Hoofstuk 87
Maak voorsiening vir die toekoms deur praktiese wysheid aan die dag te lê
JESUS het pas die verhaal van die verlore seun aan ’n skare vertel wat onder andere uit sy dissipels, oneerlike tollenaars en ander bekende sondaars, sowel as skrifgeleerdes en Fariseërs bestaan. Nou praat hy met sy dissipels en vertel hy hulle ’n gelykenis van ’n ryk man wat ’n ongunstige verslag oor sy huismeester, of bestuurder, ontvang het.
Jesus sê dat die ryk man sy bestuurder roep en hom meedeel dat hy hom gaan afdank. “Wat sal ek doen? Want my heer neem die bestuurderskap van my weg”, wonder die bestuurder. “Spit kan ek nie; om te bedel, skaam ek my. Ek weet wat ek sal doen, sodat wanneer ek van die bestuurderskap afgesit is, hulle my in hulle huise kan ontvang.”
Wat is die bestuurder se plan? Hy roep diegene wat aan sy heer goed skuld. “Hoeveel skuld jy?” vra hy.
Die eerste een antwoord: ‘2 200 liter olyfolie.’
‘Neem jou skuldbewys, gaan sit en skryf gou 1 100’, sê hy vir hom.
Hy vra ’n ander: ‘En jy, hoeveel skuld jy?’
Hy sê: ‘22 000 liter koring.’
‘Neem jou skuldbewys terug en skryf 18 000.’
Die bestuurder het die reg om die skuld van sy heer se skuldenaars te verminder, want hy is steeds in beheer van sy heer se finansiële sake. Deur die bedrae te verminder, maak hy vriende met diegene wat hom vir sy guns kan terugbetaal wanneer hy wel sy werk verloor.
Die heer is beïndruk wanneer hy hoor wat gebeur het. Trouens, hy “het die onregverdige bestuurder geprys, omdat hy met praktiese wysheid gehandel het” (NW). Jesus voeg tereg by: “Die kinders van hierdie wêreld is verstandiger teenoor hulle geslag as die kinders van die lig.”
Jesus toon sy dissipels nou wat die les is en spoor hulle aan: “Maak vir julle vriende deur middel van die onregverdige rykdom, sodat wanneer dit faal, hulle jul in die ewige woonplekke kan ontvang.”—NW.
Jesus prys die bestuurder nie vir sy onregverdigheid nie, maar vir sy versiende, praktiese wysheid. “Die kinders van hierdie wêreld” gebruik dikwels hulle geld of posisie op slim maniere om vriende te maak met diegene wat hulle sal kan terugbetaal vir hul gunste. Daarom moet God se knegte, “die kinders van die lig”, ook hulle materiële bates, hulle “onregverdige rykdom”, op ’n verstandige manier gebruik om hulself te bevoordeel.
Maar, soos Jesus sê, hulle moet hierdie rykdom gebruik om vriende te maak met diegene wat hulle “in die ewige woonplekke kan ontvang”. Vir lede van die klein kuddetjie is hierdie woonplekke in die hemel; vir die “ander skape” is dit op die Paradysaarde. Aangesien net Jehovah God en sy Seun mense in hierdie plekke kan ontvang, moet ons vlytig wees om vriendskap met hulle te soek deur enige “onregverdige rykdom” wat ons het te gebruik om Koninkryksbelange te bevorder. Wanneer materiële rykdom faal of vergaan, soos beslis sal gebeur, sal ons ewige toekoms dan verseker wees.
Jesus sê voorts dat mense wat getrou na selfs hierdie materiële, of minste, dinge omsien ook getrou na belangriker sake sal omsien. “As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon [“rykdom”, NW] nie”, gaan hy voort, “wie sal julle die ware goed [dit wil sê, geestelike belange, oftewel Koninkryksbelange] toevertrou? En as julle nie getrou was in ’n ander se goed nie [die Koninkryksbelange wat God aan sy knegte toevertrou], wie sal aan julle jul eie [die beloning van lewe in ewige woonplekke] gee?”
Ons kan eenvoudig nie ware knegte van God en terselfdertyd slawe van die onregverdige Mammon, materiële rykdom, wees nie, soos Jesus ten slotte sê: “Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God én [rykdom] dien nie.” Lukas 15:1, 2; 16:1-13; Johannes 10:16.
▪ Hoe maak die bestuurder in Jesus se gelykenis vriende met diegene wat hom later kan help?
▪ Wat is “die onregverdige rykdom”, en hoe kan ons vriende daarmee maak?
▪ Wie kan ons in “die ewige woonplekke” ontvang, en watter woonplekke is dit?