Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 9/15 bl. 4-5
  • Net ’n woord behoort genoeg te wees

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Net ’n woord behoort genoeg te wees
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE DWASE PERSOON
  • ’N KONTRAS
  • Abigail en Dawid
    My boek met Bybelverhale
  • “Mag jou verstandigheid geseënd wees”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Sy het goeie oordeel aan die dag gelê
    Volg hulle geloof na
  • Abigail-n buitengewoon verstandie vrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 9/15 bl. 4-5

This article comes from 1978_07_01

Net ’n woord behoort genoeg te wees

“’N GOEIE begrip het ’n halwe woord nodig.” So lui die spreekwoord. Iemand met ’n goeie begrip, ’n wyse persoon, is iemand wat met ’n oop gemoed na raad of teregwysing luister en geen vooroordele koester nie. Hy dink na oor wat hy hoor en pas sy denke aan. Hy handel op grond van beginsels en feite, of waarhede. ’n Indiwidu wat metodes soos druk of dreigemente gebruik, behaal geen welslae met ’n wyse persoon nie.

Die Bybel druk die gedagte effens anders uit. Dit sê: “’n Berisping gaan by ’n verstandige dieper in as om ’n dwaas honderd maal te slaan.”—Spr. 17:10.

As ’n persoon wat insig het ’n fout begaan en dit onder sy aandag gebring word, sien hy onmiddellik watter skade sy fout kan berokken of reeds berokken en veral watter spanning dit op sy verhouding met God kan plaas. Hy probeer nie die indruk skep dat hy verontwaardig of kwaad is, of stoot die een wat hom bestraf opsy sodat dit lyk of hy in die aangeleentheid gelyk het nie. Die persoon met insig word onmiddellik in sy gewete geraak deur ’n bestrawwing. Daarna hoef niks meer gedoen te word nie, want sy gewete sal hom beweeg om stappe te doen om die aangeleentheid reg te stel indien dit moontlik is. Hy sal ook probeer om vergifnis te kry van die persoon wat hy veronreg het en van God.

Dawid, wat gesalf was om koning van eertydse Israel te wees, het in baie gevalle getoon dat hy ’n man met insig is. Toe sy bittere vyand, die regerende koning Saul, op hom jag gemaak het, het Dawid die koning twee maal in sy mag gehad. Maar Dawid het Saul nie doodgemaak nie, maar die saak in God se hande gelaat (1 Sam. 24:2-7; 26:5-11). By ’n ander geleentheid het Dawid getoon dat hy insig het. Nabal, ’n man met baie growwe en slegte gewoontes, het Dawid ’n groot onreg aangedoen. Toe Dawid op pad was om Nabal te straf, is hy deur Nabal se vrou Abigail tegemoet gegaan. Sy het sy aandag daarop gevestig dat hy groot gevaar geloop het om bloedskuld oor homself te bring deur die saak in sy eie hande te neem en al die manne van Nabal se huisgesin dood te maak. ‘Wag op God om sy strafgerig te voltrek’, het sy gepleit. Dawid het gehoor gegee en sy waardering teenoor God en Abigail betuig omdat sy hom van rampspoed gered het as gevolg van sy eie verkeerde denke (1 Sam. 25:20-35). Dawid het ook getoon dat hy insig het toe hy hom goedhartig oor Mefiboset, die seun van sy vriend Jonatan, ontferm het, al was Mefiboset ook ’n kleinseun van sy vyand Saul.—2 Sam. 9:1-7.

Later het daar ’n tyd gekom toe Dawid bestraf moes word. Hy het ernstig teen God en teen sy medemens gesondig deur met Batseba owerspel te pleeg. Toe God die profeet Natan gestuur het, wat deur ’n illustrasie Dawid se skuld aan hom tuisgebring het, was Dawid se onmiddellike reaksie: “Ek het gesondig teen die HERE!” (2 Sam. 12:13). Die een-en-vyftigste en twee-en-dertigste psalm openbaar hoe diep Dawid deur Natan se bestrawwing getref is. Dawid het nie slae nie, maar net ’n bestrawwing nodig gehad om hom tot besinning te bring en hom sy sonde te laat erken.

DIE DWASE PERSOON

Die dwase persoon (nie bloot ’n onkundige nie) is andersyds iemand wat geen begrip het van sy verhouding tot sy medemens en tot God nie. Hy het miskien selfs kennis van God se Woord, maar geen waardering of gebalanseerde denkvermoë nie. Woorde van raad, selfs van bestrawwing, het geen uitwerking op hom nie. ’n Beroep op sy gewete beweeg hom nie om sy sonde te erken en sy weë te verander nie. Al word hy ook met honderd houe geslaan, sal dit hom nie verander nie. Hy dink net aan homself en het geen agting vir God of vir ander persone nie. Sy hart word harder en sy gewete word geskroei omdat hy bestrawwinge en slae weerstaan. “Die wyse vrees en wyk af van die kwaad, maar die dwaas bruis op en is vol selfvertroue”, sê die wyse skrywer van Spreuke.—Spr. 14:16.

Farao van Egipte was een van daardie dwase. Die plae wat oor hom gekom het, het maar net gedien om hom te laat toon hoe weerbarstig sy hart was en om hom nog meer vasbeslote te maak, totdat dit uiteindelik sy eie vernietiging ten gevolge gehad het.—Ex. 11:9, 10; 14:5-9; Ps. 136:15.

’N KONTRAS

Die apostel Petrus en die verraaier Judas voorsien ’n goeie kontras tussen die man met insig en die dwaas. Jesus het vir Petrus gesê dat hy sy Here drie maal sou verloën (Luk. 22:31-34). Later, toe Jesus voor die hoëpriester verhoor is, het Petrus die Here verloën, maar toe hy sien hoe Jesus omdraai en betekenisvol na hom kyk, het hy onmiddellik daarna buitentoe gegaan en bitterlik geween (Luk. 22:54-62). Hoewel dit hom diep seergemaak het, het Petrus baat gevind by dit wat Jesus oorgedra het toe hy hom so “aangekyk” het. Die waarlik hartgrondige manier waarop hy hieraan gehoor gegee het, het Petrus gehelp om later ’n steunpilaar vir sy broers te wees.

Maar Judas is nie geraak nie, hoewel hy omtrent twee jaar lank saam met Jesus en die apostels was en onderrigting en teregwysing van Jesus ontvang het en sy wonderbaarlike werke gesien het. Sy hart is nie deur al die genesings wat Jesus verrig het en deur Jesus se goedhartige opleiding en dissipline geraak nie. Inteendeel, hy het hom steeds meer verhard omdat hy sy hebsugtige begeerte gevoed het deur van die geld wat Jesus en die apostels opsy gesit het om hulle onkoste te dek en om die armes te help, te steel (Joh. 12:6; 13:29). Watter gebrek aan waardering het Judas tog gehad! Toe Jesus op daardie laaste aand voor sy dood aan hom gesê het: “Wat jy doen, doen dit haastig”, het Judas nie gereageer soos Petrus gereageer het toe Jesus hom maar net aangekyk het nie (Joh. 13:27). Hy het voortgegaan, vasbeslote om sy bose plan uit te voer. Selfs toe sy sonde op hom teruggekom het, het hy nie in die gebed na God en ook nie na die apostels gegaan nie, maar het hy teruggegaan na die misdadigers aan wie hy Jesus verraai het. Hy het voor hulle gekruip en probeer om die 30 silwerstukke aan hulle terug te gee, asof dit op die een of ander manier die swaar skuld op hom kon verminder. Toe hy deur sy medepligtiges in die misdaad afgewys en verwerp is, het hy uitgegaan en homself opgehang.

Hierdie voorbeelde laat duidelik uitkom hoe belangrik dit is om altyd daarna te strewe om verstandig te wees, om ’n oop gemoed te hê, om te luister na beroepe, teregwysings, selfs ’n “woord” van bestrawwing van ander wat probeer help. Wanneer ’n bestrawwing ’n persoon nie diep tref en beweeg nie, benadeel dit nie alleen sy verhouding met God en sy metgeselle nie, maar kan dit ook die allerergste toestand ten gevolg hê: ’n verharde hart en ’n ongevoeligheid selfs vir dissiplinêre “slae”, of ontberinge wat hom tot sy sinne behoort te bring. As hy nie daadwerklik stappe doen om sy toestand reg te stel nie, sal dit sy eie totale ondergang ten gevolge hê.

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel