Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 6/15 bl. 8-9
  • Leer om saam met die onveranderlike te lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Leer om saam met die onveranderlike te lewe
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Soortgelyke materiaal
  • Die uitdaging: Onveranderbare omstandighede
    Ontwaak!—2015
  • Waarom trou almal behalwe ek?
    Ontwaak!—1995
  • Kan geluk in verdeelde gesinne gevind word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk—1977
  • Verseker ’n blywende toekoms vir jou gesin
    Die geheim van gesinsgeluk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 6/15 bl. 8-9

Leer om saam met die onveranderlike te lewe

Daar was ’n eertydse Griekse filosoof wat glo vermaan het: ‘Trou, jongman, trou. As jy ’n goeie vrou kry, sal jy gelukkig wees en dit is ’n goeie ding. En as jy nie ’n goeie vrou kry nie sal jy ’n filosoof word en dit is ook ’n goeie ding.’ Die gedagte van die laaste deel van die gesegde is dat dit goed is om aan te pas by iets wat nie verander kan word nie, om, as ’t ware, ’n filosofiese beskouing van die lewe te kry.

Hierdie saak om te leer om saam met die onveranderlike te lewe is op so baie fasette van die lewe van toepassing. Selfs ’n mens se lengte kan jou ongelukkig maak. ’n Meisie wat langer as 180 sentimeter is, kan haar verknies omdat sy so lank is. Dit kan ’n man wat minder as 150 sentimeter lank is weer irriteer omdat hy so kort is. Maar Jesus Christus, die Seun van God, word soos volg aangehaal: “Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?” (Matt. 6:27). Bowendien is ’n persoon miskien gebore met ’n boggelrug, met ’n spraakgebrek, met swak gesigsvermoë, of is hy dalk verlam weens polio.

Wat kan enigeen van hierdie persone doen? “Wat nie genees kan word nie moet verduur word”, is hoe een geneesheer dit gestel het. Iemand wat geleer het om saam met sy buitengewone kortheid te lewe is Carlos Romulo, ’n Filippynse staatsman.

Hy sê dat hy nie toegelaat het dat die feit dat hy so kort is hom verleë laat voel nie en mettertyd het hy gevind dat dit in werklikheid ’n aanwins was, daar mense dikwels ’n neiging het om die persoon wat baie klein van gestalte is te begunstig.

Een ding wat al sulke persone met fisiese abnormaliteite kan doen, is om te leer om die seëninge wat hulle het te waardeer. Is dit nie waar dat die lewe en selfs ’n mate van gesondheid groot seëninge is nie? Daar is die prag in die skepping of “natuur”, die genot om na mooi musiek te luister, die liefde van die gesin en vriende en die voldoening wat gesmaak word as ’n mens vir jouself sowel as vir ander nuttig is.

Dit geld ook van ’n mens se gesindheid teenoor wêreldtoestande wat nie verbeter kan word nie. Moet ons ontsteld wees oor die toenemende verdorwenheid in hoë plekke en die gewelddadigheid en misdadigheid op straat wat al hoe erger word? Die Bybel gee goeie raad: “Wees nie toornig op die kwaaddoener nie.” Waarom nie? Want op God se bestemde tyd sal hulle nie meer wees nie (Ps. 37:1-13). Tot dan kan ’n mens leer om saam met sulke toestande te lewe deur uiters versigtig te wees, dit nie laat in die nag alleen op straat te waag nie, meer waarde aan jou lewe te heg as aan die geld wat jy miskien by jou het, ensovoorts.

Ja, dit sal ons help om te leer om met die onveranderlike saam te lewe as ons probeer om filosofies oor ons besondere situasie te wees en die beste daarvan te maak. Aanvaar die feit dat alle geluk relatief is en dat daar onder huidige onvolmaakte en sondige toestande altyd ’n mate van bitter saam met die soet sal wees. Soek dus, in watter staat of toestand jy jou ook al bevind, na die voordele en seëninge daarvan. Selfs die onbewustheid van slaap is al ’n seën, waarvan ’n digter eenmaal geskrywe het: “There’s mercy in every place, And mercy, encouraging thought, Gives even affliction a grace, And reconciles man to his lot.”

Dit geld ook van ons betrekkinge met ander. Baie egpare gaan uitmekaar of skei as hulle vind dat hulle nie baie verenigbaar is nie, maar dit sal beter wees as hulle leer om by mekaar aan te pas. So was daar die romantiese Italianer, wat lief was vir atletiek, wat met ’n taamlik konserwatiewe Britse meisie getroud is. Jare lank het hulle dit moeilik gevind om saam te lewe, maar ter wille van die kinders het hulle bymekaar gebly. Mettertyd het hulle egter geleer om aan te pas en dit het meer tevredenheid en geluk in hulle huwelik meegebring.

In ’n ander ware verhaal van ons tyd was daar die bekoorlike jong vrou wat getrou het met ’n man wat alles by wyse van persoonlikheid en besittings gehad het wat sy kon begeer. Maar haar begeerte om kinders te hê is nie vervul nie. Het sy geleer om saam met die onveranderlike te lewe? Ja, want nou kan sy selfs grappe maak oor haar frustrasie. Bowendien vul sy haar dae—net soos hy—met die voltydse bedrywigheid om die “goeie nuus” aan ander mee te deel. Sy ontvang baie seëninge en put voldoening daaruit om hele gesinne, en veral moeders en hulle jong kinders, van Jehovah God en die seëninge van sy koninkryk te leer—om, as’t ware, geestelike kinders groot te maak deur hierdie persone Christendissipels te maak.

As ons na die Bybel toe gaan, vind ons baie ander voorbeelde van persone wat geleer het om saam met die onveranderlike te lewe. Onder diegene van wie hier melding gemaak kan word, is die profeet Moses. Op watter magtige wyse het God hom tog gebruik om sy volk uit Egipte te bring, en nogtans het hulle gedurende daardie reis van 40 jaar in die woestyn jaar in en jaar uit aangehou om sy geduld op die proef te stel! (Deut. 8:2-5). Hoe frustrerend moes hy tog hulle gebrek aan waardering, hulle gebrek aan geloof, hulle geklaag, hulle opstandigheid en hulle hebsugtige selfsug gevind het! Uit die liefde wat hy op hulle uitgestort het, soos in die boek Deuteronomium betuig word, blyk dit hoe hy geleer het om saam met sy volk se onveranderlike swakhede en tekortkominge te lewe—onveranderlik in die sin dat hý niks daaraan kon doen nie.—Hand. 7:30-39.

Hedendaagse dienaars van Jehovah God vind insgelyks dikwels toestande baie moeilik. Terwyl hulle die goeie nuus van God se koninkryk verkondig, moet hulle onverskilligheid en ongevoeligheid, blinde vooroordeel en bittere teenstand verdra. Gee hulle op weens hierdie oënskynlik onveranderlike toestande? Glad nie. Hulle strewe eerder daarna om vindingryker te word; hulle strewe daarna om hulle eie geloof te versterk; en hulle hou aan om hulleself te herinner aan die redes waarom hulle Jehovah God dien in hierdie tyd van die einde.

Daar is voorwaar baie situasies waaronder verskillende persone moes volhard omdat hulle nie in staat was om hulle te verander of om op eervolle maniere daaronder uit te kom nie. Maar wat die situasies ook al mag wees, is dit verstandig om te leer om saam met hulle te lewe deur te leer om aan te pas. Dinge wat ’n mens help om dit te doen is die kosbare voorreg van gebed, sowel as die hoop wat God se Woord in die vooruitsig stel van ’n “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” waarin daar geen kwaad en geen frustrasie sal wees nie. In plaas daarvan sal daar ewige lewe in geluk wees.—Filip. 4:6, 7; 2 Pet. 3:13; Openb. 21:4.

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel