Twintigste-eeuse handhawers van onkreukbaarheid kom byeen!
DIE slagorde is baie vroeg in die mens se geskiedenis opgestel. Opstand het in die geeste- sowel as die menseryk uitgebreek, en die regmatigheid van die Skepper se soewereiniteit is in twyfel getrek! Dit het ’n morele geskil geopper, naamlik: Sal diegene wat aan Jehovah God getrou is sy heerskappy ondersteun deur hulle onkreukbaarheid teenoor hom te handhaaf?—Genesis 3:1-24; Exodus 9:16; Lukas 22:31.
Satan die Duiwel het valslik beweer dat Jehovah se aanbidders Hom slegs om selfsugtige redes dien en nie uit liefde nie (Job 1:1-2:10). Maar hulle het getrou aan God gebly ten spyte van die pogings van Satan en sy vyandelike wêreld om hulle hulle onkreukbaarheid te laat verbreek (Hebreërs 11:4-38; Openbaring 12:10-17). Om 20ste-eeuse knegte van Jehovah aan te spoor om getrou te bly, het die Wagtoringgenootskap gereël dat ’n reeks “Handhawers van onkreukbaarheid”-byeenkomste van Jehovah se Getuies van die middel van 1985 af in talle lande gehou word. Daar is elke dag ’n gepaste Bybeltema beklemtoon.
“Wandel in onkreukbaarheid”
Hierdie tema van die byeenkoms se openingsdag het geestelike aptyt gewek. Die toespraak “ ‘Hoor, my volk’, die Woord van Jehovah” het die grondslag gelê deur almal daaraan te herinner om aandagtig te luister. Die wysheid van daardie raad is bevestig deur die voorsittersrede: “Laat onkreukbaarheid ons beveilig”. Hoe doen onkreukbaarheid dit? Onkreukbaarheid vereis dat ons volkome toegewy aan God moet wees, dat ons ons hart, motiewe en liefde suiwer hou. “As dit ons vaste voorneme is”, het die voorsitter gesê, “sal ons onkreukbaarheid ons beveilig.”—Psalm 25:5; 31:24.
Daarna is ons “Aangespoor deur die voorbeeld van beproefde handhawers van onkreukbaarheid”. Nadat hy bemoedigende voorbeelde uit die verlede gemeld het, het die spreker onderhoude gevoer met voorbeeldige handhawers van onkreukbaarheid vandag. Diegene wat onkreukbaarheid handhaaf, is “Nie skaam oor die evangelie nie”. Hierdie toespraak, gebaseer op Markus 8:38, het duidelik getoon dat dit ’n beskerming is as ons ons onbeskroomd in ons bediening, by ons sekulêre werk en elders identifiseer. ‘En hoe wonderlik sal dit wees wanneer Jesus voor hemelse engele en sy Vader getuig dat ons sy dissipels is wat in onkreukbaarheid gewandel het!’
“Die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders” was ’n glanspunt op die program wat getoon het dat Jehovah, as ’n liefdevolle Vader, bly is om “verborge dinge” aan sy volk te openbaar (Deuteronomium 29:29; Amos 3:7). Ywerige studie van hierdie geopenbaarde dinge sal ons versterk sodat ons ons onkreukbaarheid kan handhaaf. Die volgende onderwerp “Skep behae in Jehovah se Woord” het nadruk gelê op die feit dat Jehovah se Getuies studente van die Bybel moet wees (Psalm 1:1, 2). Studie is inderdaad ’n “deel van die lewe van elke Christen wat in onkreukbaarheid wandel”.
“Redenering uit die Skrif” is die metode wat handhawers van onkreukbaarheid gebruik om vir die verskillende soorte mense in hulle predikingswerk te getuig. Die apostel Paulus het byvoorbeeld in ’n sinagoge in Thessalonika ‘uit die Skrif geredeneer en dit uitgelê en daaruit aangetoon dat die Christus moes ly’. Was Paulus suksesvol? Ja, want sommige van sy luisteraars het gelowiges geword (Handelinge 17:1-4, NAV). Sou die byeenkomsgangers hulp waardeer om vrae te beantwoord wat hulle tydens hulle bediening teëkom? Hoe bly was hulle tog om dit te ontvang toe die spreker die nuwe veldbedieninghandleiding Redenering uit die Skrif vrygestel het!
“Hanteer die woord van waarheid reg”
Dit was opwindend om op die tweede dag te sien hoe so baie pioniers—duisende by sommige byeenkomste—op uitnodiging van die spreker opgestaan en getoon het dat groot getalle aan die voltydse diens deelneem. Hierdie deel “Span jou kragtig in in die voltydse diens” het beklemtoon dat pionierdiens die moeite werd is hoewel dit inspanning verg om aan hierdie bediening deel te neem.—Lukas 13:24.
Die programrede “Verbly Jehovah se hart deur onkreukbaarheid te handhaaf”, was op Spreuke 27:11 gebaseer. Hierdie toespraak het in die skatkamer van God se Woord gedelf en met hierdie kleinode te voorskyn gekom: ‘Ware onkreukbaarheid beteken onwrikbare toegewydheid aan ’n persoon—aan Jehovah God.’ ‘Satan is die voorbok in die verbreking van onkreukbaarheid’, en sy opstand het ‘die geskil oor die regmatigheid van God se soewereiniteit’ geopper. “Hoewel Jehovah se soewereiniteit nie van sy skepsele se onkreukbaarheid afhang nie, het die Duiwel se opstandige optrede die vraag oor die mense se onkreukbaarheid teenoor God se soewereine wil ’n belangrike deel van die geskil oor soewereiniteit gemaak.” Die spreker het gevra: “Hoe is dit vir ons moontlik om as handhawers van onkreukbaarheid te seëvier?” “Ons kan dit doen omdat ons God se Woord gehoorsaam”, het hy geantwoord.—Romeine 14:8.
Die volgende toespraak, “Die seën van Jehovah—dit maak ryk”, het beklemtoon dat ons geestelike dinge eerste in ons lewe moet stel. Ons is gehelp om te sien dat hoewel geld nuttig is, geldgierigheid gevaarlik kan wees (Prediker 7:12; 1 Timotheüs 6:10). Dit is getrouheid wat Jehovah se seën, ware rykdom, meebring.—Spreuke 10:22.
Die drama “Jou toekoms—’n uitdaging” het die Nasireërs se onkreukbaarheid vergelyk met die uitdaging waarvoor jong Getuies te staan kom wat graag pioniers wil word en in die voltydse diens wil bly pleks van materialistiese doelwitte na te jaag. Dit het jongmense aangespoor om die uitdaging te aanvaar en God heelhartig te dien. Hierdie drama het ook getoon hoe ouers en ander hulp kan verleen.
“Saai oorvloedig, maai oorvloedig” het verduidelik dat die beginsel ‘ons maai wat ons saai’ verstandig, regverdig en liefdevol is. As ons God, Christus en die ‘getroue dienskneg’ navolg, sal ons oorvloedig saai in die bywoning van vergaderinge, gebed, getuieniswerk en al ons gesinsverhoudinge (Mattheüs 24:45-47). As ons so saai, kan ons seker wees dat ons Jehovah se seën sal maai.—Hebreërs 6:10.
In die toespraak oor “Hoe julle iedereen moet antwoord”, het die gehoor noukeurig aandag geskenk aan die voorstelle en demonstrasies oor hoe om die nuwe boek Redenering uit die Skrif te gebruik. Daar is beklemtoon dat ons onverskilligheid deur gepaste inleidings moet oorkom, dat ons vriendelik moet reageer wanneer daar ’n opregte maar negatiewe reaksie is en dat ons moet toon dat die Bybel die bron van ons antwoorde is.—Kolossense 4:6.
Na die slottoespraak op die tweede dag, “Maak Jehovah se wonderwerke bekend”, het ons aan die werk gespring deur dit te doen en aan die veldbediening deel te neem. Daardie einste middag het ’n Getuie, wat in Vancouver, Kanada, van huis tot huis gegaan het, die beswaar teëgekom: “As God ’n God van liefde is, waarom laat hy goddeloosheid toe?” Die antwoord wat in die nuwe Redenering-boek verskaf word, het die vraer tevrede gestel en ’n Bybelstudie is dadelik begin.
“Onberispelik te midde van ’n verdraaide geslag”
Dit was die gedagteprikkelende tema van die derde dag. Daardie oggend het die toespraak oor “Vereer Jehovah met ons waardevolle goed” dit benadruk dat ons toegewyde lewe, ons intieme verhouding met Jehovah en ons fisiese, verstandelike, geestelike en materiële bates alles waardevolle dinge is waarmee ons ons hemelse Vader behoort te vereer.—Spreuke 3:9, 10.
Die toespraak “Verkry nuwe krag, moenie moeg word nie” het tydige inligting verskaf om ons te help om Satan se pogings te weerstaan om ons ons onkreukbaarheid deur twyfelgedagtes, verlies aan geloof, materialisme, versoekings en verskeie vorme van ontmoediging te laat verbreek. Studie, meditasie, gebed, bywoning van vergaderinge en gereelde deelname aan Koninkryksverkondiging is gewisse maniere om baat te vind by die onuitputlike Bron van energie, Jehovah.—Jesaja 40:28-31.
’n Hoofgedagte in die toespraak “Lewe volgens God se wil, nou en vir ewig” was dat as ons Christus se gesindheid het ons “nie meer volgens die begeerlikhede van die mense [sal] leef nie, maar volgens die wil van God” (1 Petrus 4:1, 2). Jesus het nooit toegelaat dat enige menslike begeerte hom van daardie weg verlei nie. Doopkandidate in die besonder het aandagtig geluister na die volgende toespraak “Skaar jou by Jehovah se handhawers van onkreukbaarheid”. Daar is vir hulle gesê dat hulle doop slegs die begin is van hulle wedloop om onkreukbaarheid te handhaaf. Om goed te hardloop, moet hulle voorsienings soos gebed, God se Woord, Christenpublikasies en aktiewe assosiasie met die gemeente benut. Die kandidate het opgestaan om twee vrae te beantwoord wat getoon het dat hulle besef watter belangrike stap hulle doen. Hulle waterdoop het gevolg en soms kon ander byeenkomsgangers toekyk.
Daardie middag het die toespraak oor “Is die vrees van Jehovah op ons?” eerbied vir die universele soewerein beklemtoon (Spreuke 8:13). Daar is tussen Godvresende koning Josafat van Juda en die nou heersende Grotere Josafat, Jesus Christus, parallelle soos die handhawing van rein aanbidding (1 Konings 22:16; Maleagi 3:1-18); die verdediging van godsdiensvryheid (2 Kronieke 17:1, 2, 12-19; Filippense 1:6, 7); organisasie om ware aanbidders te onderrig (2 Kronieke 17:7-9; Mattheüs 28:19, 20); en die instelling van teokratiese geregshowe vir die toepassing van geregtigheid.—2 Kronieke 19:6, 7; 1 Korinthiërs 6:5, 6.
Die deel “Die Skrif is nuttig tot teregwysing” het getoon hoe die Bybel ons help om ’n ordelike lewe te lei en eerbied te toon vir die organisasie, aangestelde opsieners en bejaardes. In die volgende deel, “Vasbeslote om Jehovah met ’n volkome hart te dien”, is dit ons op die hart gedruk dat ons ’n gesonde figuurlike hart moet hê, een wat verenig—volkome—in Jehovah se diens gehou word.—1 Kronieke 28:9.
Maar wat van die oog? Die volgende spreker het die vraag “Gesinslede, is julle oog ‘reg’?” beantwoord. Aangesien Satan talle dinge gebruik om ons figuurlike oog af te wend, is dit noodsaaklik dat Christenvaders, -moeders en -kinders ’n gebalanseerde beskouing handhaaf en Koninkryksbelange eerste stel (Mattheüs 6:33). Die nodigheid om die Groot Organiseerder te erken deur respek vir die aangestelde ouere manne en die gemeente te toon, is beklemtoon in die volgende toespraak oor “Voer die bevele van die koning noukeurig uit”.—Spreuke 8:32-36.
Die dag se hoogtepunt was die toespraak “Onkreukbaarheid teenoor die waarheid in ’n goddelose wêreld”. Christene moet onder meer onkreukbaarheid teenoor die waarheid handhaaf deur die Bybelleerstelling oor die skepping te verdedig en goddelose teorieë te weerlê. Die gehoor was verheug toe ’n boek met 256 bladsye vrygestel is wat volledige antwoorde verstrek op die vraag wat deur sy titel geopper word: Die lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? Hoe doeltreffend is hierdie publikasie? ’n Voormalige evolusionis wat nou ’n Getuie in Swede is, het daardie nag die hele boek deurgelees en gesê: “As ek gister ’n evolusionis was, sou ek beslis oornag van sienswyse verander het.”
“Hou julle lewenswandel onder die heidene skoon”
Dit was die tema van die laaste dag van die byeenkoms. Een van die toesprake wat daardie oggend gehou is, het die vraag “Kan enigiets ons skei van die liefde van God?” beantwoord. Ons alleen kan ons van die liefde van God en Christus skei. Maar solank ons ons geloof bewaar, kan geen druk, geen omstandighede, geen teenstander maak dat God sy liefde vir ons verloor nie.—Romeine 8:35-39.
Die toespraak “Moenie gou julle verstand verloor nie” het benadruk dat ons ons posisie in die geestelike paradys moet bewaar. Hoe? Deels deur ’n klagees te vermy en afvalligheid te weerstaan en derhalwe ag te slaan op Paulus se raad ‘om nie gou ons verstand te verloor’ weens enige mondelinge of geskrewe boodskap wat veronderstel is om twyfelgedagtes te laat ontstaan en ons geloof te ruïneer nie.—2 Thessalonicense 2:1, 2.
“Vrees God, wyk af van die kwaad” was die tweede meevoerende drama. Dit het gehandel oor die handhawer van onkreukbaarheid, Job, en het getoon dat vervolging en lyding omdat ons God dien niks nuuts is nie. Ondanks pogings om ons aandag af te lei, moet ons, soos Job, vasbeslote wees om ons onkreukbaarheid te handhaaf, Jehovah te vrees en ons van die kwaad af te wend.
Die openbare toespraak “God se tye en seisoene—Waarop dui dit?” het ons daaraan herinner dat Jehovah ‘konings afsit en konings aanstel’ in ooreenstemming met sy onveranderlike voorneme. Wanneer sy tyd aanbreek, sal hy dus sonder versuim ’n einde aan goddeloosheid maak en regverdigheid herstel.—Daniël 2:21, 44.
Die twee slottoesprake was inderdaad gepas. “Vertroosting vir mense van onkreukbaarheid” het ons bemoedig met die versekering dat Jehovah ons tydens vervolging gewis sal onderskraag deur sy Woord, deur sy gees en deur ons gebede te verhoor. En soos die laaste toespraak getoon het, is Jehovah se Getuies nie in afsondering omdat hulle in ’n vyandige wêreld lewe nie. Hulle is eerder ’n onkreukbare organisasie wat vooruitgaan! Hierdie organisasie is uniek omdat dit Jehovah se soewereiniteit steun en van oorwinning en oorlewing seker is.
Voorwaarts as handhawers van onkreukbaarheid!
Benewens ander ryk geestelike voedsel wat hulle opgewonde ontvang het, waaronder twee uitstekende nuwe boeke, was die byeenkomsgangers verheug oor die vrystelling van die geïllustreerde kleurbrosjure met 32 bladsye Die regering wat die Paradys gaan bring. En hoe aangenaam was dit tog nie om Koninkryksmelodieë nr. 6, ’n kasset met pragtige musiek vir ons genot, te ontvang nie!
Byeenkomsgangers het grootliks verkwik en geseënd vertrek, inderdaad dankbaar vir hierdie uiters bevredigende geestelike fees. Ons vertroue is hernieu dat die Een wat voorstanders van sy soewereiniteit 6 000 jaar lank ondersteun het sy getuies deur hierdie kritieke “laaste dae” seëvierend sal bewaar en veilig tot in die Nuwe Orde sal help, alles tot sy ewige verheerliking.—2 Timotheüs 3:1; Openbaring 7:9-12; 21:1-5.
Wat is ons oogmerk in die lig van hierdie vertroue en geloof in ons God, Jehovah? Ons is vasbeslote om moedig voort te gaan as die organisasie van Jehovah se 20ste-eeuse handhawers van onkreukbaarheid!
[Venster op bladsy 29]
Wat ander gesê het
’n Superintendent van die polisie, Leeds, Engeland: “Ek wil julle, julle personeel en al julle mense wat die byeenkoms bygewoon het lof toeswaai . . . vir die hoogs doeltreffende manier waarop dit beplan en gehou is. Dit het julle almal tot eer gestrek. Ek het die stadion Saterdagmiddag en Sondagoggend besoek en die atmosfeer en verrigtinge baie verkwikkend gevind. Talle van my kollegas het dieselfde gesê.”
’n Hoofredakteur van ’n tydskrif in Montreal, Kanada, onder die opskrif: “Kom ons glimlag vir Jehovah se mense”: “Eergister het hulle in minder as twee uur aan 800 000 deure in die kontrei geklop. ’n Vorm van grootskaalse geestelike bekering wat miskien ’n bietjie lastig maar nie regtig ’n ergernis is nie . . . Wanneer jy besoekers in jou huis ontvang, gee jy nie om om ’n bietjie ongerief te verduur om vir hulle plek te maak nie . . . En wat daarvan as ons nie dieselfde geloof as Jehovah se Getuies het nie; ons sal vir ’n paar dae net ’n bietjie van hulle kalmte kan geniet, en ons sal beter voel. Hierdie vreedsame mense het besluit om in Montreal bymekaar te kom; laat meer van hulle kom, tienduisende van hulle.”
’n Polisieamptenaar in Dortmund, Bondsrepubliek van Duitsland: ‘By sportgeleenthede het ons ten minste 200 polisiemanne hier op diens; by julle vergaderinge het ons slegs twee nodig, en nog twee om die verkeer te reguleer.’
’n Bestuurder van ’n voetbalstadion in Norwich, Engeland: “Die vreedsame atmosfeer die afgelope vier dae . . . is aansteeklik. Jy ondervind gemoedsrus wat heeltemal in teenstelling is met enige ander vier dae in die gespanne sakewêreld en die daaglikse lewe om ons. Daar is beslis iets omtrent die Getuies wat anders is en moeilik is om te verklaar.”
[Venster op bladsy 30]
Montrealbyeenkoms—iets besonders!
Die program van die “Handhawers van onkreukbaarheid”-Streekbyeenkoms wat in die beroemde Olimpiese Stadion-kompleks in Montreal, Quebec, Kanada, gehou is, was soos al die ander in die reeks. Maar in sommige opsigte was dit besonder. Dit was byvoorbeeld die eerste van ’n groep van hierdie byeenkomste wat buitengewoon in grootte of in ander opsigte sou wees.
Grootte: Altesaam 78 804 van oostelike Kanada en die noordoostelike Verenigde State het bymekaargekom. Dit was geloofversterkend om ’n deel te wees van so ’n groot getal handhawers van onkreukbaarheid wat saam geluister, gesing en gebid het. Dit was iets besonders!
Doop: Dit het groot vreugde verskaf om 1 004 pastoegewydes vir doop te sien opstaan. Hier was sigbare bewys van die groei wat nou onder ons plaasvind.
Tale: Daar was programme in 11 tale—Arabies, Chinees, Engels, Frans, Grieks, Hongaars, Italiaans, Koreaans, Portugees, Spaans en Oekrains. Die spesiale klankstelsel in die komvormige stadion is so opgestel dat diegene in die Franse deel in hulle taal kon luister terwyl die Engelssprekende byeenkomsgangers dit in hulle taal kon hoor.
Woonwapark: Dit was ’n ander spesiale kenmerk. Pogings is in Desember 1984 aangewend om die nabygeleë Maisonneuve-park, net oorkant die stadion, te huur om afgevaardigdes met woonwaens, woonbusse en tente te huisves. Toe amptenare aanvanklik genader is oor die huur van die park het hulle begryperlikerwys gelag. ’n Hele dorpspark is per slot van rekening nog nooit voorheen aldaar gehuur nie. Toestemming is egter eindelik verleen. Die goeie naam van Jehovah se Getuies het gehelp.
Eindelik is 4 300 eenhede opgestel en byna 20 000 byeenkomsgangers is op welige gras tussen talryke koeltebome gehuisves. En hoe het die park gelyk nadat so baie mense dit omtrent ’n week lank gebruik het? Verbaasde amptenare het geen ernstige skade gevind nie. Daarom is die hele deposito wat enige skade sou dek en tienduisende beloop het, terugbetaal!
Lede van Bestuursliggaam teenwoordig: Hierdie aspek het ook die Montrealbyeenkoms spesiaal gemaak. Hoewel Jehovah se volk nie mense verheerlik nie, was talle dit ongetwyfeld eens met een broer wat waarderend gesê het: “Die teenwoordigheid van sewe lede van die geliefde Bestuursliggaam, waarvan ek party nog nooit eers ’n toespraak gesien of gehoor gee het nie, was baie bemoedigend.” Sulke assosiasie lei tot die geestelike ‘bemoediging’ van almal.—Romeine 1:11, 12.
’n Goeie ontvangs: Amptenare en die algemene publiek het op ’n prysenswaardige en regverdige manier teenoor Jehovah se Getuies opgetree. Dit was buitengewoon as daar in gedagte gehou word dat Quebec se eerste minister Maurice Duplessis nie lank gelede nie openlik ’n “genadelose oorlog teen die getuies van Jehovah” verklaar het totdat hulle nie meer bestaan nie. Een koerantverslaggewer het dus met goeie rede gesê: “Stel jou voor, gister [Vrydag] was daar presies 74 846 Getuies in die stadion! Maurice Duplessis, wat die beweging verbied het, het seker in sy graf omgedraai.”
Dit was nie die eerste keer dat Jehovah handhawers van onkreukbaarheid so ryklik geseën het nie. Die Montreal-byeenkoms was egter in baie opsigte iets besonders.
[Tabel op bladsy 28]
Sommige “Handhawers van onkreukbaarheid’-byeenkomste
Land Byeenkomste Bywoning Gedoop
Brasilië 25 389,387 4,825
Britse Eilande 10 142,859 925
Bondsrepubliek van Duitsland 17 148,853 904
Ecuador 4 22,918 394
Frankryk 11 119,940 2,002
Griekeland 3 37,367 368
Italië 25 184,078 4,153
Japan 25 202,221 3,512
Kanada 14 146,897 1,585
Nederland 1 40,694 151
Oostenryk 3 23,123 237
Portugal 10 52,58 1 990
Spanje 13 90,808 1,628
Swede 8 27,194 315
Switserland 3 20,61 213
Venezuela 4 69,843 1,063
Verenigde State van Amerika 112 1,189,173 9,851
[Prente op bladsy 31]
In Montreal het W. L. Barry van die Bestuursliggaam die interessante nuwe boek “Die lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?” vrygestel
Job se onkreukbaarheid is beklemtoon in hierdie Bybeldrama wat by die byeenkoms in Athene, Griekeland, gehou is