Jesus Christus
Definisie: God se eniggebore Seun, die enigste Seun wat deur Jehovah alleen voortgebring is. Hierdie Seun is die eersgeborene van die hele skepping. Deur hom is alle ander dinge in die hemel en op aarde geskape. Hy is die tweede grootste persoon in die heelal. Dit is hierdie Seun wat deur Jehovah na die aarde gestuur is om sy lewe as ’n losprys vir die mensdom te gee en sodoende die weg tot die ewige lewe geopen het vir afstammelinge van Adam wat glo. Dieselfde Seun, wat in hemelse heerlikheid herstel is, heers nou as Koning, met die gesag om al die goddeloses te vernietig en sy Vader se oorspronklike voorneme met die aarde te volbring. Die Hebreeuse vorm van die naam Jesus beteken “Jehovah is redding”; Christus is die ekwivalent van die Hebreeuse Ma·shiʹakh (Messias), wat “Gesalfde” beteken.
Was Jesus Christus ’n werklike, geskiedkundige persoon?
Die Bybel self is die vernaamste getuienis dat Jesus Christus ’n geskiedkundige persoon is. Die verslag in die Evangelies is nie ’n vae verhaal van gebeure op ’n onbepaalde tyd en op ’n onvermelde plek nie. Dit verstrek tye en plekke in groot besonderhede. Kyk byvoorbeeld Lukas 3:1, 2, 21-23.
Die eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer Josephus het melding gemaak van die steniging van “Jakobus, die broer van Jesus wat die Christus genoem is” (The Jewish Antiquities, Josephus, Boek XX, dl. 200). ’n Regstreekse en baie gunstige verwysing na Jesus, wat in Boek XVIII, dele 63, 64, aangetref word, word in twyfel getrek deur sommige wat beweer dat dit òf later bygevoeg is òf deur Christene gedokter is; maar daar word erken dat die woordeskat en die styl basies dié van Josephus is, en die gedeelte word in alle beskikbare manuskripte aangetref.
Tacitus, ’n Romeinse geskiedskrywer wat gedurende die laaste deel van die eerste eeu G.J. gelewe het, het geskryf: “Christus, aan wie die naam [Christen] ontleen is, is tydens die regering van Tiberius die doodstraf opgelê deur een van ons prokurators, Pontius Pilatus.”—The Complete Works of Tacitus (New York, 1942), “Die Annale”, Boek 15, par. 44.
Met verwysing na die vroeë nie-Christelike geskiedkundige verwysings na Jesus sê The New Encyclopædia Britannica: “Hierdie onafhanklike verslae bewys dat selfs die teenstanders van die Christelike godsdiens in antieke tye nooit die historisiteit van Jesus betwyfel het nie. Dit is iets wat vir die eerste keer en op onvoldoende gronde aan die einde van die 18de, gedurende die 19de en aan die begin van die 20ste eeu deur verskeie skrywers betwis is.”—(1976), Macropædia, Dl. 10, bl. 145.
Was Jesus Christus bloot ’n goeie man?
Dit is interessant dat Jesus ’n man wat hom met die titel “Goeie Meester” aangespreek het, bestraf het omdat hy nie homself nie maar sy Vader as die maatstaf van goedheid erken het (Mark. 10:17, 18). Maar om te voldoen aan wat mense gewoonlik bedoel wanneer hulle sê dat iemand goed is, moes Jesus beslis eerlik gewees het. Trouens, selfs sy vyande het erken dat dit die geval is (Mark. 12:14). Hyself het gesê dat hy ’n voormenslike bestaan gehad het, dat hy die unieke Seun van God is, dat hy die Messias is, die een wie se koms dwarsdeur die Hebreeuse Skrifte voorspel is. Òf hy was wat hy gesê het hy was, òf hy was ’n infame bedrieër, maar nie een van die moontlikhede strook met die beskouing dat hy bloot ’n goeie man was nie.—Joh. 3:13; 10:36; 4:25, 26; Luk. 24:44-48.
Was Jesus bloot ’n profeet met dieselfde gesag as Moses, Boeddha, Mohammed en ander godsdiensleiers?
Jesus self het geleer dat hy die unieke Seun van God is (Joh. 10:36; Matt. 16:15-17), dat hy die voorspelde Messias is (Mark. 14:61, 62), dat hy ’n voormenslike bestaan in die hemel gehad het (Joh. 6:38; 8:23, 58), dat hy om die lewe gebring en dan op die derde dag opgewek sou word en daarna na die hemele sou terugkeer (Matt. 16:21; Joh. 14:2, 3). Was hierdie bewerings waar, en was hy gevolglik werklik anders as al die ander ware profete van God en die antitese van alle selfbetitelde godsdiensleiers? Die waarheid sou duidelik wees op die derde dag na sy dood. Het God hom uit die dode opgewek en aldus bevestig dat Jesus Christus die waarheid gepraat het en inderdaad God se unieke Seun is? (Rom. 1:3, 4). Meer as 500 getuies het Jesus lewend aanskou na sy opstanding, en sy getroue apostels het met hulle eie oë gesien hoe hy begin opvaar het hemel toe en hoe ’n wolk hom toe vir hulle oë verberg het (1 Kor. 15:3-8; Hand. 1:2, 3, 9). Hulle was so deeglik daarvan oortuig dat hy uit die dood opgewek is, dat baie van hulle hulle lewens gewaag het om vir ander daarvan te vertel.—Hand. 4:18-33.
Waarom het die Jode oor die algemeen Jesus nie as die Messias aangeneem nie?
Die Encyclopaedia Judaica sê: “Die Jode van die Romeinse tydperk het geglo dat God [die Messias] sou verwek om die juk van die heidene af te werp en oor ’n herstelde koninkryk van Israel te heers” (Jerusalem, 1971, Dl. 11, kol. 1407). Hulle wou van die juk van Rome bevry word. Die Joodse geskiedenis getuig dat daar Jode was wat die Messias gedurende die eerste eeu G.J. verwag het op grond van die Messiaanse profesie wat in Daniël 9:24-27 opgeteken is (Luk. 3:15). Maar daardie profesie het ook sy koms verbind met die ‘beëindiging van sonde’, en Jesaja hoofstuk 53 het getoon dat die Messias self sou sterf om dít moontlik te maak. Die Jode oor die algemeen het egter nie gemeen dat dit nodig is dat iemand vir hulle sondes sterf nie. Hulle het geglo dat hulle ’n regverdige naam by God het omdat hulle die afstammelinge van Abraham was. A Rabbinic Anthology sê: “So groot is die [verdienste] van Abraham dat hy versoening kan doen vir al die vrugtelose dade en leuens van Israel in hierdie wêreld” (Londen, 1938, C. Montefiore en H. Loewe, bl. 676). Deur Jesus as die Messias te verwerp, het die Jode die profesie vervul wat oor hom gesê het: “Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.”—Jes. 53:3.
Voor sy dood het Moses voorspel dat die nasie van ware aanbidding sou afwyk en gevolglik deur onheil getref sou word. (Lees Deuteronomium 31:27-29.) Die boek Rigters getuig dat dit herhaaldelik gebeur het. In die dae van die profeet Jeremia het nasionale ontrouheid daartoe gelei dat die volk in ballingskap na Babilon weggevoer is. Waarom het God ook toegelaat dat die Romeine Jerusalem en sy tempel in 70 G.J. vernietig? Aan watter ontrouheid het die nasie hulle skuldig gemaak sodat God hulle nie beskerm het soos hy gedoen het wanneer hulle op hom vertrou het nie? Dit was kort tevore dat hulle Jesus as die Messias verwerp het.
Is Jesus Christus eintlik God?
Joh. 17:3: “[Jesus het tot sy Vader gebid:] Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God [“U alleen is die ware God”, LB], en Jesus Christus wat U gestuur het.” (Let op dat Jesus nie homself nie, maar sy Vader in die hemel “die enige waaragtige God” genoem het.)
Joh. 20:17: “Jesus sê vir haar [Maria Magdalena]: Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.” (Vir die verrese Jesus was die Vader dus God, net soos die Vader vir Maria Magdalena God was. Dit is interessant dat ons nêrens in die Skrif vind dat die Vader die Seun as “my God” aanspreek nie.)
Kyk ook bladsye 101, 102, 106-108, onder “Drie-eenheid”.
Bewys Johannes 1:1 dat Jesus God is?
Johannes 1:1: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God [ook KJ, JB, RS, Dy, Kx, NAB].” NE lui “wat God was, was die Woord”. Mo sê “die Logos was goddelik”. AT en Sd sê vir ons “die Woord was goddelik”. Die interlineêre weergawe van ED is “’n god was die Woord”. NW lui “die Woord was ’n god”; NTIV gebruik dieselfde bewoording.
Wat sien hierdie vertalers in die Griekse teks wat sommige van hulle beweeg om nie te sê “die Woord was God” nie? Die bepalende lidwoord (die) verskyn voor die eerste the·osʹ (God), maar nie voor die tweede nie. Die naamwoordkonstruksie waarin die lidwoord voorkom, dui op ’n identiteit, ’n persoonlikheid, terwyl ’n enkelvoudige, predikatiewe selfstandige naamwoord sonder die lidwoord voor die werkwoord (soos die sin in Grieks gekonstrueer is) op ’n eienskap van iemand sien. Die teks sê dus nie dat die Woord (Jesus) dieselfde was as die God by wie hy was nie, maar eerder dat die Woord goddelik, ’n god, is. (Kyk die NW-naslaanbybel van 1984, bl. 1579.)
Wat het die apostel Johannes bedoel toe hy Johannes 1:1 geskryf het? Het hy bedoel dat Jesus self God is of moontlik dat Jesus een God saam met die Vader is? In dieselfde hoofstuk, vers 18, het Johannes geskryf: “Niemand [“geen mens”, KJ, Dy] het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun [“god”, NW] wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.” Het enige mens Jesus Christus, die Seun, gesien? Natuurlik! Het Johannes dus gesê dat Jesus God is? Beslis nie. Teen die einde van sy Evangelie het Johannes sake opgesom en gesê: “Hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, [nie God nie, maar] die Seun van God.”—Joh. 20:31.
Bewys Thomas se uitroep in Johannes 20:28 dat Jesus waarlik God is?
Johannes 20:28 lui: “Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!”
Daar bestaan geen beswaar daarteen om Jesus “God” te noem, indien dit is wat Thomas in gedagte gehad het nie. Dit sal strook met Jesus se aanhaling uit die Psalms waarin magtige mense, regters, as “gode” aangespreek word (Joh. 10:34, 35; Ps. 82:1-6). Christus beklee natuurlik ’n posisie veel hoër as dié van sulke mense. Vanweë die enigheid van sy posisie ten opsigte van Jehovah word Jesus in Johannes 1:18 (NW) “die eniggebore god” genoem. (Kyk ook Ro, By.) Jesaja 9:5 beskryf Jesus ook profeties as “Sterke God”, maar nie as die almagtige God nie. Dit alles strook met die beskrywing van Jesus as “’n god” of “goddelik” in Johannes 1:1 (NW, AT).
Die verband help ons om die regte gevolgtrekking hieruit te maak. Kort voor Jesus se dood het Thomas Jesus se gebed gehoor waarin hy sy Vader as “die enige waaragtige God” aangespreek het (Joh. 17:3). Na Jesus se opstanding het Jesus ’n boodskap aan sy apostels, Thomas inkluis, gestuur waarin hy gesê het: “Ek vaar op na . . . my God en julle God” (Joh. 20:17). Nadat die apostel Johannes neergeskryf het wat Thomas gesê het toe hy die verrese Christus waarlik gesien en aangeraak het, het hy gesê: “Hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam” (Joh. 20:31). As iemand dus uit Thomas se uitroep die gevolgtrekking gemaak het dat Jesus self “die enige waaragtige God” is of dat Jesus ’n Drie-enige “God die Seun” is, moet hy weer ’n slag kyk na wat Jesus self gesê het (v. 17) en na die gevolgtrekking wat duidelik deur die apostel Johannes gestel is (v. 31).
Toon Mattheüs 1:23 dat Jesus God was toe hy op aarde was?
Matt. 1:23: “Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar, en hulle sal Hom Emmanuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons [“God is met ons”, NE].”
Het Jehovah se engel gesê dat die kind God self sou wees toe hy Jesus se komende geboorte aangekondig het? Nee, die aankondiging was: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word” (Luk. 1:32, 35). En Jesus self het nooit daarop aanspraak gemaak dat hy God is nie, maar eerder “die Seun van God” (Joh. 10:36). Jesus is deur God in die wêreld gestuur; deur middel van hierdie eniggebore Seun was God dus by die mensdom.—Joh. 3:17; 17:8.
Dit was nie buitengewoon dat Hebreeuse name die woord vir God of selfs ’n verkorte vorm van God se persoonlike naam ingesluit het nie. Eliata beteken byvoorbeeld “God het gekom”; Jehu beteken “Jehovah is hy”; Elia beteken “My God is Jehovah”. Maar nie een van hierdie name het te kenne gegee dat die besitter self God is nie.
Wat is die betekenis van Johannes 5:18?
Joh. 5:18: “Hieroor het die Jode toe nog meer probeer om Hom dood te maak, omdat Hy nie alleen die sabbat gebreek het nie, maar ook God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het.”
Dit was die ongelowige Jode wat geredeneer het dat Jesus probeer het om hom met God gelyk te stel deur God sy Vader te noem. Hoewel Jesus God tereg sy Vader genoem het, het hy nooit op gelykheid met God aanspraak gemaak nie. Hy het die Jode reguit geantwoord: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie.” (Joh. 5:19; kyk ook Johannes 14:28; 10:36.) Dit was ook daardie ongelowige Jode wat beweer het dat Jesus die Sabbat gebreek het, maar hulle het dit ook hier mis gehad. Jesus het die Wet volmaak gehou, en hy het gesê: “So is dit dan geoorloof om op die sabbat goed te doen.”—Matt. 12:10-12.
Bewys die feit dat Jesus aanbid word dat hy God is?
In Hebreërs 1:6 word die engele, volgens die vertaling van AB, NAV, RS, TEV, KJ, JB en NAB, beveel om Jesus te “aanbid”. NW sê “hulde bring”. In Mattheüs 14:33 word daar gesê dat Jesus se dissipels hom “aanbid” het, aldus RS, TEV, KJ; ander vertalings sê dat hulle “eer aan hom betoon het” (NAB), ‘voor hom neergeval het’ (AB), “voor hom gekniel het” (JB), “voor sy voete neergeval het” (NE), “aan hom hulde gebring het” (NW).
Die Griekse woord wat met “aanbid” vertaal word, is pro·sky·neʹo, wat volgens A Greek-English Lexicon of the New Testament and Other Early Christian Literature ook “slaan op die gebruik om ’n mens voor ’n persoon neer te buig en sy voete, die soom van sy kleed, die grond te soen” (Chicago, 1979, Bauer, Arndt, Gingrich, Danker; tweede Engelse uitgawe; bl. 716). Dit is die uitdrukking wat in Mattheüs 14:33 gebruik word om te beskryf wat die dissipels teenoor Jesus gedoen het; in Hebreërs 1:6 om te toon wat die engele teenoor Jesus moet doen; in Genesis 22:5 in die Griekse Septuaginta om te beskryf wat Abraham teenoor Jehovah gedoen het en in Genesis 23:7 om te beskryf wat Abraham volgens die gebruik van daardie tyd, gedoen het teenoor mense met wie hy sake gedoen het; in 1 Konings 1:23 in die Septuaginta om die profeet Natan se optrede te beskryf toe hy koning Dawid genader het.
In Mattheüs 4:10 het Jesus gesê: “Die Here jou God moet jy aanbid [uit pro·sky·neʹo] en Hom alleen dien.” (In Deuteronomium 6:13, wat Jesus klaarblyklik hier aanhaal, verskyn die persoonlike naam van God, die Tetragrammaton.) Dienooreenkomstig moet ons begryp dat dit pro·sky·neʹo met ’n bepaalde harts- en geestesgesindheid is wat slegs God moet ontvang.
Toon die wonderwerke wat Jesus gedoen het dat hy God is?
Hand. 10:34, 37, 38: “Petrus het sy mond geopen en gesê: . . . Julle weet van die saak . . . met betrekking tot Jesus van Nasaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was.” (Petrus het dus nie uit die wonderwerke wat hy aanskou het, afgelei dat Jesus God is nie, maar eerder dat God met Jesus was. Vergelyk Mattheüs 16:16, 17.)
Joh. 20:30, 31: “Nog baie ander tekens [“wonderwerke”, TEV, Kx] het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.” (Die gevolgtrekking wat ons tereg uit die wonderwerke moet maak, is dat Jesus “die Christus”, die Messias, “die Seun van God” is. Die uitdrukking “Seun van God” verskil hemelsbreed van “God die Seun”.)
Voorchristelike profete soos Elia en Elisa het wonderwerke soos die van Jesus gedoen. Maar dit is beslis geen bewys dat hulle God was nie.
Is Jesus dieselfde as Jehovah in die “Ou Testament”?
Kyk bladsye 218, 219, onder “Jehovah”.
Is geloof in Jesus Christus al wat nodig is om gered te word?
Hand. 16:30-32: “Menere, wat moet ek doen om gered te word? Toe sê hulle [Paulus en Silas]: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin. En hulle het aan hom die woord van die Here [“God”, NAB, ook voetnote in JB en NE; “God se boodskap”, AT] verkondig en aan almal wat in sy huis was.” (Het daardie man ‘in die Here Jesus geglo’ bloot deur opreg te sê dat hy glo? Paulus het getoon dat meer nodig is—naamlik kennis en aanvaarding van die Woord van God, soos Paulus en Silas dit nou aan die tronkbewaarder verkondig het. Sou ’n persoon se geloof in Jesus opreg wees as hy nie die God aanbid wat Jesus aanbid het nie, as hy nie toepas wat Jesus geleer het oor die soort persone wat sy dissipels moet wees nie of as hy nie die werk doen wat Jesus sy volgelinge beveel het om te doen nie? Ons kan nie redding verdien nie; dit is slegs moontlik op grond van geloof in die waarde van die offer van Jesus se menselewe. Maar ons lewens moet strook met die geloof wat ons bely, al bring dit ook ontbering mee. In Mattheüs 10:22 het Jesus gesê: “Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.”)
Het Jesus ’n hemelse bestaan gevoer voordat hy ’n mens geword het?
Kol. 1:15-17: “Hy [Jesus] is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping . . . alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge.”
Joh. 17:5: “[In gebed het Jesus gesê:] Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.” (Ook Johannes 8:23)
Is Jesus met sy vleeslike liggaam in die hemel?
1 Kor. 15:42-50: “So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid . . . ’n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. . . . So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam [Jesus Christus, wat ’n volmaakte mens was soos Adam aanvanklik was] ’n lewendmakende Gees. . . . Dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.”
1 Pet. 3:18, RS: “Christus het ook een maal vir die sondes gesterf, . . . gedood in die vlees, maar lewend gemaak in die gees [“in die gees”, NE, AT, JB, Dy].” (Kyk bladsy 320.)
Ter toeligting: As ’n man ’n skuld vir ’n vriend vereffen, maar dan dadelik die geld terugneem, duur die skuld immers voort. Gestel dat Jesus eweneens met sy opstanding sy menseliggaam van vlees en bloed teruggeneem het wat hy as offer gegee het om die losprys te betaal. Watter uitwerking sou dit dan gehad het op die voorsiening wat hy getref het om getroue persone van die sondeskuld te verlos?
Jesus het weliswaar ná sy opstanding in ’n fisiese vorm aan sy dissipels verskyn. Maar waarom het hulle hom by sekere geleenthede aanvanklik nie herken nie? (Luk. 24:15-32; Joh. 20:14-16). By een geleentheid het Jesus, ter wille van Thomas, met die fisiese bewys van spykermerke in sy hande en ’n spieswond in sy sy verskyn. Maar hoe was dit vir hom by daardie geleentheid moontlik om skielik in hulle midde te verskyn selfs al was die deure gesluit? (Joh. 20:26, 27). Jesus het klaarblyklik by hierdie geleenthede verstoflik, soos engele in die verlede gedoen het wanneer hulle aan mense verskyn het. Dit het vir God geen probleem gebied om ten tye van Jesus se opstanding van sy fisiese liggaam ontslae te raak nie. Dit is interessant dat hoewel God nie die fisiese liggaam in die graf gelaat het nie (klaarblyklik om die dissipels se oortuiging dat Jesus waarlik opgewek is, te versterk), die linnedoeke waarin dit toegedraai was, daar gelaat is; by sy verskynings was die verrese Jesus egter altyd ten volle geklee.—Joh. 20:6, 7.
Is Jesus Christus dieselfde persoon as Migael die aartsengel?
Die naam van hierdie Migael verskyn slegs vyf keer in die Bybel. Die heerlike geespersoon met hierdie naam word “een van die vernaamste vorste”, “die groot vors wat oor die kinders van jou [Daniël se] volk staan” en “die aartsengel” genoem (Dan. 10:13; 12:1; Jud. 9). Migael beteken “Wie is soos God?” Die naam dui Migael klaarblyklik aan as die een wat die leiding gee met die verdediging van Jehovah se soewereiniteit en die vernietiging van God se vyande.
In 1 Thessalonicense 4:16 word Jesus Christus se bevel dat die opstanding moet begin, beskryf as “die stem van ’n aartsengel”, en Judas 9 sê dat Migael die aartsengel is. Sou dit gepas wees om Jesus se gebiedende uitroep te vergelyk met dié van iemand met minder gesag? Die aartsengel Migael is dus redelikerwys Jesus Christus. (Dit is interessant dat die uitdrukking “aartsengel” nooit in die meervoud in die Skrif aangetref word nie, wat dus daarop dui dat daar slegs een is.)
Openbaring 12:7-12 sê dat Migael en sy engele oorlog sou voer teen Satan en hom en sy goddelose engele uit die hemel sou werp nadat Christus koninklike gesag ontvang het. Jesus word later beskryf waar hy die leërs van die hemel in oorlog teen die nasies van die wêreld aanvoer (Openb. 19:11-16). Is dit nie redelik dat Jesus ook die een sal wees wat optree teen die een wat hy as “die owerste van hierdie wêreld”, Satan die Duiwel, beskryf het nie? (Joh. 12:31). Daniël 12:1 assosieer ‘Migael se optrede’ met gesag met “’n tyd van benoudheid . . . soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op dié tyd nie”. Dit pas gewis die ondervinding van die nasies wanneer Christus as hemelse skerpregter teen hulle optree. Die getuienis dui gevolglik daarop dat die Seun van God as Migael bekend gestaan het voordat hy na die aarde gekom het en ook aan daardie naam geken word sedert sy terugkeer na die hemel waar hy as die verheerlikte Geesseun van God woon.
As iemand sê—
‘Julle glo nie in Jesus nie’
Jy kan antwoord: ‘U glo klaarblyklik in Jesus. En ek ook; anders sou ek nie vandag hier voor u deur gestaan het nie.’ Dan kan jy byvoeg: ‘Trouens, die belangrikheid van geloof in Jesus word duidelik in ons publikasies beklemtoon. (Blaai na ’n gepaste hoofstuk in die boek wat jy aanbied en gebruik dit as ’n grondslag vir ’n bespreking waarin jy sy rol as Koning beklemtoon. Of lees wat op bl. 2 van Die Wagtoring gesê word aangaande die doel van die tydskrif.)’
Of jy kan sê: ‘Mag ek vra waarom u so sê?’
’n Ander moontlikheid: ‘Iemand het seker vir u so gesê, maar ek wil net sê dat dit nie werklik die geval is nie, want ons het baie sterk geloof in Jesus Christus.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Maar ons glo nie alles wat mense oor Jesus sê nie. Sommige sê byvoorbeeld dat hy net ’n goeie man was, nie die Seun van God nie. Ons glo dit nie. Glo u dit? . . . Dit is nie wat die Bybel leer nie.’ (2) ‘En ons glo nie die leerstellings van groepe wat weerspreek wat Jesus self oor sy verhouding met sy Vader gesê het nie (Joh. 14:28). Sy Vader het hom die gesag gegee om te heers, iets wat vandag ons almal se lewens raak (Dan. 7:13, 14).’
‘Het jy Jesus as jou persoonlike Saligmaker aangeneem?’
Jy kan antwoord: ‘Die Bybel sê duidelik . . . (haal Handelinge 4:12 aan). Ek glo dit. Maar ek het ook geleer dat dit met ernstige verantwoordelikhede gepaard gaan. Hoe so? Wel, as ek werklik in Jesus glo, kan ek nie net in hom glo solank dit gerieflik is nie.’ Dan kan jy byvoeg: ‘Sy volmaakte lewe wat as ’n offer gegee is, maak dit vir ons moontlik om vergifnis van sondes te verkry. Maar ek weet dat dit ook lewensbelangrik is om aandag te skenk aan sy instruksies oor ons verantwoordelikhede as Christene (Hand. 1:8; Matt. 28:19, 20).’
Of jy kan sê: ‘(Nadat jy bevestig het dat jy in Jesus as Saligmaker glo, nie net vir jouself nie, maar ook vir almal wat in hom glo . . . ) Dit is belangrik dat ons met waardering reageer op wat hy nou doen, nie net op wat hy in die verlede gedoen het nie (Matt. 25:31-33).’
‘Ek het Jesus as my persoonlike Saligmaker aangeneem’
Jy kan antwoord: ‘Ek is bly om te hoor dat u in Jesus glo, want daar is vandag so baie mense wat glad nie dink aan wat Jesus vir ons gedoen het nie. U ken ongetwyfeld die teks in Johannes 3:16 goed, nie waar nie? . . . Maar waar gaan sulke mense vir ewig lewe? Party sal saam met Christus in die hemel wees. Maar toon die Bybel dat alle goeie mense soontoe gaan? (Matt. 6:10; 5:5).’