STUDIE 53
Gehoor aangemoedig en versterk
ONGEAG die probleme waarvoor knegte van God te staan kom, hulle moet voel dat hulle in die Christengemeente aanmoediging kry. Met dié doel moet ouer manne in die besonder seker maak dat hulle toesprake en raad aanmoedigend is. Die ouer manne moet “soos ’n skuilplek teen die wind en ’n skuiling teen die reënstorm wees, soos waterstrome in ’n waterlose land, soos die skaduwee van ’n groot, swaar rots in ’n uitgeputte land”.—Jes. 32:2.
As jy ’n ouer man is, verkwik en vertroos jou toesprake ander? Besiel dit diegene wat daarna streef om Jehovah getrou te dien? Gee dit ander krag om te volhard om God se wil te doen ten spyte van openbare onverskilligheid of teenstand? Sê nou party in jou gehoor is terneergedruk, gaan gebuk onder kwaai ekonomiese druk of ly aan ’n ernstige siekte waarvoor daar nog geen genesing is nie? Jy kan jou broers “met die woorde van [jou] mond versterk”.—Job 16:5.
Gebruik die geleentheid wat jy as ’n spreker het om jou broers te help om hoop en krag te kry van Jehovah en die voorsienings wat hy gemaak het.—Rom. 15:13; Ef. 6:10.
Vestig die aandag op wat Jehovah gedoen het. ’n Belangrike manier om mense met moed te besiel, is deur vir hulle te wys hoe Jehovah sy volk in die verlede deur moeilikhede gehelp het.—Rom. 15:4.
Jehovah het vir Moses gesê om Josua ‘aan te moedig’ en te “versterk” voordat Israel die Beloofde Land binnegegaan het, wat destyds deur vyandelike nasies beset was. Hoe het Moses dit gedoen? In Josua se teenwoordigheid het Moses die hele nasie aan die dinge herinner wat Jehovah vir hulle gedoen het toe hulle Egipte verlaat het (Deut. 3:28; 7:18). Moses het ook van oorwinnings vertel wat Jehovah hulle oor die Amoriete gegee het. Toe het Moses vir Josua aangespoor: “Wees moedig en sterk” (Deut. 31:1-8). Wanneer jy jou broers probeer aanmoedig, versterk jy hulle deur hulle te herinner aan wat Jehovah reeds vir hulle gedoen het?
Soms is mense so oorweldig deur hulle probleme dat hulle wonder of hulle ooit die seëninge van die Koninkryk sal geniet. Herinner hulle aan die betroubaarheid van Jehovah se beloftes.—Jos. 23:14.
In party lande het ons broers te kampe met regeringsverbooie op die verkondiging van die goeie nuus. In sulke gevalle kan liefdevolle ouer manne medegelowiges help om versterk te word deur die ondervindinge van Jesus Christus se apostels (Hand. 4:1–5:42). En as hulle aandag gevestig word op hoe God gebeure gerig het, soos in die boek Ester opgeteken is, sal dit die broers beslis moed gee.
Soms woon mense gemeentelike vergaderinge by, maar hulle vorder nie verder nie. Hulle voel dalk dat God hulle nooit kan vergewe nie omdat hulle vorige lewenswyse so sleg was. Miskien kan jy vertel hoe Jehovah koning Manasse behandel het (2 Kron. 33:1-16). Of jy kan vertel van mense in eertydse Korinte wat hulle lewenswyse verander het, Christene geword het en deur God regverdig verklaar is.—1 Kor. 6:9-11.
Voel party dat die probleme wat hulle ondervind, ’n aanduiding is dat hulle God se guns verloor het? Jy kan hulle herinner aan wat Job deurgemaak het en hoe hy ryklik geseën is omdat hy sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah gehandhaaf het (Job 1:1-22; 10:1; 42:12, 13; Ps. 34:19). Job se valse vertroosters het verkeerdelik beweer dat Job die een of ander sonde moes gepleeg het (Job 4:7, 8; 8:5, 6). In teenstelling hiermee het Paulus en Barnabas, toe hulle die dissipels versterk het en “hulle aangemoedig [het] om in die geloof te bly”, gesê: “Ons moet deur baie verdrukkinge heen in die koninkryk van God ingaan” (Hand. 14:21, 22). So kan jy ook vandag diegene versterk wat beproewinge ondergaan deur te verduidelik dat volharding onder beproewing van alle Christene vereis word en van groot waarde in die oë van God is.—Spr. 27:11; Matt. 24:13; Rom. 5:3, 4; 2 Tim. 3:12.
Spoor jou gehoor aan om te dink aan maniere waarop Jehovah sy beloftes in hulle lewe nagekom het. Met ’n bietjie hulp sal hulle dalk sien hoe Jehovah reeds ten behoewe van hulle opgetree het, net soos hy belowe het. In Psalm 32:8 lees ons: “Ek sal jou insig gee en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan. Ek sal raad gee met my oog op jou.” Deur jou gehoor te help onthou hoe Jehovah hulle gelei en versterk het, sal jy hulle in staat stel om self te sien dat Jehovah vir hulle sorg en dat hy hulle werklik sal bystaan deur enige beproewinge wat hulle tans ondervind.—Jes. 41:10, 13; 1 Pet. 5:7.
Laat jou vreugde oor wat God nou doen, duidelik wees. Wanneer jy jou broers wil aanmoedig, kan jy die aandag vestig op wat Jehovah nou reeds doen. As dit uit die manier waarop jy oor hierdie dinge praat duidelik blyk dat jy vreugde daaruit put, sal dit soortgelyke gevoelens in die harte wek van dié wat na jou luister.
Dink aan hoe Jehovah ons help om die druk van die lewe die hoof te bied. Hy leer ons wat die beste manier is om te lewe (Jes. 30:21). Hy verduidelik die redes vir misdaad, ongeregtigheid, armoede, siekte en die dood en sê vir ons hoe hy al hierdie dinge tot ’n einde sal bring. Hy omring ons met ’n liefdevolle broederskap. Hy gee ons die kosbare voorreg van gebed. Hy vertrou die voorreg om sy Getuies te wees aan ons toe. Hy open ons oë om te sien dat Christus reeds in die hemel gekroon is en dat die laaste dae van die ou stelsel vinnig tot ’n einde kom.—Op. 12:1-12.
Voeg dan by hierdie seëninge ons gemeentelike vergaderinge en byeenkomste. Wanneer jou opregte waardering vir hierdie voorsienings duidelik blyk uit die manier waarop jy daaroor praat, sal jy ander meer vasbeslote maak om nie die bywoning van vergaderinge met hulle broers na te laat nie.—Heb. 10:23-25.
Verslae wat bewys lewer van Jehovah se seën op ons pogings in die veldbediening is ook ’n bron van krag. Toe Paulus en Barnabas in die eerste eeu op pad was na Jerusalem, het hulle “aan al die broers groot vreugde verskaf” deur in besonderhede te vertel van die bekering van mense van die nasies (Hand. 15:3). Jy kan ook ’n bron van vreugde vir die broers wees deur vir hulle opbouende ondervindinge te vertel.
Mense sal verder aangemoedig word wanneer hulle gehelp word om die waarde te sien van wat hulle doen. Prys hulle vir die aandeel wat hulle aan die Christelike bediening het. Prys diegene wat baie min kan doen weens die beperkings van ouderdom en siekte, maar wat nogtans getrou volhard. Herinner hulle daaraan dat Jehovah nie die liefde vergeet wat hulle vir sy naam getoon het nie (Heb. 6:10). Beproefde geloof is ’n waardevolle besitting (1 Pet. 1:6, 7). Ons broers moet hieraan herinner word.
Praat met gevoel oor ons toekomshoop. Die geïnspireerde beloftes van toekomstige dinge is ’n belangrike bron van aanmoediging vir almal wat lief is vir God. Die meeste van dié in jou gehoor het hierdie dinge moontlik al dikwels gehoor. Maar deur die waardering wat jy toon wanneer jy oor hierdie beloftes praat, kan jy dit laat lewe, vertroue in die vervulling daarvan inboesem en ander se harte van dankbaarheid laat oorloop. As jy toepas wat jy in die Teokratiese Bedieningskool geleer het, kan dit jou help om dit te doen.
Jehovah is self die Groot Aanmoediger en Versterker van sy volk. En tog kan jy met hom saamwerk om vir ander so ’n seën te wees. Maak goed gebruik van die geleentheid om dit te doen wanneer jy met die gemeente praat.