Hoofstuk 8
’n Tiran se plan misluk
JOSEF maak Maria wakker om belangrike nuus aan haar mee te deel. Jehovah se engel het so pas aan hom verskyn en het gesê: “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om hom dood te maak.”
Die drie vertrek inderhaas daarvandaan. En dit is ook net betyds, want Herodes het uitgevind dat die sterrewiggelaars hom mislei het en die land verlaat het. Onthou, hulle was veronderstel om na hom toe terug te gaan nadat hulle Jesus gevind het. Herodes is woedend. Daarom gee hy, in ’n poging om Jesus om die lewe te bring, bevel dat al die seuntjies van twee jaar en jonger in Betlehem en omstreke doodgemaak moet word. Hy bereken hierdie ouderdom volgens die inligting wat hy vroeër ontvang het van die sterrewiggelaars wat uit die Ooste gekom het.
Die slagting van al die babaseuntjies is afgryslik! Herodes se soldate breek in een huis na die ander in. En wanneer hulle ’n seuntjie vind, gryp hulle hom uit sy moeder se arms. Ons het geen idee hoeveel babas hulle doodmaak nie, maar die groot geween en gekerm van die moeders vervul ’n profesie in die Bybel wat deur God se profeet Jeremia geuiter is.
Intussen het Josef en sy gesin veilig in Egipte aangekom, en hulle woon nou daar. Maar een nag verskyn Jehovah se engel weer in ’n droom aan Josef. “Staan op, neem die Kindjie en sy moeder”, sê die engel, “en gaan na die land van Israel; want hulle is dood wat die lewe van die Kindjie gesoek het.” Daarom keer die gesin na hulle vaderland terug, ter vervulling van ’n ander Bybelprofesie wat sê dat God se Seun uit Egipte geroep sou word.
Josef wil blykbaar in Judea in die dorp Betlehem gaan woon, waar hulle gewoon het voor hulle na Egipte gevlug het. Maar hy hoor dat Herodes se goddelose seun Archelaüs nou die koning van Judea is, en in nog ’n droom waarsku Jehovah hom teen die gevaar. Daarom gaan Josef en sy gesin na die noorde en vestig hulle hul in die dorp Nasaret in Galilea. Jesus word in hierdie gemeenskap groot, ver van die middelpunt van die Joodse godsdienslewe af. Mattheüs 2:13-23; Jeremia 31:15; Hosea 11:1.
▪ Watter verskriklike ding doen koning Herodes toe die sterrewiggelaars nie terugkom nie, maar hoe word Jesus beskerm?
▪ Waarom gaan Josef nie weer in Betlehem woon toe hy van Egipte af terugkeer nie?
▪ Watter Bybelprofesieë word gedurende hierdie tydperk vervul?