Sal jy sê: “Hier is ek, stuur my”?
‘Jehovah het gesê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my.’—JESAJA 6:8.
1, 2. Watter spesiale rede tot geluk het een egpaar gehad?
“ONS aanvaar met genoeë die toewysing na Colombia. Ons het ons diensvoorreg hier in Ecuador baie meer geniet as wat hierdie tikmasjien kan beskryf.” Dit was die inleiding van ’n brief van twee van Jehovah se Getuies wat na Ecuador gegaan het waar ’n nuwe takkantoor vir die Wagtoringgenootskap in aanbou was.
2 Hierdie bedienaars het na Ecuador gegaan nie om net met die bouwerk te help nie; hulle kon ook as Christenonderrigters help. Hulle skryf: “Ons het gevind dat velddiens een van die belangrikste dinge is. Drie weke gelede het agt van ons na ’n opelugmark gegaan en 73 boeke en meer as 40 tydskrifte versprei. Die vorige week het ons twee nuwe Bybelstudies begin. Ons kan werklik sien dat die nuwe tak nodig is. Ek en my vrou wil julle graag bedank vir die voorreg om met hierdie spesiale vorm van voltydse diens voort te gaan”, nou in Colombia.
3. Hoe het baie ’n gees soortgelyk aan dié van Jesaja geopenbaar?
3 Hierdie egpaar, en honderde ander wat bereid was om na ’n vreemde land gestuur te word, openbaar ’n gees soortgelyk aan dié van die profeet Jesaja. Toe hy Jehovah hoor sê het: “Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan?” het Jesaja geantwoord: “Hier is ek, stuur my.” God het hom toe beveel: “Gaan sê aan hierdie volk: Hoor altyddeur, maar verstaan nie” (Jesaja 6:8, 9). Vir watter sending het Jesaja hom vrywillig aangebied, en wat was die gevolg daarvan? En wat kan ons uit hierdie verslag leer met betrekking tot hedendaagse parallelle en enige persoonlike lesse vir ons?
Jesaja se opdrag om te preek
4, 5. (a) Wat was die toedrag van sake toe Jesaja die gesig ontvang het wat in hoofstuk 6 opgeteken is? (b) Wat het Jesaja in hierdie gesig gesien?
4 Jehovah God het Jesaja in die sterfjaar van koning Ussia gevra: “Wie sal Ek stuur?” (Jesaja 6:1). Dit was in 777 v.G.J., of ongeveer een en ’n driekwart eeu voordat die Babiloniërs Jerusalem vernietig en die land Juda verwoes het. Jehovah kon daardie droewige gebeurtenis sien kom, en hy het Jesaja die opdrag gegee om ’n boodskap daaromtrent te verkondig. Wat kan ons uit sy predikingsopdrag leer?
5 Jesaja was seker, soos ons ook sou gewees het, diep beïndruk deur die toneel waarin hy sy opdrag ontvang het. Hy het geskryf: “Ek [het Jehovah] sien sit op ’n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het. Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg. En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is [Jehovah] van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!”—Jesaja 6:1-3, vgl. NW.
6. Waarom was dit ’n voorreg vir Jesaja om dit te sien?
6 Jesaja het geweet dat Ussia met melaatsheid geslaan is toe hy, wat nie van die priesterlike stam was nie, die Heilige van die tempel op vermetele wyse binnegegaan het om reukwerk te offer. Wat ’n voorreg was dit dus vir Jesaja om die teenwoordigheid van God te aanskou! Jesaja, ’n onvolmaakte mens, het Jehovah nie letterlik gesien nie, maar hy is toegelaat om Hom in ’n gesig te sien (Exodus 33:20-23). Die grootsheid hiervan is beklemtoon deur hooggeplaaste engele (serafs) wat by Jehovah se troon gedien het. Omdat hulle besef het hoe heilig God is, het hulle hulle ‘gesigte’ eerbiedig bedek. Bo en behalwe hierdie beskeie daad het hulle God se heiligheid nadruklik bekend gemaak. Watter uitwerking dink jy sou dit alles op ’n mens hê?
7. Hoe het Jesaja gereageer, en waarom sou ons dalk dieselfde gevoel het?
7 Laat Jesaja antwoord. “Toe het ek gesê: Wee my, ek is verlore! Want ek is ’n man onrein van lippe en woon onder ’n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien!” (Jesaja 6:5). Jesaja het geweet dat hy ’n woordvoerder vir God was, en tog het hierdie gesig hom terdeë bewus gemaak van die feit dat hy onrein is en nie die rein lippe het wat by ’n woordvoerder van hierdie roemryke en heilige Koning pas nie. Party van ons was dalk ook by tye baie bewus van ons eie sondigheid en het moontlik onwaardig gevoel om God in gebed te nader, laat staan nog om sy naam te dra. Jesaja se verdere ondervinding behoort dan bemoedigend te wees.
8. Wat het ’n engel gedoen, en met watter uitwerking?
8 Een van die diensdoende serafs het na hom toe gevlieg met ’n gloeiende kool van die altaar vir diereoffers. Die engel het Jesaja se mond met die kool aangeraak en gesê: “Kyk, dit het jou lippe aangeraak, en jou skuld is weg en jou sonde versoen” (Jesaja 6:6, 7). In Salomo se tyd was vuur uit die hemel ’n bewys dat Jehovah die offeraltaar aanvaar het, hoewel die offers nie eens die priesters volkome rein voor God kon maak nie (2 Kronieke 7:1-3; Hebreërs 10:1-4, 11). Nietemin kon Jesaja, toe sy onreinheid deur die gloeiende kool weggebrand is, Jehovah se uitspraak aanvaar dat sy sondigheid versoen is in die mate wat nodig was sodat hy ’n spesiale predikingsopdrag kon ontvang. Op watter interessante voortekens dui dit ten opsigte van die toekoms?
9. Wat was die inhoud van Jesaja se boodskap?
9 Hierdie verbasende ondervinding het daartoe gelei dat die profeet die voorgemelde predikingsopdrag ontvang het (Jesaja 6:8, 9). Maar waarom moes Jesaja sê dat die volk herhaaldelik sou hoor maar steeds geen kennis sou opdoen nie? God se stem het bygevoeg: “Maak die hart van hierdie volk onontvanklik, en maak hulle ore ongevoelig, en stryk hulle oë toe, sodat hulle nie sien nie . . . en sodat hulle nie werklik terugkeer en genesing vir hulleself kry nie” (Jesaja 6:10, NW). Beteken dit dat Jesaja, deur reguit of taktloos te wees, die Jode moes afstoot sodat hulle nie met Jehovah versoen sou raak nie? Nee. Dit was bloot ’n aanduiding van hoe die meeste Jode sou reageer, ongeag hoe getrou en deeglik Jesaja die predikingsopdrag uitgevoer het waarvoor hy hom vrywillig aangebied het deur te sê: “Hier is ek, stuur my.”
10. (a) Wie se skuld was dit dat die volk as ’t ware blind en doof was? (b) Wat het Jesaja bedoel toe hy gevra het: “Hoe lank?”
10 Die fout het by die volk gelê. Hoewel Jesaja hulle toegelaat het om ‘altyddeur te hoor’, wou hulle nie kennis inneem of begrip verkry nie. God het vooraf gesê dat die meeste, vanweë hulle hardkoppige en ongeestelike gesindheid, nie gunstig sou reageer nie. ’n Minderheid sou dalk. Maar die meerderheid sou so blind wees asof hulle oë met die sterkste gom toegeplak is, as jy jou dit kan voorstel. Hoe lank sou hierdie slegte toestand voortduur? Dít is wat Jesaja gevra het, en nie hoe lank hy sou moes dien nie, toe hy wou weet: “Hoe lank, [O Jehovah]?” God het geantwoord: “Totdat die stede verwoes lê, sonder inwoners.” En so het dit gebeur, ofskoon ná Jesaja se leeftyd. Die Babiloniërs het die mense weggevoer, en Juda is “verwoes . . . tot ’n wildernis”.—Jesaja 6:11, 12, vgl. NW; 2 Konings 25:1-26.
11. Hoe het Jesaja se prediking vertroosting gebied?
11 Maar ten slotte het Jehovah Jesaja verseker dat alles nie hopeloos is nie. “Daar sal nog ’n tiende in [die land] wees.” Ja, dit was ‘soos ’n groot boom waarin daar, nadat dit afgekap is, ’n stomp, ’n heilige saad is’ (Jesaja 6:13, NW). Na 70 jaar van Babiloniese ballingskap het ’n saad, of oorblyfsel, na die land teruggekeer, soos ’n nuwe loot wat uit die stomp van ’n groot boom te voorskyn kom. (2 Kronieke 36:22, 23; Esra 1:1-4; vergelyk Job 14:7-9; Daniël 4:10, 13-15, 26.) Hoewel Jesaja se boodskap somber was, het dit derhalwe ’n vertroostende element bevat. Ons het egter Skriftuurlike rede om Jesaja as ’n model van toekomstige ontwikkelinge te beskou. Hoe so?
Groter vervullings
12. Watter Skriftuurlike grondslag is daar om Jesus die Grotere Jesaja te noem?
12 Eeue na Jesaja se dood het iemand gekom wat ons die Grotere Jesaja kan noem—Jesus Christus. In sy voormenslike bestaan het hy hom vrywillig aangebied om deur sy Vader na die aarde gestuur te word, waar hy dinge wat Jesaja geskryf het in sy prediking sou insluit (Spreuke 8:30, 31; Johannes 3:17, 34; 5:36-38; 7:28; 8:42; Lukas 4:16-19; Jesaja 61:1). Jesus het hom nog sprekender met Jesaja verbind deur Jesaja hoofstuk 6 op homself toe te pas toe hy verduidelik het waarom Hy onderrig het op die manier wat Hy dit gedoen het (Mattheüs 13:10-15; Markus 4:10-12; Lukas 8:9, 10). Dit was gepas, want die meeste Jode wat Jesus gehoor het, wou ewemin sy boodskap aanvaar en daarvolgens handel as wat diegene wat die profeet Jesaja gehoor het sý boodskap wou aanvaar (Johannes 12:36-43). En in 70 G.J. het die Jode wat hulle ‘blind en doof’ gehou het vir Jesus se boodskap ’n vernietiging soos dié van 607 v.G.J. ondergaan. Hierdie verwikkeling in die eerste eeu was ’n verdrukking oor Jerusalem ‘soos daar van die begin van die wêreld af nie gewees het en ook nie weer sou wees nie’ (Mattheüs 24:21). Maar soos Jesaja voorspel het, het ’n oorblyfsel, of “heilige saad”, geloof beoefen. Hulle is gevorm tot ’n geestelike nasie, die gesalfde “Israel van God”.—Galasiërs 6:16.
13. Waarom kan ons nog ’n vervulling van Jesaja 6 verwag?
13 Dit bring ons by nog ’n Bybelse vervulling van Jesaja hoofstuk 6. As ’n sleutel om dit te verstaan, moet ons die apostel Paulus se woorde van omstreeks 60 G.J. beskou. Hy het verduidelik waarom baie Jode wat hom in Rome gehoor het nie sy ‘getuienis oor die koninkryk van God’ aanvaar het nie. Die rede was dat Jesaja 6:9, 10 weer eens vervul is (Handelinge 28:17-27). Beteken dit dat Jesus se gesalfde dissipels, nadat hy die aardse toneel verlaat het, ’n opdrag soos Jesaja s’n moes uitvoer? Ja, beslis!
14. Hoe sou Jesus se dissipels ’n werk soos dié van Jesaja doen?
14 Voordat die Grotere Jesaja na die hemel opgevaar het, het hy gesê dat sy dissipels heilige gees sou ontvang en daarna sy “getuies [sou] wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Handelinge 1:8). Net soos die offeraltaar die nodige voorsien het om Jesaja se sonde weg te neem, was Jesus se offer die grondslag vir die ‘versoening’ van sy dissipels se sonde (Levitikus 6:12, 13; Hebreërs 10:5-10; 13:10-15). God kon hulle dus met heilige gees salf, wat hulle ook in staat sou stel om ‘getuies te wees tot aan die uiterste van die aarde’. Die profeet Jesaja sowel as die Grotere Jesaja is gestuur om God se boodskap te verkondig. Jesus se gesalfde volgelinge is eweneens “van God gestuur . . . in die geselskap van Christus”.—2 Korinthiërs 2:17, NW.
15. Wat is in ons tyd die algemene reaksie op die prediking soos dié van Jesaja, en op watter toekoms wys dit?
15 In ons tyd, veral sedert die einde van die Eerste Wêreldoorlog, het gesalfde Christene besef dat dit nodig is om God se boodskap te verkondig. Dit sluit ’n feit in wat ’n mens tot nadenke stem, naamlik dat die “dag van die wraak van onse God” ophande is (Jesaja 61:2). Daardie vernietiging sal veral ’n slag wees vir die Christendom wat, soos eertydse Israel, lankal beweer dat dit God se volk is. Ondanks die feit dat God se gesalfde getuies al dekades lank lojaal preek, het die meeste mense in die Christendom ‘hulle hart onontvanklik en hulle ore ongevoelig gemaak; hulle oë is toegestryk’. Jesaja se profesie dui aan dat hierdie toestand sou voortduur “totdat die stede verwoes lê, sonder inwoners, en die huise sonder mense en die land verwoes is tot ’n wildernis”. Dit sal die einde van hierdie goddelose stelsel kenmerk.—Jesaja 6:10-12.
“Stuur my”
16. Waarom kan daar gesê word dat die “groot menigte” ’n werk soos dié van Jesaja doen?
16 Daar is vandag miljoene getroue Christene wat die Bybelse hoop het om vir ewig op ’n paradysaarde te woon. Op grond van Jesus se offerbloed kan hierdie “groot menigte” se sondes vergewe word in die mate wat nou nodig is. Hulle ontvang ook krag en ondersteuning deur middel van God se gees terwyl hulle saam met die oorblywende gesalfde Christene sê: “Hier is ek, stuur my.” Stuur hulle om wat te doen? Paulus sê in Romeine 10:13-15: “Elkeen wat die Naam van [Jehovah] aanroep, sal gered word. Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos [in Jesaja 52:7] geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat . . . die evangelie van die goeie verkondig!”—Openbaring 7:9-15.
17. Wat is die inhoud van ons boodskap wat met Jesaja se profesie ooreenkom?
17 Onthou dat Jesaja gesê het: “Hier is ek, stuur my” voordat hy geweet het wat die volle inhoud van die boodskap is. Daarteenoor weet ons wat God nou verkondig wil hê deur diegene wat sy uitnodiging aanneem: “Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan?” Dit sluit ’n waarskuwing teen die “dag van die wraak van onse God” in. Tog sluit die boodskap ook “die evangelie van die goeie” in. Diegene wat “gestuur word”, verkondig byvoorbeeld ‘vrylating aan die wat gevangene geneem is en dat selfs die oë van die gevangenes wyd oopgemaak sal word’. Behoort dit nie groot bevrediging te verskaf om dit te doen nie?—Jesaja 61:1, 2, NW.
18, 19. Op watter spesiale maniere sê talle: “Stuur my”?
18 As jy reeds “die evangelie van die goeie” verkondig, kan hierdie hersiening van Jesaja hoofstuk 6 jou aanspoor om te vra: Hoe kan ek die gees van Jesaja 6:8 in groter mate openbaar? Soos in die geval van die egpaar wat in die begin gemeld is, het honderde deelgeneem aan die ‘Internasionale Vrywillige Konstruksiewerkers’-program. Baie ander, wat nie konstruksievaardighede het nie, het verhuis na lande waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Dit moet liefs gedoen word nadat die takkantoor van die Wagtoringgenootskap geraadpleeg is. Beplanning is natuurlik noodsaaklik, want taal, lewenstandaarde, werkgeleenthede en ander dinge is dalk in ’n vreemde land heeltemal anders. Maar moenie die moontlikheid uit die staanspoor verwerp bloot omdat groot aanpassings dalk nodig sal wees nie. Talle met die gesindheid van “Hier is ek, stuur my”, het sulke stappe gedoen en is gevolglik ryklik deur God geseën.—Vergelyk Spreuke 24:27; Lukas 14:28-30.
19 Nog ander—ongetroude broers of susters, egpare, selfs hele gesinne—het verhuis na ’n ander plek in hulle eie land of gebied waar daar ’n groter behoefte aan Koninkryksverkondigers of Christenopsieners is (Handelinge 16:9, 10). Dit het dalk opofferinge geverg, soos om ’n ander soort sekulêre werk, moontlik ’n minder lonende werk, te aanvaar. Sommige het met ’n beperkte pensioen vroeg afgetree en deeltydse werk gekry sodat hulle meer tyd vir die bediening het. Hoe goed is dit tog wanneer hele gesinne sê: “Hier is ons, stuur ons.” Ook dit stem ooreen met Jesaja se situasie. Sy vrou het God se wil daadwerklik as ’n profetes gedoen, en sy seuns was betrokke by profetiese boodskappe.—Jesaja 7:3, 14-17; 8:3, 4.
20. Wat moet jy jou afvra, gedagtig aan Jesaja 6:8?
20 Al laat jou huidige omstandighede nie sulke groot veranderinge toe nie, kan jy jou afvra: ‘Doen ek my bes waar ek is, in navolging van Jesaja se geseglikheid?’ Span jou in om God se boodskap te verkondig, selfs in gure weer of ondanks mense se onverskilligheid; Jesaja het beslis dieselfde gedoen. Praat ywerig met ander oor die “evangelie van die goeie”. Jehovah het gesê: “Wie sal ek stuur?” Bewys dat jy, soos Jesaja van die ou tyd, antwoord: “Hier is ek, stuur my” om Sy boodskap te verkondig.
Gedagtes ter hersiening
◻ Onder watter omstandighede het Jesaja die gesig in hoofstuk 6 ontvang, en wat het hy gesien?
◻ Watter soort opdrag het Jesaja ontvang?
◻ Waarom kan Jesus die Grotere Jesaja genoem word, en hoe is sy dissipels betrokke by ’n werk soos dié van Jesaja?
◻ Hoe kan jy ’n gees soos dié van Jesaja openbaar?
[Prent op bladsy 17]
Jesaja is gereinig en gestuur om te preek
[Prent op bladsy 18]
Baie het gereageer en gesê: “Hier is ek, stuur my”