“Waarom laat God goddeloosheid toe?”
Talle persone vra: “As daar ’n God is, waarom. . .”
TALLE persone stel vrae wat begin met die woorde: “As daar ’n God is, waarom . . .” Party van hulle wil bloot spot met diegene wat aan die bestaan van God glo. Talle ander is egter diep ontsteld en soek na antwoorde om hulle wankelende geloof te versterk. Die vraag van hierdie aard wat die meeste voorkom, is waarskynlik: “As daar ’n God is, waarom laat hy goddeloosheid toe?”
Dit is waar dat God dit toelaat. Maar daar is talle mense op aarde wat dit nie alleen toelaat nie; hulle maak hulle ook daaraan skuldig. Hulle verklaar oorloë; werp bomme op vroue en kinders; verskroei die aarde en veroorsaak hongersnode; en hulle veroorsaak siekte en dood deur die lug, water en grond te besoedel—tydens oorlog sowel as in vredestyd. Hulle verwek nie alleen internasionale en nasionale goddeloosheid nie, maar veroorsaak ook vir hulself ontberinge.
Hulle eet te veel en word vet, drink te veel en kry lewerskrompeling, rook en kry longkanker, pleeg owerspel en sodomie en kry veneriese siektes, bestuur roekeloos en veroorsaak jaarliks die dood van duisende, jaag geld en besittings hebsugtig na en skep sodoende spanning wat aanleiding gee tot maagsere en hartaanvalle—en so gaan die lys voort.
WAT WIL HULLE EINTLIK HÊ?
Sulke persone begeer nie eintlik die uitwissing van goddeloosheid nie; hulle wil slegs sien dat daar weggedoen word met die straf vir goddeloosheid. Hulle wil promiskuïteit sonder veneriese siekte hê, rook sonder longkanker, hulle wil baie drink sonder lewerprobleme, roekeloos bestuur sonder ongelukke, ensovoorts. Hulle wil boosheid saai maar dit nie maai nie. Hulle wil appels van onkruid pluk en druiwe van dorings.
En wanneer hulle dan wel die droewige oes van hulle goddelose saaiery maai, kerm en kla hulle en uiter hulle die bittere jamklag: ‘Waarom moet dit met my gebeur, God? Waarom met my?’ Maar waarom nie? “Net wat die mens saai, dit sal hy ook maai” (Gal. 6:7). Hulle reaksie is presies wat Jehovah geweet het dit sou wees: “’n Mens se sotheid bederwe sy weg, maar sy hart is vertoorn op die HERE.”—Spr. 19:3.
Jehovah God veroordeel sondes en onmatigheid. Miljoene skel God uit omdat hy goddeloosheid toelaat, maar die meerderheid van hulle weë spruit voort uit hulle veronagsaming van sy gebooie. Waarom sal God, daar hulle die goddeloosheid toelaat en hulle daaraan skuldig maak, dan nie dink dat hulle dit verkies nie? En gestel God het wel ’n einde daaraan gemaak, gestel hy het afgebuk en die sigarette uit hulle monde gehaal, of die yssopies uit hulle hande, of die hoereerders van mekaar af verwyder, of die snelheid van hulle motors van 120 kilometer per uur tot 90 verminder. Sou hulle dan nie ’n groot bohaai opskop en kla dat hulle vryhede aan bande gelê word nie? Indien hy dit toelaat, word hy veroordeel; indien hy ’n einde daaraan maak, word hy veroordeel.
Die tyd kom vinnig nader wanneer Jehovah ’n einde daaraan gaan maak deur die goddelose te verwyder:
“Die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.”—Spr. 2:21, 22.
Party sal hierdie daad van God as wreed bestempel, maar hoe anders kan daar ’n einde aan goddeloosheid gemaak word? Deur rehabilitasie? Die gemeenskap het miljoene bestee om dit te probeer doen. Die programme misluk. Misdadigers wat uit die tronk vrygelaat word, verval tot hulle ou weë. Eerlank eis hulle nog slagoffers. Wat is die oplossing indien die goddelose weier om te verander? Kan jy ’n roostuin in ’n lap onkruid hê, of hoenders saam met jakkalse in die hoenderhok hou of ’n vreedsame paradys hê terwyl vandale amok maak?
DIE REDE WAAROM JEHOVAH GODDELOOSHEID TOELAAT
Jehovah God het die mensdom geskep om na ’n paradysaarde om te sien. Hy het hulle nie robotte gemaak nie, maar het aan hulle die vryheid gegee om te kies. Sou hulle verkies om na die aarde om te sien soos dit God se voorneme was? Satan het gesê dat hulle nie sou nie, en hy het die uitdaging tot God gerig dat hy alle mense teen God in opstand kon bring. Jehovah het die uitdaging aanvaar. Tyd was nodig om die geskil te besleg.
Dat hierdie geskil geopper is, word in die geval van Job getoon. Jehovah het Satan se aandag op Job gevestig en gesê: ‘Hy is godvresend en wyk af van die kwaad.’ Satan het geantwoord: “Is dit verniet dat Job God vrees? Het U nie self hom . . . beskut nie?” Jehovah het toe toegelaat dat Satan Job teister in ’n poging om hom sy onkreukbaarheid te laat prysgee. Job se vrou het gemeen dat sy kon sien wat die oorsaak van haar man se probleme is en het hom berispe: “Volhard jy nog in jou vroomheid? [Vloek] God, en sterf!” Maar Job het onkreukbaarheid gehandhaaf, bewys dat Satan ’n leuenaar is en is deur God geseën.—Job 1:6-12; 2:1-10, vgl. NW; 42:12.
Het julle ouers al ooit ’n besitting of verantwoordelikheid aan julle seuns of dogters toevertrou om te sien of hulle selfs groter vertroue verdien? Net so stel Jehovah God die mensdom op die proef om te sien watter indiwidue vertrou kan word om na die paradysaarde onder Christus se koninkryk om te sien. Hy laat goddeloosheid nou met ’n doel toe, maar hy veroorsaak dit nie. Party rampe is die gevolg van toeval: “Tyd en lotgeval tref hulle almal” (Pred. 9:11). Ander rampe is die gevolg van mense se dwaasheid. “God het die mens eenvoudig gemaak; die mens se ingewikkelde probleme is deur sy eie toedoen” (Pred. 7:29, “Jerusalem Bible”). Ander word weer deur Satan veroorsaak in sy poging om alle persone teen God in opstand te bring, wetende dat hulle God in plaas van hom sal blameer, wetende dat talle nie eers glo dat hy, Satan, bestaan nie.—Openb. 12:12.
Daar is ’n God, en hy het redes waarom hy goddeloosheid toelaat. Maar dit is nie meer lank voordat hy ’n einde daaraan gaan maak nie.