Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w79 7/15 bl. 7-9
  • God se koninkryk—Die enigste hoop

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • God se koninkryk—Die enigste hoop
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N LEWENSBELANGRIKE BYBELWAARHEID
  • GODSDIENSLEIERS SE SKULD
  • WAT DIE KERKE SÊ
  • BESKOUINGS VERKEERD
  • DIE CHRISTELIKE STANDPUNT
  • WAT GOD SE KONINKRYK GAAN BRING
  • Hedendaagse valse profete
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Wat is God se Koninkryk?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • God se regering—die mensdom se enigste hoop
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • God se Koninkryk
    Ontwaak!—2013
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1979
w79 7/15 bl. 7-9

God se koninkryk—Die enigste hoop

DIE mensdom word deur allerhande probleme geteister. Maar daar is ’n oplossing. Wat ons nodig het, is ’n regverdige wêreldregering wat die aarde se aangeleenthede op ’n liefdevolle, bedagsame wyse tot voordeel van almal sal behartig. Sou jy nie verwag dat daardie oplossing die tema van Jesus se leer sou wees nie?

Dit was. “Die Koninkryk was die oorheersende tema van sy leer”, sê die godsdienstydskrif “Christianity and Crisis”, en dit voeg by: “Geen ander onderwerp was so voor in sy gedagte of so ’n sentrale deel van sy boodskap nie. Dit word meer as ’n honderd keer in die Evangelie-verslag gemeld.” Ja, Jesus het gesê: Ek moet . . . die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur” (Luk. 4:43). Hy het sy volgelinge geleer om te bid dat God se koninkryk moet kom.—Matt. 6:9, 10.

Wat is God se koninkryk? Hoe sal dit kom om wêreldprobleme op te los?

’N LEWENSBELANGRIKE BYBELWAARHEID

Die meeste mense weet dat ’n koning ’n heerser is, en dat ’n koning se koninkryk die gebied of ryk insluit waaroor hy regeer. Dit behoort dus nie moeilik te wees om te begryp dat God se koninkryk ’n bewind of regering oor die hele aarde sal wees, met sy eie Seun, Jesus Christus, aan die stuur nie. Hierdie koninkryk van God gaan alle regerings op aarde vervang.

Hierdie Bybelwaarheid oor die Koninkryk word nou al 100 jaar lank in The Watchtower beklemtoon. Trouens, sedert 1939 was die tydskrif se amptelike naam “The Watchtower Announcing Jehovah’s Kingdom”. Die nommer van Desember 1881 het gesê: “Die oprigting van hierdie koninkryk sal natuurlik gepaard gaan met die omverwerping van al die koninkryke van die aarde aangesien hulle almal—selfs die bestes—gegrond is op ongeregtigheid en ongelyke regte en die verdrukking van baie en die voortrekkery van ’n paar—soos ons lees: ‘Dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.’”—Dan. 2:44.

Maar vir die meeste persone, voorgewende Christene inkluis, is hierdie Bybelwaarheid onbekend. Stel gerus ondersoek in. Vra vir mense wanneer die geleentheid hom voordoen: ‘Wat is God se koninkryk, en hoe gaan dit kom?’ Jy sal dalk verbaas wees dat daar soveel verwarring oor die onderwerp bestaan, en so weinig begrip. Waarom is dit die geval?

GODSDIENSLEIERS SE SKULD

Dit is omdat godsdiensleiers self verwar is oor die Koninkryk. ’n Hoofartikel in “The Church Quarterly Review” erken:

“Ons loop al ’n hele ruk die gevaar om verswelg te word deur die toenemende gety teorieë en teenteorieë oor wat die waarlik wesenlike begrip van die Koninkryk is.”

Dit is hoofsaaklik weens die godsdiensverwarring dat die kerke min oor die onderwerp sê. Francis P. Miller, ’n vooraanstaande Presbiteriaan, het gekla:

“Die swye van die meeste Christene oor die Koninkryk van God is een van die grootste tragedies van ons tyd.” Hy het dus ten slotte geskryf: “As ’n leek pleit ek by ons teoloë en by ons geestelikes: Vertel vir ons van die Koninkryk van God; verduidelik vir ons wat dit is en hoe dit verband hou met die wêreld van ons tyd . . . Daar bestaan ’n dringende behoefte hieraan. Ons teoloë en geestelikes moet oor die Koninkryk van God wat ophande is, praat in ’n taal wat leke kan verstaan.”—Christianity and Crisis, 13 Junie 1960.

Maar het hulle? Die onkunde en verwarring van die meeste persone in verband met God se koninkryk toon dat hulle dit nie gedoen het nie. Dink ’n oomblik na oor die idees wat jy mense oor die Koninkryk hoor besig het. Weerspieël hulle die volgende standpunte wat die kerke geleer het?

WAT DIE KERKE SÊ

’n Lang ruk is daar gemeen dat die Rooms-Katolieke Kerk in werklikheid die koninkryk van God op aarde is. Maar gedurende die vroeë deel van hierdie eeu het “The Catholic Encyclopedia” (1910) onder “Koninkryk van God” gesê:

“Die ‘koninkryk’ is nie soseer ’n doelwit wat bereik moet word of ’n plek nie . . . dit is eerder ’n gemoedstoestand (Lukas xvii, 2021), en dit verteenwoordig ’n invloed wat

mense se gedagtes moet deurdring as hulle een met Hom wil wees en Sy ideale wil bereik.”

Klink daardie beskouing bekend? Dit is baie gewild en is deur talle kerkleiers uitgespreek. Die Konvensie van Suidelike Baptiste het dit byvoorbeeld in 1925 soos volg gestel:

“Die Koninkryk van God is die bewind van God in die hart en lewe van die indiwidu in elke menslike verwantskap, en in elke vorm en instelling van georganiseerde samelewing. . . . Die Koninkryk van God sal volkome wees wanneer elke gedagte en wil van die mens aan die wil van Christus onderwerp is.”

Daar is egter ’n ander gewilde beskouing. Die kerke het ook die koninkryk van God geassosieer met menslike politieke pogings om wêreldprobleme op te los. Waar Katolieke priester Martin K. Hopkins die gebed bespreek wat Jesus geleer het, het hy geskryf: “Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. Dit verduidelik hoe God se koninkryk eindelik gaan kom. Dit vereis dat ons verder kyk as die hede en dat ons ons beywer vir die herstelling van alle menslike instellings in Christus.”

Wat van hierdie verskeie gedagtes? Is die Koninkryk enigsins afhanklik van menslike pogings om instellings en mense te kersten? Is die Koninkryk ’n “bewind van God in die hart en lewe van die indiwidu”?

BESKOUINGS VERKEERD

Bogemelde beskouings in verband met die koninkryk van God, wat deur talle mense gehuldig word, is verkeerd. Hulle kom nie met die Bybel ooreen nie. En die afgelope tyd is dit deur kerkleiers self erken. “The Dictionary of the Apostolic Church”, wat deur James Hastings geredigeer is, sê:

“Daar is skaars enige teken in die Briewe van die Middeleeuse idee dat die Kerk op aarde die Koninkryk van God is. En die gedagte van party hedendaagse teologiese skrywers dat hierdie wêreld soos ons dit ken onder Christelike invloed sal ontwikkel totdat dit die Koninkryk word, is vir hulle denke heeltemal vreemd.”

Hoewel kerkleiers dikwels na die Koninkryk verwys het as ’n ‘gemoedstoestand’ of ‘bewind in ’n mens se hart’, word hierdie beskouing nou oor die algemeen verwerp, soos “The Church Quarterly Review” sê:

“Party van ons kan die dae onthou toe hierdie vraag hoegenaamd geen probleme geskep het nie. Die Koninkryk was bloot die bewind van God in die indiwidu se hart en lewe . . . Vandag het daardie eenvoud niks meer as die nota van ’n verouderde joernalistiek of van verhoogpolitiek geword nie.”

In teenstelling met die kerke se verkeerde beskouings het dit egter geblyk dat die Koninkryksboodskap wat in die kolomme van Die Wagtoring verkondig is, in harmonie met die Bybel is.

Ja, die Skrif toon duidelik dat God se koninkryk ’n bewind deur God is wat deur sy Seun, Jesus Christus, uitgeoefen word. Hierdie bewind is in die volgende woorde in die Bybel voorspel: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer . . . tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde” (Jes. 9:5, 6). God se hemelse Koninkryksregering is ophande. Eerlank gaan dit alle menseregerings omverwerp en vervang.—Dan. 2:44.

DIE CHRISTELIKE STANDPUNT

Wat is dus die behoorlike Christelike standpunt ten opsigte van hierdie stelsel wat deur God se koninkryk vervang gaan word? Die Bybel verduidelik dat die huidige wêreld onder die bewind van Satan is (Matt. 4:9; Joh. 12:31; 14:30; 2 Kor. 4:4). Toe dit lank gelede die aandag op hierdie waarheid gevestig het, het die Watch Tower van Desember 1882 verduidelik:

“Indien ons duidelik sien dat huidige regerings aan die ‘owerste van hierdie wêreld’ behoort en almal verbrysel moet word en plek moet maak vir die Koninkryk van God waarvoor ons bid: ‘Laat u koninkryk kom’, dan sal ons geen verdere begeerte hê om op enige wyse met hulle deurmekaar te raak nie.”

In teenstelling met die Christendom se kerke het The Watchtower die afgelope 100 jaar vir sy lesers die behoorlike Christelike standpunt getoon, soos Jesus gesê het: “Julle [is] nie van die wêreld . . . nie.” Dit het herhaaldelik klem gelê op Jesus se leer: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Joh. 15:19; 18:36). In plaas daarvan om betrokke te raak by hierdie wêreld se politieke aangeleenthede, was ware Christene dus heelhartige ondersteuners van God se Koninkryksregering.—Joh. 6:15.

WAT GOD SE KONINKRYK GAAN BRING

Wat verwag jy van ’n regering deur God? Jy sal eerstens gewis verwag dat die heerser daarvan regverdig, vriendelik en simpatiek is. En Jesus Christus het getoon dat hy so ’n persoon is (Matt. 11:28-30). Onder God se leiding het Christus persone met dieselfde eienskappe gekies om saam met hom in die hemel te heers (Luk. 22:28-30; Openb. 5:9, 10; 20:6). Een van hierdie manne het die volgende aan ’n ander een geskryf wat dieselfde hoop gekoester het: “As ons verdra, sal ons met Hom regeer.”—2 Tim. 2:12.

Ons sal beslis verwag dat die bewind van hierdie konings een van geregtigheid en vrede sal wees, een wat geluk en gesondheid vir die hele mensdom—sy onderdane op aarde—meebring. Toe hy op aarde was, het Christus sy Godgegewe mag om allerhande siektes te genees, getoon; hy het selfs die dode opgewek! Onder Koninkryksbewind sal hy weer eens hierdie wonderdadige magte gebruik tot die seën en voordeel van elke persoon op aarde! Mettertyd sal die hele aarde in ’n pragtige paradys omskep word.—Luk. 23:43, NW; Openb. 21:4.

God se koninkryk is gewis die enigste hoop op die verwesenliking van die seëninge waarna ons almal smag!

[Lokteks op bladsy 9]

God se hemelse Koninkryksregering is ophande. Dit sal eerlank alle menslike regerings omverwerp en vervang

[Prent/Venster op bladsy 7]

WAT DIE BYBEL SÊ

“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.”—Jesus in Joh. 18:36

“Die heerskappy is op sy skouer . . . tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde.”—Jes. 9:5, 6.

WAT DIE KERKE SÊ

‘God se koninkryk gaan kom . . . as ons ons beywer vir die herstelling van alle menslike instellings in Christus.’—’n Katolieke priester.

“Die Koninkryk van God is die bewind van God in die hart en lewe van die indiwidu.”—Konvensie van Suidelike Baptiste.

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel