Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 3/1 bl. 26-30
  • Redeneer jy met welslae uit die Skrif?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Redeneer jy met welslae uit die Skrif?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe Jesus die Skrif gebruik het
  • “Meester, U het goed gespreek”
  • Redenering wat by die gehoor pas
  • Tekste reg toegepas
    Vind baat by opleiding in die Teokratiese Bedieningskool
  • Ontwikkel jou vermoë om met ander te redeneer
    Ons Koninkryksbediening—2005
  • Gebruik onderrigvermoë in die bediening van huis tot huis
    Ons Koninkryksbediening—1985
  • ’n Doeltreffende bediening wat tot meer dissipels lei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 3/1 bl. 26-30

Redeneer jy met welslae uit die Skrif?

“Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy daarheen gegaan en op drie sabbatdae na mekaar uit die Skrif met die Jode geredeneer.”​—HANDELINGE 17:2, NAV.

 1. Waarom is die Bybel vir ons so kosbaar?

HOE kosbaar is God se Woord tog nie! Dit beantwoord lewensbelangrike vrae wat geen ander bron kan beantwoord nie. Die Bybel bevat nie bloot nog ’n opinie oor die lewe nie; dit is die waarheid. In sy Woord deel Jehovah ons mee wat hy van ons verlang, en al sy vereistes is vir ons beswil.​—Psalm 19:8-12; Jesaja 48:17.

 2. (a) Hoe kan ons die bron van ons boodskap by mense tuisbring wanneer ons vir hulle getuig? (b) Oor watter vrae word ons aangemoedig om persoonlik na te dink?

2 Omdat Jehovah se Getuies daarvan oortuig is dat die Bybel werklik van God kom en dat dit die krag het om mense ten goede te beïnvloed, beveel hulle die inhoud daarvan ywerig by ander aan (Hebreërs 4:12). Wanneer hulle aan die openbare bediening deelneem, wil hulle hê mense moet besef dat die boodskap wat hulle verkondig nie by hulle ontstaan het nie maar uit God se eie Woord kom. Daarom maak hulle regstreeks van die Bybel gebruik deur vir ander daaruit te lees, waar moontlik. Gebruik jy die Bybel op hierdie manier? Kan jy goed genoeg met opregte mense uit die Skrif redeneer sodat hulle verstaan en aanvaar wat dit leer?​—2 Timotheüs 2:15.

 3, 4. (a) Hoe is die belangrikheid daarvan om God se eie woord te spreek in Jeremia se dag beklemtoon? (b) Na wie en waarheen moet ons mense rig wanneer ons hulle leer?

3 Die belangrikheid daarvan om vir mense te vertel wat God sê in plaas van jou persoonlike mening te lug, is toegelig gedurende die tyd van die profeet Jeremia. Daardie tydperk in die geskiedenis was ’n profetiese skaduwee van ons dag. Die meeste profete in Jerusalem het op daardie tydstip uitsprake gedoen wat hulle gedink het die mense wou hoor, maar hulle het nie die woord van Jehovah lojaal verkondig nie. Aangaande hulle het Jehovah gesê: “Gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die HERE nie.” En hy het nadruklik bygevoeg: “By wie my woord is, laat hom my woord spreek in waarheid.”​—Jeremia 23:16-28.

4 Jeremia het ‘Jehovah se woord in waarheid gespreek’. Ons behoort ons ook verplig te voel om streng by die Skrif te bly wanneer ons ander onderrig. Ons wil nie hê dat mense ons dissipels moet word nie. Ons wil hê dat hulle aanbidders van Jehovah moet wees, Jesus Christus se voetstappe moet navolg en waardering moet verkry vir die organisasie waardeur Jehovah vandag sy knegte lei​—Vergelyk 1 Korinthiërs 1:11-13; 3:5-7.

 5. Watter riglyne verskaf Johannes 7:16-18 (a) vir ouere manne? (b) vir ons almal wanneer ons aan die veldbediening deelneem?

5 Jesus het self gesê: “My leer is nie myne nie, maar van Hom wat My gestuur het. As iemand gewillig is om sy wil te doen, sal hy aangaande die leer weet of dit uit God is, en of Ek uit Myself spreek. Hy wat uit homself spreek, soek sy eie eer” (Johannes 7:16-18). Selfs die volmaakte Seun van God het dit noulettend vermy om uit homself te spreek. Hoeveel noulettender moet ons dan nie wees nie! Hoe gepas dus dat ouere manne moet “vashou aan die betroubare woord” wanneer hulle ander onderrig! (Titus 1:9). Hoe gepas ook is die raad in 2 Timotheüs 4:2: “Verkondig die woord”! Dit is die standaard wat ons handhaaf, binne die gemeente asook wanneer ons aan die veldbediening deelneem.

 6. Wat is gewoonlik nodig behalwe om verse uit die Bybel voor te lees? Lig dit toe.

6 Maar dit wil nie sê dat ons bloot verse uit die Bybel moet lees en dan moet swyg nie. As ons wil hê dat mense die volle betekenis van die tekste moet snap, is dit belangrik dat hulle die toepassing daarvan onderskei. Dit was die geval met die Ethiopiese hofdienaar wat in Handelinge 8:26-38 gemeld word. Die man het uit die profesie van Jesaja gelees, en tog het hy dit nie verstaan nie. Maar toe sy vrae eers beantwoord is, toe hy die betekenis verstaan het van wat hy gelees het en besef het hoe dit hom persoonlik raak, het hy ’n Christen geword. Ons moet vandag soortgelyke hulp aan waarheidsoekers verleen en altyd sorg dat ons die woord van waarheid reg gebruik.

Hoe Jesus die Skrif gebruik het

 7. Wie se voorbeeld kan ons by uitstek help om beter uit die Skrif te redeneer?

7 Jesus Christus het die allerbeste voorbeeld gestel in die doeltreffende gebruik van die Skrif (Mattheüs 7:28, 29; Johannes 7:45, 46). As ons sy onderrigtingswyse ontleed, kan dit ons help om beter uit die Skrif te redeneer. Beskou die volgende voorbeelde:

 8. (a) Watter vraag het “’n sekere wetgeleerde” Jesus gevra? (b) Hoe het Jesus daardie vraag beantwoord? En waarom?

8 In Lukas hoofstuk 10, verse 25-28, lees ons van “’n sekere wetgeleerde” wat Jesus op die proef wou stel deur te vra: “Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” Hoe sou jy geantwoord het? Wat het Jesus gedoen? Hy kon maklik ’n direkte antwoord gegee het, maar hy het besef dat die man alreeds ’n vaste beskouing van die saak gehad het. Daarom het Jesus hom gevra hoe hy die vraag sou beantwoord: “Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?” Die man het geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.” Jesus het gesê: “Jy het reg geantwoord”, en toe ’n deel van Levitikus 18:5 in sy eie woorde weergegee: “Doen dit, en jy sal lewe.” By ’n ander geleentheid het Jesus self daardie twee gebooie aangehaal in antwoord op ’n vraag (Markus 12:28-31). Maar hierdie keer het die man met wie hy gepraat het die Mosaïese Wet geken en wou hy skynbaar gesien het of Jesus dit eens was met wat hy daaruit geleer het. Jesus het hom die bevrediging gegee om self te antwoord.

 9. (a) Wat het Jesus gedoen om die man te help om een van die tekste wat hy aangehaal het te verstaan? (b) Waarom was daardie metode geslaag?

9 Daardie man het nogtans nie die volle strekking begryp van die tekste wat hy aangehaal het nie. “Hy wou homself regverdig, en sê vir Jesus: En wie is my naaste?” In sy antwoord het Jesus nie nog tekste aangehaal nie. Hy het nie bloot ’n definisie gegee waaraan die man aanstoot kon geneem het nie. Hy het eerder ’n illustrasie gebruik​—’n uitstekende illustrasie wat werklik in die man se behoeftes voorsien het, een wat hom sou help om oor die betekenis van die teks te redeneer. Jesus het vertel van ’n barmhartige Samaritaan wat ’n reisiger gehelp het wat beroof en geslaan is, terwyl ’n priester en ’n Leviet hom nie gehelp het nie. Dit was ’n illustrasie wat die woord “naaste” ’n betekenis laat aanneem het wat hierdie man nog nooit vantevore onderskei het nie, en dit op ’n manier wat bedoel was om die hart te bereik. Ten slotte het Jesus ’n vraag gestel om seker te maak dat die man die punt gesnap het, en hy het hom aangespoor om in sy eie lewe toe te pas wat hulle bespreek het.​—Lukas 10:29-37.

10. (a) Wat kan ons uit daardie voorbeeld van Jesus se onderrigting leer? (b) Hoe kan ons sommige van daardie punte toepas wanneer ons die jongste ‘Onderwerp vir gesprekke’ in die veldbediening gebruik?

10 Wat kan ons uit daardie voorbeeld van onderrigting leer? Het jy op die volgende gelet? (1) Jesus het die aandag op die Skrif gevestig in antwoord op die man se eerste vraag. (2) Jesus het die man genooi om hom uit te druk en het hom hartlik geprys toe hy ’n skerpsinnige kommentaar gemaak het. (3) Jesus het gesorg dat die verband tussen die vraag en die tekste duidelik is, soos blyk uit vers 28. (4) Jesus het ’n illustrasie gebruik wat tot die hart gespreek het om seker te maak dat die man die ware strekking van die antwoord snap. Daardie voorbeeld kan ons help om doeltreffend met ander uit die Skrif te redeneer.

“Meester, U het goed gespreek”

11. (a) Watter reguit antwoord het Jesus gegee toe die Sadduseërs hom ’n vraag oor die huwelik en die opstanding gevra het? (b) Waarom het hy nie daarmee volstaan nie?

11 In Lukas 20, verse 27-40, vind ons nog ’n goeie voorbeeld van die doeltreffende gebruik van God se Woord. Sekere Sadduseërs het met ’n vraag na Jesus gekom. Hulle het ’n situasie aan Jesus beskryf wat na hulle mening getoon het hoe dwaas dit is om te glo dat die dooies weer sal lewe. Hulle het vertel van ’n vrou wat sewe mans na mekaar gehad het. “In die opstanding dan, wie van hulle se vrou sal sy wees?” Die antwoord wat Jesus gegee het, was klaarblyklik glad nie wat hulle verwag het nie. Hulle het blykbaar nooit eens gedink aan die moontlikheid dat die verresenes nie sal trou nie, maar dat hulle in hierdie opsig soos die engele sal wees. Meer as dit was egter nodig om die antwoord oortuigend te maak.

12. (a) Watter redenasie het Jesus gebruik om die opstandingsleer te staaf? (b) Waarom was dit besonder gepas vir die Sadduseërs?

12 Jesus het besef dat die Sadduseërs se eintlike probleem was dat hulle nie aan die opstanding geglo het nie. Daarom het hy spesiaal daaraan aandag geskenk. Sy argument was gebaseer op die geskrifte van Moses, op Exodus 3:6, wat die Sadduseërs bely het dat hulle glo. Hy het geredeneer: “Dat die dode opgewek word, het Moses ook in die gedeelte oor die doringbos aangedui, waar hy die Here noem die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.” Maar kon die Sadduseërs sien hoe daardie woorde op die opstanding sinspeel? Nie voor Jesus bygevoeg het nie: “Hy is tog nie ’n God van dooies nie, maar van lewendes, want almal leef vir Hom.” Dit was duidelik: Lewelose dinge sowel as mense kan ’n Skepper hê, maar net lewende mense kan ’n God hê, Iemand wat die voorwerp van hulle toewyding en aanbidding is. As Abraham, Isak en Jakob net dood en begrawe was, met geen verdere lewensvooruitsigte nie, sou Jehovah vir Moses gesê het: ‘Ek was hulle God.’ Maar dit is nie wat hy gesê het nie. Is dit ’n wonder dat sommige skrifgeleerdes, nadat hulle gehoor het hoe Jesus uit die Skrif oor hierdie saak geredeneer het, gesê het: “Meester, U het goed gespreek”?

13. Watter wenke wat hier gegee word, kan ons help om die vermoë aan te leer om uit die Skrif te redeneer? Verduidelik waarom jy meen dat elke wenk belangrik is.

13 Hoe kan jy so ’n vermoë om uit die Skrif te redeneer, aanleer of verder ontwikkel? ’n Aantal dinge is belangrik: (1) Jy moet ’n grondige kennis van die Skrif hê. Gereelde persoonlike studie en vergaderingbywoning is belangrike faktore by die verkryging van daardie kennis. (2) Jy moet tyd afstaan vir meditasie, om waarhede vanuit verskillende gesigspunte te deurdink en waardering daarvoor op te bou. (3) Moenie net na verduidelikings van tekste soek wanneer jy studeer nie, maar soek ook na Skriftuurlike redes vir daardie verduidelikings. Maak aantekeninge van hierdie redes langs die tekste wat jy wil bespreek. (4) Dink aan hoe jy tekste aan verskillende mense sal verduidelik. (5) Dink na oor hoe jy sekere gedagtes kan toelig. Al hierdie dinge is nuttig as jy die vermoë wil aanleer om uit die Skrif te redeneer.

Redenering wat by die gehoor pas

14. Watter opmerkenswaardige aspekte van Paulus se onderrigmetode word in Handelinge 17:2, 3 onder ons aandag gebring?

14 Die apostel Paulus was ook ’n goeie onderrigter, en ons kan by hom leer. Die geneesheer Lukas het ’n ruk lank saam met hom gereis, en sy beskrywing van Paulus se aktiwiteit is opmerkenswaardig. Hy berig: “Paulus-hulle het . . . na Tessalonika toe gereis, waar daar ’n Joodse sinagoge was. Soos dit Paulus se gewoonte was, het hy daarheen gegaan en op drie sabbatdae na mekaar uit die Skrif met die Jode geredeneer. Hy het die Skrif uitgelê en daaruit aangetoon dat die Christus moes ly en uit die dood moes opstaan. ‘Hierdie Jesus wat ek aan julle verkondig,’ het hy gesê, ‘Hý is die Christus.’” Wat was die gevolg? Jehovah het Paulus se werk geseën. “Party van die Jode het oortuig geraak . . . ’n groot aantal godvresende Grieke en ’n aansienlike getal vooraanstaande vroue het ook nog bygekom.” Paulus se onderrigmetode is veral opmerkenswaardig: Hy het nie net die Skrif gelees nie; hy het daaruit geredeneer, en hy het gesorg dat die redenasie by sy gehoor pas. Hy het nie net die goeie nuus aan hulle vertel nie, maar hy het dit uitgelê en uit die geïnspireerde Woord van God bewys (Handelinge 17:14, NAV). Beskou twee voorbeelde van Paulus se onderrigmetode:

15. (a) Hoe het Paulus probeer om gemeenskaplike terrein te vind toe hy met ’n Joodse gehoor in Antiochië, Pisidië, gepraat het? (b) Waarom meen jy dat dit in ons getuieniswerk belangrik is om gemeenskaplike terrein te vind?

15 In Handelinge 13:16-41 vind ons ’n toespraak wat Paulus voor ’n Joodse gehoor in Antiochië, Pisidië, gehou het. Hy het eers probeer om gemeenskaplike terrein met sy gehoor te vind. (Kyk verse 16, 17.) Waarom het hy dit gedoen? Omdat dit hulle sou help om gewillig te wees om te redeneer oor die onderwerp waaroor hy sou praat. Hy het hom nie voorgestel as ’n lid van die Christengemeente wat ’n boodskap oor Jesus Christus vir hulle gehad het nie. Hy het met Jode gepraat en het hulle beskouing in aanmerking geneem. Hy het erken dat sy gehoor uit Godvresende mense bestaan en het aangedui dat hy, soos die meeste van hulle, ’n Hebreër van geboorte is. Hy het ook belangrike dele van Israel se geskiedenis hersien. Maar hoe het hy gemeenskaplike terrein met hulle behou toe hy van Jesus Christus gepraat het?

