Vroue
Definisie: Volwasse, vroulike mense. In Hebreeus is die woord vir vrou ’isj·sjaʹ, wat letterlik “’n mannin” beteken.
Verlaag die Bybel vroue of stel dit hulle as minderwaardige persone voor?
Gen. 2:18: “Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas.” (God beskryf die man hier nie as ’n beter persoon as die vrou nie. God het eerder getoon dat die vrou eienskappe sou besit wat dié van die man in God se reëling sou aanvul. ’n Komplement is een van twee wedersyds aanvullende dele. As ’n groep munt vroue gevolglik in sekere hoedanighede en vermoëns uit; manne in ander. Vergelyk 1 Korinthiërs 11:11, 12.)
Gen. 3:16: “Aan die vrou het [God] gesê: . . . Na jou man sal jou begeerte wees, en hý sal oor jou heers.” (Hierdie deklarasie nadat Adam en Eva gesondig het, was nie ’n verklaring van wat mans moes doen nie, maar wat Jehovah geweet het hulle sou doen noudat selfsug ’n deel van die mens se lewe geword het. ’n Hele aantal Bybelverhale vertel daarna van die uiters ongelukkige situasies wat ontstaan het weens sulke selfsugtige oorheersing deur mans. Maar die Bybel sê nie dat God sulke gedrag goedgekeur het of dat dit ’n navolgenswaardige voorbeeld is nie.)
Is die feit dat hoofskap aan mans opgedra is verlagend vir vroue?
Onderdanigheid aan ’n hoof is nie op sigself verlagend nie. Hoofskap werk ordelikheid in die hand, en Jehovah is “nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede” (1 Kor. 14:33). Jesus Christus is onder die hoofskap van Jehovah God, en hy put groot genoegdoening uit daardie verhouding.—Joh. 5:19, 20; 8:29; 1 Kor. 15:27, 28.
Relatiewe hoofskap is ook aan die man opgedra, veral in die gesin en in die Christengemeente. God het die man nie absolute gesag oor die vrou gegee nie; die man moet aan sy hoof, Jesus Christus, en aan God rekenskap gee vir die wyse waarop hy sulke hoofskap uitoefen (1 Kor. 11:3). Mans word daarbenewens beveel om “hul eie vroue lief te hê soos hul eie liggame” en om aan hulle vroue ‘eer te bewys’ (Ef. 5:28; 1 Pet. 3:7). In God se reëling vir egpare word ’n man se geslagsbehoeftes nie belangriker geag as dié van sy vrou nie (1 Kor. 7:3, 4). Die rol van ’n deugsame vrou, soos in die Bybel uiteengesit, beklemtoon haar waarde vir die huisgesin en die gemeenskap. Dit laat ’n groot terrein toe waarop sy haar inisiatief kan gebruik terwyl sy haar waardering vir haar man se hoofskap toon (Spr. 31:10-31). Die Bybel beveel kinders om nie alleen hulle vader te eer nie, maar ook hulle moeder (Ef. 6:1-3). Dit beklemtoon ook dat daar in weduwees se behoeftes voorsien moet word (Jak. 1:27). Onder ware Christene kan vroue dus groot geborgenheid, ware waardering vir hulself as individue en persoonlike genoegdoening in hulle bedrywigheid vind.
Die waardigheid van die vrou se posisie in God se reëling word verder getoon deur die feit dat Jehovah sy organisasie van lojale geesskepsele ’n vrou, sy eggenote, die moeder van sy seuns, noem (Openb. 12:1; Gal. 4:26). En Jesus Christus se geesgesalfde gemeente word sy bruid genoem (Openb. 19:7; 21:2, 9). En uit ’n geestelike standpunt word daar geen onderskeid getref tussen man en vrou onder diegene wat geroep word om die hemelse Koninkryk saam met Christus deelagtig te wees nie.—Gal. 3:26-28.
Moet vroue bedienaars wees?
Die Bybel praat van diegene aan wie die toesig van ’n gemeente toevertrou is as manne. Die 12 apostels van Jesus Christus was almal manne, en diegene wat later aangestel is om opsieners en bedieningsknegte in Christengemeentes te wees, was manne (Matt. 10:1-4; 1 Tim. 3:2, 12). Vroue word vermaan om tydens gemeentelike vergaderinge “in stilte [te] leer in alle onderdanigheid”, in die sin dat hulle nie uitdagende vrae aan die manne in die gemeente stel nie. Die vroue word nie toegelaat om by sulke vergaderinge ‘te spreek’ as die dinge wat hulle kan sê van ’n gebrek aan onderdanigheid sou getuig nie (1 Tim. 2:11, 12; 1 Kor. 14:33, 34). Hoewel vroue dus ’n waardevolle bydrae tot die bedrywigheid van die gemeente lewer, is daar geen voorsiening gemaak dat hulle presideer of die leiding gee deur die gemeente te onderrig wanneer bekwame manne aanwesig is nie.
Maar mag vroue buite gemeentelike vergaderinge verkondigers, bedienaars van die goeie nuus, wees? Op Pinkster van 33 G.J. is die heilige gees op manne sowel as vroue uitgestort. Die apostel Petrus het Joël 2:28, 29 ter verduideliking aangehaal en gesê: “In die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer” (Hand. 2:17, 18). Net so neem vroue vandag tereg aan die Christenbediening deel deur van huis tot huis te preek en tuisbybelstudies te hou.—Kyk ook Psalm 68:12; Filippense 4:2, 3.
Waarom dra Christinne by sommige geleenthede ’n hoofbedekking?
1 Kor. 11:3-10: “Julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus. . . . Elke vrou wat bid of profeteer met onbedekte hoof, doen haar hoof oneer aan . . . Want ’n man moet die hoof nie bedek nie, omdat hy die beeld en heerlikheid van God is; maar die vrou is die heerlikheid van die man. Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man. Want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man. Daarom moet die vrou ’n aanduiding van gesag op die hoof hê ter wille van die engele.” (Wanneer ’n Christin by gepaste geleenthede ’n hoofbedekking dra, is dit ’n blyk van haar respek vir die hoofskapreëling wat deur God ingestel is. Christus respekteer teokratiese hoofskap; die man en die vrou is ook verplig om dit te doen. Die eerste man, Adam, is nie voortgebring deur geboorte uit ’n vrou nie, maar is deur God geskape. Toe God Eva geskape het, het hy ’n rib van Adam as grondslag gebruik, en God het gesê dat sy vir Adam ’n hulp moet wees. Die posisie van hoof is dus opgedra aan die man, wat eerste voortgebring is. Die man dra nie ’n hoofbedekking wanneer hy “bid of profeteer” nie, want wat hoofskap betref, is die man ‘die beeld van God’, daar hy geen aardse hoof in sake rakende sy gesin het nie. Maar as ’n vrou sonder ’n hoofbedekking sou “bid of profeteer”, sou dit minagting vir die man se Godgegewe posisie toon en sou dit hom oneer aandoen. Selfs die engele, wat lede van Jehovah se hemelse gemalin-organisasie is, sien die “aanduiding van gesag” wat deur getroue Christinne gedra word en word aan hulle eie onderworpenheid aan Jehovah herinner.)
Wanneer moet ’n vrou ’n hoofbedekking dra?
Wanneer sy “bid of profeteer”, soos 1 Korinthiërs 11:5 sê. Dit beteken nie dat ’n hoofbedekking nodig is wanneer sy privaat bid of met ander oor Bybelprofesieë gesels nie. Maar sy moet so ’n hoofbedekking as ’n uiterlike teken van haar eerbied vir die man se hoofskap dra wanneer sy omsien na sake wat met aanbidding in verband staan waarna haar eggenoot of ’n ander man normaalweg sou omsien. Wanneer sy in die teenwoordigheid van haar man hardop vir haarself en ander bid of ’n formele Bybelstudie hou en dus die onderrigting waarneem, moet sy ’n hoofbedekking dra, selfs al is hy nie ’n medegelowige nie. Maar aangesien sy deur God gemagtig is om haar kinders te leer, het sy geen hoofbedekking nodig wanneer sy saam met haar ontoegewyde kinders bid of studeer wanneer haar man nie aanwesig is nie. Indien ’n toegewyde manlike lid van die gemeente in buitengewone omstandighede aanwesig is of wanneer sy deur ’n besoekende, reisende opsiener vergesel word, moet sy haar hoof bedek as sy ’n gereëlde Bybelstudie hou, maar hy moet die gebed doen.
Is dit gepas vir vroue om skoonheidsmiddels of juweliersware te dra?
1 Pet. 3:3, 4: “Julle versiering moet nie uiterlik wees nie: haarvlegtery en omhang van goud en aantrek van klere nie, maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van ’n sagmoedige en stille gees, wat baie kosbaar is voor God.” (Beteken dit dat vroue geen versierings moet dra nie? Beslis nie; net soos dit klaarblyklik nie beteken dat hulle nie klere moet aantrek nie. Maar hulle word hier aangespoor om gebalanseerd te wees in hulle gesindheid teenoor persoonsversorging en kleredrag en om die hoofklem op geestelike versiering te lê.)
1 Tim. 2:9, 10: “So ook moet die vroue hulle versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie, maar, soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely, met goeie werke.” (Wat tel werklik by God—’n mens se uiterlike of jou hartstoestand? Sou dit God behaag as ’n vrou geen skoonheidsmiddels of juweliersware dra nie, maar onsedelik lewe? Of sou hy vroue goedkeur wat skoonheidsmiddels en juweliersware beskeie en verstandig gebruik en wat hulle hoofsaaklik met godvrugtige eienskappe en Christelike gedrag versier? Jehovah sê: “Nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.”—1 Sam. 16:7.)
Spr. 31:30: “Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid; ’n vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word.”