Jesus se lewe en bediening
Gebed en vertroue op God
JESUS gaan voort met sy predikasie en veroordeel vervolgens die skynheiligheid van mense wat ’n vertoon van hulle gewaande vroomheid maak. “Wanneer jy dan liefdadigheid bewys”, sê hy, “moenie ’n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes . . . nie.”
“En”, gaan Jesus voort, “wanneer jy bid, moet jy nie wees soos die geveinsdes nie; want hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die hoeke van die strate te staan en bid, om deur die mense gesien te word.” Hy beveel eerder: “Wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is.” Jesus self het openbare gebede gedoen en daarom is dit nie sulke gebede wat hy veroordeel nie. Wat hy wel veroordeel, is gebede wat gedoen word om die hoorders te beïndruk en hulle bewonderende komplimente uit te lok.
Jesus vermaan verder: “As julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie.” Jesus bedoel nie dat herhaling op sigself verkeerd is nie. Terwyl hy eenmaal gebid het, het hy self “dieselfde woorde” gebruik. Maar wat hy wel afkeur, is die “ydele herhaling” van gememoriseerde uitdrukkings soos dié van diegene wat krale aftel terwyl hulle hulle gebede masjinaal herhaal.
Om sy hoorders te help bid, voorsien Jesus ’n modelgebed wat sewe versoeke insluit. Die eerste drie verleen erkenning aan God se soewereiniteit en sy voornemens. Dit is versoeke dat God se naam geheilig moet word, dat sy Koninkryk moet kom en dat sy wil moet geskied. Die laaste vier is persoonlike versoeke, naamlik om daaglikse voedsel, die vergifnis van sondes, om nie bo ’n mens se kragte versoek te word nie en om van die Bose verlos te word.
Jesus bespreek vervolgens die strik om te veel klem op materiële besittings te lê. Hy spoor aan: “Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie.” Sulke skatte is nie alleen verganklik nie, maar hulle verkry vir ’n mens geen verdienste by God nie.
Jesus sê gevolglik: “Maar maak vir julle skatte bymekaar in die hemel.” ’n Mens doen dit deur die voorkeur aan God se diens in jou lewe te gee. Niemand kan die verdienste wat aldus by God opgehoop word, of die wonderlike beloning daarvan, wegneem nie. Jesus voeg dan by: “Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”
Waar Jesus die strik van materialisme verder bespreek, gebruik hy die illustrasie: “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees.” Die oog wat behoorlik funksioneer, is vir die liggaam soos ’n opgesteekte lamp in ’n donker plek. Maar om reg te kan sien, moet die oog reg wees, dit wil sê, dit moet op een ding saamtrek. ’n Oog wat uit fokus is, laat ’n mens dinge verkeerd beoordeel en laat jou die voorkeur aan materiële strewes gee bo die diens van God, met die gevolg dat die “hele liggaam” donker word.
Jesus voer hierdie saak tot ’n hoogtepunt met ’n kragtige illustrasie: “Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God en Mammon dien nie!”
Na hierdie raad verseker Jesus sy hoorders dat hulle nie besorg hoef te wees oor hulle materiële behoeftes as hulle die voorkeur aan God se diens gee nie. “Kyk na die voëls van die hemel”, sê hy, “hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle.” Dan vra hy: “Is julle nie baie meer werd as hulle nie?”
Jesus vestig vervolgens die aandag op die lelies van die veld en sê dat “selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie”. Hy gaan voort: “As God dan die gras van die veld . . . so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?”
Jesus maak dus die gevolgtrekking: “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? . . . want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Mattheüs 6:1-34; 26:36-45.
♦ Watter instruksies oor gebed het Jesus gegee?
♦ Waarom het hemelse skatte groter waarde, en hoe verkry ’n mens dit?
♦ Watter illustrasies is gegee om ’n mens te help om materialisme te vermy?
♦ Waarom het Jesus gesê dat ’n mens glad nie besorg hoef te wees nie?