Vertroosting vir handhawers van onkreukbaarheid
“Weens my onkreukbaarheid het u my ondersteun.”—PSALM 41:12, NW.
1. Waarom het Jehovah se volk vertroosting nodig?
JEHOVAH se Getuies wat onkreukbaarheid handhaaf, het vertroosting nodig omdat hulle vervolg word. Hulle moet natuurlik sulke beproewinge verwag, want Jesus Christus het vir sy volgelinge gesê: “’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg” (Johannes 15:20). Jehovah se volk het veral nou vertroosting nodig. Waarom? Omdat die oorspronklike verbreker van onkreukbaarheid, Satan die Duiwel, na die omgewing van die aarde neergewerp is en hy min tyd het. Hy wend gevolglik sy laaste poging as ’n vegter teen God en Sy knegte aan.—Openbaring 12:7-9, 17.
2. Hoe voel Christene oor die lyding van medegelowiges?
2 As knegte van Jehovah bid ons vurig vir ons broers en susters wat onder ’n verbod moet werk of deur vervolgers bedreig en mishandel word (Handelinge 12:1; 2 Thessalonicense 1:4). Ons prys Christene wat die hoon van afvalliges en ander getrou verduur (Mattheüs 5:11). Ons is liefdevol besorg oor medegelowiges wat deur familielede teengestaan word of in godsdienstig verdeelde huise is (Mattheüs 10:34-36). En handhawers van onkreukbaarheid met gebreke en chroniese siektes het ons innige medelye. Maar waarom al hierdie lyding? En watter vertroosting is daar vir manne en vroue van onkreukbaarheid?
Hou die rede en die Toevlug in gedagte
3. Wat probeer Satan deur vervolging doen?
3 Die Duiwel probeer Christene “verslind”, hetsy deur menslike of demoniese metodes (1 Petrus 5:8). Ja, Satan gebruik vervolging en ander moeilikhede in ’n poging om ons verhouding met Jehovah God te vernietig en ons ontroue verbrekers van onkreukbaarheid te maak. Maar is ons in hierdie opsig sonder beskerming? Geensins!
4. Waarvan kan handhawers van onkreukbaarheid seker wees wanneer hulle voor vervolging en ander teenspoed te staan kom?
4 Jehovah sal ons Toevlug wees as ons om sy hulp bid. Wanneer ons deur vervolging en ander teenspoed oorval word, kan ons soos die psalmis Dawid by hom pleit: “Betoon my guns, o God, betoon my guns, want tot u het my siel sy toevlug geneem; en in die skaduwee van u vleuels soek ek toevlug totdat die onheil verby is” (Psalm 57:1, NW). As handhawers van onkreukbaarheid kan ons seker wees dat verligting mettertyd van Jehovah, ons Toevlug, sal kom. En ons kan net so vol vertroue soos Dawid wees toe hy in gebed aan God gesê het: “Weens my onkreukbaarheid het u my ondersteun, en u sal my tot onbepaalde tyd voor u aangesig stel.”—Psalm 41:12, NW.
5. Watter eienskap het vervolgde Christene nodig, en watter hoop het ons?
5 Maar aangesien beproewinge geruime tyd kan duur, moet ons volharding aankweek. Die apostel Paulus het Hebreeuse Christene aangespoor: “Dink terug aan vroeër dae toe . . . julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly.” Hy het voorts geskryf: “Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het” (Hebreërs 10:32-36, NAV). Vir gesalfde Christene sal die vervulling van God se belofte die beloning van onsterflike lewe in die hemel bring. Maar vir die “groot menigte” is daar die vooruitsig op die ewige lewe in ’n aardse paradys (Openbaring 7:9; Lukas 23:43). Redding tot die ewige lewe is inderdaad moontlik vir almal wat as handhawers van onkreukbaarheid tot die einde volhard.—Markus 13:13.
6. Waarom is dit vir party van Jehovah se Getuies veral nodig om te volhard, en watter hulp het hulle?
6 Dekades lank al het Jehovah se Getuies in party lande veral ‘volharding nodig gehad’. Waarom? Omdat hulle hulle heilige diens in moeilike gebied of ondanks verskeie ontberings, regeringsverbooie inkluis, moes voortsit. Miskien moet jy ook swak gesondheid of gesinsteenstand teen jou Christenstrewes verduur. Sulke beproewinge sal diegene laat tou opgooi wat op blote menslike krag vertrou, maar dit keer Jehovah se Getuies nie, want hulle “hulp is van [Jehovah] wat hemel en aarde gemaak het”.—Psalm 121:1-3.
7. (a) Watter geleentheid bied beproewinge wat voortduur ons? (b) Waarom kan ons Paulus se woorde in Filippense 4:13 glo?
7 Sommige situasies moet dalk tot die einde van hierdie stelsel verduur word. Maar voortdurende beproewinge bied ons die geleentheid om ons onkreukbaarheid teenoor God te bewys en sy hart te verbly (Spreuke 27:11). Jehovah gee ons terselfdertyd die nodige krag om getrou te volhard. Die apostel Paulus het geskryf: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Filippense 4:13). Jy kan daardie gerusstellende woorde glo, want hulle word voortdurend waar bewys in die geval van die hele “broederskap wat in die wêreld is”.—1 Petrus 5:9, 10.
Handhawers van onkreukbaarheid bemoedig ons
8. Lig toe hoe handhawers van onkreukbaarheid in verdeelde huise geseën kan word.
8 Dit is ’n bron van groot bemoediging om te sien dat die hele ‘broederskap in die wêreld’ onkreukbaarheid handhaaf. Party van hulle is ryklik beloon omdat hulle hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah in verdeelde huise gehandhaaf het. Toe ’n Bybelstudie met ’n Katolieke vrou in Ierland begin is, was haar man byvoorbeeld hewig gekant en het hy gedreig om van haar te skei. Sy het nietemin haar studie voortgesit, en eendag het sy ’n eksemplaar van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe vir haar man gegee. Die boek se helderheid, ondubbelsinnigheid en puik illustrasies het hom beïndruk. Die man het weldra die Bybel met behulp van hierdie boek bestudeer. Hy het opgehou rook, en kort daarna het die egpaar uit die Katolieke Kerk bedank en hulle sogenaamde heilige prente vernietig. Die vrou is kort voor lank gedoop en het aan die hulppionierdiens deelgeneem, terwyl haar man goeie vooruitgang in die bediening gemaak het. Sulke ondervindinge kan ’n groot aanmoediging wees vir diegene in verdeelde huise wat as handhawers van onkreukbaarheid volhard.—1 Korinthiërs 7:12-16.
9. Hoe kan gestremde handhawers van onkreukbaarheid ander help?
9 Ander handhawers van onkreukbaarheid het ondanks gebreke getrou gebly. In Brittanje het ’n gestremde Christen wat aan ’n rolstoel gekluister is nietemin voldoening in sy bediening gevind. Hy het geskryf: “Hoewel ek sedert 1949 ongeskik vir sekulêre werk is, het dit Jehovah behaag om my al hierdie tyd te gebruik. Die jare het dus vinnig verbygegaan. Ek het geleer dat selfs ’n erg gestremde persoon vir ander tot groot diens kan wees. Ek en my vrou is ’n soort anker vir verskillende lede in die gemeente. Weens ons omstandighede is ons altyd hier, altyd beskikbaar.” Ja, geen gestremde Christen moet mismoedig wees nie, want hy of sy kan ’n bron van bemoediging vir ander wees.
10. Hoe kan handhawers van onkreukbaarheid medegelowiges help deur nie voor vervolging te swig nie?
10 Handhawers van onkreukbaarheid swig nie voor vervolging nie. Een broer wat weens Christelike neutraliteit in die tronk gegooi is, het gesê: “Slae . . . het ’n deel van my lewe geword, en het algaande meer en wreder geword. Ek het by die dag swakker geword, aangesien hulle my dikwels nie kos gegee het nie. Ek het voortdurend tot Jehovah gebid, en ek kan sê dat hy my nie verlaat het nie. Hoe meer hulle my geslaan het, hoe minder het ek dit gevoel.” Hoewel hierdie getuie van Jehovah tot meer as twee jaar tronkstraf gevonnis is, het hy sy neutraliteit gehandhaaf (Jesaja 2:2-4; Johannes 15:19). Talle ander handhawers van onkreukbaarheid het ’n soortgelyke standpunt ingeneem. Sulke handhawing van onkreukbaarheid stel gewis ’n bemoedigende voorbeeld wat medegelowiges tot getrouheid kan aanspoor.
Volgehoue vertroosting
11. Watter Skriftuurlike versekering kan Christene vertroos?
11 Die voorgaande is slegs ’n paar van die tallose ondervindinge wat bewys dat Jehovah met sy getroue volk is. Hy is “die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking” (2 Korinthiërs 1:3, 4). Ja, “God is vir ons ’n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef” (Psalm 46:2-4). Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat hy ons en ons medegelowiges in al ons verdrukkings sal onderskraag!
12. Hoe het Paulus se handhawing van onkreukbaarheid mede-Christene geraak?
12 Dit kan ons bemoedig wanneer ons sien dat mede-aanbidders van Jehovah ondanks verskeie ontberinge as getroue Christene volhard. Dit is wat gebeur het toe ander die getrouheid van die apostel Paulus gesien het. Hy het geskryf: “Julle moet weet . . . dat wat my wedervaar het, eerder op bevordering van die evangelie uitgeloop het, sodat my boeie openbaar geword het . . . ; en die meeste van die broeders wat in die Here deur my boeie vertroue gekry het, [waag] dit des te meer . . . om die woord [van God] onbevrees te spreek.”—Filippense 1:12-14.
13. Watter uitwerking kan ons handhawing van onkreukbaarheid hê?
13 Ja, wanneer ons weet dat ander getuies van Jehovah ondanks vervolging hulle onkreukbaarheid teenoor hom handhaaf, versterk dit ons om getrou te bly. Wanneer ons onkreukbaarheid onder beproewing handhaaf, spoor ons weer ander aan om God se woord onbevrees te spreek. En ons kan gewis bevrediging put uit die wete dat ons getrouheid ’n bron van bemoediging en seën vir hulle is.
14. Meld twee maniere waarop Jehovah ons vertroos.
14 Jehovah onderskraag ons deur middel van sy heilige gees. Trouens, soos Petrus geskryf het, ‘as ons beledig word oor die naam van Christus, is ons gelukkig omdat die gees van die heerlikheid, die gees van God, op ons rus’ (1 Petrus 4:12-16). God vertroos ons en ons medegelowiges wat ly ook deur ons gebede te verhoor. “Wees oor niks besorg nie”, het Paulus geskryf, “maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus”(Filippense 4:6, 7). Het jy dieselfde vertroue in die “Hoorder van die gebed”?—Psalm 65:3.
Put vertroosting uit God se Woord
15. Hoe sou jy die juistheid van Romeine 15:4 toelig?
15 God se heilige Woord is ook ’n bron van groot vertroosting. Soos die apostel Paulus gesê het: “Alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en [vertroosting uit] die Skrifte hoop kan hê” (Romeine 15:4, vgl. NW). Versterk dit byvoorbeeld nie ons vertroue in Jehovah as ’n weergalose Verlosser wanneer ons van Israel se wonderdadige verlossing uit Egipte of die redding van die Jode in koningin Ester se dag lees nie? Wat van Job se handhawing van onkreukbaarheid ten spyte van groot teenspoed? Dit lig beslis toe hoe Jehovah se hedendaagse knegte ontberinge kan verduur in die krag wat God voorsien. “Vertroosting uit die Skrifte” kan handhawers van onkreukbaarheid inderdaad met hoop en moed vul.
16. Watter vertroostende versekering bevat 1 Petrus 5:6, 7 en 1 Korinthiërs 10:13?
16 Maar gestel ons probleme maak ons neerslagtig. Wat dan? Vertroostende, Skriftuurlike versekering kan ons seer seker geborge laat voel in Jehovah se sorg en kan help om ons neerslagtigheid te verlig. Die apostel Petrus het geskryf: “Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:6, 7). Ja, Jehovah ‘sorg vir jou’. Wat ’n vertroostende gedagte! Niks kan gebeur wat hy nie sien of kan beheer nie. Daarbenewens gee Paulus hierdie versekering: “God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra” (1 Korinthiërs 10:13). As iemand wat vasbeslote is om ’n handhawer van onkreukbaarheid te wees, kan jy daarop staat maak!
17. Watter ander voorsienings is daar om ons te vertroos?
17 Gebedstudie van God se Woord en Christenpublikasies wat deur “die getroue en verstandige dienskneg” voorsien word, kan in moeilike tye vertroosting bring (Mattheüs 24:45-47; Psalm 119:105). Goeie Skriftuurlike raad van vriendelike ouere manne in die gemeente kan dit ook doen. Hulle word onder meer aangesê: “Bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.”—1 Thessalonicense 5:14.
18. Watter troos is daar as ons min materiële besittings het?
18 Maar watter vertroosting is daar as ons min materiële besittings het? Dit is beslis vertroostend om te weet dat daar uitstekende behuising, ’n oorvloed voedsel, en ander materiële seëninge in God se Nuwe Orde sal wees. (Psalm 72:16; 2 Petrus 3:13; vergelyk Jesaja 65:17-25.) Maar selfs nou skakel ’n Christelike lewenswyse die verkwisting van geld op die skadelike rookgewoonte, oormatigheid in sterk drank, dobbel, ensovoorts, uit. Geld wat sodoende gespaar word, kan tot nut van jou gesin gebruik word. Gehoorsaamheid aan God se Woord kan ons ook help om met minder materiële besittings vergenoeg te wees. Paulus was, want hy het gesê: “Die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ’n groot wins. Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees (1 Timotheüs 6:6-8; Filippense 4:11, 12). As ons ons toespits op ons voorregte in Jehovah se diens, lei dit tot talle seëninge wat ons inderdaad ryk maak.—Spreuke 10:22.
19. Hoe kan chroniese siekte verduur word?
19 Maar gestel ons is lank siek. Wat dan? Dit kan verduur word met Jehovah se hulp en die vertroosting wat deur sy Woord voorsien word. Die psalmis Dawid het byvoorbeeld gesê: “Welgeluksalig is hy wat ag gee op die arme . . . Die HERE sal hom ondersteun op die siekbed” (Psalm 41:2-4). Dit is nie die tyd vir wonderdadige genesing nie. Maar Jehovah gee sieklike Christene die nodige wysheid en sterkte om hulle siektes te verduur terwyl hulle Koninkryksbelange eerste stel—Mattheüs 6:33; 2 Korinthiërs 12:7-10.
20. Hoe kan ons die droefheid wanneer ’n dierbare sterf te bowe kom?
20 Hoe kan ons die smart te bowe kom wanneer ’n dierbare sterf? Die Bybel se opstandingshoop bied vertroosting (Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15). Hoewel ons bedroef is oor ’n dierbare se dood, ‘treur ons dus nie soos die ander wat geen hoop het nie’ (1 Thessalonicense 4:13). Watter vertroosting bied die opstandingshoop handhawers van onkreukbaarheid tog nie!
Vertrou gedurig op die God van vertroosting
21. Waartoe lei volharding onder vervolging dikwels?
21 Jy kan daarvan seker wees dat Jehovah, “die God van alle vertroosting”, nooit sy toegewyde en getroue volk sal verlaat nie (2 Korinthiërs 1:3; Psalm 94:14). Dit is ook nuttig om in gedagte te hou dat vervolging wat deur Christene verduur word God kan eer of verheerlik. Sulke behandeling vestig die aandag op sy volk en hulle Koninkrykspredikingswerk, en dit lei dikwels tot ’n toename van lowers van Jehovah.—Vergelyk Handelinge 8:4-8; 11:19-21.
22. Wat moet ons vaste voorneme ten opsigte van onkreukbaarheid wees?
22 Laat ons dus vasbeslote wees om, met God se hulp, nie te swig voor Satan se planne om ons ons onkreukbaarheid te laat verbreek nie. Laat ons in geloof optree en voortgaan om op Jehovah te vertrou. Laat ons nooit die talle maniere waarop hy ons as sy knegte seën, onderskraag en vertroos oor die hoof sien nie. Laat ons ons toegewydheid aan hom en aan sy regverdige beginsels bewys en sy soewereiniteit handhaaf. Onthou ook dat dit ’n baie persoonlike saak is. Gaan voort om die goddelike wil te doen terwyl jy in hierdie betekenisvolle dae saam met Jehovah se organisasie werk. Verbly jou in jou voorreg om Jehovah se hart te verbly deur aan hom getrou te bly, en moet nooit vergeet dat hy altyd aan alle handhawers van onkreukbaarheid vertroosting verskaf nie.
Hoe antwoord jy?
◻ Waarom het Jehovah se knegte veral vertroosting nodig?
◻ Waarom gebruik Satan vervolging teen Christene?
◻ Hoe kan handhawers van onkreukbaarheid ons bemoedig?
◻ Hoe kan ons vertroosting uit God se Woord put?
◻ Waarvan verseker 1 Petrus 5:6, 7 en 1 Korinthiërs 10:13 ons?
[Prent op bladsy 16]
Satan probeer Jehovah se knegte verslind, maar ons is geensins onbeskermd nie
[Prent op bladsy 18]
Jehovah beantwoord die gebede van handhawers van onkreukbaarheid. Bid jy gereeld?