Opstanding
Definisie: A·naʹsta·sis, die Griekse woord wat met “opstanding” vertaal word, beteken letterlik “’n wederopstanding” en dit sien op ’n herrysing uit die dood. Die vollediger uitdrukking “opstanding van (uit) die dode” word herhaaldelik in die Skrif gebruik (Matt. 22:31; Hand. 4:2; 1 Kor. 15:12). Die Hebreeus is teki·jatʹ ham·me·timʹ, wat “herlewing van die dode” beteken (Matt. 22:23, voetnoot, NW-naslaanbybel). Die opstanding behels ’n herstel van die lewenspatroon van die individu, welke lewenspatroon God in sy geheue bewaar het. Volgens God se wil vir die individu, word die persoon in òf ’n menseliggaam òf ’n geesliggaam herstel, en tog behou hy sy persoonlike identiteit daar hy dieselfde persoonlikheid en herinneringe het as toe hy gesterf het. Die voorsiening van die opstanding van die dode is ’n wonderlike blyk van Jehovah se onverdiende goedheid; dit openbaar sy wysheid en mag en is ’n middel waardeur sy oorspronklike voorneme met die aarde vervul sal word.
Is die opstanding ’n hereniging van ’n onstoflike siel met die fisiese liggaam?
Dit sou alleen moontlik wees as mense ’n onstoflike siel gehad het wat van die fisiese liggaam kon skei. Die Bybel leer nie so iets nie. Daardie begrip is aan Griekse filosofie ontleen. Die Bybelleer in verband met die siel word op bladsye 374-377 uiteengesit. Kyk bladsye 378, 379, vir informasie oor die oorsprong van die Christendom se geloof in ’n onstoflike, onsterflike siel.
Is Jesus met ’n vleeslike liggaam opgewek, en het hy nou in die hemel so ’n liggaam?
1 Pet. 3:18: “Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring—Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees [“in die gees”, NW, RS, NE, Dy, JB].” (By sy opstanding uit die dood is Jesus met ’n geesliggaam voortgebring. In die Griekse teks vorm die woorde “vlees” en “gees” ’n teenstelling met mekaar en is albei in die datief; indien ’n vertaler dus die woorde “deur die Gees” gebruik, moet hy konsekwent wees en ook sê “deur die vlees”, en as hy “na die vlees” gebruik, moet hy ook sê “na die gees”.)
Hand. 10:40, 41: “Hom [Jesus Christus] het God op die derde dag opgewek en beskik dat Hy sou verskyn nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat deur God vantevore verkies is.” (Waarom het ander hom nie ook gesien nie? Omdat hy ’n geesskepsel was en slegs in die teenwoordigheid van sy dissipels vleeslike liggame aangeneem het om homself sigbaar te maak, net soos engele in die verlede gedoen het.)
1 Kor. 15:45: “So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam [Jesus Christus, wat volmaak was soos Adam was toe hy geskape is] ’n lewendmakende Gees.”
Hoe moet ons die woorde in Lukas 24:36-39 oor die liggaam waarin Jesus opgewek is, verstaan?
Luk. 24:36-39: “Terwyl hulle [die dissipels] hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle! Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle ’n gees sien. En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op? Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ’n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie.”
Mense kan nie geeste sien nie, en daarom het die dissipels klaarblyklik gedink dat hulle ’n verskyning of ’n gesig sien. (Vergelyk Markus 6:49, 50.) Jesus het hulle verseker dat hy nie ’n verskyning was nie; hulle kon sy liggaam van vlees sien en hom aanraak, die bene voel; hy het ook in hulle teenwoordigheid geëet. Net so het engele in die verlede verstoflik sodat mense hulle kon sien; hulle het geëet, en sommige het selfs getrou en kinders verwek (Gen. 6:4; 19:1-3). Na sy opstanding het Jesus nie altyd in dieselfde liggaam van vlees verskyn nie (moontlik om die feit dat hy toe ’n gees was by hulle verstande in te skerp), en daarom het selfs sy intieme metgeselle hom nie dadelik herken nie (Joh. 20:14, 15; 21:4-7). Maar deur herhaaldelik in verstoflikte liggame aan hulle te verskyn en dan dinge te sê en te doen wat hulle sou identifiseer met die Jesus wat hulle geken het, het hy hulle geloof versterk in die feit dat hy waarlik uit die dood opgewek is.
Indien die dissipels Jesus inderdaad gesien het in die liggaam wat hy nou in die hemel het, sou Paulus nie later gesê het dat die verheerlikte Christus “die ewebeeld van die wese van God” is nie, want God is ’n Gees en was nog nooit in die vlees nie.—Hebr. 1:3, NAV; vergelyk 1 Timotheüs 6:16.
Ons sal die verslae oor Jesus se verskynings ná sy opstanding beter verstaan as ons 1 Petrus 3:18 (NW) en 1 Korinthiërs 15:45, wat op bladsy 320 aangehaal is, in gedagte hou.
Kyk ook bladsye 237, 238, onder “Jesus Christus”.
Wie sal opgewek word om saam met Christus in die hemel te lewe, en wat gaan hulle daar doen?
Luk. 12:32: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.” (Dit sluit nie alle gelowiges in nie; die getal is beperk. Hulle is met ’n doel in die hemel.)
Openb. 20:4, 6: “Ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee . . . Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”
Kyk ook bladsye 195-200, onder “Hemel”.
Sal diegene wat tot hemelse lewe opgewek word eindelik daar verheerlikte fisiese liggame hê?
Filip. 3:20, 21: “Die Here Jesus Christus . . . [sal] ons vernederde liggaam van gedaante . . . verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam.” (Beteken dit dat dit hulle vleeslike liggaam is wat eindelik in die hemele verheerlik sal word? Of beteken dit dat hulle, in plaas van ’n nederige liggaam van vlees te hê, beklee sal word met ’n heerlike geesliggaam wanneer hulle tot hemelse lewe opgewek word? Laat die volgende teks antwoord.)
1 Kor. 15:40, 42-44, 47-50: “Daar is hemelse liggame en aardse liggame; maar die heerlikheid van die hemelse is anders as dié van die aardse. . . . So is ook die opstanding van die dode: . . . ’n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. . . . Die eerste mens [Adam] was uit die aarde aards, die tweede mens [Jesus Christus] is die Here uit die hemel. Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie.” (Hierdie tekste skakel enige vermenging van die twee soorte liggame uit en toon dat ’n vleeslike liggaam nie hemel toe geneem kan word nie.)
Hoe het Jesus getoon wat die opstanding vir die mensdom oor die algemeen sal beteken?
Joh. 11:11, 14-44: “[Jesus het vir sy dissipels gesê:] Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak. . . . Toe sê Jesus vir hulle ronduit: Lasarus is dood. . . . Toe Jesus dan gekom het, het Hy gevind dat hy [Lasarus] al vier dae in die graf was. . . . Jesus sê vir haar [Martha, ’n suster van Lasarus]: Ek is die opstanding en die lewe . . . Hy [het] met ’n groot stem geroep: Lasarus, kom uit! En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy gesig was toegedraai met ’n doek. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan.” (As Jesus Lasarus teruggebring het uit ’n toestand van saligheid in ’n ander lewe, sou hy hom nie ’n guns bewys het nie. Maar toe Jesus Lasarus uit ’n lewelose toestand opgewek het, het hy hom sowel as sy susters ’n guns bewys. Lasarus het weer eens ’n lewende mens geword.)
Mark. 5:35-42: “Daar [kom] mense van die owerste van die sinagoge se huis en sê: U dogter is dood. Waarom val u die Meester nog lastig? Maar dadelik, toe Jesus die woord hoor wat gespreek is, sê Hy vir die owerste van die sinagoge: Moenie vrees nie; glo net. . . . [Hy het] die vader van die kind saamgeneem en die moeder en die wat by Hom was, en ingegaan waar die kind lê. Toe gryp Hy die hand van die kind en sê vir haar: Talita, koemi! wat, as dit vertaal word, beteken: Dogtertjie, Ek sê vir jou, staan op! En die dogtertjie het dadelik opgestaan en begin rondloop, want sy was twaalf jaar oud. En hulle was uitermate verbaas [“Hulle was oorstelp van groot vreugde”, NW].” (Wanneer die algemene opstanding gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy op die aarde plaasvind, sal miljoene ouers en hulle kinders ongetwyfeld verruk wees wanneer hulle met mekaar verenig word.)
Wat wag op diegene wat tot lewe op aarde opgewek word?
Luk. 23:43, NW: “Voorwaar, ek sê vandag vir jou: Jy sal saam met my in die Paradys wees.” (Die hele aarde sal in ’n paradys omgeskep word onder die heerskappy van Christus as Koning.)
Openb. 20:12, 13: “Ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. . . . Hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.” (Die oopmaak van boeke dui klaarblyklik op ’n tyd van onderrig in die goddelike wil, in ooreenstemming met Jesaja 26:9. Die feit dat “die boek van die lewe” oopgemaak word, toon dat diegene wat op daardie onderrig ag slaan die geleentheid sal hê om hulle name in daardie boek geskryf te kry. Hulle sal die vooruitsig op die ewige lewe in menslike volmaaktheid hê.)
Kyk ook bladsye 248-252, onder “Koninkryk”.
Sal sommige opgewek word bloot om veroordeel en in die tweede dood ingestuur te word?
Wat beteken Johannes 5:28, 29? Dit lui: “Daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.” Hierdie woorde van Jesus moet verstaan word in die lig van die latere openbaring wat hy aan Johannes gegee het. (Kyk Openbaring 20:12, 13, wat hierbo aangehaal is.) Diegene wat vantevore goeie dinge gedoen het sowel as diegene wat vantevore kwaad gedoen het, sal ‘elkeen volgens sy werke geoordeel word’. Watter werke? Indien ons die beskouing sou huldig dat mense veroordeel gaan word op grond van werke in hulle vorige lewe, sal dit strydig wees met Romeine 6:7: “Hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.” Dit sou ook onredelik wees om mense op te wek net sodat hulle vernietig kan word. In Johannes 5:28, 29a het Jesus dus van die toekomstige opstanding gepraat; in die res van vers 29 het hy die uitslag beskryf nadat hulle tot menslike volmaaktheid verhef en geoordeel is.
Wat toon Openbaring 20:4-6 oor diegene wat op aarde opgewek gaan word?
Openb. 20:4-6: “Ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God . . . En hulle het geleef [“lewend geword”, NAV] en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe [“lewend geword”, NAV] totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”
Die ronde hakies om die eerste sin van vers 5 in NW en Mo help die leser om die woorde ná die verklaring tussen hakies te verbind met die woorde wat dit voorafgaan. Soos dit duidelik gestel word, is dit nie “die ander dode” wat deel het aan die eerste opstanding nie. Daardie opstanding is vir diegene wat die duisend jaar lank saam met Christus regeer. Beteken dit dat geen ander mense gedurende die duisend jaar sal lewe behalwe diegene wat in die hemel saam met Christus regeer nie? Nee; want dan sal dit beteken dat daar niemand is ten behoewe van wie hulle as priesters dien nie en sou hulle domein ’n verlate aardbol wees.
Wie is dan “die ander dode”? Dit is al die mense wat as gevolg van Adamitiese sonde gesterf het en diegene wat die groot verdrukking oorleef het of wat gedurende die Millennium gebore is maar wat van die dodelike gevolge van sonde bevry moet word.—Vergelyk Efesiërs 2:1.
In watter sin het hulle eers aan die einde van die duisend jaar “herleef” of “lewend geword”? Dit sien nie op hulle opstanding nie. Hierdie ‘herlewing’ behels veel meer as blote bestaan as mense. Dit beteken die bereiking van menslike volmaaktheid, vry van al die gevolge van Adamitiese sonde. Let daarop dat die verwysing hierna in vers 5 onmiddellik volg nadat die vorige vers gesê het dat diegene wat in die hemel is “lewend geword” het. In laasgenoemdes se geval beteken dit ’n lewe vry van al die gevolge van sonde; hulle word selfs met onsterflikheid begunstig (1 Kor. 15:54). Vir “die ander dode” moet dit dus volheid van lewe in menslike volmaaktheid beteken.
Wie sal deel hê aan die aardse opstanding?
Joh. 5:28, 29: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte [“gedenkgrafte”, NW] is, sy stem [die stem van Jesus] sal hoor en sal uitgaan.” (Die Griekse woord wat in NW met “gedenkgrafte” vertaal word, is nie die meervoud van taʹfos [graf, ’n individuele begraafplek] of haiʹdes [die grafdom, die gemeenskaplike graf van die gestorwe mensdom] nie, maar is die meervoudige datief van mne·meiʹon [herinnering, gedenkgraf]. Dit beklemtoon die bewaring van die gedagtenis aan die oorledene. Dit is nie diegene aan wie alle gedagtenis in Gehenna uitgewis is omdat hulle onvergeeflike sondes gedoen het nie, maar persone wat deur God onthou word wat opgewek sal word met die geleentheid om vir ewig te lewe.—Matt. 10:28; Mark. 3:29; Hebr. 10:26; Mal. 3:16.)
Hand. 24:15: “[Ek het] ’n hoop op God . . . dat daar ’n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges.” (Sowel diegene wat volgens God se regverdige weë gelewe het as mense wat weens onkunde onregverdige dinge gedoen het, sal opgewek word. Die Bybel beantwoord nie al ons vrae of bepaalde individue wat gesterf het, opgewek gaan word nie. Maar ons kan daarvan seker wees dat God, wat al die feite ken, onbevooroordeeld sal optree, met geregtigheid getemper deur barmhartigheid wat nie sy regverdige standaarde ignoreer nie. Vergelyk Genesis 18:25.)
Openb. 20:13, 14: “Die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk [“Hades”, NW] het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk [“Hades”, NW] is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.” (Diegene wie se dood te wyte was aan Adamitiese sonde sal gevolglik opgewek word, hetsy hulle ter see of in Hades, die gemeenskaplike, aardse graf van die gestorwe mensdom, begrawe is.)
Kyk ook onder “Redding”.
Waar sal almal woon indien miljarde opgewek gaan word?
’n Baie liberale skatting van die aantal mense wat al op die aarde gelewe het, is 20 000 000 000. Soos ons gesien het, sal nie al hierdie persone opgewek word nie. Selfs al neem ons aan dat hulle almal opgewek gaan word, sal daar oorgenoeg plek wees. Die grondoppervlakte van die aarde is tans nagenoeg 147 600 000 vierkante kilometer. Indien die helfte daarvan vir ander doeleindes opsy gesit word, sal daar steeds ongeveer 0,37 hektaar per persoon wees, en dit kan oorgenoeg voedsel oplewer. Dit is nie enige onvermoë van die aarde om genoeg voedsel op te lewer wat die huidige voedseltekorte ten grondslag lê nie, maar eerder politieke wedywer en kommersiële hebsug.
Kyk ook bladsy 29, onder “Aarde”.