DIE BERGPREDIKASIE ‘Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar’
NA SY raad dat ’n mens skynheiligheid in aanbidding moet vermy, het Jesus die strik van materialisme bespreek. Hy het begin deur te sê: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie.”—Matt. 6:19.
Jesus was maar te goed bewus van die menslike neiging om vertroue in ’n ophoping van materiële dinge te stel. Hy het sy luisteraars aangespoor om dit nie te doen nie, aangesien aardse skatte nie waardevol bly nie. Hetsy dit duur kledingstukke, geld of ander materiële items is, sulke gestoorde kosbare dinge kan agteruitgaan. Byvoorbeeld, ‘motte’ kan waardevolle materiaal ruïneer; kosbare metale kan “roes”. (Vergelyk Jakobus 5:1-3.) Selfs nog voordat hulle agteruitgaan, bestaan daar die gevaar van diefstal. In eertydse Palestina sou diewe “inbreek en steel” deur deur die modder- of pleister- mure van huise te kap.
Gevolglik het Jesus gesê: “Maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel, waar geen mot of roes verniel nie en waar diewe nie inbreek en steel nie” (Matt. 6:20). ’n Mens kan onverderflike skatte bymekaarmaak deur ’n reputasie van goeie werke “in die hemel” (dit wil sê, by God) te verkry. In hierdie verband het die apostel Paulus ryk Christene vermaan “dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en vir hulle ’n skat weglê, ’n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf.”—1 Tim. 6:17-19; Tit. 3:8.
Die rede wat Jesus aangevoer het waarom hulle materialisme moes vermy, was: “Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Matt. 6:21). ’n Persoon se “skat” is dit wat hy as waarlik kosbaar beskou. Hy sit sy “hart”, die setel van beweegredes, begeertes en emosies, daarop. Indien die skat wat ’n persoon se hart steel bloot die dinge is wat hierdie wêreld kan aanbied, sal dit sy verhouding met God skaad, want God verg diens “met ’n volkome hart”.—1 Kron. 28:9; Matt. 22:37.
Om sy hoorders te help om die strik van materialisme te vermy het Jesus twee gelykenisse vertel. Hy het die eerste soos volg aangehef: “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg [suiwer, NW] is, sal jou hele liggaam verlig wees.”—Matt. 6:22.
Dit is gepas om die oog “die lamp van die liggaam” te noem, aangesien lig die gesigsentrum van die brein deur die oë bereik. In plaas daarvan om voortdurend heen en weer te kyk om elke voorwerp te sien wat in sig kom, fokusseer die ‘suiwer oog’ slegs op een ding. In ’n figuurlike sin beïnvloed die ding waarop ’n indiwidu ‘sy oog’ as ’n voorwerp van intense konsentrasie en meditasie ‘laat rus’ sy hele persoonlikheid. Indien die doen van God se wil ’n persoon se hoofdoelwit in die lewe is, sal daardie persoon se ‘hele liggaam verlig wees’. Hy sal verligting wat God verheerlik en sy naaste tot voordeel strek op alle terreine van die lewe weerspieël.—Vergelyk Spreuke 4:18, 25-27; Matt. 5:14-16.
“Maar as jou oog verkeerd [boos, NW] is”, het Jesus voorts gesê, “sal jou hele liggaam donker wees” (Matt. 6:23a). Die ‘bose oog’ fokusseer met hebsugtige verlange op verkeerde dinge. (Kyk Mattheüs 5:28; 2 Petrus 2:14.) Vir ’n persoon wat hierdie wêreld se rykdom sy hoofdoelwit maak, sal die “hele liggaam donker wees”. So ’n materialistiese doelwit sal aanleiding gee tot verkeerde gedrag wat van geestelike duisternis op alle lewensterreine getuig. “Die wat ryk wil word”, skryf die apostel Paulus, “val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ’n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.”—1 Tim. 6:9, 10.
Jesus het die erns hiervan getoon deur vervolgens te sê: “As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!” (Matt. 6:23b). As mense is ons van geboorte af onvolmaak (Rom. 5:12). ’n Persoon se toestand vererger egter indien hy sy vermoëns om geestelike verligting te verkry (die figuurlike oog) verkeerd rig. ’n Hebsugtige begeerte na rykdom beklad ’n mens se hele lewensloop (Spr. 28:20, vgl. NW). “Hoe groot”, het Jesus uitgeroep, “is die donkerheid” van diegene wie se liefde vir materialistiese skatte meebring dat hulle geestelike sake opsy skuif.—Matt. 13:22.
Toe het Jesus ’n tweede gelykenis vertel. “Niemand kan twee here dien nie; want of hy sal die een haat en die ander Iiefhê, of hy sal die een aanhang en die ander verag.”—Matt. 6:24a.
Die persone wat na sy Bergpredikasie geluister het, was bekend met slawerny, wat deur die Mosaïese wet gereguleer is (Ex. 21:2; Lev. 25:39-46). ’n Slawe-eienaar kon verwag dat sy slaaf hom met oorgawe dien. (Vergelyk Lukas 17:7-10.) Dit is interessant dat “Die Misjna” die regte bespreek van “’n slaaf wat aan medebesitters behoort”, iets wat toon dat ’n slaaf nou en dan aan twee here onderdanig moes wees. Aangaande Jesus se woorde in hierdie verband lees ons in die “Theological Dictionary of the New Testament”:
“Matt. 6:24 en Luk. 16:13 veronderstel die moontlikheid dat ’n slaaf twee eienaars met ewe veel sê en dus met gelyke aanspraak op sy dienste kan hê. Dit is ’n situasie wat kon bestaan en wel bestaan het. Daar was inderdaad slawe wat deur een heer vrygelaat is, maar nie deur die ander nie, sodat hulle half vry en half slaaf was. In so ’n verhouding [van dubbele diensbaarheid] was dit natuurlik so te sê onmoontlik vir ’n slaaf om dieselfde toewyding aan albei te betoon, veral as hulle wense en belange baie uiteenlopend was. Jesus stel dit in die taal van Sy tydgenote en Sy volk deur te sê dat die slaaf die een heer sal [liefhê] en die ander sal [haat], d.w.s., minder geheg aan hom sal wees.”
Jesus het die les van hierdie gelykenis tuisgebring deur te sê: “Julle kan nie God én Mammon dien nie!” (Matt. 6:24b). Hierdie verklaring veroordeel nie die besit van rykdom nie, maar beklemtoon eerder dat ’n mens nie Mammon of rykdom kan “dien” en terselfdertyd aan God die uitsluitlike toewyding kan gee wat hy verg nie. ’n Persoon wat God waarlik liefhet en hom op aanneemlike wyse wil dien, moet inderdaad die slawerny “verag” wat die gevolg is as ’n mens skatte op aarde jou hoofdoelwit in die lewe maak.
“My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand; ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind.”—Spr. 2:1-5.