16. Hoe het Paulus ’n gemeenskaplike terrein behou toe hy met daardie Jode oor Jesus gepraat het?

16 Paulus het Jesus bekend gestel as ’n afstammeling van Dawid en as iemand wat geïdentifiseer is deur Johannes die Doper, wat deur die meeste mense as ’n profeet van God gereken is (Handelinge 13:22-25; Lukas 20:4-6). Maar Paulus het geweet dat sy gehoor daarvan bewus was dat Jesus deur die owerstes in Jerusalem verwerp is, en daarom het die apostel die onderwerp self aangeroer en verduidelik dat selfs die verwerping en teregstelling van Jesus ’n vervulling van profesie was (Handelinge 13:27-29). Hy het daarop gewys dat God self daarna ten behoewe van Jesus opgetree het deur hom uit die dood op te wek en dat daar ooggetuies onder die Jode was van die feit dat Jesus opgewek is (Handelinge 13:30, 31). Paulus het terdeë besef dat dit vir baie moeilik sou wees om te aanvaar, en daarom het hy verduidelik dat hy gepraat het van “die goeie tyding van die belofte wat aan die vaders gedoen is”. Hy het hiervan bewys gelewer deur eers uit Psalm 2:7, daarna uit Jesaja 55:3 en ten slotte uit Psalm 16:10 aan te haal. Hy het oor laasgenoemde teks geredeneer en aangetoon dat dit nie deur Dawid vervul kon gewees het nie, want hy “het verderwing gesien”. Dit moet dus van toepassing wees op die een wat “geen verderwing gesien [het] nie” omdat hy deur God uit die dood opgewek is (Handelinge 13:32-37). Nadat hy daardie punt gestel het, het Paulus ’n aansporende slot gelewer. Hy het geweet dat dit vir daardie mense lewensbelangrik was om ernstig op te neem wat hulle gehoor het. Baie het gunstig gereageer.​—Handelinge 13:38-43.

17. (a) Waarom was Paulus se voordrag van die waarheid in Athene anders? (b) Wat kan ons leer uit wat hy by daardie geleentheid gedoen het?

17 Toe hy met ’n nie-Joodse gehoor gepraat het, het Paulus soortgelyke onderrigbeginsels gebruik. In die Areopagus, in Athene, Griekeland, het hy gevolglik sy voordrag by die omstandighede en denke van Atheners aangepas. Ten einde gemeenskaplike terrein met daardie gehoor te vind, het hy hulle geprys vir hulle vroomheid. Hy het melding gemaak van ’n altaar in die stad waarop geskrywe was “Aan ’n onbekende God”. Hierdie God, het Paulus verklaar, was die God wat hy aan hulle verkondig het (Handelinge 17:22, 23). Vervolgens het hy dele van die geïnspireerde Skrif in sy eie woorde weergegee en met hulle geredeneer op grond daarvan. En omdat hy kennis gedra het van Griekse literatuur het Paulus ook hulle digters aangehaal, nie as sy gesag nie, maar om te toon dat hulle eie literatuur erkenning verleen aan sekere dinge wat hy bespreek het. Die gevolg was dat sommige gelowig geword het.​—Handelinge 17:24-31, 34.

18. Wat kan ons help om goeie resultate te behaal in ons pogings om met ander uit die Skrif te redeneer?

18 Die goeie nuus wat Paulus in Athene verkondig het, was dieselfde boodskap as wat hy in Antiochië oorgedra het. Die verskille in voordragstyl was omrede hy besef het wat nodig was om met mense te redeneer. Hy was besorg genoeg oor hulle om die ekstra moeite te doen wat hiervoor nodig was. En daardie moeite het goeie resultate gelewer. Mag ons ook die nodige moeite doen en God se seën vra op ons pogings om met ander uit die Skrif te redeneer, sodat ons die goeie nuus met allerhande mense kan deel.​—1 Korinthiërs 9:19-23.

Wat het ons geleer?

◻ Waarom is dit belangrik om in ons bediening regstreeks van die Bybel gebruik te maak?

◻ Watter goeie onderrigbeginsels word in Lukas 10:25-37 toegelig?

◻ Wat kan ons help om die vermoë aan te leer om uit die Skrif te redeneer?

◻ In watter mate kan die agtergrond van mense ’n invloed hê op die manier waarop ons met hulle redeneer?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel