Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 7/1 bl. 4-6
  • Mensgemaakte godsdiens—Is dit werklik bevredigend?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Mensgemaakte godsdiens—Is dit werklik bevredigend?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Menseleerstellinge versus die Bybel
  • Is die Bybel ’n openbaring van God?
  • Hindoeïsme—’n Soeke na bevryding
    Die mensdom se soeke na God
  • Waar om na antwoorde te soek
    Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?
  • Ware leringe wat God behaag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Wat sal jy vir ’n Hindoe sê?
    Ons Koninkryksbediening—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 7/1 bl. 4-6

Mensgemaakte godsdiens​—Is dit werklik bevredigend?

NAGENOEG 450 000 000 mense het die Hindoe-geloof aangeneem. Hindoe-filosoof dr. S. Radhakrishnan sê: “Godsdiens is nie soseer ’n openbaring wat ons deur geloof moet verkry as ’n poging om die mens se diepste wese te ontsluier nie.” Hy voeg by: “Die mens is ongetwyfeld die maatstaf van alle dinge.”

Daar is geen sentrale liggaam wat Hindoe-aanbidders rig nie en daar is ook geen vasgestelde aanbiddingsvorm nie. Daar is nie een boek, soos die Bybel, wat die bron van hulle opvattinge is nie. ’n Groot verskeidenheid Hindoe-geskrifte het deur die eeue heen verskyn, en ses verskillende denkrigtinge van Hindoe-filosofie het ontstaan: Nyāya (analitiese redenering), Vaiśeshika (kennis van die fisika), Sānkhya (sintese van elemente), Joga (eenheid met die godheid), Mīmāmsā (ondersoek), en Vedānta (vervulling van Veda).

Hierdie filosofieë is op verskillende tye en stadiums in die geskiedenis deur verskeie Hindoe-meesters uitgewerk, en elkeen het ’n ander benadering tot aanbidding. Nyāya gebruik ingewikkelde logikastelsels om God se bestaan deur gevolgtrekking te bewys (byvoorbeeld, om die bestaan van die wind af te lei uit die geritsel van bome).

Hierdie benadering is natuurlik in ’n mate gegrond, aangesien die Bybel eweneens sê: “Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid” (Romeine 1:20). Maar kan jy werklik die Skepper deur ’n logikastelsel leer ken? Kan so ’n stelsel openbaar wat sy naam is? Of kan dit die oorsprong van die heelal verklaar of waarom boosheid en lyding toegelaat word? Kan dit jou ’n bevredigende hoop vir die toekoms gee? Kom ons kyk watter godsdiens verskaf die bevredigendste antwoorde op hierdie vrae​—godsdiens van geopenbaarde waarhede of mensgemaakte godsdiens.

Menseleerstellinge versus die Bybel

Die Hindoes skenk baie aandag aan God se natuur. Die Vedānta-filosofie baseer byvoorbeeld sy idees op die godsdiensgeskrifte wat Oepanisjads genoem word. Hierdie geskrifte ondersoek God se natuur en sy verhouding met mense.

Die Bybel munt egter uit in die insig wat dit omtrent God verskaf, en is duidelik en konsekwent daarin. Hy word as die Skepper van alles geïdentifiseer (Openbaring 4:11). Maar hy word nie as ’n naamlose krag uitgebeeld nie. “Laat hulle die naam van Jehovah loof, want sy naam alleen is onbereikbaar hoog. Sy waardigheid is oor aarde en hemel”, sê die Bybel in Psalm 148:13 (NW). Hy word beskryf as ’n “barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou” (Exodus 34:6). Hy nooi selfs onvolmaakte mense om hom te leer ken en ’n verhouding met hom te geniet! (Psalm 34:9). Is wat die Bybel omtrent God sê nie baie bevredigender as verwarrende filosofiese ondersoeke nie?

Die Oepanisjads ondersoek ook die samestelling van die mensesiel. Die Bybel sê egter baie duidelik: “Die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword” (Genesis 2:7). Die mens is dus ’n siel​—nie die besitter van ’n skaduagtige gees wat herhaaldelik gereïnkarneer word nie. Die siel is ook nie onsterflik nie. Die Bybel sê: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe.”​—Esegiël 18:4.

Die Oepanisjads ondersoek die natuur van Self en Ego noulettend. Maar slegs die Bybel verskaf die sleutel tot ’n begrip van die mens deur sy sondige natuur te openbaar. “Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Die mens moet gevolglik voortdurend teen verkeerde drange stry.​—Romeine 7:20, 25.

Die Oepanisjads delf in kwessies omtrent die realiteit van boosheid en vergelding. Die Bybel sê egter duidelik dat goddeloosheid op die aarde ’n gevolg is van die mens se keuse om ’n onafhanklike weg in te slaan. “Kyk, net dit het ek uitgevind: dat God die mens reg gemaak het, maar hulle het baie slim planne gesoek” (Prediker 7:29). Wat die uiteindelike vergelding van boosheid betref, sê die Skrif: “God wat elkeen sal vergeld na sy werke: aan die wat deur volharding in goeie werke heerlikheid [en] eer . . . soek​—die ewige lewe; maar aan die wat eiesinnig en aan die waarheid ongehoorsaam, maar aan die ongeregtigheid gehoorsaam is​—grimmigheid en toorn; verdrukking en benoudheid . . . Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie.”​—Romeine 2:6-9, 11.

En terwyl die Oepanisjads sukkel om die weg tot redding te verklaar, sê die Bybel eenvoudig: “Redding behoort aan Jehovah” (Psalm 3:8, NW). Diegene wat Jehovah se weg volg, word belowe: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”​—Psalm 37:29.

Die Bybel verskaf eenvoudige, onomwonde, verstaanbare antwoorde op vrae wat menslike bespieëlaars dronkslaan. Geen filosoof kon hierdie antwoorde op sy eie uitgewerk het nie.

Is die Bybel ’n openbaring van God?

Maar beteken dit noodwendig dat jy seker kan wees dat die Bybel ’n openbaring van God is? Daar is baie redes waarom jy kan.

Eerstens, dit is redelik om aan te neem dat God homself op die een of ander manier aan die mens sou openbaar. Wat sou jy dink van ’n man wat kinders verwek, maar dan wegloop en hulle aan hulle lot oorlaat? Gestel so ’n man laat sy kinders in algehele onkunde omtrent homself en gee nie eens vir hulle sy naam nie. Sou jy nie verontwaardig voel teenoor hom nie? Is dit dan nie net redelik om tot die slotsom te kom dat ’n liefdevolle Skepper hom op die een of ander manier aan sy aardse kinders sou openbaar nie?

‘Maar waarom sou hy dit deur ’n boek doen?’ vra jy dalk. ‘Sou ’n almagtige God nie iets dramatieser gebruik nie​—miskien ’n stem uit die lug?’ God het by verskeie geleenthede uit die hemel gepraat, soos toe hy die Tien Gebooie gegee het. Die volk was toe so verskrik weens die vertoning van natuurverskynsels dat hulle by Moses gepleit het: “Laat God nie met ons spreek nie, anders sterwe ons.” Hulle het dus op ’n afstand gestaan terwyl Jehovah met Moses gespreek het (Exodus 20:18-22).a Maar selfs Moses kon daardie woorde van God vergeet het. Jehovah het Moses en later ander getroue manne dus wyslik Sy woorde op skrif laat bewaar (Exodus 34:28). Mense kan gevolglik God se gedagtes op hulle gemak lees. Hulle kan peins oor wat God te sê het en dit bestudeer.​—Kyk Josua 1:8; ook 1 Timotheüs 4:15.

Die Bybel is weliswaar deur mense geskryf, net so seker soos wat mense die Hindoe-geskrifte geskryf het. Maar die manne wat die Bybel geskryf het, het dit onder invloed van Jehovah God se heilige gees gedoen (2 Petrus 1:21). Hulle geskrifte was nie bloot filosofiese mymeringe nie. En die Bybel gee blyk van God se leiding. Kan enigiets anders as goddelike leiding verklaar hoe die Bybel die volgorde waarin lewe op die aarde verskyn het so akkuraat kon uiteensit? (Genesis hoofstuk 1). Kan enigiets anders as goddelike leiding verklaar hoe die Bybel meer as 2 700 jaar gelede kon gesê het dat die aarde nie net rond is nie, maar dat dit oor “niks” hang nie? (Job 26:7; Jesaja 40:22). Kan enigiets anders as goddelike leiding die Bybel se onfeilbare juistheid verklaar wanneer dit kom by profesieë, soos die een in Jesaja 44:28 waar die Persiese veroweraar Kores die Grote sowat 130 jaar voor sy geboorte by naam genoem is? Kon enige mens 2 500 jaar gelede die ontstaan van die twee mededingende supermoondheidblokke voorspel het wat vandag die middelpunt van die wêreldsituasie is?​—Daniël 11:27, 36-40.

Daar is dus grondige redes om in die Bybel te glo as ’n openbaring van God se wil. Ons nooi jou om onbevooroordeeld te ondersoek wat dit sê. Jehovah se Getuies help individue graag om dit te doen. Sodoende sal jou aanbidding nie ’n ydele strewe na menslike wysheid wees nie (Mattheüs 15:9). Jy sal ook nie, soos die eertydse Samaritane, aanbid ‘wat jy nie weet nie’ (Johannes 4:22). Met behulp van God se gees kan jy selfs “die diep dinge van God” te wete kom (1 Korinthiërs 2:10, NW). Want ‘as jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind’.​—2 Kronieke 15:2.

[Voetnote]

a Kyk ook Exodus 33:11; Mattheus 3:17; 17:5; Johannes 12:28.

[Prent op bladsy 5]

Miljoene hang mensgemaakte godsdienste aan, maar het dit bevredigende antwoorde op vrae omtrent God verskaf?

[Prent op bladsy 6]

Die Bybel het nie net gesê dat die aarde rond is nie, maar ook gesê dat dit oor “niks” hang nie. Getuig dit nie van goddelike inspirasie nie?

    Afrikaanse publikasies (1975-2027)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel