Hoofstuk 19
’n Samaritaanse vrou word onderrig
OP PAD van Judea na Galilea reis Jesus en sy dissipels deur die streek Samaria. Hulle is moeg van die reis, en omstreeks twaalfuur stop hulle by ’n put naby die stad Sigar om te rus. Jakob het hierdie put eeue tevore gegrawe, en dit staan vandag nog naby die hedendaagse stad Nabloes.
Terwyl Jesus hier rus, gaan sy dissipels na die stad om kos te koop. Toe ’n Samaritaanse vrou kom water skep, vra hy: “Gee vir My water om te drink.”
As gevolg van diepgewortelde vooroordele het Jode en Samaritane gewoonlik niks met mekaar te doen nie. Die vrou vra dus verbaas: “Hoe is dit dat U wat ’n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek ’n Samaritaanse vrou is?”
“As jy . . . geweet het”, antwoord Jesus, “wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.”
“Here”, sê sy, “U het nie eens ’n skepding nie, en die put is diep; waarvandaan kry U dan die lewende water? U is tog nie groter as ons vader Jakob nie, wat die put aan ons gegee het en self daaruit gedrink het, en sy seuns en sy vee?”
“Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry”, sê Jesus. “Maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ’n fontein met water wat opspring tot in die ewige lewe.”
“Here, gee my daardie water, sodat ek nie dors kry en hier hoef te kom skep nie”, sê die vrou.
Jesus sê nou vir haar: “Gaan roep jou man en kom hier.”
“Ek het nie ’n man nie”, antwoord sy.
Jesus bevestig haar woorde. “Jy het reg gesê: Ek het nie ’n man nie; want jy het vyf mans gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.”
“Here, ek sien dat U ’n profeet is”, sê die vrou in verwondering. Sy openbaar haar belangstelling in geestelike dinge en meld dat die Samaritane “op hierdie berg [Gerisim, wat daar naby is] aanbid, en julle [die Jode] sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is”.
Maar Jesus wys daarop dat die plek van aanbidding nie die belangrike ding is nie. “Daar kom ’n uur”, sê hy, “wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”
Die vrou is diep beïndruk. “Ek weet dat die Messias kom, Hy wat Christus genoem word”, sê sy. “Wanneer Hy kom, sal Hy ons alles verkondig.”
“Dit is Ek wat met jou spreek”, sê Jesus. Dink net daaraan! Hierdie vrou wat op die middaguur kom water skep, moontlik om kontak te vermy met vroue van die dorp wat haar weens haar lewenswyse verag, word op ’n wonderlike manier deur Jesus begunstig. Hy vertel haar onomwonde wat hy aan niemand anders openlik erken het nie. Met watter resultaat?
Baie Samaritane glo
Wanneer die dissipels met kos van Sigar af terugkom, vind hulle Jesus by die fontein van Jakob waar hulle hom gelaat het en hy nou besig is om met ’n Samaritaanse vrou te praat. Toe die dissipels daar aankom, los sy haar waterkan daar en gaan terug stad toe.
Sy stel intens belang in die dinge wat Jesus haar vertel het en sê vir die mense van die stad: “Kom kyk ’n man wat my alles vertel het wat ek gedoen het.” Om hulle nuuskierigheid te prikkel, vra sy dan: “Is Hy nie miskien die Christus nie?” Die vraag het die gewenste uitwerking—die mense gaan kyk self.
Intussen spoor die dissipels Jesus aan om die kos te eet wat hulle van die stad af gebring het. Maar hy antwoord: “Ek het voedsel om te eet waar julle nie van weet nie.”
“Het iemand dan vir Hom ete gebring?” vra die dissipels mekaar. Jesus verduidelik: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring. Sê julle nie: Dit is nog vier maande, dan kom die oes nie?” Maar Jesus verwys na die geestelike oes en sê: “Slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes. En hy wat maai, ontvang loon en vergader vrug vir die ewige lewe, sodat die saaier en die maaier saam bly kan wees.”
Miskien kan Jesus alreeds die goeie gevolg van sy ontmoeting met die Samaritaanse vrou sien—dat baie as gevolg van haar getuienis in hom glo. Sy getuig vir die mense in die dorp en sê: “Hy het my alles vertel wat ek gedoen het.” Toe die mense van Sigar na hom toe kom by die fontein, vra hulle hom derhalwe om by hulle te bly en hulle meer te vertel. Jesus aanvaar die uitnodiging en bly twee dae daar.
Baie meer van die Samaritane glo wanneer hulle na Jesus luister. Dan sê hulle vir die vrou: “Ons glo nie meer op grond van wat jy gesê het nie, want ons het self gehoor en ons weet dat Hy waarlik die Christus, die Saligmaker van die wêreld, is.” Die Samaritaanse vrou is beslis ’n goeie voorbeeld van hoe ons oor Christus kan getuig deur luisteraars se nuuskierigheid te prikkel sodat hulle verder ondersoek sal instel!
Onthou dat dit vier maande voor die oes is—blykbaar die garsoes, wat in Palestina in die lente ingesamel word. Dit is dus nou ongeveer November of Desember. Dit beteken dat Jesus en sy dissipels ná die Pasga van 30 G.J. ’n stuk of agt maande in Judea deurgebring het, waar hulle mense geleer en gedoop het. Hulle vertrek nou na hulle tuisomgewing, Galilea. Wat wag dáár op hulle? Johannes 4:3-43.
▪ Waarom is die Samaritaanse vrou verbaas dat Jesus met haar gepraat het?
▪ Wat leer Jesus haar oor lewende water en waar om te aanbid?
▪ Hoe openbaar Jesus aan haar wie hy is, en waarom is hierdie onthulling so verbasend?
▪ Watter getuienis gee die Samaritaanse vrou, en met watter resultaat?
▪ Hoe hou Jesus se voedsel met die oes verband?
▪ Hoe kan ons bepaal hoe lank Jesus se bediening in Judea ná die Pasga van 30 G.J. geduur het?