’n Droom toon hoe laat dit is
“JEHOVAH is . . . die lewende God en die Koning tot onbepaalde tyd” (Jeremia 10:10, NW). Hy het nog nooit afstand gedoen van beheer oor sy heelal nie, ’n feit wat koning Nebukadnesar van eertydse Babilon nie besef het nie. Om die feit dat “die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens” by daardie heidense koning tuis te bring, het God hom ’n droom laat droom en Sy kneg Daniël in staat gestel om dit uit te lê.—Daniël 4:17, 18.
Die droom was oor ’n yslike boom. “Sy hoogte het tot aan die hemel gereik, sodat hy tot aan die einde van die hele aarde sigbaar was.” Op goddelike bevel is die boom afgekap, maar sy onderstam is met bande van yster en van koper gebind. Die bande sou daar bly totdat “sewe tydperke” verstryk het, waarna die boom weer sou groei.—Daniël 4:10-17.
“Die boom wat u gesien het,” het Daniël verduidelik, “is u, o koning, . . . en u heerskappy.” Nebukadnesar sou neergevel word. Hy sou sy koninkryk, ja, selfs sy verstand, verloor en “sewe tydperke” lank soos ’n wilde dier in die veld woon. Eers nadat die vasgestelde tydperk verstryk het, sou die simboliese bande verwyder word sodat die koning sy verstand sowel as sy troon kon terugkry.—Daniël 4:20-27.
“Dit alles het oor koning Nebukadnesar gekom” net soos voorspel is (Daniël 4:28). Die Lexicon Linguae Aramaicae Veteris Testamenti sê dat die “sewe tydperke” van Nebukadnesar se droom sewe letterlike jare was. Aangesien Nebukadnesar 43 jaar lank (624-581 v.G.J.) geregeer het, is dit ’n redelike gevolgtrekking.
Watter betekenis het dit vir ons?
Jehovah het nog altyd sy universele soewereiniteit uitgeoefen soos hy goeddink. Hy het dit ’n ruk lank op aarde gedoen deur middel van die nasie Israel, van wie se aardse heersers daar tereg gesê is dat hulle “op Jehovah se troon sit” (1 Kronieke 29:23, NW). Maar toe Israel afvallig geword het, het Jehovah toegelaat dat hulle dinastie van konings in die geslag van koning Dawid omvergewerp word.
Hoe gepas dan tog dat God kort daarna vir koning Nebukadnesar—die einste persoon wat toegelaat is om Sy tipiese koninkryk te verwoes—’n aanduiding gegee het dat dit glad nie beteken het dat God se regmatige soewereiniteit geëindig het nie. Hoe belangrik was dit tog om dit by hom en al die nie-Joodse nasies wat daarna op God se verteenwoordigende koninkryk sou trap tuis te bring dat hierdie toedrag van sake net tydelik was!
Die tydstip waarop die droom gegee is, die persoon aan wie dit gegee is en die tema van goddelike soewereiniteit wat daardeur beklemtoon is, dui op ’n betekenis veel groter as wat dit vir Nebukadnesar gehad het. Dit gee te kenne dat goddelike heerskappy wat uitgeoefen is in Jerusalem, wat destyds verwoes was, soos ’n afgekapte boom met bande om was wat nie herstel sou word voordat daardie bande van bedwang na “sewe tydperke” afgehaal is nie. Dan sou God se verteenwoordigende Heerser, “die nederige onder die mense”, ’n verwysing na die beloofde Messias, in sy Koninkryk aangestel word. Jesus se dissipels het ’n teken gevra om die tyd aan te dui wanneer God dit sou doen.—Daniël 4:17; Mattheüs 24:3.
Daar is ook ander aanduidings wat toon dat hierdie verreikende toepassing van Nebukadnesar se droom korrek is. Die profesie wat in Daniël 9:24-27 opgeteken is, het die presiese jaar van die Messias se koms meer as 500 jaar later haarfyn aangedui.a Is dit nie redelik om die gevolgtrekking te maak dat indien die tyd van die Messias se koms as ’n mens met soveel akkuraatheid voorspel is, die tyd van sy betekenisvoller, onsigbare wederkoms in Koninkryksmag met ewe veel akkuraatheid voorspel sou word nie? Wie anders as Daniël kon meer gepas wees om dit te doen? Hou ook in gedagte dat nadat hy sy gesigte en droomprofesieë, onder meer Nebukadnesar se droom oor die boom, op skrif gestel het, daar vir Daniël gesê is: “Hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe.” Waarom tot dan? Omdat ware “kennis” gedurende daardie tyd sou “vermeerder”. Dui die feit dat die dinge wat Daniël neergeskryf het tot “die tyd van die einde” verseël, duister, moes bly nie daarop dat sy geskrifte gedurende daardie tydperk van profetiese belang sou wees nie?—Daniël 12:4.
Die “sewe tydperke”—Van wanneer tot wanneer?
Toe hy sy teken gegee het, het Jesus van die “sewe tydperke” gepraat en hulle die vasgestelde “tye van die nasies” genoem. Hy het gesê: “Jerusalem sal [steeds] vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Lukas 21:24). ’n Voetnoot in die Oxford NIV Scofield Study Bible (1984) deel ons mee dat “die ‘tye van die Heidene’ [dit is hoe die King James Version “tye van die nasies” weergee] met die gevangenskap van Juda onder Nebukadnesar begin het. . . . Sedertdien is Jerusalem, soos Christus gesê het, ‘deur die nasies vertrap’.”
Hoe lank sou die “sewe tydperke” of “die tye van die nasies” duur? Dit is duidelik dat hulle baie langer sou wees as 7 letterlike jare van 360 dae elk (die lengte van Bybelse jare), wat altesaam 2 520 dae lank sou wees. Die Skriftuurlike presedent toon dat ons elke dag deur een jaar moet vervang. (Kyk Numeri 14:34; Esegiël 4:6; vergelyk Openbaring 12:6, 14.) So ’n berekening sou beteken dat die “sewe tydperke” 2 520 jaar sou duur. As hulle begin het met Jerusalem se vernietiging in 607 v.G.J., sou hulle in die jaar 1914 G.J. eindig.
Meer as drie dekades lank voor 1914 het Jehovah se Getuies die aandag op die betekenis van hierdie jaartal gevestig. Dit is egter interessant dat die boek International Crisis, deur Eugenia Nomikos en Robert C. North (1976), sê dat daar “min of geen teken van ’n gestadige toename of aangroeiing van botsings en spanning was wat regstreeks tot die uitbreking van oorlog gelei het nie”. Inteendeel, “teen laat 1913 en vroeg 1914 . . . het dit gelyk of betrekkinge tussen die groot moondhede beter was as wat dit in baie jare was”. Tog sê historici vandag, sewe dekades later, inderdaad dat 1914 ’n keerpunt in die mensegeskiedenis was. Die Duitse naslaanwerk Meyers Enzyklopädisches Lexikon sê byvoorbeeld dat “die uitwerking van die Eerste Wêreldoorlog letterlik revolusionêr was en die lewens van feitlik alle mense ekonomies sowel as maatskaplik en polities diep geraak het”.
Die politieke gevolge van die gebeure van 1914 is goed bekend. Die maatskaplike veranderinge wat dit teweeggebring het, word gemeld in Virginia Cowles se boek 1913: An End and a Beginning. “Die jaar 1913 het ’n einde van ’n tydvak gekenmerk”, skryf sy. Aangaande die ekonomiese gevolge skryf Ashby Bladen, ’n senior-onderpresident van The Guardian Life Insurance Company of America: “Voor 1914 was die monetêre en die finansiële stelsel verenigbaar. . . . As ’n mens Augustus 1914 as die skeidslyn beskou, is die kontras tussen die negentiende en die twintigste eeu treffend. In talle aspekte van mense-aangeleenthede was daar ’n algehele omswaai. . . . ’n Belangrike rede hiervoor was die verbreking van die band tussen die finansiële stelsel en geld met intrinsieke waarde sedert 1914. . . . Die verbreking van die band was ’n betekenisvolle gebeurtenis. . . . 1914 het ’n radikale, en op die ou end katastrofiese, transformasie van daardie stelsel gekenmerk.”
Hoe laat is dit?
Die getuienis dat Jesus se teken nou vervul word, is so maklik bekombaar soos koerant- of televisienuus. En dit bied onomstootlike bewys dat die chronologiese getuienis ter ondersteuning van 1914 soos in Nebukadnesar se droom geopenbaar is, korrek is. Vandag, in 1986, beteken dit gevolglik dat ons reeds 72 jaar in “die tyd van die einde” in is. Jesus het beloof dat sommige lede van die geslag mense wat oud genoeg was om die begin daarvan te aanskou nog sal lewe wanneer die groot verdrukking eindig.—Mattheüs 24:34.
Watter aansporing is dit tog vir ons om immer wakker te bly met ons oë gevestig op die goddelike openbaring van hoe laat dit is! Hoe belangrik is dit tog dat ons nie ongeduldig word en probeer om die goddelike rooster te verhaas en dan teleurgestel word nie! Hoe belangrik is dit andersyds dat ons waak teen oorgerustheid, en nie probeer om dit te vertraag en dan skade ly nie! Onthou, daar staan veel meer op die spel as die gevaar om ’n bus, trein of vliegtuig te verpas. Die gevaar is om die ewige lewe in God se nuwe stelsel te verbeur. En dit is iets wat eenvoudig te goed is om te verbeur!
[Voetnote]
a Kyk die boek “Let Your Kingdom Come”, bladsye 56-63, wat in 1981 deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee is, vir ’n verduideliking hiervan.
[Venster op bladsy 6]
Wanneer het die “sewe tydperke” werklik geëindig?
Sommige mense voer aan dat selfs al is die “sewe tydperke” profeties en selfs al het dit 2 520 jaar geduur, Jehovah se Getuies steeds verkeerd is oor die betekenis van 1914 omdat hulle die verkeerde beginpunt gebruik. Hulle voer aan dat Jerusalem in 587/6 v.G.J. vernietig is, en nie in 607 v.G.J. nie. Indien dit waar is, sou dit beteken dat “die tyd van die einde” ongeveer 20 jaar later begin het. In 1981 het Jehovah se Getuies egter oortuigende bewys gepubliseer ter ondersteuning van die jaartal 607 v.G.J. (“Let Your Kingdom Come”, bladsye 127-140, 186-189). Kan diegene wat probeer om 1914 sy Bybelse betekenis te ontneem daarbenewens bewys dat 1934—of enige ander jaar, wat dit betref—’n groter, dramatieser en opvallender impak op die wêreldgeskiedenis gehad het as 1914?
[Tabel op bladsy 6]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Sewe vasgestelde “tye van Tyd van die einde
die nasies” (2 520 jaar)
607 v.G.J. 33 G.J. 1914 G.J. 1986 G.J.
Aardse “Jerusalem” “Die tyd van die 72 jaar in
Jerusalem nog steeds einde” begin “die tyd van
verwoes “vertrap” (Daniël 12:4) die einde”
(Lukas 21:24) Mattheüs 24:3, 12, 22)
[Prente op bladsy 7]
Nebukadnesar se droom het ’n verreikende toepassing wat jou raak!