Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 4/15 bl. 3-4
  • “Verafsku wat sleg is”—Waarom?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Verafsku wat sleg is”—Waarom?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Soortgelyke materiaal
  • Pornografie—Onskadelik of gevaarlik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Pornografie
    Ontwaak!—2013
  • Die skade wat pornografie veroorsaak
    Ontwaak!—2003
  • Waarom moet ek pornografie verwerp?
    Jongmense vra
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 4/15 bl. 3-4

“VERAFSKU WAT SLEG IS”—WAAROM?

“Verafsku wat sleg is; hang die goeie aan; wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde.”—Rom. 12:9, 10.

“HY HET homself met pornografie vermaak.” Sy vuil woonstel in Yonkers, New York, was inderdaad vol “pornografiese rommel en besmeer met graffiti.” Dit het hom ook groot genot verskaf om koerantuitknipsels oor sy skokkende misdade te lees.

Wie was hierdie man? Hy was die 24-jarige erkende “Seun van Sam”, wie se berugtheid selfs die voorblaaie van die amptelike spreekbuise van die Vatikaan en Sowjet-Rusland bereik het. In 13 maande het die moordenaar ses jongmense vermoor, vyf mooi vroue en ’n aantreklike jong man, en sewe ander gewond. ’n Aanduiding van sy opsigtige verwaandheid is die feit dat hy gespog het: “Ek skiet net mooi meisies.”—“Newsweek”, 22 Augustus 1977.

Kan daar ’n verband bestaan tussen die soort leesstof waarvan hierdie man gehou het en sy sieklike mentaliteit? Die feit dat hy gespog het dat hy net mooi meisies doodmaak, blyk daarop te dui. Hierdie gevolgtrekking word gestaaf deur wat geskiedenisverslae sê oor die Franse losbandige markies de Sade (1814 G.J.)—van wie se naam die woord “sadisme”. afkomstig is. Hy het pornografie met seksmisdade gekombineer. Nadat hy herhaaldelik vir sy misdade in hegtenis geneem is, het de Sade sy laaste lewensjare in ’n kranksinnigegestig deurgebring, waar hy tot die einde toe nog probeer het om die pasiënte te oorreed om sy pornografiese en sadistiese verhoogstukke op te voer.

Heelparty persone beweer weliswaar dat pornografie onskadelike vermaak verskaf. Enkele jare gelede het ’n kommissie wat deur die president van die Verenigde State aangestel is byvoorbeeld tot die gevolgtrekking gekom dat pornografie geen “betekenisvolle oorsaaklike rol by die aanrig van maatskaplike of indiwiduele skade” speel nie. Ses van die 18 lede van hierdie kommissie het egter heftig van hierdie mening verskil. ’n Mens kan eenvoudig nie die feit negeer dat ’n groot vermeerdering in pornografiese materiaal gepaard gegaan het met ’n toename in veneriese siekte, buite-egtelike geboortes, aborsies, verkragtings en ander seksmisdade nie. Een Amerikaanse navorser wat onderhoude gevoer het met mans wat weens seksmisdade in die tronk was, het inderdaad bevind dat hulle getuig het dat hulle byna sonder uitsondering op hulle slegte weg begin het deurdat hulle pornografiese lektuur gelees het.

Daar is al tereg opgemerk dat pornografie intellektuele verkragting of hoerery is’. Hierdie gevolgtrekking klop met wat Jesus Christus in die Bergpredikasie gesê het: “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het.” Dit is die woorde van iemand wat die mensenatuur beter verstaan het as enige mens wat voor of na sy tyd gelewe het.—Matt. 5:27, 28.

Dit is dus nie sonder goeie rede nie dat die Bybel vir ons sê: “Haat die kwaad!” (Ps. 97:10). Dit stel dit inderdaad nog kragtiger deur ons te vermaan: “Verafsku wat sleg is” (Rom. 12:9). Ja, “verafsku” is ’n kragtiger woord as “haat”, net soos “sleg” ’n kragtiger woord as “kwaad” is. Om te verafsku wat sleg is, beteken om dit met afgryse, met walging te bejeën, of ’n afkeer daarvan te hê, om dit te verfoei en om dit te versaak.

Waarom moet ons hierdie soort boosheid verafsku? Waarom moet ons ons daarvan afwend wanneer dit aan ons opgedring word? Eerstens, as ons aan slegte dinge dink, sal dit ons bepaald vroeër of later skaad. Ons kan nie daarvan wegkom nie: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in die vlees saai, sal uit die vlees verderf maai” (Gal. 6:7, 8). Ons kan nie moreel of geestelik gesond wees terwyl ons morele gif inneem nie. Hoe growwer die slegtheid, des te groter die skade.—Rom. 1:26, 27.

Tweedens wil ons verafsku wat sleg is omdat dit inbreuk maak op ons goeie betrekkinge met ander. Getroude mans wat pornografiese stof lees, verswak die bande van teerheid wat hulle aan hulle vrouens verbind, want dit beteken inderdaad dat hulle ontrou aan hulle vrouens is. Dislojale gedagtes is dikwels die eerste stap tot huweliksontrouheid. Die wyse raad van Salomo vir mans om hulle in hulle vrouens te verheug laat hulle nie toe om genot uit pornografie te put nie.—Spr. 5:15-20.

Dit is net so gebiedend dat ongetroude mans boosheid van hierdie aard vermy. Alleen dan kan hulle verhoudinge met die teenoorgestelde geslag heilsaam, opbouend, aangenaam en waarlik vriendelik wees. Dit is nie sonder goeie rede dat die apostel Paulus die ongetroude man Timotheüs herhaaldelik hieromtrent gewaarsku het nie: “Vlug vir die begeerlikheid van die jonkheid.” “Wees ’n voorbeeld . . . in reinheid.” “Vermaan . . . bejaarde vroue soos moeders, jongeres soos susters in alle reinheid” (2 Tim. 2:22; 1 Tim. 4:12; 5:1, 2). Om ons naaste soos onsself lief te hê moet ons ook sorg dat ons hom of haar nie besoedel met wat sleg is nie.—Rom. 13:8-10.

Die allerbelangrikste is egter dat ons moet verafsku wat sleg is omdat dit inbreuk maak op ons goeie betrekkinge met ons Maker, Jehovah God. In sy Woord beklemtoon hy herhaaldelik die feit dat hy ’n heilige, goeie, rein God, ’n regverdige God is (Deut. 32:4; 1 Pet. 1:15, 16). Hy kan nie dinge wat sleg is met goedkeuring aansien nie.

Geslagsonsedelikheid is vandag ’n werktuig wat op ’n groot skaal deur Satan die Duiwel gebruik word om die mensdom te verderf en om mense van God en sy regverdige beginsels af te wend. Hy het hierdie strik gebruik om engele te oorreed om hulle hemelse staat te verlaat (2 Pet. 2:4; Jud. 6). Deur dieselfde strik het hy die dood van 24 000 Israeliete veroorsaak net voordat hulle die Beloofde Land sou binnegaan (Num. 25:1-18). En die feit dat voorgewende Christene vandag voor hierdie strik swig, is een van die duidelike bewyse dat ons in die voorspelde “laaste dae [wanneer daar] swaar tye sal kom”, lewe.—2 Tim. 3:1-5.

Laat almal wat wys wil wees, wat hulle naaste soos hulleself liefhet en wat vir God welgevallig wil wees, dus ag gee op die geinspireerde raad: “Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam; ook nie . . . dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging.”—Ef. 5:3-12

Vul liewer die gemoed met die dinge wat waar, regverdig, rein, lieflik, loflik, deugdelik en prysenswaardig is (Filip. 4:8). As jy dit doen, sal dit jou teen die strik van pornografie beskerm. Ja, soos die apostel Paulus in Romeine 9:12 geskryf het: “Verafsku wat sleg is; hang die goeie aan.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel