‘Koop die tyd uit’ in Italië
‘KOOP die geleë tyd uit’, het die apostel Paulus mede-Christene twee maal aangespoor toe hy in Rome, Italië, was (Efesiërs 5:15, 16, NW; Kolossense 4:5, NW). Sy eerste-eeuse lesers het daaraan gehoor gegee. Hulle het gesoek na geleë tye om die “goeie nuus” te verkondig en ander te help om aanbidders van die ware God te word.—Mattheüs 24:14, NW.
Hedendaagse knegte van Jehovah in Italië, waar Paulus daardie briewe geskryf het, gee steeds gehoor aan sy raad. Soos die vroeë Christene soek hulle na maniere om hulle aandeel in die Koninkryksprediking te vergroot. Hoe vind hulle “die geleë tyd”?
Voordele van identifikasie
Giuseppe, ’n bejaarde voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies in Rome, onthou die tyd toe hy ’n sekulêre betrekking gehad het. Hy het seker gemaak dat al sy kollegas weet dat hy een van Jehovah se Getuies is. Hierdie identifikasie het aanleiding gegee tot ’n “geleë” tyd om Bybelwaarhede te verkondig. Hy is eendag aangewys om ’n man met die naam Gianni op te lei. Die ander werkers het Gianni onmiddellik vertel dat sy leermeester een van Jehovah se Getuies is. Toe die werker alleen saam met Giuseppe was, het hy vir Giuseppe gesê: “Nou praat ons oor ons werk, maar ek wil etenstyd iets omtrent Jehovah leer.”
Hulle het gedurende etenstye etlike besprekings gehad. Giuseppe het Gianni geleer dat God ’n naam, Jehovah, het. Hy het ook God se voorneme vir die aarde verduidelik. Maar wat het gebeur toe die opleidingstydperk verstryk het? “Ek het hom my telefoonnommer en Bybellektuur gegee”, sê Giuseppe. “Hy het die lektuur aanvaar, maar het gesê: ‘As ek iets in hierdie publikasies kry wat nie met Bybelwaarheid strook nie, sal ek hierheen terugkom en jou voor al jou kollegas verkeerd bewys.’”
Maande het verloop waarin hy niks van Gianni gehoor het nie. “Maar toe”, sê Giuseppe voorts, “het hy my eendag gebel en gesê dat hy met my wou praat. Ons het ’n afspraak gemaak, en hy het ’n lys vrae gehad. Ons het tien uur lank gepraat! Hy het my aanbod van ’n gereelde Bybelstudie aanvaar.” Wat was die gevolg? Giuseppe sê: “Die gunstige veranderinge wat hy aangebring het, het sy vrou en sy moeder dermate beïndruk dat hulle ook in die Bybelstudie begin belangstel het. Vandag is Gianni, sy vrou en sy moeder almal getroue knegte van Jehovah.”
Gedwing om sy Bybel te verbrand
Goeie, Christelike gedrag lei ook tot ‘geleë tye’ om Bybelwaarhede met ander te deel. Goeie gedrag kan, soos die apostel Paulus sê, “die leer van God, ons Verlosser, in alles . . . versier”.—Titus 2:10.
Pietro, nou ’n Getuie in sy laat twintigerjare, is deur die Christelike gedrag van ’n klasmaat na hierdie “leer” aangetrek. “Ek was in standerd drie”, sê Pietro, “maar ek onthou nog daardie seun se gedrag. Hy was die enigste wat geweier het om tydens godsdiensonderrig in die klas te bly.”
Pietro het die seun eendag gevra waarom hy nooit in die klas bly nie. Die seun het verduidelik dat hy van die klas verskoon word omdat hy een van Jehovah se Getuies is. Dit het Pietro se belangstelling geprikkel. Hy het die seun gevra om vir hom ’n Bybel te bring. Nadat hy dele van die Bybel gelees het, “het ek besef dat dit die waarheid bevat”, sê Pietro. “Ek het besluit dat ek dit van toe af wou naleef. Ek het die Bybel saam met my skool toe geneem en vir almal gesê dat ek een van Jehovah se Getuies is. Ek was net tien jaar oud.”
Moeilikhede het ontstaan. Pietro sê voorts: “Die priester wat die godsdiensklasse op skool gehou het, het vir my ouers vertel dat ek die Bybel op skool gebruik, en hy het hulle aangeraai om dit te vernietig. Toe ek tuis kom, het my moeder probeer om die Bybel te gryp, maar ek het dit so styf moontlik vasgehou. Toe het Moeder my begin slaan en dit uit my hande geruk. Daarna het sy my gedwing om my eie Bybel te verbrand.” Pietro het sy Bybel verloor, maar nie sy geloof nie. Hy het gedink: ‘Wanneer ek groot is, sal ek ’n nuwe Bybel koop en die boodskap daarvan met ander gaan deel.’
Twee jaar het verloop. Toe het Pietro gehoor dat ’n Bybelstudie in die huis van een van sy vriende gehou word. Hy het die studie in die geheim bygewoon. “Eendag”, sê Pietro, “het ek vir my ouers gesê: ‘Ek het besluit om een van Jehovah se Getuies te word. Hierdie keer sal niks my van plan laat verander nie!’” Toe die ouers die vasberadenheid van hulle 12-jarige seun sien, het hulle toegegee. Pietro het dadelik begin om vergaderinge by die Koninkryksaal by te woon. Hy is vier jaar later as een van Jehovah se Getuies gedoop. Vandag, 18 jaar nadat hy die Bybelwaarheid danksy die getroue gedrag van sy klasmaat geleer het, “koop [Pietro] die geleë tyd uit” deur as ’n voltydse bedienaar in Italië te dien.
Ywerig op sewentigjarige leeftyd
Mafalda, ’n Christin van Livorno, tel ook onder die meer as 22 000 ywerige pioniers, of voltydse bedienaars, in Italië. Sy het die pionierdiens op 56-jarige ouderdom betree. “Pionierdiens”, verduidelik sy, “vereis dat ’n mens ten minste 1 000 uur per jaar aan die predikingswerk wy. Maar aangesien dit ’n belangrike boodskap is, bestee ek elke jaar 2 000 uur as ’n pionier.” Mafalda is nou 70 jaar oud. Wat is haar voorneme? “Onder die eerste-eeuse Christene was daar hardwerkende huisvroue wat aan die bediening deelgeneem het”, sê sy. “Soos hulle wil ek voortgaan om God se Koninkryk te verkondig. Dit is my lewensdoel.”
Van die besneeude bergpieke van die Alpe in die noorde tot die Mediterreense eiland Sicilië in die suide weerspieël hedendaagse getuies van Jehovah in Italië voorwaar die ywer van hulle eerste-eeuse eweknieë. Hulle bestee elke dag van die jaar gemiddeld meer as 100 000 uur aan die Koninkryksprediking. Die gevolg? Verlede jaar alleen is nagenoeg 12 000 mense gedoop en het hulle geordende bedienaars van Jehovah geword. In Italië koop hulle nou, tesame met die 131 000 ander getuies van Jehovah, “die geleë tyd uit”.