Hoodstuk 2
Jesus Christus, die getroue getuie
’N LANG lyn van voor-Christelike getuies het hulle getuienis oor ’n tydperk van ongeveer 4 000 jaar gegee. Maar die geskille ten opsigte van God se soewereiniteit en die onkreukbaarheid van sy knegte was alles behalwe besleg. Die tyd het nou aangebreek dat die beloofde koninklike “saad”, die Messias, op die aarde moes verskyn.—Gen. 3:15.
Wie het Jehovah uit al sy miljoene geesseuns vir hierdie toewysing gekies? Hulle was almal getuies van die gebeurtenisse in Eden en was ongetwyfeld bewus van die universele geskille wat geopper is. Maar wie was die gretigste om Jehovah se naam van blaam te suiwer en sy soewereiniteit te regverdig? Wie kon ’n heeltemal afdoende antwoord voorsien op Satan se uitdaging dat niemand onder beproewing onkreukbaarheid teenoor God se soewereiniteit sou handhaaf nie? Die een wat Jehovah gekies het, was sy Eersgeborene, sy eniggebore Seun, Jesus.—Joh. 3:16; Kol. 1:15.
Jesus het hierdie toewysing gretig en nederig aanvaar, hoewel dit beteken het dat hy die hemelse tuiste moes verlaat wat hy langer as enigiemand anders met sy Vader gedeel het (Joh. 8:23, 58; Filip. 2:5-8). Sy motief? Innige liefde vir Jehovah en ’n vurige begeerte om te sien dat Sy naam van alle blaam gesuiwer word (Joh. 14:31). Jesus het ook uit liefde vir die mensdom opgetree. (Spr. 8:30, 31; vergelyk Johannes 15:13.) Sy geboorte op aarde, in die vroeë herfs van 2 v.G.J., is moontlik gemaak deur heilige gees—waardeur Jehovah Jesus se lewe van die hemel na die baarmoeder van die Joodse maagd Maria oorgeplaas het (Matt. 1:18; Luk. 1:26-38). Gevolglik is Jesus as ’n lid van die nasie Israel gebore.—Gal. 4:4.
Jesus het meer as enige ander Israeliet besef dat hy ’n getuie van Jehovah moet wees. Waarom? Hy was ’n lid van die nasie aan wie Jehovah deur die profeet Jesaja gesê het: “Júlle is my getuies” (Jes. 43:10). Daarbenewens het Jehovah Jesus tydens sy doop in die Jordaanrivier in 29 G.J. met heilige gees gesalf (Matt. 3:16). Sodoende het Jesus die krag gekry om, soos hy later getuig het, ‘’n jaar van die welbehae van die HERE uit te roep’.—Jes. 61:1, 2; Luk. 4:16-19.
Jesus het sy toewysing getrou nagekom en Jehovah se grootste getuie geword wat daar nog op aarde was. Die apostel Johannes, wat tydens Jesus se dood naby hom gestaan het, noem Jesus dus heel tereg “die getroue getuie” (Openb. 1:5). En in Openbaring 3:14 noem die verheerlikte Jesus homself “die Amen” en “die getroue en waaragtige Getuie”. Watter getuienis het hierdie “getroue getuie” gegee?
Hoe hy ‘van die waarheid getuig het’
Toe Jesus voor die Romeinse goewerneur Pilatus tereggestaan het, het hy gesê: “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem” (Joh. 18:37). Van watter waarheid het Jesus getuig? Dit was God se waarheid, die openbaring van Jehovah se ewige voornemens.—Joh. 18:33-36.
Maar hoe het Jesus van hierdie waarheid getuig? Die Griekse werkwoord vir ‘getuig van’ beteken ook “bekend maak, bevestig, gunstige getuienis aflê, goed praat (van), goedkeur”. In antieke Griekse papiri het ’n ander vorm van die werkwoord (mar·tu·roʹ) algemeen voorgekom ná ’n handtekening, soos in saketransaksies. Jesus moes God se waarheid dus deur sy bediening bevestig. Dit het beslis vereis dat hy daardie waarheid aan ander bekend maak, of verkondig. Maar hy moes nie net praat nie. Baie meer was nodig.
“Ek is . . . die waarheid”, het Jesus gesê (Joh. 14:6). Ja, hy het só gelewe dat hy God se waarheid sou vervul. God se voorneme ten opsigte van die Koninkryk en sy Messiaanse Heerser is in profesieë uiteengesit. Jesus het deur sy hele aardse lewenswandel, wat met sy offerdood ’n hoogtepunt bereik het, al die dinge vervul wat oor hom geprofeteer is. Hy het derhalwe die waarheid van Jehovah se profetiese woord bevestig en gewaarborg. Daarom kon die apostel Paulus sê: “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen [wat beteken, “laat dit so wees”, of “beslis”], tot heerlikheid van God deur ons” (2 Kor. 1:20). Ja, Jesus is die een in wie God se beloftes vervul word.—Openb. 3:14.
Hoe hy van God se naam getuig het
Jesus het sy volgelinge leer bid: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word [of, “as heilig beskou word; as heilig bejeën word”]” (Matt. 6:9, voetnoot in NW). Op die laaste aand van sy aardse lewe het Jesus in gebed tot sy hemelse Vader ook gesê: “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar. En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle” (Joh. 17:6, 26). Dit was in werklikheid die vernaamste rede waarom Jesus aarde toe gekom het. Wat het sy bekendmaking van God se naam alles behels?
Jesus se volgelinge het God se naam reeds geken en gebruik. Hulle het dit in die Hebreeuse Bybelrolle wat in hulle sinagoges beskikbaar was, gesien en gelees. Hulle het dit ook gesien en gelees in die Septuagint—’n Griekse vertaling van die Hebreeuse Geskrifte, wat hulle in hulle onderrigting en skryfwerk gebruik het. In watter sin het Jesus die Goddelike naam aan hulle geopenbaar, of bekend gemaak, as hulle dit dan reeds geken het?
In Bybeltye was name nie blote etikette nie. A Greek-English Lexicon of the New Testament, deur J. H. Thayer, sê: “Die naam van God in die N[uwe] T[estament] word gebruik vir al daardie eienskappe wat vir sy aanbidders in daardie naam vervat word, en waardeur God hom aan mense bekend maak.” Jesus het God se naam bekend gemaak deur dit nie net te gebruik nie, maar deur die Persoon agter die naam—sy voornemens, bedrywighede en eienskappe—te openbaar. As die een “wat in die boesem van die Vader” was, kon Jesus die Vader op ’n manier verklaar wat niemand anders dit kon doen nie (Joh. 1:18). Daarbenewens het Jesus sy Vader só volmaak weerspieël dat Jesus se dissipels die Vader in die Seun kon ‘sien’ (Joh. 14:9). Jesus het van God se naam getuig deur wat hy gesê en gedoen het.
Hy het aangaande God se Koninkryk getuig
As “die getroue getuie” was Jesus by uitstek ’n verkondiger van God se Koninkryk. Hy het nadruklik gesê: “Ek moet . . . die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur” (Luk. 4:43). Hy het daardie hemelse Koninkryk in die hele Palestina verkondig en honderde kilometers te voet afgelê. Hy het oral gepreek waar daar mense was wat sou luister: op die oewers van mere, op heuwelhange, in stede en dorpies, in sinagoges en die tempel, op die markpleine en in die mense se huise. Maar Jesus het geweet dat hy slegs ’n beperkte gebied sou kon dek en vir slegs ’n beperkte aantal mense sou kon getuig. (Vergelyk Johannes 14:12.) Gevolglik het Jesus sy dissipels opgelei en uitgestuur om verkondigers van die Koninkryk te wees sodat die wêreldveld gedek sou kon word.—Matt. 10:5-7; 13:38; Luk. 10:1, 8, 9.
Jesus was ’n hardwerkende, ywerige getuie, en hy het nie toegelaat dat sy aandag afgelei word nie. Hoewel hy persoonlike belangstelling in die behoeftes van die mense getoon het, het hy nie so betrokke geraak by dinge wat op die kort termyn verligting sou bring dat hy sy godgegewe taak verwaarloos het nie, naamlik om mense na die blywende oplossing vir hulle probleme—God se Koninkryk—te rig. Nadat hy by een geleentheid ongeveer 5 000 mans (waarskynlik ruim 10 000 mense saam met die vroue en kinders) wonderdadig gevoed het, wou ’n groep Jode hom met geweld neem en hom ’n aardse koning maak. Wat het Jesus gedoen? Hy het “weer weggegaan na die berg, Hy alleen”. (Joh. 6:1-15; vergelyk Lukas 19:11, 12; Handelinge 1:6-9.) Hoewel hy talle wonderdadige genesings teweeggebring het, was Jesus nie hoofsaaklik bekend as die Wonderwerker nie, maar is hy eerder deur gelowiges sowel as ongelowiges as ’n “Meester” erken.—Matt. 8:19; 9:11; 12:38; 19:16; 22:16, 24, 36; Joh. 3:2, NAV.
Die belangrikste werk wat Jesus kon doen, was ongetwyfeld om van God se Koninkryk te getuig. Dit is Jehovah se wil dat almal moet weet wat Sy Koninkryk is en hoe dit Sy voornemens sal vervul. Dit lê Hom baie na aan die hart, want Hy sal Sy naam deur middel van die Koninkryk heilig en van alle blaam suiwer. Jesus het dit geweet, en daarom het hy daardie Koninkryk die tema van sy prediking gemaak (Matt. 4:17). Jesus het Jehovah se regmatige soewereiniteit verdedig deur die Koninkryk heelhartig te verkondig.
’n Getroue getuie selfs tot in die dood
Niemand kon Jehovah en Sy soewereiniteit liewer hê as Jesus nie. As “die Eersgeborene van die hele skepping” het Jesus die Vader ‘ten volle geken’ vanweë sy intieme omgang met hom as ’n geesskepsel in die hemele (Kol. 1:15; Matt. 11:27, NW). Hy het hom gedurende ontelbare eeue voor die skepping van die eerste man en vrou gewillig aan God se soewereiniteit onderwerp. (Vergelyk Johannes 8:29, 58.) Hoe diep moes dit hom tog nie seergemaak het toe Adam en Eva God se soewereiniteit verwerp het nie! Nogtans het hy ongeveer 4 000 jaar lank geduldig in die hemele gewag, en toe het die tyd uiteindelik aangebreek dat hy as Jehovah se grootste getuie kon dien wat daar nog op aarde was!
Jesus was ten volle bewus daarvan dat hy regstreeks by die universele geskille betrokke was. Dit het dalk gelyk asof Jehovah hom aan alle kante beskut het. (Vergelyk Job 1:9-11.) Hy het weliswaar sy getrouheid en toegewydheid in die hemele bewys, maar sou hy as ’n mens op die aarde sy onkreukbaarheid onder enige soort beproewing handhaaf? Kon hy Satan weerstaan in omstandighede waarin sy vyand blykbaar die oorhand gehad het?
Die slangagtige Teenstander het geen tyd verspil nie. Kort ná Jesus se doop en salwing het Satan hom versoek om selfsug te openbaar, homself te verhoog en uiteindelik sy Vader se soewereiniteit te verwerp. Maar Jesus se ondubbelsinnige woorde aan Satan, ‘Jehovah jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien’, het getoon wat sy standpunt ten opsigte van die geskille was. Hoe anders tog as Adam!—Matt. 4:1-10.
Die weg wat Jesus opgelê is, het lyding en die dood beteken, en Jesus het dit baie goed geweet (Luk. 12:50; Hebr. 5:7-9). Maar “toe hy hom in die hoedanigheid van ’n mens bevind het, het hy homself verneder en gehoorsaam geword tot in die dood, ja, die dood aan ’n folterpaal” (Filip. 2:7, 8, NW). Jesus het sodoende bewys dat Satan ’n infame leuenaar is en eens en vir altyd ’n antwoord verskaf op die vraag: Sal enigiemand onkreukbaarheid teenoor God se soewereiniteit handhaaf as Satan toegelaat word om hom te beproef? Maar Jesus se dood het veel meer bewerkstellig.
Deur sy dood aan die folterpaal het Jesus ook ‘sy lewe as ’n losprys vir baie gegee’ (Matt. 20:28; Mark. 10:45). Sy volmaakte menselewe het offerwaarde gehad. Jesus se offerdood maak dit nie net vir ons moontlik om vergifnis van ons sondes te ontvang nie, maar bied ons ook ’n kans op ewige lewe op ’n paradysaarde, in ooreenstemming met God se oorspronklike voorneme.—Luk. 23:43, NW; Hand. 13:38, 39; Hebr. 9:13, 14; Openb. 21:3, 4.
Jehovah het sy liefde vir en goedkeuring van Jesus as “die getroue getuie” bewys deur hom op die derde dag uit die dood op te wek. Dit het bevestig dat die getuienis wat Jesus aangaande die Koninkryk gegee het waar was (Hand. 2:31-36; 4:10; 10:36-43; 17:31). Nadat hy 40 dae in die omgewing van die aarde gebly het, waartydens hy by talle geleenthede aan sy apostels verskyn het, het Jesus na die hemel opgevaar.—Hand. 1:1-3, 9.
Jesus het getoon dat die oprigting van die Messiaanse Koninkryk van God in die verre toekoms sou geskied (Luk. 19:11-27). Daardie gebeurtenis sou ook die begin van Jesus se “teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge” kenmerk (Matt. 24:3, NW). Maar hoe sou sy volgelinge op aarde kon onderskei wanneer hierdie dinge gaan gebeur? Jesus het hulle ’n “teken” gegee—’n samegestelde teken wat uit baie bewyse bestaan het, waaronder oorloë, aardbewings, hongersnode, pessiektes en ’n vermeerdering van ongeregtigheid. ’n Betekenisvolle deel van daardie teken sou ook wees dat die goeie nuus van die Koninkryk in die hele wêreld verkondig sou word tot ’n getuienis vir al die nasies. Al die aspekte van daardie merkwaardige teken kan in ons dag gesien word, wat daarop dui dat ons in die tyd van Jesus se teenwoordigheid as hemelse Koning en van die voleinding van die stelsel van dinge lewe.a—Matt. 24:3-14.
Maar wat van Jesus se volgelinge? Gedurende hierdie tyd van Jesus se teenwoordigheid beweer mense wat aan talle verskillende kerke behoort dat hulle Christus volg (Matt. 7:22). Maar die Bybel sê daar is net “een geloof” (Ef. 4:5). Hoe kan jy dan die ware Christengemeente, die een wat God se goedkeuring en leiding geniet, identifiseer? Jy kan dit doen deur ondersoek in te stel na wat die Skrif oor die eerste-eeuse Christengemeente sê en dan te kyk wie vandag daardie voorbeeld volg.
[Voetnoot]
a Sien hoofstuk 10, “’n Bybelprofesie waarvan jy die vervulling sien”, in die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n?, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Lokteks op bladsy 20]
‘Gebore om vir die waarheid te getuig’
[Lokteks op bladsy 21]
Jesus het die Koninkryk van God die tema van sy prediking gemaak
[Lokteks op bladsy 22]
Jesus Christus was die grootste getuie van Jehovah wat daar nog op aarde was
[Volbladillustrasie op bladsy 23]