinge heiliges.
Leer die Bybel dat ’n persoon hemelse heerlikheid moes verkry het voordat hy as ’n heilige erken word?
Die Bybel praat beslis van heiliges wat in die hemel is. Jehovah word “die Heilige [Grieks, haʹgi·on]” genoem. (1 Pet. 1:15, 16, NW; kyk Levitikus 11:45.) Jesus Christus is beskryf as “die Heilige [haʹgi·os] van God” toe hy op die aarde was en as “die Heilige [haʹgi·os]” in die hemel (Mark. 1:24; Openb. 3:7). Ook die engele is ‘heilig’ (Hand. 10:22). Dieselfde basiese uitdrukking in die oorspronklike Grieks word op ’n groot getal persone op aarde toegepas.
Hand. 9:32, 36-41: “Onderwyl Petrus oral rondgaan, het hy ook gekom by die heiliges [ha·giʹous] wat in Lidda woon . . . En in Joppe was daar ’n sekere dissipelin met die naam van Tabita [wat gesterf het] . . . [Petrus] het hom na die liggaam gedraai en gesê: Tabita, staan op! En sy het haar oë oopgemaak; en toe sy Petrus sien, het sy regop gesit. En hy gee haar sy hand en laat haar opstaan. Daarop roep hy die heiliges en die weduwees en stel haar lewendig voor hulle.” (Dit is duidelik dat hierdie heiliges nog nie in die hemel was nie en dat nie net ’n besondere individu soos Petrus as ’n heilige beskou is nie.)
2 Kor. 1:1; 13:12: “Paulus, ’n apostel van Jesus Christus deur die wil van God, en Timotheüs, die broeder, aan die gemeente van God wat in Korinthe is, saam met al die heiliges [ha·giʹois] wat in die hele Achaje is.” “Groet mekaar met ’n heilige kus. Al die heiliges groet julle.” (Al hierdie vroeë Christene wat deur die bloed van Christus gereinig is en vir God se diens afgesonder is as toekomstige mede-erfgename van Christus word heiliges genoem. Erkenning van hulle heiligheid is klaarblyklik nie uitgestel totdat hulle gesterf het nie.)
Is dit Skriftuurlik om tot “heiliges” te bid om as voorsprake by God op te tree?
Jesus Christus het gesê: “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, . . . ” Gebede moet dus tot die Vader gerig word. Jesus het ook gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. . . . As julle iets in my naam vra, sal Ek dit doen” (Matt. 6:9; Joh. 14:6, 14). Jesus het dit dus duidelik gestel dat niemand anders as voorspraak kan dien nie. Aangaande Christus het die apostel Paulus bygevoeg: “Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree” (Rom. 8:34; Hebr. 7:25). Sal dit nie verstandig wees om God te nader op die wyse wat sy Woord voorskryf as ons waarlik wil hê dat ons gebede deur God gehoor moet word nie? (Kyk ook bladsye 290, 291, onder “Maria”.)
Ef. 6:18, 19: “Waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges en vir my, sodat ’n woord my gegee mag word as ek my mond oopmaak om met vrymoedigheid die verborgenheid van die evangelie bekend te maak.” (Hier is daar aansporing om vir die heiliges te bid, maar nie tot hulle of deur hulle nie. Die New Catholic Encyclopedia, 1967, Dl. XI, bl. 670, erken: “In die N[uwe] T[estament] word alle gebede, privaat sowel as openbare liturgiese gebede, gewoonlik deur Christus tot God die Vader gerig.”)
Rom. 15:30: “Ek vermaan julle, broeders, by onse Here Jesus Christus en by die liefde van die Gees, om saam met my in die gebede te stry vir my by God.” (Die apostel Paulus, self ’n heilige, het mede-Christene wat ook heiliges was, gevra om vir hom te bid. Maar let op dat Paulus nie sy gebede tot daardie medeheiliges gerig het nie, en hulle gebede ten behoewe van hom het ook nie die persoonlike intimiteit wat Paulus deur middel van gebed met die Vader geniet het, vervang nie. Vergelyk Efesiërs 3:11, 12, 14.)
Hoe moet die gebruik om relieke en beelde van “heiliges” te vereer, beskou word?
Die New Catholic Encyclopedia erken: “Dit is dus tevergeefs om regverdiging vir die reliekekultus in die Ou Testament te soek; in die Nuwe Testament word daar ook nie veel aandag aan relieke geskenk nie. . . . [Die “Kerkvader”] Origenes het skynbaar die gebruik as ’n heidense teken van eerbied vir ’n stoflike voorwerp beskou.”—(1967), Dl. XII, bl. 234, 235.
Dit is opmerkenswaardig dat God Moses begrawe het en dat geen mens ooit uitgevind het waar sy graf was nie (Deut. 34:5, 6). Maar Judas 9 deel ons mee dat die aartsengel Migael met die Duiwel in woordestryd was oor Moses se liggaam. Waarom? God se doel om daarvan ontslae te raak op ’n manier dat mense nie sou weet waar dit is nie, is duidelik gestel. Wou die Teenstander mense na daardie liggaam lei sodat dit vertoon en moontlik ’n voorwerp van verering kon word?
Kyk onder “Beelde” in verband met die verering van beelde van die “heiliges”.
Waarom word Katolieke “heiliges” met stralekranse uitgebeeld?
Die New Catholic Encyclopedia erken: “Die algemeenste kenmerk wat aan alle heiliges toegeskryf word, is die nimbus (wolk), ’n glimmende, omlynde vorm wat die kop van die heilige omring. Die oorsprong daarvan is voorchristelik, en voorbeelde word aangetref in Hellenistiese kuns met heidense inspirasie; soos mosaïekwerke en muntstukke toon, is die stralekrans vir halfgode en gode soos Neptunus, Jupiter, Bacchus, en in die besonder Apollo (die songod) gebruik.”—(1967), Dl. XII, bl. 963.
The New Encyclopædia Britannica sê: “In Hellenistiese en Romeinse kuns verskyn die songod Helios en Romeinse keisers dikwels met ’n stralekroon. Vanweë sy heidense oorsprong is die vorm in Vroeg-Christelike kuns vermy, maar ’n eenvoudige, ronde nimbus is deur Christenkeisers vir hulle amptelike portrette aangeneem. Van die middel van die 4de eeu af is Christus ook met hierdie keiserlike kenmerk uitgebeeld . . . dit het eers in die 6de eeu die gebruik geword om die maagd Maria en ander heiliges met die stralekrans uit te beeld.”—(1976), Micropædia, Dl. IV, bl. 864.
Is dit gepas om die Christelike godsdiens met heidense simboliek te vermeng?
“Watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Belial [Satan], of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God . . . Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.”—2 Kor. 6:14-18.
Kan al die lede van ’n godsdiensgroep heiliges en derhalwe sondeloos wees?
Dit is beslis waar dat almal wat die eerste-eeuse Christengemeente uitgemaak het, heiliges was (1 Kor. 14:33; 2 Kor. 1:1; 13:12). Hulle word beskryf as persone wat “vergifnis van sondes” ontvang het en wat deur God ‘geheilig’ is (Hand. 26:18; 1 Kor. 1:2). Hulle het nietemin nooit daarop aanspraak gemaak dat hulle heeltemal sondeloos is nie. Hulle is as afstammelinge van die sondaar Adam gebore. Weens hierdie erfenis is dit dikwels vir hulle ’n stryd om te doen wat reg is, soos die apostel Paulus nederig erken het (Rom. 7:21-26). En die apostel Johannes het reguit gesê: “As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie” (1 Joh. 1:8). Wanneer Christus se ware volgelinge dus heiliges genoem word, beteken dit nie dat hulle in die vlees sondeloos is nie.
Kyk bladsye 197-200 om te sien of alle ware Christene vandag heiliges met hemelse lewe in die vooruitsig is.
As iemand sê—
‘Glo jy aan die heiliges?’
Jy kan antwoord: ‘Watter het u in gedagte?’ Indien die persoon Maria en/of die apostels meld, kan jy byvoeg: (1) ‘Ja, hulle word in die Heilige Skrif gemeld, en ek glo wat daar geskryf staan. Maar ek stel veral belang in wat hulle vandag doen en hoe dit ons raak. Stel u nie ook daarin belang nie? . . . Ek het iets baie interessants omtrent hulle hier in die Heilige Skrif gevind, en ek wil dit graag vir u wys (Dan. 7:27).’ (2) ‘Hoe sal die lewe onder so ’n regering wees? (Openb. 21:2-4).’
Of jy kan sê: (As jy voorheen ’n Katoliek was): ‘Ek het jare lank meegedoen aan die feeste vir die heiliges en gereeld tot hulle gebid. Maar toe het ek iets in die Heilige Skrif gelees wat my my handelwyse in heroorweging laat neem het. Laat ek dit asseblief vir u wys. (Kyk bladsye 183, 184.)’