Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 6/15 bl. 6-7
  • ’n Bendelid ontvang ’n presidentsbegenadiging

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Bendelid ontvang ’n presidentsbegenadiging
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE LEWE IN MUNTINLUPA
  • DIE LEWE IN IWAHIG
  • VRYLATING
  • Rehabilitasie van gevangenes—Kan dit slaag?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • “Die woord van God is nie gebonde nie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • “Julle het my indruk van Jehovah Se Getuies verander”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Verhale van geloof uit ’n historiese gevangenis
    Ontwaak!—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 6/15 bl. 6-7

’n Bendelid ontvang ’n presidentsbegenadiging

DESTYDS in 1945 is ek as ’n vroom Katoliek beskou. Ek onthou dat ek eenmaal, om ’n gelofte te vervul, die hele afstand van die kerkdeur tot by die altaar op my knieë geloop het. Terselfdertyd was ek ’n strawwe drinker en ’n lid van ’n bende. Ek het maklik vriende gemaak, want ek was vrygewig met geld. Vir ’n bestaan het ek gesteelde goed gekoop en verkoop. In een week kon ek tot 10 000 pesos op hierdie manier maak. Geen wonder dat ek vrygewig was nie! Daar is na my opgesien in Balicbalic, Manila, waar ek gewoon het.

Ek is bewonder as ’n “harde koejawel”! Maar daar naby was ’n ander “harde koejawel” wat my as sy mededinger beskou het. Eendag het ons bendes slaags geraak. Ek het my mededinger doodgeskiet; sy vriende het gevlug, en ek het koning gekraai. Dit was in 1947.

Nou moes ek egter vir die gereg wegkruip, dus het ek na Cavite ten suide van Manila gevlug. Daar is ’n prys van 1 000 pesos op my kop gesit, en dit was genoeg om ’n intieme vriend aan te spoor om my te verraai. In Mei 1949 is ek gevange geneem en op 1 Mei 1951 is ek tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis.

DIE LEWE IN MUNTINLUPA

Die volgende dag is ek in handboeie na die Nasionale Strafgevangenis in Muntinlupa, Rizal, geneem. Toe ek daar aankom, is my eie klere weggeneem en is daar aan my gevangenisklere gegee. My nommer was 11481-P. Toe ek eers in die gevangenis was, het ek onnatuurlik gevoel. Ek het geweet dat ek lewendig was, maar dit het vir my gevoel of ek in ’n kuil was. Die ander gevangenes was soos diere. Ek het veral die manier verafsku waarop hulle nuwe aankomelinge wat jonk was, gedwing het om hulle aan homoseksuele dade te onderwerp. In my hart het ek jammer gevoel vir hulle slagoffers en ek het myself beloof dat ek nooit weer van my medemens misbruik sou maak of hom sou onderdruk nie. Ek het moed geskep en God gebid om my in staat te stel om die verskriklike situasie waarin ek my bevind het die hoof te bied.

Die direkteur van die gevangenis te Muntinlupa het vryheid van aanbidding toegelaat en daar was talle verskillende groepe wat dienste gehou het. Ek het geglo dat alle gelowe uit God was dus het ek omtrent ses maande lank van die een vergadering na die ander rondgedrywe. Maar nadat ek hulle gedrag en gewoontes waargeneem het, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat daar geen waarheid in hulle was nie. Een ding waarteen ek beswaar gemaak het, was die manier waarop party van hierdie groepe mooi meisies na hulle vergaderinge toe gebring het om groter opkomste te kry. Dit het die gevangenes aangespoor om later onkuise dinge te doen.

Uiteindelik het ek die vergaderinge wat deur Jehovah se Getuies gehou word, bygewoon. Ek is beïndruk deur hulle onderrigmetode. Dit was regstreeks uit die Bybel en baie leersaam. Ek het veral belang gestel in die naam van God. Uiteindelik het ek my aan Jehovah toegewy en in 1953 is ek gedoop. Ek het vir ander gevangenes en werknemers in Muntinlupa begin preek. Party het geluister en mettertyd was daar ’n aantal in daardie gevangenis wat Getuies geword het.

Ons het ’n aantal probleme in verband met vlagsaluering gehad omdat ons gewetensbeswaar daarteen gehad het. Een keer moes ons eensame opsluiting ondergaan. Een môre is die gevangenes, wat duisende getel het, egter in die gevangenisplein byeengeroep. Die vlag is gehys en almal het gesalueer behalwe die Getuies, waarvan daar toe sowat 20 was.

Op daardie oomblik was daar ’n swaar bui reën en die gevangenes het weggehardloop en skuiling gaan soek. Net die Getuies het in die reën bly staan, daar hulle nie verdaag was nie. Later het die direkteur ons geroep en gevra waarom ons nie soos die ander weggehardloop het nie maar bly staan en nat geword het. Ons het verduidelik dat ons standpunt wat die vlag betref nie beteken het dat ons dit geminag het nie. Dit was net dat ons die daad om te salueer as ’n godsdiensplegtigheid beskou. Van toe af is ons posisie in hierdie aangeleentheid baie beter verstaan.

In 1957 is die Muntinlupa-strafgevangenis byna daagliks geskud deur oproere tussen mededingende bendes met name soos “OXO” en “Sigue-sigue”. Om te help om die vrede en orde te bewaar het die gevangenisowerheid diegene met voorbeeldige gedrag uitgesoek en aan hulle toewysings gegee. Ek is aangewys om ’n bastonero te wees—’n gevangene wat oor ander gevangenes toesig moet hou. As beloning omdat ek my verantwoordelikhede getrou nagekom het, is ek gekies om na die Iwahig-strafkolonie in Palawan oorgeplaas te word.

DIE LEWE IN IWAHIG

In Iwahig is daar ’n ander verantwoordelike taak aan my opgedra—ek is voedselbestuurder van sowat 800 gevangenes gemaak. Ek het die voedselvoorraad ontvang en toesig oor die kook van die voedsel sowel as oor die voeding van die manne gehou. Die owerheid het gemeen dat my gedrag goed was, want die gevangenes was tevrede met die manier waarop ek dinge bestuur het, terwyl party wat tevore my taak uitgevoer het, vermoor is.

Eendag het die superintendent van Iwahig vir my gevra waarom die gevangenes tevrede met my gelyk het. Ek het vir hom gesê dat ek een van Jehovah se Getuies is en Bybelbeginsels in my werk toegepas het. Van toe af het hy meer op my vertrou en het ek meer vryheid gehad om onder die gevangenes te preek. Gevolglik het ek ’n groepstudie met 13 persone gehou. Spoedig het ek met die Getuies in die plaaslike Puerto Princesa-gemeente in aanraking gekom en toe het een van Jehovah se Getuies ons gehelp om gereelde vergaderinge in Iwahig self te hou.

Terwyl ek in Iwahig was, het ek gehoor van ’n internasionale byeenkoms wat in Augustus van 1963 in Manila se Rizal Memorial Stadium gehou sou word. Dit was 1 Julie 1963. Ek was al 10 jaar lank gedoop maar kon nog nooit ’n byeenkoms van die Getuies bywoon nie. Ek het baie hartseer en rusteloos gevoel. Daardie nag kon ek nie slaap nie, want ek het aan die byeenkoms gedink. Ek het dus begin bid en die Here gevra om my te toon hoe ek dit kon bywoon.

VRYLATING

Een aand het ek aan Diosdado Macapagal, die destydse president van die Filippyne, geskryf. Ek het op hom ’n beroep gedoen vir ’n presidentsbegenadiging sodat ek die byeenkoms kon bywoon. Op 30 Julie het sy antwoord gekom met die wonderlike woorde: “Ek staan jou versoek toe.” Ek het gehuil van blydskap. Op 10 Augustus is ek ontslaan. Op 15 Augustus was ek by my gesin. Op 17 Augustus was ons almal saam met duisende van ons Christenbroers by die internasionale byeenkoms. Woorde is ontoereikend om my vreugde by daardie geleentheid te beskryf. God was baie goed vir my.

Na die byeenkoms kon ek as ’n vry man met my diens aan Jehovah God voortgaan. Al was ek in die tronk, kon ek darem werk kry sodat ek my gesin kon onderhou soos dit ’n Christenman betaam. My huidige werkgewers weet dat ek in die gevangenis was, maar hulle weet ook dat ek nou ’n Christen is; dus vertrou hulle my in my werk.

In die gemeente het ek gevorder totdat ek nou ’n ouere man is. My doel in die lewe is om, saam met my vrou en kinders, Jehovah met my hele hart te dien. En dit is ons hoop om vir Hom aanneemlik te word, en om sy seën van lewe in die aardse paradys wat nou so naby is te ontvang.—Bygedra.

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel