Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w79 5/15 bl. 3-5
  • Wanneer sake nie reg verloop nie

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wanneer sake nie reg verloop nie
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • GEDULD EN NEDERIGHEID
  • ’N PAAR DINGE OM TE VERMY
  • WEES OPGEWEK EN VRYGEWIG
  • Die boek Prediker—’n les in regte waardes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Wat het die wyse man bedoel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk—1977
  • Wat maak die lewe die moeite werd?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Wat het die wyse man bedoel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk—1977
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
w79 5/15 bl. 3-5

Wanneer sake nie reg verloop nie

STEM jy saam dat dinge dikwels vir die mensdom skeef geloop het? Hoewel party van die rampe wat mense ervaar hulle eie skuld is, is rampspoedige omstandighede dikwels buite die beheer van die slagoffers.

Die Skrif lewer dikwels oor hierdie situasie kommentaar. Byvoorbeeld: “Daarna weer het ek gesien al die verdrukkinge wat onder die son plaasvind, en kyk, daar was trane van verdruktes, en vir hulle was daar geen trooster nie; en aan die kant van hulle verdrukkers was mag, maar daar was vir hulle geen trooster nie.”—Pred. 4:1.

Waarom bestaan daar so ’n toedrag van sake? Onder inspirasie van God het ’n Bybelskrywer wat bekend is vir wysheid ’n basiese rede geopenbaar waarom dinge op aarde so dikwels hand-uit ruk. Hy het gesê: “Dit is ’n verkeerde ding by alles wat plaasvind onder die son, dat een en dieselfde lot almal tref, en ook die hart van die mensekinders vol boosheid is, en dat dwaasheid in hulle hart is gedurende hulle lewe; en daarna gaan dit na die dooies toe!”—Pred. 9:3.

Die “lot” wat hier gemeld word, is die dood, die gevolg van oorgeërfde sonde. (Rom. 5:12, 18; vergelyk Psalm 51:7.) Aangesien die hart van elke mens “vol boosheid is”, tesame met “dwaasheid” weens die bewind van sonde en die dood in alle mense, swig die meeste indiwidue voor verkeerde begeertes en neigings sonder enige selfbeheersing (Rom. 7:14-25). Die probleme wat daaruit voortspruit, raak nie alleen diegene wat hoofsaaklik daarvoor verantwoordelik is nie, maar ook tallose ander, onder andere persone wat probeer om godvrugtige lewens te lei.

Nog ’n rede waarom dinge skeef loop, is omdat “tyd en lotgeval” almal tref (Pred. 9:11). Dit kan ’n mens oorval in die vorm van ernstige siekte, politieke omwentelinge, ekonomiese teëspoed, natuurrampe of ander dinge wat ’n persoon se hele lewensituasie kan verander.

Wat kan jy, in die lig van die feit dat soveel dinge op aarde nie reg is nie, doen om die lewe gelukkig en sinvol te maak? Kom ons beskou die saak veral in die lig van die Bybelboek Prediker.

GEDULD EN NEDERIGHEID

’n Regte gesindheid is belangrik om dinge wat skeef loop die hoof te bied. Die wyse Bybelskrywer het gesê: “Die einde van ’n saak is beter as sy begin; ’n lankmoedige is beter as ’n hoogmoedige. Wees nie haastig in jou gees om jou te vererg nie, want ergernis rus in die boesem van die dwase.”—Pred. 7:8, 9.

Diegene wat hulle gou vererg en wat wrokke “in die boesem” koester, toon dat hulle hoogmoedig is. Indiwidue wat hulle knaend verknies oor die dinge wat in hulle lewens skeef loop, put nie genot uit die dinge wat vlot nie. In God se oë is hulle “dwase”. Die nederige persoon is andersyds geduldig. Hy bedwing homself sodat hy nie gekrenk, sinies en bitter word nie. Hy weier om toe te laat dat ongunstige omstandighede die oorhand oor hom kry. Persone wat sulke selfbeheer beoefen, vind dikwels dat “die einde van ’n saak” onverwags ’n gunstige wending neem.

’N PAAR DINGE OM TE VERMY

Om dinge wat nie reg is nie met welslae die hoof te bied, moet jy ag slaan op Skriftuurlike raad oor wat om nie te doen nie. Kom ons bespreek twee belangrike voorbeelde.

Jy ken waarskynlik persone wat baie tyd daaraan wy om ’n reël of formule te vind oor waarom dinge in die wêreld gebeur soos hulle wel gebeur. Party vorms van waarsêery (soos astrologie) het baie gewild geraak omdat hulle dan sou toon dat gebeure op aarde plaasvind volgens ’n voorbestemde patroon wat deur mense ontdek kan word.

Maar die Skrif toon dat al sulke pogings bloot ’n verkwisting van tyd is. Ons lees: “Toe ek my hart daarop gerig het om wysheid te leer ken en om te aanskou die dinge wat op die aarde gedoen word—ja, selfs bedags en snags niemand met sy oë die slaap sien nie—het ek gesien al die werk van God, dat die mens die werk wat gedoen word onder die son, nie kan uitvind nie, omdat die mens hom vermoei om te soek en tog niks uitvind nie; ja, al sou die wyse dink dat hy dit verstaan—hy sal dit nie kan uitvind nie!”—Pred. 8:16, 17.

Die Bybelskrywer verwys na dinge wat op aarde gebeur as “die werk van God”, maar nie in die sin dat God hierdie dinge veroorsaak nie. Hulle is eerder soos ‘werke van God’ in die sin dat hulle deur God toegelaat word en grootliks te wyte is aan oorsake buite die mens se beheer en vermoë om hulle te voorsien. Die Bybel toon duidelik dat alle pogings om die een of ander voorspelbare, algemene patroon van mensegebeure en -gedrag ‘uit te vind’ of uit te maak, tot mislukking gedoem is.

Nog ’n wyse grondreël word in Prediker 1:15 gevind. Dit lui: “Wat krom is, kan nie reguit word nie, en wat ontbreek, kan nie getel word nie.” Omdat hulle sonde geërf het, is die hele mensdom “krom”. Dit is soos die apostel Paulus gesê het: “Die skepping is aan die nietigheid onderworpe” (Rom. 8:20). Dit is waarom geen mensepogings, ongeag hoe opreg hulle is, van die diepgesetelde haat ontslae kan raak en die mensdom tot ’n broederskap kan verenig nie. Die kromheid en nutteloosheid wat aardse aangeleenthede teister, word deur God toegelaat en sal slegs deur goddelike tussenkoms verwyder word.—Kyk Daniël 2:44; Openbaring 11:18; 21:1-5.

WEES OPGEWEK EN VRYGEWIG

Terwyl jy met talle onaangename omstandighede te kampe het, sal jy hierdie wyse waarneming veral nuttig vind.

“Kyk, wat ek as ’n goeie ding gesien het, wat voortreflik is, is dat iemand eet en drink en die goeie geniet vir al sy arbeid waarmee hy hom vermoei onder die son gedurende die getal van sy lewensdae wat God hom gee; want dit is sy deel. Ook vir elke mens aan wie God rykdom en skatte gegee het, en wat Hy in staat stel om daarvan te eet en sy deel te neem en hom te verheug by sy moeitevolle arbeid, is dit ’n gawe van God. Want hy dink nie baie aan sy lewensdae nie, omdat God hom laat besig wees met die vreugde van sy hart.”—Pred. 5:17-19.

Dit maak nie saak hoeveel probleme jy het nie, daar is altyd ’n paar aspekte van die lewe waar dit goed gaan. Moenie toelaat dat teëspoed verhoed dat jy aangename dinge geniet nie. ’n Indiwidu wat genot put uit alledaagse genietinge soos kos en drank en wat ‘die blink kant bo hou’, sal vind dat die onaangename dinge in sy lewe, al is daar ook baie van hulle, selde in die gedagte opkom.—Vergelyk Prediker 2:24-26; 3:12, 13, 22; 8:15; 9:7-10; 11:8.

Nog ’n Skriftuurlike beginsel wat veel geluk tot gevolg kan hê, veral wanneer sake verkeerd loop, word in Prediker 11:1, 2 gevind. Daar lees ons: “Werp jou brood uit op die water, want ná verloop van baie dae sal jy dit vind. Gee ’n deel aan sewe, ja, ook aan agt; want jy weet nie watter onheil daar op die aarde sal wees nie.”

Hierdie woorde is ’n groot aansporing om vrygewig te wees. In plaas daarvan om net altyd aan ’n gekose paar intieme vriende te gee, kan jy “’n deel aan sewe, ja, ook aan agt” gee. Gee aan ’n groot verskeidenheid mense, veral diegene wat arm of andersins behoeftig is. (Vergelyk Lukas 14:12-14.) Indien die een of ander “onheil” jou dan tref, sal sake verloop soos Jesus Christus gesê het: “Gee, en aan julle sal gegee word. ’n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.”—Luk. 6:38.

Stem jy nie saam dat hierdie Skriftuurlike beginsels sin het nie? Staan gerus sommer nou tyd daaraan af om jou op hoogte daarvan te stel. Leef daarvolgens. Dit sal jou lewe ’n aangename ondervinding maak, selfs wanneer sake nie reg verloop nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel