1908_W77.ION
Insig in die nuus
Losbandige leefwyse nie bevredigend nie
• Gedurende die afgelope jare het die losbandige leefwyse baie publisiteit as ’n begeerlike en gelukkige lewe geniet. Dit hou die belofte van avontuur en vryheid van verantwoordelikheid in. ’n Belangrike aspek van hierdie lewenswyse is om ’n maat te soek om geslagsgemeenskap mee te hê, gewoonlik net vir een nag.
Sielkundiges berig egter dat baie wat op hierdie manier lewe nou as pasiënte na hulle toe kom, met ernstige geestelike en emosionele probleme. Die “Times Herald” van Newport News, Virginië, merk op: “Baie van hierdie groep . . . is ongelukkig. Hulle romantiese of seksuele waanbeelde word nie vervul nie. Omdat hulle glad nie van plan is om mekaar beter te leer ken of om die maat weer te sien nie, begin hulle om hulleself as promiskueus te beskou. . . . Die gevolg is spyt, walging en frustrasie oor die nie-bevredigende en nie-vervullende aard van hulle leefwyse.”
Baie gaan van geneesheer tot geneesheer uit vrees vir veneriese siekte. Daar word ook baie sifilofobe onder die “losbolle” aangetref. Dit is mense wat ’n psigopatiese vrees vir veneriese siekte het. Dit is veral die geval onder baie getroudes wat hierdie sieklike vrees het dat hulle veneriese siekte op hulle vrouens of nakomelinge sal oordra.
Hierdie leefwyse word goed in die Bybel beskryf, waar die een onsedelike persoon vir ’n ander sê: “Kom, laat ons dronk word van liefde tot die môre toe.” Maar diegene wat onsedelik is, sê die verslag verder, is “soos ’n bees wat na die slagpaal gaan, . . . totdat die pyl sy lewer splits; soos ’n voël haastig na die vangnet vlieg—sonder om te weet dat dit ten koste van sy lewe is” (Spr. 7:18-23). Sy siel of lewe is daarby betrokke, want “God sal hoereerder en egbrekers oordeel”.—Hebr. 13:4.