Is jou oog “reg”?
“As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees.”—MATTHEÜS 6:22.
1. Waarom kan daar gesê word dat die oog ’n wonder van intelligente skepping is?
GESIG word gewoonlik beskou as die kosbaarste en belangrikste van die sinne—veral deur die wat dit nie meer besit nie. Wetenskaplikes deel ons mee dat daar elke sekonde tienbiljoen ligdeeltjies deur die pupille van ons oë gaan. Wanneer hulle die retina bereik, word hulle deur honderdmiljoen selle bekend as stafies en keeltjies ontvang. Hierdie senuselle word deur die lig geprikkel en begin om elektriese seine na die brein te stuur. Daar word ’n groot gedeelte van die honderdmiljard neurone ingespan om die inligting te ontsyfer en te besluit hoe daarop gereageer moet word. Hierdie hele proses duur slegs ’n breukdeel van ’n sekonde. Die oog is inderdaad ’n ontsagwekkende voorbeeld van die wonder van intelligente skepping.—Psalm139:14.
2. Watter aspek van gesig is nog vir wetenskaplikes ’n raaisel?
2 Ofskoon wetenskaplikes heelwat weet van die biologiese werking van die oog en die brein, kan hulle nie verklaar waarom ons op ’n bepaalde manier reageer op wat ons sien nie. Hulle verstaan byvoorbeeld nie ten volle waarom een persoon rooi bo blou verkies terwyl ’n ander blou bo rooi verkies, of waarom verskillende kleure ons op verskillende maniere beïnvloed nie. Die verband tussen gesig en reaksie bly ’n raaisel. Maar Jehovah, die Maker van die oog, en sy Seun en medewerker, Jesus Christus, is deeglik vertroud met die ingewikkelde werking van die fisiese oog, en hulle weet hoe die oog ons gedrag en ons lewe beïnvloed.
“Die lamp van die liggaam”
3. In watter opsig is die oog “die lamp van die liggaam”?
3 Jesus het opgemerk dat die oog “die lamp van die liggaam” is (Mattheüs 6:22). ’n Lamp word gebruik om ’n donker plek te verlig sodat ons weet waar ons is, hoe ons moet handel, waarheen ons moet gaan, en so meer. Omdat hulle lig in die liggaam inlaat, vervul ons oë dieselfde funksie as ’n lamp. Hulle stel ons in staat om in noue voeling te bly met die wêreld om ons heen en om op intelligente en doelgerigte wyse te reageer in plaas van rond te tas, te struikel en ons dalk te beseer.
4. Hoe word ons geraak deur die toestand van die oog?
4 Die mate waarin die oog ’n lamp vir die liggaam kan wees, hang egter grotendeels van die toestand van die oog af. Daarom het Jesus vervolgens gesê: “As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!” (Mattheüs 6:22, 23). Hieruit kan ons sien watter geweldige invloed die oog op ons hele lewensloop kan hê, ten goede of ten kwade.
Die invloed van die oog
5. In watter mate was die oog betrokke by Eva se versoeking deur Satan?
5 Beskou die geval van die eerste vrou, Eva. Die Bybelverhaal oor haar ontmoeting met die Bedrieër, Satan die Duiwel, toon in watter mate die oog haar optrede beïnvloed het (2 Korinthiërs 11:3; 1 Timotheüs 2:14). Satan het te kenne gegee dat ‘haar oë sal oopgaan’ as sy maar net God se gebod wou verontagsaam en van die vrug van “die boom van die kennis van goed en kwaad” wou eet. Hoe het sy gereageer? Die Bybel deel ons mee: “Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy ’n lus was vir die oë, ja, ’n boom wat ’n mens kan begeer.” Sy het toegelaat dat haar oë op iets rus wat vir haar verbode was. Dit was ’n moedswillige misbruik van die oog. Wat was die gevolg? “En sy neem van sy vrugte en eet.”—Genesis 2:17; 3:4-6.
6. Hoe beïnvloed die oog ons gedrag?
6 Dit was beslis nie die eerste keer dat Eva “die boom van die kennis van goed en kwaad” of sy vrug gesien het nie. Maar nou het iets anders gebeur. Hierdie keer was dit “’n lus vir die oë’, iets “wat ’n mens kan begeer”. Lus en begeerte is normaalweg nie eienskappe van die oog nie, maar van die hart. Wat die oog sien, verskerp egter die lus en begeerte van die hart, soseer dat dit tot handeling kan lei. In Eva se geval het daardie handeling rampspoedige gevolge gehad vir haar en haar man Adam, sowel as vir al hulle toekomstige nakomelinge, ons inkluis.—Romeine 5:12; Jakobus 1:14, 15.
7. Hoe was die oog betrokke by Satan se derde poging om Jesus te mislei, en wat was die resultaat?
7 Om andersyds te toon dat dit moontlik is om weerstand te bied teen enige kwade invloed wat deur die oog kan kom, kan ons die voorbeeld van Jesus Christus ondersoek. Dieselfde Verleider, Satan, was weer by die saak betrokke. In sy derde poging om Jesus van God afvallig te maak, het die Duiwel hom ‘na ’n baie hoë berg geneem en hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid gewys’. Let daarop dat Satan nie net mondeling vir Jesus al die mag en heerlikheid van die wêreld in ruil vir ’n daad van aanbidding aangebied het nie. Hy het vir hom hierdie dinge ‘gewys’ en aldus die kragtige invloed van die oog benut. Maar omdat Jesus se oog nie deur die aanloklike aanbod afgelei is nie, maar stip gevestig was op sy verhouding met sy hemelse Vader, Jehovah, kon hy Satan se slinkse plan verydel.—Mattheüs 4:8-10.
8. Watter lesse kan ons uit die voorbeelde van Eva en Jesus leer?
8 Wat kan ons uit die voorgaande voorbeelde leer? Ten eerste, dat die dinge waarop ons ons oë vestig die goeie of die slegte begeertes van ons hart kan versterk. Dit kan lei tot optrede wat òf seëninge òf rampspoed vir ons en ander sal beteken. Ten tweede, dat die oog onteenseglik ’n gunstelingmiddel is waardeur Satan sy slagoffers probeer mislei. Hierdie prikkeling van die oë is skynbaar een van die mees geslaagde “planne” wat Satan gebruik om die mensdom te mislei.—2 Korinthiërs 2:11.
9. Hoe bevorder Satan vandag “die begeerlikheid van die oë”?
9 Vandag gebruik Satan nog dieselfde taktiek in sy pogings om alle mense van God afvallig te maak. Deur die prag en praal van die wêreld bevorder Satan “die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe” (1 Johannes 2:16). Dit is duidelik te sien in die reklamesette wat deur die handelswêreld gebruik word. Is dit nie waar dat die mees geslaagde advertensies dié met die grootste visuele trefkrag is nie? Die duisende kleurryke reklameborde en flitsende tekens, die glansfoto’s in tydskrifte en koerante, die slim TV-advertensies—en die miljoene der miljoene rande wat daaraan bestee word—getuig alles van die feit dat die hele idee van reklame is om die verbruiker se “begeerlikheid van die oë” te prikkel.
10. Wat word in werklikheid deur die handelswêreld bevorder?
10 Hoewel baie van hierdie advertensies min aan die verbeelding oorlaat, is dit nie net verbruikersartikels wat bevorder word nie, maar ook, op meer subtiele wyse, sekere lewenswyses. In die advertensies word die produkte dikwels deur die mees bevoorregte, invloedrykste, gelukkigste en mooiste mense gebruik. Die boodskap is dat as die verbruiker daardie produk gebruik, sy lewenswyse outomaties in een van daardie kategorieë sal inpas. Adverteerders weet dat wanneer ’n persoon eers ’n sekere lewenswyse aanvaar het, dit nie moeilik is om hom of haar te oorreed om die handelsware te aanvaar wat daarmee gepaard gaan nie. In die lig hiervan sal dit beslis vir toegewyde Christene verstandig wees om aan die raad in Hebreërs 13:5 gehoor te gee! Daar lees ons: “Julle gedrag moet vry van geldgierigheid wees. Wees tevrede met wat julle het.”
Laat die oog “reg” wees, nie “verkeerd” nie
11. Verduidelik die woorde “reg” en “verkeerd” in Jesus se verklaring oor die oog.
11 Omdat ons daagliks voor so baie ooglokkende versoekings te staan kom, verstaan ons des te beter waarom Jesus Christus ons vermaan het om te sorg dat ons oë “reg” en nie “verkeerd” is nie (Mattheüs 6:22, 23). Wat beteken dit? “Reg” word hier vertaal uit die Griekse woord ha·plousʹ, wat basies koersvastheid of doelgerigtheid beteken. Die woord “verkeerd” kom andersyds van die Griekse woord po·ne·rosʹ en beteken sleg, waardeloos, boos. Met ander woorde, die ‘regte oog’ word nie afgelei of verlok deur alles wat om hom aangaan nie, maar kyk stip na net een ding. Die ‘verkeerde oog’, daarenteen, is onrustig, skelm en begerig, en is geneig tot dinge wat verdag en duister is.
12. Hersien en verduidelik die verband van Jesus se bespreking.
12 Maar waarop moet die oog gevestig word sodat ‘die hele liggaam verlig sal wees’? ’n Ondersoek van die teksverband sal ons help om die antwoord te vind. In die voorafgaande verse het Jesus gepraat van ‘skatte op die aarde’ en ‘skatte in die hemel’. Hy het gesê dat “waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees”. Daarna, nadat hy die oog bespreek het, het hy weer klem gelê op doelgerigtheid en gesê: “Niemand kan twee here dien nie”, naamlik God en Mammon. In die volgende verse het hy raad gegee oor ’n mens se beskouing van die daaglikse benodigdhede en afgesluit met die vermaning: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”—Mattheüs 6:19-34.
13. Waarop moet ons ons oog vestig sodat ons ‘hele liggaam verlig sal wees’? Waarom?
13 Wat kan ons hieruit leer? Jesus praat hier van lewensdoelwitte en wys enersyds op die sinloosheid van ’n gejaag na besittings en andersyds op die seëninge wat voortspruit uit belangstelling in geestelike sake. Wat hy duidelik vir ons sê, is dat ‘ons hele liggaam verlig sal wees’ as ons ons oë suiwer op Koninkryksbelange gevestig hou. Waarom? Omdat ons, as dit ons lewensdoelwit is om God se wil te doen, sal probeer om die glorieryke goeie nuus in elke aspek van ons lewe te weerspieël. Ons kan nie alleen uitsien na ’n blink toekoms nie, maar ons kan bevry word van die duistere en skandelike dinge wat die gevolg is van ’n lewe wat aan selfsugtige strewes gewy word.—2 Korinthiërs 4:1-6.
14. Hoe lei dit tot “donkerheid” wanneer ’n mens jou oog op rykdom vestig?
14 Die apostel Paulus het Jesus se woorde beaam toe hy verduidelik het: “Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang” (1 Timotheüs 6:9). Hierdie woorde dra beslis gewig! Die nuus is vol berigte van senatore, burgemeesters, regters, bankiers, bedryfsleiers en ander wat hulle skuldig gemaak het aan bedrog of verduistering wat, volgens een verslag, in die Verenigde State alleen “minstens 200 miljard dollar [400 miljard rand] per jaar beloop”. Die ‘versoeking en strik’ van die rykdom het talle eens gerespekteerde mense in skurke en misdadigers verander. Ons wil seer seker nie “wegsink in verderf en ondergang” en aldus die “donkerheid” ondervind waarteen Jesus gewaarsku het nie.—Kyk Spreuke 23:4, 5.
15, 16. (a) Watter ander “begeerlikheid van die oë” moet ons vermy? (b) Hoe hou die raad in Spreuke 27:20 met ons bespreking verband?
15 Maar is dit net die wat hulle oë op rykdom rig wat gevaar loop om in donkerheid te wandel? Nee, want “die begeerlikheid van die oë” sluit baie ander dinge in. Dink terug aan Jesus se woorde in Mattheüs 5:28: “Elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.” Daardie waarskuwing geld sekerlik ook vir mense wat hulle oë laat rus op stof wat bedoel is om ongeoorloofde hartstog en begeertes te wek.
16 Dan is daar die bekommernis oor voedsel, drank en klere waarvan Jesus gepraat het (Mattheüs 6:25-32). Hoewel hierdie dinge nodig is, kan ’n buitensporige begeerte om altyd die jongste, die beste, die gesogste te hê ons verstand en hart verslaaf (Romeine 16:18; Filippense 3:19). Selfs ten opsigte van ontspanning, stokperdjies, sport, oefening en dies meer moet ons goeie balans handhaaf en daarteen waak dat ons meegevoer word deur die giere en grille van die wêreld. Wat al hierdie dinge betref, kan ons gerus die wyse woorde van Spreuke 27:20 in gedagte hou: “Die doderyk en die plek van vertering word nie versadig nie; so word die oë van ’n mens nie versadig nie.” Ons moet inderdaad selfbeheersing aan die dag lê sodat ons ons nie geestelik in gevaar stel deurdat ons probeer om ons oë te bevredig nie.
’n Oog wat “reg” is, bring seëninge mee
17. Hoe is sommige gehelp om Koninkryksbelange na te jaag omdat hulle hulle oog “reg” gehou het?
17 Diegene wat hulle oog “reg” gehou het deur dit stip op God se Koninkryk en beloftes te vestig, ontvang baie seëninge van Jehovah. Dit word goed toegelig deur die ondervindinge van mense uit alle lewenstande en uit alle dele van die wereld. Beskou hierdie voorbeelde:
“Toe ek gedien het waar hulp nodig was, in Colombia, Suid-Amerika, moes ek klaarkom met ’n inkomste van ongeveer [R200] per maand. Ek het die pionierdiens betree, maar aan die begin van die maand het ek geval en my enkel gebreek. Die gevolglike doktersonkoste het my feitlik platsak gelaat, en ek sou eers weer aan die einde van die maand geld kry. Dit was tyd om my Koninkryksaalbydrae te gee, maar as ek die geld bygedra het, sou ek die volgende week nie geld vir kruideniersware gehad het nie. Nadat ek die saak ’n paar dae oordink het, het ek besluit dat die huurgeld vir die saal betaal moet word en die geld in die bydraebussie gesit. Net die volgende oggend het ek ’n brief ontvang van ’n suster in die Verenigde State wat my in Colombia besoek het. Saam met haar brief was daar ’n bietjie Colombiaanse geld wat ná haar besoek oorgebly het. Dit was presies die bedrag wat ek in die bussie gegooi het.”
Een warm Dinsdagmiddag is Ki, wat ’n kliniek in Taechun, Korea, beheer, deur drie van sy kollegas genooi om die middag op die strand te gaan deurbring. Hoewel die idee aanloklik geklink het, het Ki geweet dat hy nie betyds sou terug wees vir die Gemeentelike Boekstudie daardie aand nie. Daarom het hy die uitnodiging van die hand gewys. Oomblikke later is die drie na die kliniek teruggebring—dood! Hulle het ’n noodlottige motorongeluk gehad pas nadat hulle van die kliniek af weg is. Ki het die ongeluk diep betreur maar was bly dat sy lewe gespaar is omdat hy gebly het by die goeie gewoonte wat hy deur die jare aangekweek het.—Hebreërs 10:24, 25.
18. Hoe kan kinders geleer word om hulle oog “reg” te hou?
18 Selfs kinders kan geleer word om hulle oë op Koninkryksbelange gevestig te hou, soos die volgende ondervinding toelig:
“Toe ons by twee besoekers gehoor het dat broers in drie gemeentes in die Filippyne [R2 000] per gemeente nodig gehad het—’n aardige bedrag vir hulle—om hulle afgebrande Koninkryksaal te herbou, het ek en my man besluit om ’n bydrae te gee. Wat van ons vier kinders, waarvan die oudste ses jaar en die jongste vier maande oud was? Elke week wanneer my man sy loon gekry het, het hy vir elke kind ’n silwerdollar gekoop. My man het die munte so verdeel dat elke kind kon sien hoeveel hy gehad het. Ons het ook van die dinge gemeld wat hulle graag met die geld wou gekoop het. Maar die antwoord was altyd dieselfde—hulle wil die geld vir die broers gee.” Saam met hulle $99 (sowat R200) het die kinders ook ’n eenvoudige briefie gestuur. Die broers in die Filippyne was so geroer deur hulle liefde en vrygewigheid dat baie van hulle trane gestort het toe die brief gelees is.
19. Waarop moet ons ons oë gevestig hou as ons wil seker wees van ’n blink toekoms?
19 “Laat jou oë reguit kyk en jou ooglede hulle reg voor jou uit hou” (Spreuke 4:25). Hoe verstandig sal ons tog nie wees as ons op daardie raad ag slaan en nie toelaat dat ons oë dwaal of afwyk nie! “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse”, het Paulus vermaan, “en koop die tyd uit, omdat die dae boos is.” Hy het ons ook aangespoor: “Verstaan wat die wil van die Here is” (Efesiërs 5:15-17). Sodoende kan ons daarvan seker wees dat ons ons oog “reg” sal hou en kan ons met vertroue uitsien na ’n blink toekoms—die ewige lewe in God se beloofde nuwe stelsel.—Vergelyk 2 Korinthiërs 4:17, 18.
Kan jy verduidelik?
◻ In watter opsig is die oog “die lamp van die liggaam”?
◻ Hoe beïnvloed die oog ons gedrag, soos die voorbeelde van Eva en Jesus toon?
◻ Op watter maniere doen Satan vandag ’n beroep op “die begeerlikheid van die oë”?
◻ Wat moet ons doen om ons oog “reg” te hou?
◻ Waarop moet ons ons oë nou vestig?
[Prent op bladsy 12]
Die dinge waarop ons ons oë vestig, kan die begeerte van die hart versterk.