Is eerlikheid ouderwets?
EERLIKHEID as ’n lewenswyse—is dit in die hedendaagse wêreld ouderwets, oorboord gegooi as iets wat nie meer prakties of werklik waardevol is nie? Dit wil so voorkom. Beskou ’n paar voorbeelde van hoe algemeen oneerlikheid is, die vorms wat dit aanneem, die vlakke waartoe dit deurgedring het en hoe duur die las daarvan geword het.
In die laaste jare is die koste van Wes-Duitsland se belastingbedrog op R20-miljard per jaar geskat, en in Swede beloop die jaarlikse koste R1 440 per persoon. As jy dus in een van hierdie lande woon, beïnvloed oneerlikheid die belasting wat jy betaal. In die Verenigde State is kullery met inkomstebelastingbetalings so algemeen dat die staat jaarliks ongeveer R200-miljard aan inkomste verloor. Dink hoe al daardie geld sou help om die verstommende federale begrotingstekort af te betaal! Daarbenewens verkul onwettige sakeondernemings die Amerikaanse regering met ’n verdere R20-miljard. Winkeldiefstal en stelery in die Verenigde State kos winkels R8-miljard per jaar en gevolglik word die pryse van goedere verhoog. Hooflynoproepe wat oneerlik op iemand anders se nommer geplaas word, kos Amerikaners R2-miljoen per jaar.
In Kanada kos “tydrowers”, diegene wat tyd by die werk verspil, hulle werkgewers R22-miljard per jaar, “meer as drie maal die totale verlies as gevolg van werknemers met ‘lang vingers’, verduistering, versekeringsbedrog, vernielsug, gunslone, brandstigting en ander wesenlike misdrywe teen die handel”. Volgens ’n studie in 1986 beloop die las van tyddiefstal in die Verenigde State R340-miljard per jaar.
Suksesvolle firmas met ’n omset van etlike miljoene rande steel gulsig van hulle eie regerings. Hoe? Deur gereedskap en onderdele teen buitensporige pryse aan hulle te verkoop: skroefsleutels van 24 sent teen R19 212; transistors van R1,34 teen R1 628; plastiekdoppe van 34 sent vir stoelpote teen R2 236. “Jy praat van [miljarde rande]” se verlies vir die regering, het ’n Amerikaanse senator gesê.
Benewens die voormelde werk die slegte voorbeelde van vooraanstaande persone uit alle oorde eerlikheid teë. Soos jy miskien gesien het, is daar leiers in sommige lande wat leuens vertel, die feite verdraai en verbloem en hulle verantwoordelikheid ontwyk—ja, selfs hulle politieke mededingers vermoor en die skyn wek dat iemand anders daarvoor verantwoordelik is.
Is dit dus ouderwets om eerlik te wees? Is eerlikheid nie meer die beste beleid nie? Is eerlikheid die beste net omdat God se Woord sê dat ons eerlik moet wees? Die volgende artikel is belangrik vir jou as jy antwoorde op hierdie vrae wil hê.