HOOFSTUK DERTIEN
Wanneer die huwelik dreig om te verbrokkel
1, 2. Watter vraag moet ’n mens jou afvra wanneer daar spanning in ’n huwelik is?
IN 1988 het ’n Italiaanse vrou met die naam Lucia baie terneergedruk gevoel.a Ná tien jaar was haar huwelik besig om te verbrokkel. Sy het baie keer ’n versoening met haar man probeer bewerkstellig, maar dit het eenvoudig nie geslaag nie. Weens hulle onaanpasbaarheid het sy hom dus verlaat, en nou het sy die verantwoordelikheid gehad om twee dogters op haar eie groot te maak. Wanneer Lucia aan daardie tyd terugdink, sê sy: “Ek was daarvan oortuig dat niks ons huwelik kon red nie.”
2 As jy huweliksprobleme het, sal jy jou moontlik in Lucia se posisie kan indink. Jy ondervind moontlik probleme in jou huwelik, en jy wonder dalk of dit nog gered kan word. As dit die geval is, sal dit nuttig wees as jy oor hierdie vraag nadink: Het ek ál die goeie raad gevolg wat God in die Bybel gegee het om die huwelik te laat slaag?—Psalm 119:105.
3. Watter reaksie word na berig onder baie geskeide mense en hulle families gevind, al het egskeidings gewild geraak?
3 Wanneer die spanning tussen die man en vrou hoog loop, lyk dit dalk of die ontbinding van die huwelik die maklikste uitweg is. Maar hoewel baie lande ’n skokkende toename in gebroke gesinne ondervind het, toon onlangse studies dat ’n groot persentasie van geskeide mans en vrouens spyt is dat hulle geskei het. ’n Aantal het meer gesondheidsprobleme, fisies sowel as verstandelik, as diegene wat getroud bly. Die verwarring en ongelukkigheid wat kinders weens ’n egskeiding ervaar, duur dikwels jare lank voort. Ouers en vriende van die gebroke gesin ly ook. En hoe beskou God, die Insteller van die huwelik, die situasie?
4. Hoe moet probleme in ’n huwelik hanteer word?
4 Soos daar in vorige hoofstukke getoon is, is dit God se voorneme dat die huwelik ’n lewenslange band moet wees (Genesis 2:24). Waarom verbrokkel soveel huwelike dan? Dit gebeur nie oornag nie. Daar is gewoonlik waarskuwingstekens. Kleinerige probleme in ’n huwelik kan al hoe groter word totdat dit na onoorkomelike probleme lyk. Maar as daar onmiddellik met behulp van die Bybel van hierdie probleme werk gemaak word, kan baie gebroke huwelike vermy word.
WEES REALISTIES
5. Watter realistiese situasie moet in enige huwelik onder die oë gesien word?
5 ’n Faktor wat soms tot probleme lei, is die onrealistiese verwagtinge wat een of albei huweliksmaats dalk koester. Liefdesverhale, gewilde tydskrifte, televisieprogramme en rolprente kan verwagtinge en drome skep wat geheel en al in stryd met die werklike lewe is. Wanneer hierdie drome nie verwesenlik word nie, kan ’n mens bedrieg, ontevrede, selfs bitter, voel. Maar hoe kan twee onvolmaakte mense geluk in die huwelik vind? Dit verg inspanning om ’n suksesvolle verhouding op te bou.
6. (a) Watter gebalanseerde beskouing van die huwelik vind ons in die Bybel? (b) Wat is ’n paar redes waarom daar verskille in die huwelik is?
6 Die Bybel is prakties. Dit erken die vreugdes wat die huwelik meebring, maar dit waarsku ook dat diegene wat trou “verdrukking in hulle vlees [sal] hê” (1 Korintiërs 7:28). Soos reeds gesê is, is albei huweliksmaats onvolmaak en geneig tot sonde. Die geestes- en emosionele gesteldheid en opvoeding van elke huweliksmaat verskil. Egpare verskil soms oor geld, kinders en skoonfamilie. Te min tyd om dinge saam te doen en seksuele probleme kan ook tot onenigheid aanleiding gee.b Dit verg tyd om aan sulke sake aandag te gee, maar skep moed! Die meeste egpare is in staat om sulke probleme die hoof te bied en wedersyds aanvaarbare oplossings te vind.
BESPREEK JULLE VERSKILLE
7, 8. Wat is die skriftuurlike manier om op te tree as daar gekrenkte gevoelens of misverstande tussen huweliksmaats bestaan?
7 Baie mense vind dit moeilik om kalm te bly wanneer hulle gekrenkte gevoelens, misverstande of persoonlike tekortkominge bespreek. Pleks van reguit te sê: “Ek dink jy verstaan my nie”, sal ’n huweliksmaat dalk emosioneel optree en die probleem oordryf. Baie sal sê: “Jy gee net vir jouself om”, of: “Jy het my nie lief nie.” Omdat die ander huweliksmaat nie by ’n argument betrokke wil raak nie, weier hy of sy dalk om daarop te reageer.
8 Dit is beter om die Bybel se raad te gehoorsaam: “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie; laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie” (Efesiërs 4:26). Toe een egpaar wat gelukkig getroud is hulle 60ste huweliksherdenking bereik het, is hulle gevra wat die geheim van hulle suksesvolle huwelik is. Die man het gesê: “Ons het geleer om nie te gaan slaap voordat ons eers ons verskille uit die weg geruim het nie, ongeag hoe klein dit is.”
9. (a) Wat is volgens die Skrif ’n noodsaaklike deel van kommunikasie? (b) Wat moet huweliksmaats dikwels doen, al verg dit moed en nederigheid?
9 Wanneer ’n man en vrou nie oor iets saamstem nie, moet elkeen “gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig ten opsigte van gramskap” (Jakobus 1:19). Nadat hulle aandagtig geluister het, sal albei huweliksmaats dalk besef dat hulle om verskoning moet vra (Jakobus 5:16). Dit verg nederigheid en moed om opreg te sê: “Jammer dat ek jou seergemaak het.” Maar as verskille op hierdie manier hanteer word, sal dit ’n egpaar baie help om nie net hulle probleme op te los nie, maar ook om hartlikheid en intimiteit te ontwikkel wat daartoe sal bydra dat hulle meer genot in mekaar se geselskap vind.
KOM DIE HUWELIKSPLIG NA
10. Watter raad, wat as ’n beskerming kan dien, het Paulus aan die Korintiese Christene gegee wat vandag op ’n Christen van toepassing kan wees?
10 Toe die apostel Paulus aan die Korintiërs geskryf het, het hy “weens die algemeenheid van hoerery” voorgestel dat mense trou (1 Korintiërs 7:2). Die wêreld is vandag net so sleg, of selfs slegter, as eertydse Korinte. Die onsedelike onderwerpe wat wêreldse mense openlik bespreek, hulle onbeskeie kleredrag en die sensuele verhale in tydskrifte en boeke, op TV en in rolprente dra alles tot die opwekking van ongeoorloofde seksuele begeertes by. Aan die Korintiërs wat in ’n soortgelyke milieu gelewe het, het die apostel Paulus gesê: “Dit is beter om te trou as om van hartstog te brand.”—1 Korintiërs 7:9.
11, 12. (a) Wat is die man en vrou aan mekaar verskuldig, en in watter gees moet dit nagekom word? (b) Hoe moet die situasie behartig word wanneer die huweliksplig tydelik nie nagekom kan word nie?
11 Die Bybel beveel getroude Christene dus: “Die man moet sy huweliksplig teenoor sy vrou nakom, en net so ook die vrou teenoor haar man” (1 Korintiërs 7:3, NAV). Let op dat die klem op gee val—nie op eis nie. Slegs as elke huweliksmaat oor die ander se voordeel besorg is, is fisiese intiemheid in die huwelik waarlik bevredigend. Die Bybel beveel mans byvoorbeeld om “ooreenkomstig kennis” met hulle vrouens te handel (1 Petrus 3:7). Dit is veral waar wat die gee en ontvang van die huweliksplig betref. As ’n vrou nie met teerheid behandel word nie, sal sy dit dalk moeilik vind om hierdie aspek van die huwelik te geniet.
12 Daar is tye wanneer huweliksmaats mekaar dalk die huweliksplig moet ontsê. Met die vrou is dit dalk gedurende sekere tye van die maand of wanneer sy baie moeg is. (Vergelyk Levitikus 18:19.) Met die man is dit dalk wanneer hy ’n ernstige probleem by die werk het en emosioneel uitgeput voel. In sulke gevalle wanneer die huweliksplig tydelik nie nagekom word nie, word die situasie die beste behartig as albei huweliksmaats dit openhartig bespreek en ‘wedersyds daartoe instem’ (1 Korintiërs 7:5). Dit sal verseker dat nie een van die huweliksmaats ’n verkeerde gevolgtrekking maak nie. Maar as ’n vrou haar man dit opsetlik ontsê of as ’n man moedswillig versuim om die huweliksplig op ’n liefdevolle wyse na te kom, sal dit ’n huweliksmaat dalk aan versoeking blootstel. In so ’n geval sal probleme moontlik in ’n huwelik ontstaan.
13. Hoe kan Christene hulle daarop toelê om hulle gedagtes rein te hou?
13 Soos alle Christene moet getroude knegte van God pornografie, wat onrein en onnatuurlike begeertes kan wek, vermy (Kolossense 3:5). Hulle moet ook op hulle gedagtes en dade let wanneer hulle met alle lede van die ander geslag te doen het. Jesus het gewaarsku: ‘Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg’ (Matteus 5:28). As egpare die Bybel se raad aangaande seks toepas, sal hulle nie voor versoeking swig en egbreuk pleeg nie. Hulle kan voortgaan om aangename intiemheid te geniet in ’n huwelik waarin seks as ’n heilsame gawe van die Insteller van die huwelik, Jehovah, beskou word.—Spreuke 5:15-19.
DIE BYBELSE GRONDSLAG VIR EGSKEIDING
14. Watter hartseer situasie ontstaan soms? Waarom?
14 In die meeste Christenhuwelike kan enige probleem wat ontstaan gelukkig opgelos word. Maar soms is dit nie die geval nie. Omdat mense onvolmaak is en in ’n sondige wêreld woon wat onder Satan se beheer is, verbrokkel sommige huwelike wel (1 Johannes 5:19). Hoe moet Christene so ’n moeilike situasie hanteer?
15. (a) Wat is die enigste skriftuurlike grondslag vir egskeiding met die moontlikheid om weer te trou? (b) Waarom het party besluit om nie van ’n ontroue huweliksmaat te skei nie?
15 Soos in Hoofstuk 2 van hierdie boek genoem is, is hoerery die enigste skriftuurlike grondslag vir egskeiding met die moontlikheid om weer te trou (Matteus 19:9).c As jy afdoende bewys het dat jou huweliksmaat ontrou aan jou was, het jy ’n moeilike besluit om te neem. Sal jy met die huwelik voortgaan of egskeiding kry? Daar is geen reëls nie. Party Christene het ’n huweliksmaat wat opreg berouvol was heeltemal vergewe, en die huwelik wat sodoende gered is, is nou gelukkig. Ander het besluit om ter wille van die kinders nie te skei nie.
16. (a) Wat is party faktore wat sommige beweeg het om van hulle ontroue huweliksmaat te skei? (b) Waarom moet niemand ’n onskuldige huweliksmaat se besluit kritiseer wanneer hy of sy besluit om te skei of nie te skei nie?
16 Aan die ander kant het die sondige daad dalk swangerskap of ’n seksueel oordraagbare siekte tot gevolg gehad. Of miskien moet die kinders beskerm word teen ’n ouer wat hulle molesteer. Daar is beslis baie om in ag te neem voordat ’n besluit geneem kan word. Maar as jy uitvind dat jou huweliksmaat ontrou was en jy daarna weer geslagsgemeenskap met jou maat het, toon jy sodoende dat jy jou huweliksmaat vergewe het en dat jy graag met die huwelik voort wil gaan. Die grondslag vir egskeiding met die skriftuurlike moontlikheid om weer te trou, bestaan dan glad nie meer nie. Niemand moet bemoeisiek wees en jou besluit probeer beïnvloed nie, en niemand moet jou kritiseer wanneer jy ’n besluit geneem het nie. Jy sal met die gevolge van jou besluit moet saamleef. “Elkeen sal sy eie vrag dra.”—Galasiërs 6:5.
GRONDSLAG VIR SKEIDING
17. Watter beperkings lê die Skrif op skeiding of egskeiding as daar nie hoerery gepleeg is nie?
17 Is daar situasies wat dalk ’n skeiding of moontlik ’n egskeiding regverdig, al het jou huweliksmaat nie hoerery gepleeg nie? Ja, maar in so ’n geval is ’n Christen nie vry om ’n verhouding met ’n derde party aan te knoop met die oog om weer te trou nie (Matteus 5:32). Hoewel die Bybel so ’n skeiding in ag neem, stel dit as voorwaarde dat die persoon wat sy maat verlaat ‘ongetroud moet bly of weer versoen moet raak’ (1 Korintiërs 7:11). Wat is party uitsonderlike situasies wat ’n skeiding dalk raadsaam sal laat lyk?
18, 19. Wat is party van die ernstige situasies wat daartoe kan lei dat ’n huweliksmaat ’n geregtelike skeiding of ’n egskeiding raadsaam ag, al is daar nie ’n moontlikheid om weer te trou nie?
18 Wel, die gesin raak dalk behoeftig omdat die man uiters lui is en slegte gewoontes het.d Hy dobbel dalk die gesin se inkomste weg of gebruik dit moontlik om sy dwelm- of alkoholverslawing te onderhou. Die Bybel sê: “As iemand . . . vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige” (1 Timoteus 5:8). As so ’n man weier om sy weë te verander en miskien selfs geld neem wat sy vrou verdien sodat hy sy slegte gebruike kan onderhou, verkies die vrou dalk om haar en haar kinders se welsyn te beskerm deur ’n geregtelike skeiding te verkry.
19 Sulke geregtelike optrede kan ook oorweeg word as een huweliksmaat baie gewelddadig teenoor die ander een optree deur die persoon miskien herhaaldelik so te slaan dat sy of haar gesondheid en selfs lewe in gevaar is. As iemand boonop sy of haar huweliksmaat voortdurend probeer dwing om God se bevele op die een of ander manier te verontagsaam, kan die huweliksmaat wat gedreig word ook ’n skeiding oorweeg, veral as sake die punt bereik waar sy of haar geestelike lewe in gevaar is. Die huweliksmaat wat in gevaar verkeer, kom dalk tot die gevolgtrekking dat ’n geregtelike skeiding die enigste manier is om “eerder aan God as heerser gehoorsaam [te] wees as aan mense”.—Handelinge 5:29.
20. (a) Wat kan ervare vriende en ouer manne wel doen as ’n huwelik verbrokkel, en wat moet hulle nie doen nie? (b) Getroude persone moet nie die Bybel se verwysings na skeiding en egskeiding as ’n verskoning gebruik om wat te doen nie?
20 In alle gevalle van kwaai huweliksgeweld moet niemand druk op die onskuldige maat uitoefen om van die ander maat te skei of by die ander maat te bly nie. Hoewel ervare vriende en ouer manne dalk ondersteuning en Bybelse raad kan gee, beskik hulle nie oor al die besonderhede van dinge wat tussen ’n man en vrou plaasvind nie. Net Jehovah kan dit sien. ’n Christenvrou sal God se huweliksreëling natuurlik nie eer as sy flou verskonings gebruik om die huwelik te beëindig nie. Maar as ’n uiters gevaarlike situasie voortduur, moet niemand haar kritiseer as sy verkies om haar man te verlaat nie. Presies dieselfde kan gesê word wanneer ’n Christenman wil skei. “Ons sal almal voor die regterstoel van God staan.”—Romeine 14:10.
HOE ’N GEBROKE HUWELIK GERED IS
21. Watter ondervinding toon dat die Bybel se raad oor die huwelik prakties is?
21 Drie maande nadat Lucia, wat vroeër gemeld is, haar man verlaat het, het sy met Jehovah se Getuies in aanraking gekom, en hulle het ’n Bybelstudie met haar begin hou. “Tot my groot verbasing”, verduidelik sy, “het die Bybel praktiese oplossings vir my probleem gehad. Ná ek net een week gestudeer het, wou ek onmiddellik met my man versoen raak. Vandag kan ek sê dat Jehovah weet hoe om huwelike te red wat ’n krisis beleef omdat sy leringe huweliksmaats help om te leer hoe hulle mekaar moet waardeer. Dit is nie waar, soos sommige beweer, dat Jehovah se Getuies gesinne verdeel nie. In my geval was presies die teenoorgestelde waar.” Lucia het geleer om Bybelbeginsels in haar lewe toe te pas.
22. Waarin moet alle egpare vertroue hê?
22 Lucia is geen uitsondering nie. Die huwelik moet ’n seën wees, nie ’n las nie. Met dié doel het Jehovah die allerbeste bron van raad oor die huwelik voorsien—sy kosbare Woord. Die Bybel kan “die onervarene wys maak” (Psalm 19:7-11, NW). Dit het baie huwelike gered wat besig was om te verbrokkel en het talle verbeter wat ernstige probleme ondervind het. Mag alle egpare volle vertroue hê in die raad wat Jehovah God oor die huwelik voorsien. Dit is beslis prakties!
a Die naam is verander.
b Sommige van hierdie aspekte is in vorige hoofstukke bespreek.
c Die Bybelse term wat met “hoerery” vertaal is, sluit egbreuk in, asook homoseksualiteit, bestialiteit en ander doelbewuste, ongeoorloofde dade waarby die gebruik van die geslagsorgane betrokke is.
d Dit sluit nie gevalle in waar ’n man, hoewel hy goeie bedoelings het, om redes buite sy beheer nie vir sy gesin kan sorg nie, soos wanneer hy siek is of daar nie genoeg werksgeleenthede is nie.