Hoofstuk agt-en-twintig
’n Lig vir die nasies
1, 2. Waarom is lig lewensbelangrik, en watter soort duisternis oordek die aarde vandag?
JEHOVAH is die Bron van lig, “Hy wat die son gee as lig bedags, die insettinge van die maan en die sterre as lig snags” (Jeremia 31:35). Dit is al genoeg rede waarom hy as die Bron van lewe erken moet word, want lig beteken lewe. As die aarde nie voortdurend in die warmte en lig van die son gebaai was nie, sou lewe soos ons dit ken, onmoontlik wees. Ons planeet sou onbewoonbaar wees.
2 Daarom is dit baie belangrik dat ons daarop let dat Jehovah, wat ons dag vooruitgesien het, ’n tyd van duisternis voorspel het, nie van lig nie. Onder inspirasie het Jesaja geskryf: “Kyk! duisternis sal die aarde oordek, en dik donkerheid die volksgroepe; maar oor jou sal Jehovah skyn, en oor jou sal sy heerlikheid gesien word” (Jesaja 60:2). Hierdie woorde het natuurlik met geestelike duisternis te doen gehad, nie met letterlike duisternis nie, maar die erns daarvan moet nie onderskat word nie. Dit word uiteindelik vir diegene wat sonder geestelike lig is, onmoontlik om te bly lewe, net soos vir dié wat die lig van die son ontneem is.
3. Waar kan ons in hierdie donker tye lig soek?
3 Gedurende hierdie donker tye kan ons nie bekostig om die geestelike lig wat Jehovah vir ons beskikbaar stel, te ignoreer nie. Dit is noodsaaklik dat ons ons tot God se Woord wend om ons weg te verlig en dat ons die Bybel daagliks lees indien moontlik (Psalm 119:105). By Christelike vergaderinge kry ons geleenthede om mekaar aan te moedig om op “die pad van die regverdiges” te bly (Spreuke 4:18; Hebreërs 10:23-25). Die krag wat ons uit ywerige Bybelstudie en heilsame Christelike omgang put, help ons om nie deur die duisternis van hierdie “laaste dae”, wat in die groot “dag van Jehovah se toorn” ’n hoogtepunt sal bereik, verswelg to word nie (2 Timoteus 3:1; Sefanja 2:3). Daardie dag kom vinnig nader! Dit sal kom so seker as wat ’n soortgelyke dag oor die inwoners van eertydse Jerusalem gekom het.
Jehovah ‘neem die geskil op’
4, 5. (a) Hoe trek Jehovah teen Jerusalem op? (b) Waarom kan ons tot die slotsom kom dat betreklik min mense die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. sal oorleef? (Sien voetnoot.)
4 In die laaste verse van Jesaja se opwindende profesie gee Jehovah ’n duidelike beskrywing van gebeure wat tot die dag van sy toorn lei. Ons lees: “Jehovah kom soos ’n vuur, en sy strydwaens is soos ’n stormwind, om sy toorn met woede te vergeld en sy bestrawwing met vuurvlamme. Want soos vuur sal Jehovah inderdaad die geskil opneem, ja, met sy swaard, teen alle vlees; en dié wat deur Jehovah omgebring word, sal beslis baie word.”—Jesaja 66:15, 16.
5 Daardie woorde behoort Jesaja se tydgenote te help om die erns van hulle situasie te besef. Die tyd kom nader wanneer die Babiloniërs, as Jehovah se skerpregters, teen Jerusalem sal optrek met hulle strydwaens wat stofwolke opjaag, net soos ’n stormwind. Wat ’n vreesinboesemende gesig sal dit tog wees! Jehovah sal die invallers gebruik om sy eie vurige oordele teen alle ontroue Joodse “vlees” te bring. Dit sal wees asof Jehovah self teen sy volk veg. Sy “woede” sal nie afgewend word nie. Baie Jode sal val as “dié wat deur Jehovah omgebring word”. Hierdie profesie word in 607 v.G.J. vervul.a
6. Watter afkeurenswaardige gebruike vind in Juda plaas?
6 Het Jehovah die reg om teen sy volk ‘die geskil op te neem’? Beslis! In ons bespreking van die boek Jesaja het ons dikwels gesien dat die Jode, hoewel hulle kwansuis aan Jehovah toegewy was, diep betrokke geraak het by valse aanbidding—en Jehovah was nie blind vir hulle dade nie. Ons sien dit weer eens in die volgende woorde van die profesie: “‘Dié wat hulleself heilig en hulleself reinig vir die tuine agter een wat in die middel is, wat varkvleis en weersinwekkende dinge eet, selfs springmuise, hulle almal sal saam aan hulle einde kom’, is die woord van Jehovah” (Jesaja 66:17). ‘Heilig en reinig’ daardie Jode hulleself om hulle vir rein aanbidding voor te berei? Klaarblyklik nie. Hulle is eerder besig om in spesiale tuine aan heidense reinigingsritusse deel te neem. Daarna verslind hulle gulsig varkvleis en die vleis van ander diere wat onder die Mosaiese Wet as onrein beskou word.—Levitikus 11:7, 21-23.
7. Hoe stem die Christendom ooreen met Juda, wat afgode aanbid het?
7 Wat ’n afskuwelike situasie vir ’n nasie wat in ’n verbondsverhouding met die enigste ware God is! Maar dink daaraan: ’n Situasie wat net so afskuwelik is, bestaan vandag onder die godsdienste van die Christendom. Hulle sê ook dat hulle God dien, en baie van hulle leiers hou hulle vroom. En tog besoedel hulle hulleself met heidense leringe en tradisies en toon hulle sodoende dat hulle in geestelike duisternis is. Hoe groot is daardie duisternis tog!—Matteus 6:23; Johannes 3:19, 20.
‘Hulle sal my heerlikheid moet sien’
8. (a) Wat sal met Juda sowel as die Christendom gebeur? (b) In watter sin sal die nasies ‘Jehovah se heerlikheid sien’?
8 Gee Jehovah ag op die Christendom se afkeurenswaardige optrede en valse leringe? Lees die volgende woorde van Jehovah, soos dit deur Jesaja opgeteken is, en kyk wat jy dink: “Wat hulle werke en hulle gedagtes betref, ek kom om al die nasies en tale bymekaar te bring; en hulle sal moet kom en my heerlikheid moet sien” (Jesaja 66:18). Jehovah is bewus van die werke sowel as die gedagtes van almal wat sê dat hulle sy knegte is, en hy is gereed om hulle daarvolgens te oordeel. Juda sê dat hulle in Jehovah glo, maar hulle afgodiese werke en heidense gebruike weerspreek daardie verklaring. Dit is tevergeefs dat die inwoners hulle volgens heidense ritusse “reinig”. Die nasie sal vernietig word, en wanneer dit gebeur, sal dit ten aanskoue van hulle buurnasies wees wat afgode aanbid. Hulle sal ‘Jehovah se heerlikheid sien’ deurdat hulle getuies sal wees van die gebeure en gedwing sal word om te erken dat Jehovah se woord bewaarheid is. Hoe is dit alles op die Christendom van toepassing? Wanneer hulle vernietig word, sal baie van hulle voormalige vriende en sakevennote maar net hulpeloos kan staan en kyk terwyl Jehovah se woord vervul word.—Jeremia 25:31-33; Openbaring 17:15-18; 18:9-19.
9. Watter goeie nuus maak Jehovah bekend?
9 Toon Jerusalem se vernietiging in 607 v.G.J. dat Jehovah nie meer getuies op aarde sal hê nie? Nee. Uitsonderlike handhawers van onkreukbaarheid, soos Daniël en sy drie metgeselle, sal Jehovah selfs as ballinge in Babilon aanhou dien (Daniël 1:6, 7). Ja, die lyn van getroue getuies van Jehovah sal nie gebreek word nie, en aan die einde van 70 jaar sal getroue manne en vroue Babilon verlaat en na Juda terugkeer om rein aanbidding daar te herstel. Dit is waarna Jehovah vervolgens verwys: “Ek sal ’n teken onder hulle stel, en ek sal van dié wat ontkom het, na die nasies stuur, na Tarsis, Pul en Lud, wat die boog span, Tubal en Jawan, die afgeleë eilande, wat nie ’n berig oor my gehoor het of my heerlikheid gesien het nie; en hulle sal vir seker my heerlikheid onder die nasies verkondig.”—Jesaja 66:19.
10. (a) In watter sin sal getroue Jode wat uit Babilon vrygelaat is, as ’n teken dien? (b) Wie dien vandag as ’n teken?
10 Die groot groep getroue manne en vroue wat in 537 v.G.J. na Jerusalem terugkeer, sal as ’n verbasende teken dien, ’n bewys dat Jehovah sy volk gered het. Wie sou kon droom dat die gevange Jode eendag vry sou wees om rein aanbidding in Jehovah se tempel te beoefen? Op ’n soortgelyke manier was diegene wat in die eerste eeu “as tekens en wonderwerke” gedien het, gesalfde Christene na wie sagmoediges wat Jehovah wou dien, gestroom het (Jesaja 8:18; Hebreërs 2:13). Vandag dien gesalfde Christene, wat voorspoedig is in hulle herstelde land, as ’n verbasende teken op aarde (Jesaja 66:8). Hulle is lewende bewys van die krag van Jehovah se gees, en hulle trek sagmoediges aan wie se harte hulle dring om Jehovah te dien.
11. (a) Hoe sal dit wees dat diegene van die nasies eers ná die herstelling van Jehovah sal leer? (b) Hoe is Sagaria 8:23 aanvanklik vervul?
11 Maar hoe sal mense van die nasies wat nog niks van Jehovah gehoor het nie, hom ná die herstelling in 537 v.G.J. leer ken? Wel, nie alle getroue Jode sal aan die einde van die Babiloniese gevangenskap na Jerusalem terugkeer nie. Party, soos Daniël, sal in Babilon bly. Ander sal na die uithoeke van die aarde versprei word. Teen die einde van die vyfde eeu v.G.J. was daar Jode wat in die hele Persiese Ryk gewoon het (Ester 1:1; 3:8). Party van hulle het hulle heidense bure ongetwyfeld van Jehovah vertel, want baie uit daardie nasies het Joodse proseliete geword. Dit was klaarblyklik die geval met die Etiopiese eunug, vir wie die Christendissipel Filippus in die eerste eeu gepreek het (Handelinge 8:26-40). Dit alles het plaasgevind as ’n aanvanklike vervulling van die woorde van die profeet Sagaria: “In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ’n Joodse man vasgryp, ja, hulle sal dit vasgryp en sê: ‘Ons sal saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God met julle is’” (Sagaria 8:23). Jehovah het inderdaad lig na die nasies uitgestuur!—Psalm 43:3.
Hulle bring “’n gawe aan Jehovah”
12, 13. Op watter manier sal “broers” vanaf 537 v.G.J. na Jerusalem gebring word?
12 Nadat Jerusalem herbou is, sal die Jode wat ver buite hulle vaderland versprei is, die stad en sy herstelde priesterdom as die sentrum van rein aanbidding beskou. Baie van hulle sal lang afstande reis om die jaarlikse feeste daar by te woon. Onder inspirasie skryf Jesaja: “‘Hulle sal al julle broers uit al die nasies as ’n gawe aan Jehovah bring, op perde en op waens en op oordekte waens en op muile en op vinnige kameelkoeie, na my heilige berg, Jerusalem’, het Jehovah gesê, ‘net soos wanneer die kinders van Israel die gawe in ’n rein houer in die huis van Jehovah bring. En ook uit hulle sal ek party neem vir die priesters, vir die Leviete.’”—Jesaja 66:20, 21.
13 Party van daardie “broers uit al die nasies” was op Pinksterdag teenwoordig toe heilige gees op Jesus se dissipels uitgestort is. Die verslag sê: “In Jerusalem het daar Jode gewoon, godvresende manne, uit elke nasie van dié onder die hemel” (Handelinge 2:5). Hulle het na Jerusalem gekom om volgens die Joodse gebruik te aanbid, maar toe hulle die goeie nuus van Jesus Christus hoor, het baie geloof in hom beoefen en is hulle gedoop.
14, 15. (a) Hoe het gesalfde Christene ná die Eerste Wêreldoorlog meer van hulle geestelike “broers” ingesamel, en hoe is hulle as ’n “gawe in ’n rein houer” voor Jehovah gebring? (b) In watter opsig het Jehovah ‘party vir die priesters geneem’? (c) Wie was onder die gesalfde Christene wat by die insameling van hulle geestelike broers betrokke was? (Sien die venster op hierdie bladsy.)
14 Het hierdie profesie ’n hedendaagse vervulling? Ja, beslis. Ná die Eerste Wêreldoorlog het Jehovah se gesalfde knegte uit die Skrif geleer dat God se Koninkryk in 1914 in die hemel opgerig is. Deur noukeurige Bybelstudie het hulle geleer dat bykomende Koninkrykserfgename, of “broers”, ingesamel sou word. Onverskrokke bedienaars het allerhande vervoermiddele gebruik om tot “die mees afgeleë deel van die aarde” te reis en toekomstige lede van die gesalfde oorblyfsel te soek, waarvan die meeste uit die kerke van die Christendom gekom het. Wanneer hulle opgespoor is, is hulle as ’n gawe aan Jehovah gebring.—Handelinge 1:8.
15 Die gesalfdes wat in die vroeë jare ingesamel is, het nie verwag dat Jehovah hulle moet aanvaar soos hulle was voordat hulle tot ’n kennis van Bybelwaarheid gekom het nie. Hulle het stappe gedoen om hulle te reinig van enigiets wat hulle geestelik en sedelik verontreinig het, sodat hulle as ’n “gawe in ’n rein houer”, of soos die apostel Paulus gesê het, “’n kuis maagd voor die Christus”, gebring kon word (2 Korintiërs 11:2). Buiten dat hulle leerstellige dwalings verwerp het, moes die gesalfdes leer hoe om heeltemal neutraal te bly in die politieke aangeleenthede van hierdie wêreld. In 1931, toe Jehovah se knegte in die gepaste mate gereinig is, het Hy hulle goedgunstig die voorreg gegee om sy naam as Jehovah se Getuies te dra (Jesaja 43:10-12). Maar in watter opsig het Jehovah ‘party vir die priesters geneem’? As ’n groep het hierdie gesalfdes ’n deel geword van “’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie”, wat lofoffers aan God bring.—1 Petrus 2:9; Jesaja 54:1; Hebreërs 13:15.
Die insameling duur voort
16, 17. Wie is “julle nageslag” ná die Eerste Wêreldoorlog?
16 Die volle getal van daardie “koninklike priesterdom” is 144000, en mettertyd is daardie insameling voltooi (Openbaring 7:1-8; 14:1). Was dit die einde van die insamelingswerk? Nee. Jesaja se profesie sê verder: “‘Net soos die nuwe hemele en die nuwe aarde wat ek maak, voor my aangesig bestaan’, is die woord van Jehovah, ‘so sal julle nageslag en julle naam bly bestaan’” (Jesaja 66:22). In die oorspronklike vervulling van hierdie woorde het Jode wat uit die Babiloniese gevangenskap gekom het, kinders begin grootmaak. Gevolglik het die herstelde Joodse oorblyfsel, “die nuwe aarde”, onder die nuwe Joodse administrasie, “die nuwe hemele”, stewig gevestig geraak. Maar die profesie het in ons dag die merkwaardigste vervulling.
17 Die “nageslag” wat die nasie van geestelike broers voortbring, is die “groot menigte”, wat die hoop het op ewige lewe op die aarde. Hulle kom “uit alle nasies en stamme en volke en tale” en hulle staan “voor die troon en voor die Lam”. “Hulle het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam” (Openbaring 7:9-14; 22:17). Vandag kom die “groot menigte” uit die geestelike duisternis na die lig wat Jehovah voorsien. Hulle beoefen geloof in Jesus Christus, en soos hulle gesalfde broers en susters probeer hulle om geestelik en sedelik rein te bly. Hulle hou as ’n groep aan om onder Christus se leiding te dien, en hulle sal vir ewig “bly bestaan”!—Psalm 37:11, 29.
18. (a) Hoe het lede van die groot menigte soos hulle gesalfde broers opgetree? (b) Hoe aanbid die gesalfdes en hulle metgeselle Jehovah “van nuwemaan tot nuwemaan en van sabbat tot sabbat”?
18 Hierdie hardwerkende manne en vroue met ’n aardse hoop weet dat sedelike en geestelike reinheid noodsaaklik is, maar hulle besef ook dat dit nie al is wat nodig is om Jehovah te behaag nie. Die insamelingswerk is goed op dreef, en hulle wil daaraan deelneem. Die boek Openbaring voorspel aangaande hulle: “Hulle [is] voor die troon van God; en hulle verrig dag en nag heilige diens aan hom in sy tempel” (Openbaring 7:15). Hierdie woorde herinner ons aan die tweede laaste vers van Jesaja se profesie: “‘Van nuwemaan tot nuwemaan en van sabbat tot sabbat sal alle vlees beslis kom om hulle voor my neer te buig’, het Jehovah gesê” (Jesaja 66:23). Dit gebeur vandag. Gesalfde Christene en hulle metgeselle, die groot menigte, kom “van nuwemaan tot nuwemaan en van sabbat tot sabbat”—dit wil sê gereeld, elke week van elke maand—bymekaar om Jehovah te aanbid. Hulle doen dit onder meer deur Christelike vergaderinge by te woon en aan die openbare bediening deel te neem. Is jy een van dié wat gereeld ‘kom om jou voor Jehovah neer te buig’? Jehovah se volk put groot vreugde daaruit om dit te doen, en dié van die groot menigte sien uit na die tyd wanneer “alle vlees”—alle mense wat lewe—Jehovah tot in alle ewigheid “van nuwemaan tot nuwemaan en van sabbat tot sabbat” sal aanbid.
Die finale einde van God se vyande
19, 20. Watter doel het Gehenna in Bybeltye gehad, en wat beeld dit af?
19 Daar bly nog een vers oor in ons studie van Jesaja se profesie. Die boek sluit af met hierdie woorde: “Hulle sal uitgaan en die lyke aanskou van die mense wat teen my oortree het; want die wurms op hulle sal nie sterf nie en hulle vuur sal nie uitgeblus word nie, en hulle moet iets afstootliks vir alle vlees word” (Jesaja 66:24). Jesus Christus het heel moontlik hierdie profesie in gedagte gehad toe hy sy dissipels aangespoor het om hulle lewe te vereenvoudig en Koninkryksbelange eerste te stel. Hy het gesê: “As jou oog jou laat struikel, gooi dit weg; dit is vir jou beter om met een oog in die koninkryk van God in te gaan as om met twee oë in Gehenna gewerp te word, waar hulle wurm nie doodgaan en die vuur nie geblus word nie.”—Markus 9:47, 48; Matteus 5:29, 30; 6:33.
20 Wat is hierdie plek wat Gehenna genoem word? Eeue gelede het die Joodse geleerde David Kimhi geskryf: “Dit is ’n plek . . . langsaan Jerusalem, en dit is ’n weersinwekkende plek, en hulle gooi onrein dinge en dooie liggame daarin. Ook was daar ’n vuur wat die hele tyd gebrand het om die onrein dinge en die beendere van die dooie liggame te verteer. Gevolglik word die oordeel van die goddeloses sinnebeeldig Gehinnom genoem.” As Gehenna, soos hierdie Joodse geleerde sê, gebruik is vir die vernietiging van vullis en die lyke van diegene wat onwaardig van ’n begrafnis beskou is, sou vuur ’n gepaste metode wees om van sulke vullis ontslae te raak. Wat die vuur nie verteer het nie, sou deur die wurms verteer word. Wat ’n gepaste beeld van die finale einde van al God se vyande!b
21. Vir wie sluit die boek Jesaja op ’n positiewe noot af, en waarom?
21 Sluit Jesaja se opwindende profesie nie op ’n grusame noot af met hierdie verwysing na lyke, vuur en wurms nie? God se geswore vyande dink ongetwyfeld so. Maar vir God se vriende is Jesaja se beskrywing van die ewige vernietiging van die goddeloses besonder aanmoedigend. Jehovah se volk het hierdie versekering nodig dat hulle vyande nooit weer die oorhand sal kry nie. Daardie vyande, wat God se aanbidders soveel ellende besorg het en sy naam soveel oneer aangedoen het, sal vir ewig vernietig word. Dan sal “benoudheid . . . nie ’n tweede keer opkom nie”.—Nahum 1:9.
22, 23. (a) Noem van die maniere waarop jy baat gevind het by jou studie van die boek Jesaja. (b) Wat is jou voorneme, noudat jy die boek Jesaja bestudeer het, en wat is jou vooruitsig?
22 Hier aan die einde van ons studie van die boek Jesaja besef ons beslis dat hierdie Bybelboek nie net dooie geskiedenis is nie. Inteendeel, dit het ’n boodskap vir ons wat vandag lewe. Wanneer ons aan die donker tye dink waartydens Jesaja gelewe het, kan ons die ooreenkomste tussen daardie tydperk en ons dag sien. Politieke onrus, godsdienshuigelary, korrupsie in die regstelsel en onderdrukking van die getroues en armes was algemeen gedurende Jesaja se tyd, en dit is net so algemeen in ons tyd. Getroue Jode in die sesde eeu v.G.J. was ongetwyfeld dankbaar vir Jesaja se profesie, en ons word vandag ook vertroos wanneer ons dit bestudeer.
23 In hierdie kritieke tye wanneer duisternis die aarde oordek en dik donkerheid die volksgroepe, is ons almal baie dankbaar dat Jehovah, deur middel van Jesaja, lig vir die hele mensdom voorsien het! Hierdie geestelike lig beteken niks minder nie as die ewige lewe vir almal wat dit heelhartig aanneem, ongeag wat hulle nasionale oorsprong of etniese agtergrond is (Handelinge 10:34, 35). Mag ons dus aanhou om in die lig van God se Woord te wandel, om dit elke dag te lees, daaroor te peins en die boodskap daarin as kosbaar te beskou. Dit sal vir ons ewige seëninge meebring en Jehovah se heilige naam tot eer strek!
[Voetnote]
a Met betrekking tot die situasie wat geheers het nadat Jerusalem voor die Babiloniërs geval het, praat Jeremia 52:15 van “party van die geringes van die volk en die res van die volk wat in die stad oorgebly het”. In ’n kommentaar hieroor sê Insight on the Scriptures, Deel 1, bladsy 415: “Die uitdrukking ‘wat in die stad oorgebly het’ toon blykbaar dat groot getalle weens hongersnood, siekte of vuur gesterf, of in die oorlog gesneuwel het.”
b Aangesien dooie liggame in Gehenna verteer word, en nie lewende mense nie, is hierdie plek nie ’n simbool van ewige foltering nie.
[Venster op bladsy 409]
Gesalfde gawes vir Jehovah uit al die nasies
In 1920 het Juan Muñiz die Verenigde State verlaat, na Spanje gegaan en daarvandaan na Argentinië, waar hy gemeentes van die gesalfdes georganiseer het. Van 1923 af het die lig van waarheid op opregtes van hart in Wes-Afrika geskyn toe die sendeling William R. Brown (dikwels Bible Brown genoem) die Koninkryksboodskap in plekke soos Sierra Leone, Ghana, Liberië, Gambië en Nigerië begin verkondig het. In daardie selfde jaar het die Kanadees George Young na Brasilië gegaan en daarvandaan na Argentinië, Costa Rica, Panama, Venezuela en selfs die Sowjetunie. Omtrent dieselfde tyd het Edwin Skinner uit Engeland na Indië vertrek, waar hy baie jare lank aan die oeswerk deelgeneem het.
[Prent op bladsy 411]
Op Pinkster was party Jode ‘broers wat uit al die nasies gebring is’
[Volbladillustrasie op bladsy 413]