Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • yp1 hfst. 1 bl. 7-13
  • Hoe kan ek met my ouers praat?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek met my ouers praat?
  • Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hou aan praat!
  • Moenie verwarrende boodskappe uitstuur nie
  • Hoe kan ek met my ouers praat?
    Ontwaak!—2009
  • Hoe kan ek met my ouers kommunikeer?
    Antwoorde op 10 vrae wat jongmense vra
  • Waarom laat my ouers my nie toe om pret te hê nie?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
  • Waarom laat my ouers my nie toe om pret te hê nie?
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 1
yp1 hfst. 1 bl. 7-13

Hoofstuk 1

Hoe kan ek met my ouers praat?

“Ek het regtig hard probeer om vir my ouers te sê hoe ek voel, maar die woorde het nie reg uitgekom nie—en hulle het my eenvoudig in die rede geval. Dit was vir my moeilik om die moed bymekaar te skraap om met hulle te praat, en dit was ’n totale mislukking!”—Rosa.

TOE jy jonger was, was jou ouers waarskynlik die eerstes by wie jy raad gevra het. Jy het hulle enige nuus vertel, hetsy dit belangrik was of nie. Jy het jou gedagtes en gevoelens vryelik uitgespreek, en jy het hulle raad vertrou.

Maar nou voel jy dalk dat jou ouers jou net nie meer verstaan nie. “Ek het eendag gedurende aandete begin huil en my hart uitgestort”, sê ’n meisie met die naam Edie. “My ouers het geluister, maar dit het nie gelyk of hulle verstaan nie.” Die gevolg? “Ek het net na my kamer toe gegaan en verder gehuil!”

Maar soms verkies jy dalk om nie openhartig met jou ouers te praat nie. “Daar is baie dinge waaroor ek met my ouers praat”, sê ’n seun met die naam Christopher. “Maar ek wil nie hê dat hulle altyd alles moet weet wat ek dink nie.”

Is dit verkeerd om party gedagtes vir jouself te hou? Nie noodwendig nie—solank jy ander nie mislei nie (Spreuke 3:32). Maar of jy nou voel dat jou ouers jou nie verstaan nie en of jy dalk terughoudend is, een ding is seker: Jy moet met jou ouers praat—en hulle moet weet hoe jy voel.

Hou aan praat!

In sekere opsigte is kommunikasie met jou ouers soos om ’n motor te bestuur. As jy by ’n padversperring kom, gee jy nie moed op nie; jy vind eenvoudig ’n ander roete. Kyk na twee voorbeelde.

PADVERSPERRING 1 Jy wil praat, maar dit lyk nie of jou ouers luister nie. “Dis vir my moeilik om met my pa te kommunikeer”, sê ’n meisie met die naam Leah. “Partykeer praat ek al ’n rukkie met hom, en dan sê hy: ‘Jammer, het jy met my gepraat?’”

VRAAG: Sê nou Leah het ’n probleem wat sy werklik wil bespreek? Sy het ten minste drie opsies.

Opsie A

Skreeu op haar pa. Leah skreeu: “Kom nou, dis belangrik! Luister!”

Opsie B

Hou op om met haar pa te praat. Leah hou eenvoudig op om oor haar probleem te probeer praat.

Opsie C

Wag vir ’n beter tyd en probeer dan weer oor die onderwerp praat. Leah praat later met haar pa of skryf vir hom ’n brief oor haar probleem.

Watter opsie dink jy moet Leah kies? ․․․․․

Kom ons ondersoek elke opsie om te kyk watter gevolge dit waarskynlik sal hê.

Leah se pa is ingedagte, en daarom besef hy nie dat sy gefrustreerd is nie. As Leah dus Opsie A kies, kan dit lyk of sy uit die bloute begin skreeu. Hierdie opsie sal Leah se pa waarskynlik nie ontvankliker maak vir haar woorde nie, en dit sal nie respek en eer vir hom toon nie (Efesiërs 6:2). Hierdie opsie lei dus in werklikheid tot ’n verloorsituasie.

Hoewel Opsie B miskien die maklikste weg is om te volg, is dit nie die verstandigste weg nie. Waarom nie? Want “planne misluk waar daar geen vertroulike gesprekke is nie” (Spreuke 15:22). As Leah haar probleme suksesvol wil hanteer, moet sy met haar pa praat—en om haar te kan help, moet hy weet wat in haar lewe aangaan. Sy sal niks bereik as sy ophou praat nie.

Met Opsie C laat Leah egter nie toe dat ’n padversperring ’n doodloopstraat word nie. Sy probeer die onderwerp eerder op ’n ander tyd bespreek. En as Leah besluit om vir haar pa ’n brief te skryf, kan dit haar dadelik beter laat voel. Om ’n brief te skryf, kan haar ook help om te besluit hoe sy haar gedagtes wil uitdruk. Wanneer Leah se pa die brief lees, sal hy besef wat sy vir hom probeer sê het, en dit kan hom help om haar probleem beter te verstaan. Opsie C hou dus voordele in vir Leah en vir haar pa.

Watter ander opsies het Leah dalk? Kyk of jy aan een kan dink, en skryf dit hieronder neer. Skryf dan neer watter gevolge hierdie opsie waarskynlik sal hê.

․․․․․

PADVERSPERRING 2 Jou ouers wil gesels, maar jy wil nie. “Daar’s niks ergers as om direk ná ’n moeilike dag by die skool met vrae gebombardeer te word nie”, sê ’n meisie met die naam Sarah. “Ek wil net van skool vergeet, maar my ouers begin onmiddellik vra: ‘Hoe was jou dag? Was daar enige probleme?’” Sarah se ouers vra hierdie vrae ongetwyfeld met die beste bedoelings. Nogtans kla sy: “Dis moeilik om oor skool te praat wanneer ek moeg en gespanne is.”

VRAAG: Wat kan Sarah in hierdie situasie doen? Soos met die vorige voorbeeld het sy ten minste drie opsies.

Opsie A

Weier om te praat. Sarah sê: “Los my asseblief net uit. Ek wíl nie nou daaroor praat nie!”

Opsie B

Praat teësinnig daaroor. Al voel Sarah gespanne, beantwoord sy haar ouers se vrae teësinnig.

Opsie C

Stel die gesprek oor skool uit, maar hou die gesprek aan die gang deur oor ’n ander onderwerp te praat. Sarah stel voor dat hulle op ’n ander tyd oor skool praat, wanneer sy weet dat sy in ’n beter bui sal wees. Dan sê sy met opregte belangstelling: “Vertel my van julle dag. Hoe het dit gegaan?”

Watter opsie dink jy moet Sarah kies? ․․․․․

Kom ons ondersoek weer elke opsie om te kyk watter gevolge dit waarskynlik sal hê.

Sarah is gespanne en is nie lus om te praat nie. As sy Opsie A kies, sal sy nog steeds gespanne voel, maar sy sal ook skuldig voel oor haar uitbarsting teenoor haar ouers.—Spreuke 29:11.

Boonop sal Sarah se ouers nie beïndruk wees met haar uitbarsting nie—ook nie met die stilte wat daarop volg nie. Hulle sal moontlik dink dat Sarah iets wegsteek. Miskien sal hulle selfs harder probeer om haar te kry om oor haar gevoelens te praat, wat haar natuurlik net meer sal frustreer. Op die ou end lei hierdie opsie tot ’n verloorsituasie.

Opsie B is beslis ’n beter keuse as opsie A. Sarah en haar ouers sal ten minste met mekaar praat. Maar aangesien dit nie ’n openhartige gesprek sal wees nie, sal nie Sarah of haar ouers kry wat hulle wil hê nie—’n ontspanne, openlike gesprek.

In die geval van Opsie C sal Sarah egter beter voel omdat die gesprek oor skool vir eers uitgestel is. Haar ouers sal haar poging waardeer om nog steeds met hulle te gesels, en daarom sal hulle ook tevrede voel. Hierdie opsie het waarskynlik die beste kans op sukses omdat albei kante die beginsel in Filippense 2:4 toepas, wat sê: “Gee ag op mekaar se belange, nie net op julle eie nie.”—Today’s English Version.

Moenie verwarrende boodskappe uitstuur nie

Onthou, wat jy sê en wat jou ouers hoor, is nie altyd dieselfde nie. Byvoorbeeld: Jou ouers vra waarom dit lyk of jy in ’n slegte bui is. Jy sê: “Ek wil nie daaroor praat nie.” Maar jou ouers hoor: “Ek vertrou julle nie genoeg om met julle daaroor te praat nie. Ek sal met my vriende oor die probleem praat, maar nie met julle nie.” Probeer die oefening hieronder en vul jou antwoorde in. Stel jou voor dat jy met ’n moeilike probleem sukkel en dat een van jou ouers aanbied om jou te help.

As jy sê: “Moenie bekommerd wees nie. Ek kan dit self hanteer.”

Hoor jou ouers dalk: ․․․․․

’n Beter antwoord sal moontlik wees: ․․․․․

Die les? Kies jou woorde versigtig. Praat op ’n respekvolle manier (Kolossense 4:6). Beskou jou ouers as jou bondgenote, nie jou vyande nie. En kom ons wees eerlik: As jy die uitdagings waarvoor jy te staan kom, die hoof wil bied, het jy al die bondgenote nodig wat jy kan kry.

IN ONS VOLGENDE HOOFSTUK

Sê nou dit is nie vir jou moeilik om met jou ouers te praat nie, maar elke keer wanneer julle praat, stry julle?

SLEUTELTEKSTE

“Ek praat uit die hart, en my woorde is opreg.”—Job 33:3, The Holy Bible in the Language of Today, deur William Beck.

WENK

As dit vir jou moeilik is om met jou ouer(s) oor ’n probleem te gaan sit en praat, kan julle die saak bespreek terwyl julle stap, ry of inkopies doen.

HET JY GEWEET . . . ?

Net soos dit dalk vir jou moeilik is om met jou ouers oor ernstige onderwerpe te praat, voel hulle dalk ook ongemaklik en onbevoeg wanneer hulle oor dieselfde onderwerpe met jou probeer praat.

AKSIEPLAN!

Die volgende keer as ek voel dat ek nie verder met my ouers oor iets wil praat nie, gaan ek ․․․․․

As my ouer daarop aandring dat ek praat oor ’n onderwerp wat ek nie wil bespreek nie, sal ek sê ․․․․․

Wat ek graag vir my ouer(s) hieroor wil vra ․․․․․

WAT DINK JY?

● Watter rol speel tydsberekening in goeie kommunikasie?—Spreuke 25:11.

● Waarom is dit die moeite werd om met jou ouers te praat?—Job 12:12.

[Lokteks op bladsy 10]

Dis nie altyd maklik om met jou ouers te kommunikeer nie, maar wanneer jy wel openhartig met hulle praat, voel dit asof ’n berg van jou skouers af is.’’—Devenye

[Prent op bladsy 8]

Net soos jy ’n ander pad kan vind as jy by ’n padversperring kom, kan jy ’n manier vind om met jou ouers te kommunikeer!

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel