Wees blymoedig in ’n wêreld vol moeilikheid
“VERBLY julle altyd in die Here”, het die apostel Paulus vermaan. “Verbly julle!” (Filippense 4:4). Maar vir talle lyk dit moeilik om sulke blydskap te ervaar. ‘Hoe kan jy blymoedig wees as jy te kampe het met armoede, werkloosheid, bandelose werkmaats, onsedelike verlokkinge of druk by die skool?’ wonder party.
Dit sou nie redelik van God wees om te verwag dat sy volk voortdurend jubelend moet wees nie. God self het Paulus geïnspireer om te voorspel dat daar “swaar tye” sou kom (2 Timotheüs 3:1-5). Die Bybel toon nietemin dat ’n persoon selfs onder die haglikste omstandighede ten minste ’n mate van blydskap of vreugde kan ervaar. Jesus het byvoorbeeld “die folterpaal verduur” asook “die teëspraak van sondaars”. Dit het ongetwyfeld min vreugde verskaf om pynlik aan ’n paal genael of deur skares gespot te word. Paulus sê selfs dat Christus se foltering so intens was dat hy God met “sterk geroep en trane” gesmeek het. Maar Jesus kon dit alles verduur “vir die vreugde wat hom voorgehou is”.—Hebreërs 12:2, 3, NW; 5:7.
Vroeë Christene het eweneens “’n groot lydensworsteling deurstaan . . . , gedeeltelik omdat [hulle] deur smaad en verdrukkinge ’n skouspel geword het”. Maar Paulus sê dat hulle “die berowing van [hulle] goed met blydskap aanvaar” het (Hebreërs 10:32-34). Maar hoe was dit moontlik?
Vreugde—van binne of van buite ?
Vreugde is nie iets uiterliks nie. Dit is ’n eienskap van die hart. (Vergelyk Spreuke 17:22.) Uiterlike dinge soos ’n gesin, vriende—selfs ’n gunstelingkossoort—kan weliswaar in ’n beperkte mate vreugde verskaf (Handelinge 14:16, 17). Selfs net die vooruitsig van iets goeds kan vreugde verskaf! (Vergelyk Spreuke 10:28.) Maar die vreugde wat ’n persoon uit uiterlike omstandighede of materiële dinge put, kan kortstondig wees.
Dit lyk andersins asof uiterlike omstandighede ons soms ons vreugde ontneem. ’n Jongman genaamd Jim sê byvoorbeeld hoe sy sekulêre werk hom geraak het: “Ek het my werk gehaat . . . Ek wou nie my hele lewe daaraan wy om die belange van ’n maatskappy te bevorder wat skynbaar nie werklik in my as persoon belanggestel het nie. Buitendien was baie van die mense saam met wie ek gewerk het agterbakse, onopregte mense.” Pogings om vreugde kunsmatig op te wek, het ook ’n dooie punt bereik. Jim sê: “Ek het allerhande dwelms geneem vandat ek tien jaar oud was. Maar ek het baie verward geword. Ek was siek vir die lewe wat ek gelei het: drinkery, dwelmmisbruik en partytjies. Die lewe het geen sin of doel gehad nie. Ek het myself afgevra: ‘Waar kan ek iets beters vind?’”
Jim se ondervinding in hierdie opsig herinner ons aan dié van koning Salomo. Hy het ook besef dat ’n persoon tevergeefs probeer om vreugde deur genotsug te vind:
“Ek het in my hart gesê: Nou ja, ek sal jou met vreugde op die proef stel; geniet dan die goeie! Maar kyk, ook dit was tevergeefs. Van die lag het ek gesê: Dit is onsinnig! en van die vreugde: Wat verskaf dit? Ek het in my hart daaroor nagedink om my liggaam met wyn te verkwik—terwyl my hart my met wysheid sou lei—en om aan die dwaasheid vas te hou totdat ek sou sien wat goed is vir die mensekinders, wat hulle moet doen onder die hemel gedurende die getal van hulle lewensdae. Ek het groot werke onderneem: ek het vir my huise gebou, ek het vir my wingerde geplant. Ek het vir my tuine en parke aangelê . . . En alles wat my oë begeer het, het ek hulle nie ontsê nie; . . . Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het—en kyk, dit was alles tevergeefs en ’n gejaag na wind.”—Prediker 2:1-5, 10, 11.
Is daar ’n lewenswyse wat nie tevergeefs is nie, een wat selfs onder die haglikste omstandighede vreugde verskaf?
Die bron van ware vreugde
“Die blydskap van die HERE—dit is julle beskutting”, het Nehemia gesê (Nehemia 8:11). Ja, blydskap kom van die Almagtige God af, want hy is eerstens die Skepper van alle goeie dinge wat ware vreugde kan verskaf. “Sterkte en blydskap is in sy woonplek”, sê die Bybel (1 Kronieke 16:27). Die gewisse manier om vreugde te verkry, is derhalwe om net soos Abraham ’n vriendskap, ’n verhouding met die Skepper te hê! (Jakobus 2:23). Kan so ’n ‘vriendskap’ vreugde verskaf? Kyk na wat die psalmis gesê het: “U [God se] vriendskap is beter as die lewe” (Psalm 63:3, The Bible in Living English). Terloops, Jim het ook mettertyd hierdie feite besef. Hy is vandag ’n blymoedige Christen.
Hoe kan vriendskap met God vreugde verskaf? Eerstens, God is ‘’n beloner van die wat Hom soek’ (Hebreërs 11:6). Wanneer ’n persoon God dien, hoef hy nie te vrees dat sy pogings tevergeefs is of ongemerk gaan nie. Hy stel die geringste daad van toewyding hoog op prys. (Vergelyk Markus 12:41-44.) En wanneer Jehovah sy getroue ‘vriende’ seën, maak sy seën “ryk, en hy voeg daar geen smart by nie” (Spreuke 10:22, NW). Trouens, liefhebbers van God sien daarna uit om die ewige lewe as beloning in sy Nuwe Orde waarin “geregtigheid woon” te geniet (2 Petrus 3:13). So ’n hoop is groot rede tot blydskap vir Christene!
Nog iets om te oorweeg, is dat “blydskap” ’n vrug van God se gees is. En tog gee God mildelik van sy gees aan sy ‘vriende’ wat daarom vra (Galasiërs 5:22; Lukas 11:13). Wat was die gevolg? Die psalmis het uitgeroep: “Welgeluksalig is die volk wie se God [Jehovah] is!”—Psalm 144:15.
Hoe om ons vreugde te behou
Maar selfs gesalfde Christene in Paulus se dag het soms neerslagtig gevoel (1 Thessalonicense 5:14). En vandag eis die druk en spanning van die lewe ’n selfs groter tol. Maar aangesien vreugde ’n eienskap is wat diep in jou hart gesetel is, hoef hierdie druk jou nie jou vreugde te laat verloor nie. Kyk byvoorbeeld na Jesus Christus. Ons het vroeër opgemerk dat hy, “vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die [folterpaal] verdra het” (Hebreërs 12:2, vgl. NW). Ofskoon dit ongetwyfeld ’n verskriklike ervaring was om aan ’n paal genael te wees, was Jesus se verhouding met sy Vader gans te sterk vir hom om hom oor te gee aan selfbejammering. Jesus se oorheersende gedagte was duidelik “die vreugde wat Hom voorgehou is”: die voorreg om Jehovah se naam te regverdig, die vooruitsig om die hele mensdom van sonde te bevry, die eer om as die Koning van God se Koninkryk te dien! Christus kon selfs in sy moeilikste oomblikke aan hierdie dinge dink en innige vreugde smaak!
Vroeë Christene kon eweneens vervolging verduur, selfs ‘die berowing van hulle goed met blydskap aanvaar’, nie omdat hulle ’n masochistiese genot uit ellende geput het nie, maar omdat hulle gedagtes gevestig was op waarom hulle hierdie dinge moes verduur. Hulle kon hulle verbly “dat hulle waardig geag was om vir [God se] Naam oneer te ly”. Hulle kon hulle verheug omdat die ‘hoop van die ewige lewe’ vir hulle voorgehou is.—Handelinge 5:41; Titus 1:2.
Ons kan ook vandag ons vreugde behou, al kom ons voor ernstige probleme te staan. In plaas daarvan om in ons dop te kruip en te tob oor ons probleme, kan ons probeer om onsself te herinner aan die seëninge van ’n vriendskap met Jehovah en die ondersteuning van liefdevolle broers en susters. Dit is dikwels genoeg om ons lyding onbelangrik te laat lyk. Jesus het die kwessie soos volg toegelig: “’n Vrou het droefheid wanneer sy baar, omdat haar uur gekom het; maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan haar benoudheid nie, om die blydskap dat ’n mens in die wêreld gebore is.”—Johannes 16:21.
Daar is vandag in die gemeente talle uitstekende voorbeelde van individue wat hulle vreugde hulle probleme laat oorskadu. ’n Christin genaamd Evelyn ly byvoorbeeld aan ’n verskeidenheid kwale, met inbegrip van kanker. Sy loop swaar en is dikwels duidelik in pyn. Maar sy woon vergaderinge gereeld by en het gewoonlik ’n stralende glimlag. Die sleutel tot haar vreugde? “Ek vertrou op Jehovah”, sê sy graag. Ja, in plaas daarvan om aan haar ellende te dink, wend sy ’n poging aan om haar gedagtes te vestig op die redes waarom sy blymoedig kan wees. Dit gee haar die krag om haar kwale te verduur.
Ons kan natuurlik maklik ons vreugde verloor. Party word verteer deur ’n begeerte na materiële dinge of vermaak. Hulle verwaarloos Christenvergaderinge, persoonlike studie en velddiens. In plaas daarvan om vreugde in sy lewe te bring, sal die een wat materiële rykdom vurig begeer ‘homself met baie smarte deurboor’.—1 Timotheüs 6:10.
Die najaging van die selfsugtige “werke van die vlees” is nog ’n manier om jou vreugde te vernietig. Hoerery, onreinheid of losbandigheid kan kortstondige genot bring, maar hierdie dinge is lynreg in stryd met God se gees wat blydskap voortbring (Galasiërs 5:19-23). Die een wat sonde laat botvier, loop gevaar dat hy hom van die Bron van blydskap—Jehovah—afsny!
Hoeveel beter is dit dus vir ’n Christen om sy blydskap angsvallig te bewaar. As jy om die een of ander rede ’n gebrek aan vreugde het, moet jy kyk wat jy kan doen om dit te herwin. Miskien moet jy meer studeer en oor die Bybel peins. Dit is slegs deur ons voortdurend aan ons hoop te herinner dat ons ons ‘in die hoop kan verbly’ selfs terwyl ons swaar tye deurmaak (Romeine 12:12). Of miskien is dit nodig om ’n groter aandeel in die verkondiging van die “evangelie van die koninkryk” te hê (Mattheüs 24:14). As ’n persoon op hierdie manier “gee”, verskaf dit feitlik onvermydelik ’n groter mate van vreugde!—Handelinge 13:48, 52; 20:35.
Hierdie wêreld vol probleme sal voortgaan om vir ons moeilikhede op te lewer. Maar as ons ’n intieme verhouding met ons hemelse “Vriend” opbou, kan ons ons vreugde behou en toegang verkry tot God se Nuwe Orde waar alles wat vreugde bederf vir ewig uit die weg geruim sal word!—Openbaring 21:3, 4.