Koninkryksverkondigers berig
Getuie-skoliere word geprys
IS JY, as ’n leerling op skool, skugter om vir jou geloof op te kom? Die ondervindinge hieronder toon dat hierdie jong Getuies nie bang was om hulle Christelike geloof te verdedig nie en dat hulle daarvoor geprys is.
◻ By ’n skool in Australië is die leerlinge aangesê om ’n opstel oor Kersfees te skryf, maar die onderwyser het vir ’n 11-jarige Getuie gesê: “Ek weet dat jy een van Jehovah se Getuies is, en jy kan dus nie oor Kersvierings skryf nie. Jy kan ’n ander opstel oor ‘Die geskiedenis van Kersfees’ skryf.” Die jong suster het hierdie opstel saamgestel met behulp van gepaste inligting uit die Genootskap se publikasies en ander naslaanboeke. Tot die klas se verbasing het die onderwyser gesê dat die inligting uitstekend en geskiedkundig akkuraat was. “Van al die opstelle wat ek ontvang het, is joune die beste in die klas”, het die onderwyser gesê. Die jong Getuie het gevolglik een Skool-brosjure, 15 tydskrifte, een Jeug-boek en twee Paradys op aarde-boeke by haar onderwyser en mede-leerlinge gelaat.
◻ In ’n ander skool in Australië het ’n waarnemende onderwyseres vir die laaste drie weke van die skool elke middag oor agt Getuiekinders toesig gehou omdat hulle nie aan Kersvierings deelgeneem het nie. Sy het later aan die moeder van party van die kinders gesê: “Die aandeel wat ek gehad het, was maar klein. ’n Hele paar van die onderwysers het ingekom en gevra hoe dit gaan. Ek het vir hulle gesê: ‘Dit maak nie saak wat julle dink van hulle godsdiens en hoe hulle hul aan sekere aktiwiteite onttrek nie. Hierdie is die beste klompie kinders waarmee ek ooit gewerk het.’” Toe sy ’n paar weke later tydens die huis-tot-huisbediening besoek is, het sy gesê: “Terloops, het julle oorvertel wat ek oor die kinders by die skool gesê het? Ek wil hê dat almal moet weet.”
◻ Uit die Verenigde State kom hierdie ondervinding van een 17-jarige senior op hoërskool wie se regsklas in ’n bespreking gewikkel was oor die regte wat verband hou met vryheid van godsdiens en die skeiding van Kerk en Staat. Twee van die gevalle het gehandel oor Jehovah se Getuies en die bloedkwessie. Die jong suster het gevind dat die verslag wat ter sprake was eensydig en onregverdig was wat die Bybelwaarhede oor bloed betref en het dit vir haar onderwyser gesê. Hy het gereageer deur haar die geleentheid te gee om met die klas te praat. Voor haar bespreking het die leerlinge gedink dat die howe die regte besluit geneem het toe hulle die Getuies gedwing het om teen hulle wense bloedoortappings te ondergaan. Maar nadat hulle die Bybelgebaseerde redenering gehoor het, het die klas eenparig teen die hof se beslissings gestem. Ons suster was bly toe baie van die leerlinge haar genader het en meer inligting gevra het oor wat Jehovah se Getuies glo. Sy sê dat sy nou beter besef dat die skool haar spesiale gebied is.
Ja, julle skoliere het ’n unieke gebied. Gaan vriendelik voort, wanneer julle die geleentheid het, om julle medeleerlinge te help om van God se wonderlike voorneme te leer, en julle sal nie net deur ander nie, maar deur Jehovah self geprys word!—Job 40:9.