Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 5/1 bl. 3-4
  • Is ons tye werklik anders?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is ons tye werklik anders?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Besoedeling
  • Oorbevolking
  • Wapens
  • Besoedeling—Wie veroorsaak dit?
    Ontwaak!—1990
  • Kan die mens blywende vrede en veiligheid bring?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Pogings om die omgewing te red—Hoe suksesvol was dit?
    Ontwaak!—2003
  • Kan die wetenskap die uitdagings van die 21ste eeu die hoof bied?
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 5/1 bl. 3-4

Is ons tye werklik anders?

TOE Amerikaanse ekonoom Peter F. Drucker die huidige wêreldsituasie beskryf het, het hy gesê: “Niemand hoef vertel te word dat ons eeu oneindig gevaarlik is nie. Niemand hoef vertel te word dat die groot vraag oor die mens se toekoms nie is wat dit sal wees nie, maar of dit sal wees.”

Wat is party van die probleme wat baie mense laat wonder of die mens enige toekoms het? Watter gevare onderskei ons tye van vorige geslagte?

Besoedeling

Die lug in talle groot stede het ’n gesondheidsgevaar geword. Seë, mere en riviere is deur nywerheidsafval besoedel, en dit besmet die vis wat ons eet. Die beskermende osoonlaag word deur afvalgasse bedreig. Besoedeling is tereg ’n bron van internasionale kommer. Die Franse dagblad Le Monde het verslag gelewer oor ’n vergadering van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling: “Van 1965 tot 1975 is die omgewing ernstige skade berokken. Selfs al reken ons daarop dat ekonomiese resessie [nywerheids]groei baie sal vertraag, sal die natuurlike omgewing steeds agteruitgaan in die jare wat voorlê indien dit nie beter beskerm word nie.”

Party beweer dat besoedeling niks nuuts is nie. As dit die geval is, waarom verkeer monumente wat al millenniums lank staan nou skielik in gevaar? “Dag na dag slaag Athene se besoedelde atmosfeer daarin om iets te vernietig wat die Turkse troepe nie gedurende hulle vierhonderdjarige besetting van Griekeland kon vernietig nie. Die marmer word geleidelik weggevreet.”—Parys se Le Figaro.

Oorbevolking

Ander faktore kompliseer die situasie verder op ’n wêreldskaal. Frankryk se wetenskaplike maandblad Science et Vie (Wetenskap en lewe) het die volgende gesê oor die bevolkingsaanwas en die uitbreiding van woestyne: “Teen die jaar 2000 sal die wêreldbevolking van vier- tot sesmiljard toegeneem het, terwyl bewerkbare grond moontlik oor dieselfde tydperk met 30 persent verminder het weens gronduitputting . . . en verstedeliking. Die simultane aard van hierdie twee verwikkelinge berei die weg voor vir ’n plofbare situasie.”

Die bevolkingsaanwas het weliswaar in sekere lande van die Westerse en Derde Wêreld afgeneem. Maar volgens deskundiges sal oorbevolking ten minste tot die middel van die volgende eeu voortduur, want in baie lande neem die groeisyfer toe en sal dit aanhou toeneem. Die oorgrote meerderheid van die ontwikkelende lande is onder die wêreld se digbevolkste lande. Oorbevolking kenmerk ons tye as waarlik verskillend van die verlede.

Wapens

Jy is terdeë bewus van die feit dat baie mense ontsteld is oor die wapenwedloop. Miljoene Europeërs voel glad nie gerus oor die feit dat hulle binne trefafstand is van missiele wat in lande van die Oosterse blok ontplooi is of om Amerikaanse missiele op hulle grond te hê nie. Maar ongeag waar jy op aarde woon, jy het rede tot kommer oor laser- of deeltjiebundelwapens, biologiese wapens of die verwoesting wat satelliete of wentelende ruimteplatforms kan aanrig. Party deskundiges beskou sommige van hierdie wapens bowendien as ’n nuwe verwikkeling in die terreurewewig. Die gevoel van kwesbaarheid wat hulle laat ontstaan, kan ’n nasie laat dink dat dit beter is om eerste aan te val.

Vra jouself af: Het vorige geslagte sulke krag gehad om die meeste van die aarde se bewoners in net ’n paar minute te vernietig? Of is hierdie element eie aan ons dag?

Gevare soos die wat ons gemeld het, lok uiteenlopende reaksies uit, veral in nywerheidslande. Party burgers stig komitees om besoedeling te bestry; ander jaag veiligheid teen alle koste na deur hulself te bewapen, skuilings te bou of selfs skuiling in afgesonderde gebiede te soek. Waar die International Herald Tribune oor laasgenoemde groep kommentaar lewer, het dit gesê: “Klein maar toenemende groepe Amerikaners bewapen hulself en leer hoe om dood te maak omdat hulle daarvan oortuig is dat die maatskaplike orde besig is om te verbrokkel en dat hulle vir hulself sal moet sorg as hulle aan die lewe wil bly.” In ander lande oefen burgers ook met wapens—vroue sowel as mans.

Maar daar is ’n ander soort gevaar wat selfs moeiliker is om van weg te kom of die hoof te bied—ekonomiese ineenstorting. Daar is miljoene werkloses in die Westerse wêreld, terwyl die nasies van die Oosterse blok ander ekonomiese probleme het. Sien jy nie die uitwerking van ekonomiese verwarring waar jy woon nie? Laat in 1980 het Frankryk se gewese eerste minister Raymond Barre die volgende oor die wêreld se ekonomie gesê: “Dit is . . . ’n wêreldkrisis. Dit is nie kortstondig of oppervlakkig nie, maar langdurig en diep gewortel.” Ekonoom Samuel Pisar het gesê: “Alles bevestig en staaf die feit dat ons op die randjie van ’n nuwe ineenstorting is. Ons probleme het niks gemeen met dié van veertig jaar gelede nie, en dit vergroot net ons besorgdheid.” Waarheen kan jy jou dan wend in hierdie tye wat so anders is?

Lank gelede het Jesus Christus gepraat van ’n tyd wat onder meer gekenmerk sou word deur “benoudheid van nasies in hulle radeloosheid” (Lukas 21:25). In die lig van hierdie verskillende gebeure, moet ons erken dat sy woorde ons tye pas, tye wat hemelsbreed verskil van enige voriges. Maar wat beteken dit vir ons as Jesus werklik ons dag in gedagte gehad het? Dui al hierdie dinge waarlik daarop dat ’n ingrypende verandering naby is? Die volgende artikel sal jou help om hierdie vrae te beantwoord.

[Prent op bladsy 3]

Besoedeling

Oorbevolking

Wapens

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel