Wat beteken dit om eerlik te wees?
OM EERLIK te wees beteken om waarheidliewend en vry van bedrog te wees. Eerlikheid vereis dat jy ander regverdig behandel—openhartig, opreg, nie bedrieglik of misleidend nie. ’n Eerlike mens is onkreukbaar. Hy is altyd betroubaar en sal dus nooit sy medemens verkul nie. Ons almal wil graag so behandel word, nie waar nie? Kan eerlikheid dus ooit ouderwets raak?
Die Christen sien dadelik uit die bogemelde definisies waarom enigiemand wat beweer dat hy ’n ware aanbidder is eerlik moet wees (Johannes 4:24). Hy aanbid “Jehovah, die God van waarheid” (Psalm 31:5, NW; Titus 1:2). Net “waarheidliewende manne” is redelikerwys bevoeg om God te verteenwoordig.—Exodus 18:21, voetnoot in NW-naslaanuitgawe.
Eerlikheid raak baie aspekte van ons lewe, en die apostel Paulus het dus begryplikerwys gesê: “Ons wil ons in alle dinge eerlik gedra.” Dit sluit in eerlikheid in spraak, by die werk, in gesinsaangeleenthede, in saketransaksies en in gehoorsaamheid aan watter wetlike vereistes regerings ons ook al oplê.—Hebreërs 13:18, NW.
In ons spraak
Daar is baie maniere—hoewel dit dikwels as onskuldig en aanvaarbaar beskou word—waarop mense nie die waarheid praat nie. Hulle vervals onder meer verslae oor werkure, laat kinders onwaarhede aan besoekers vertel, gee onjuiste opgawes aan versekeringsagente en vertel leuens dat hulle siek is sodat hulle van diens vrygestel kan word.
Ons moet soms inligting skriftelik verstrek. Mense wat nooit mondelings leuens sal vertel nie, meen om die een of ander rede dat dit ’n ander saak is wanneer hulle inkomstebelastingopgawes moet indien of by ’n landsgrens ’n volledige verklaring vir doeanebeamptes moet uitskryf. Alle belastingbetalers betaal vir hierdie kullery. Is dit ware naasteliefde? Het Christene nie buitendien ’n plig om ‘aan die keiser te betaal wat die keiser toekom’ nie?—Lukas 20:25; 10:27; kyk ook Romeine 13:1, 2, 7, 8.
Ons wil beslis in ons spraak “die God van waarheid” navolg, nie ‘die vader van die leuen’ nie (Psalm 31:5, NW; Johannes 8:44). Gewetenlose mense maak dalk van dubbelsinnigheid gebruik om feite te verdraai en om te bedrieg. Maar ons het nie ons naaste lief as ons hom ’n leuen vertel nie. Daarbenewens het leuenaars geen ware toekoms nie.—Efesiërs 4:25; Openbaring 21:27; 22:15.
By die werk
Dit is ’n redelike en Skriftuurlike vereiste dat jy jou loon met ’n eerlike dag se werk verdien (Kolossense 3:22-24). Daar is nietemin derduisende tyddiewe wat maatskappytyd op lang rustye verspil, laat by die werk aankom en vroeg vertrek, baie tyd aan persoonsversorging bestee nadat hulle by die werk aangekom het, die maatskappytelefoon vir lang, ongemagtigde persoonlike oproepe gebruik, hulle eie sake gedurende maatskappytyd reël en selfs ’n uiltjie knip. Hulle diefstal bring vir almal hoër koste mee.
Ander vorms van diefstal by die werk sluit in dat voorrade en toerusting vir persoonlike gebruik geneem word. Party beweer dat dit bloot vir ontoereikende salarisse vergoed, asof hulle ’n suinige werkgewer sodoende in gelyke munt betaal! Maar as iemand sonder die kennis en toestemming van die eienaar of werkgewer iets neem, is dit in werklikheid ’n vorm van diefstal.
Die ware Christen sal in al hierdie situasies die geïnspireerde raad toepas: “Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer . . . met sy hande . . . werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het.”—Efesiërs 4:28; Handelinge 20:35.
Maar sê nou jou werkgewer vra jou om iets oneerliks of onwettigs te doen en dreig om jou te ontslaan as jy nie inwillig nie. Wat dan? Hy vra jou byvoorbeeld om ’n klant te laat betaal vir die vervanging van motoronderdele wat nie aan die motor aangebring is nie; goedkoper, minderwaardige handelsware in dose te verpak sodat klante duurder moet betaal; nuwe “laer pryse” op goedere te skryf terwyl die oorspronklike pryse dieselfde of laer was. Talle werknemers sal meen dat die werkgewer daarvoor aanspreeklik is, nie die werker nie. Wat het Jehovah se Getuies gedoen wanneer hulle voor so ’n situasie te staan gekom het? Daryl J vertel:
“Terwyl ek as ’n produktebestuurder by ’n kruidenierswinkel gewerk het, het die bestuur my gevra om die winsruimte te vergroot sonder om enige van die pryse te verhoog. Hulle het voorgestel dat ek dit doen deur die massa van sekere produkte te oordryf en onegte kreditnotas aan ’n verskaffer te stuur. Algemene gebruike, maar oneerlik.”
Daryl het geweier om die feite te verdraai en te kul (Spreuke 20:23). Hy is ’n paar weke later ontslaan. Was hy onverstandig om sy gesin aan die gevolge van sy werkloosheid te onderwerp? Het hy sy eerlikheid berou? Nee, want toe ’n mede-Getuie van die gebeure gehoor het, het hy hom in diens geneem. Daryl sê: “Ek kon myself en my gesin binne drie tot vier weke weer op ’n eerlike wyse onderhou. Ek beskou dit as ’n voorreg om deur Jehovah geseën te word omdat ek my onkreukbaarheid teenoor hom gehandhaaf het.”
Daarenteen kan jy ’n werk kry juis omdat jy eerlik is. ’n Agent van ’n welbekende, internasionale versekeringsmaatskappy het die eienaar van ’n suksesvolle winkel in die middestad van Toronto, Kanada, aangeraai om sy probleme met werkersdiewery op te los deur Jehovah se Getuies in diens te neem. Die agent verduidelik: ‘Terwyl ek my versekeringsopleiding in ’n ander stad ontvang het, het ek uitgevind dat een van hulle kliënte ’n groot kettingwinkel was wat slegs Getuies in diens geneem het om saans nuwe voorraad op die kruideniersrakke te pak. Hulle het ’n paar stelle met ander werkers afgetrap, maar het geen verliese gely sedert hulle die sleutels vir die Getuies gegee het om na ure in te kom en die voorrade aan te vul nie.’
Ander maniere om eerlik te wees
Wanneer iemand geld leen, is hy dikwels nederig en eerbiedig en gee hy die versekering dat hy dit sal terugbetaal en dat hy dankbaar is vir die hulp. Maar wanneer die tyd aanbreek om die skuld te vereffen, verander sommige leners se gesindheid heeltemal. Woede, vyandigheid, klagtes dat hy lastig geval word vir betaling en bewerings dat die uitlener genadeloos is, kom dan algemeen voor. In die lener se oë het die vrygewige uitlener nou in ’n monster verander! Maar die Bybel sê dat ‘die lener wat nie teruggee nie goddeloos is’ (Psalm 37:21; Romeine 13:8). Dit sou veral die geval wees wanneer die lener geen poging aanwend om selfs klein bedrae terug te betaal om sy goeie bedoeling te toon en moontlik nie eers probeer om met die uitlener in verbinding te tree nie.
In die gesinslewe is eerlikheid in talle opsigte nodig: Die gesinshoof behoort eerlik met sy vrou te wees oor sy inkomste en finansiële sake; die vrou moet eerlik met hom wees oor hoe sy die gesinsfondse bestee; hulle albei moet onkreukbaar wees, en dit sluit in dat hulle hulle geslagsbelange tot mekaar beperk; die kinders behoort eerlik en gehoorsaam te wees betreffende hulle omgang en vorme van vermaak, in ooreenstemming met hulle ouers se uitdruklike wense.—Efesiërs 5:33; 6:1-3.
Dit behoort uit die voorgaande duidelik te wees dat ’n ware Christen moet “afstand doen van die ongeregtigheid”—die bose werke en slegte vrugte wat met oneerlikheid, leuens, misleiding, kullery en sedebederf gepaard gaan.—2 Timotheüs 2:19; Romeine 2:21-24.
Belonings en voordele
As jy regverdig en openhartig, asook opreg in jou handelinge met ander is, bevorder dit eerlikheid. ’n Klimaat van vertroue en vrymoedigheid ontwikkel aldus en lei tot heilsame gesindhede en verhoudinge. Eerlikheid skep ook ’n atmosfeer van vertroue, sodat ’n mens se leefwyse vry is van tyd- en kragrowende verdedigende optrede wat deur wantroue, twyfelgedagtes en vrese oor ander veroorsaak word.—Vergelyk Jesaja 35:8-10.
Eerlikheid dra daartoe by dat ons ’n rein gewete het, wat noodsaaklik is as ons “die lewende God” op ’n aanneemlike wyse wil dien (Hebreërs 9:14; 1 Timotheüs 1:19). Dit bring gemoedsrus mee wat tot ’n goeie nagrus lei. Jy kan ander sonder verleentheid in die oë kyk. Eerlikheid verdryf die knaende vrees dat jy op ’n misdryf betrap kan word. Ons behou sodoende ons menswaardigheid en selfrespek. Hoe kan dit ooit ouderwets of onprakties wees?
As ons eerlik is, sal dit vir ons en ander talle belonings en voordele meebring. Maar ons behoort allereers eerlik te wil wees nie bloot omdat dit die beste beleid is of omdat ons beveel word om eerlik te wees nie, maar omdat ons ons Vader Jehovah liefhet. Ons wil ons kosbare verhouding met hom behou en sy goedkeuring wegdra. Ons wil ook eerlik wees omdat ons daardeur naasteliefde betoon. Dit beteken dus eenvoudig dat ’n ware Christen eerlik moet wees.—Mattheüs 22:36-39.
Die psalmis sê: “HERE, wie mag vertoef [“’n gas wees”, NW] in u tent? Wie mag woon op u heilige berg? Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek; wat . . . sy vriend geen kwaad doen [nie]” (Psalm 15:1-3). As ons as aanbidders van Jehovah ’n eerlike lewe lei, sal ons, wanneer hy tereg hierdie teenswoordige, onregverdige stelsel vernietig en wanneer “die tent van God by die mense is”, onder diegene wees wat as sy “gas” ewige seëninge geniet. Dan sal ons nooit ouderwets wees nie!—Openbaring 21:1-5, NW.
[Venster op bladsy 5]
Kan jy die uitdaging aan jou eerlikheid die hoof bied?
Die wêreld waarin ons lewe, stel ’n uitdaging aan ons oortuigings en ons vasbeslotenheid om te doen wat reg is. Dit is gestruktureer om egoïsme, selfs ten koste van ander, te beklemtoon.
Is dit jou opregte beskouing dat eerlikheid steeds die beste beleid is? Is jou oortuigings so sterk dat jy eerlik sal bly wanneer druk op jou uitgeoefen word? Wat sal jy byvoorbeeld doen as jy:
◻ na maande van werkloosheid ’n groot bedrag geld vind wat jou in staat sal stel om al jou rekeninge te betaal en nog geld oor te hê?
◻ die punte wat jou finansiële toekoms kan bepaal slegs kan behaal deur in ’n belangrike skooleksamen te kul?
◻ as ’n wetenskaplike erken sal word as jy die gegewens van jou navorsing “aanpas” sodat jou verslag gepubliseer sal word?
◻ tydens jou vakansie in ’n ander land ’n duur item teen ’n baie goeie prys koop, maar jy hoë belasting daarop sal moet betaal as jy dit by die landsgrens verklaar?
[Venster op bladsy 6]
Eerlike dade is nie ouderwets nie
Gee mense nog vir hulle medemens om? Ja, selfs al skep koerantberigte die indruk dat eerlike dade die uitsondering en gevolglik nuuswaardig is.
Die polisie in Fort Wayne, Indiana, VSA, het diewe probeer lok deur ’n duur TV-stel in ’n oop motor te plaas. Hulle het die motor etlike weke lank dopgehou om te sien wat sou gebeur. “Ons het gevind dat mense by die motor verbyloop, inkyk en die TV sien, die deur oopmaak, die slotknoppie afdruk, die deur toemaak en aanloop.” Hulle was dus eerlik.
Kanadese koerantopskrifte vertel van verlore kontant wat danksy die heilsame uitwerking van Bybelonderrig terugbesorg is:
“Barmhartige Samaritane red vakansie.”—The Windsor Star
“Eerlike Pat lewer $421 [R628] in.”—The Spectator
“Terugbesorging van verlore $983 [R1 467] herstel handelaar se geloof.”—The Toronto Star
In hierdie gevalle was dit Jehovah se Getuies wat die verlore kontant ingelewer het. In die eerste geval het twee jong Getuies wat van deur tot deur getuig het ’n beursie gevind en dit aan ’n vrou terugbesorg. Sy het gesê: “Ek dink daardie seuns is buitengewoon. . . . Dit herstel werklik jou geloof in die menslike natuur, weet jy.” Aangesien sy nie in daardie dorp gewoon het nie, kon die jongmense die geld maklik gehou het, maar hulle het gesê: “Dit was niks. Ons het bloot iets goeds vir iemand anders gedoen.”
Daar was eweneens ’n reisiger by die tweede geval betrokke. “Maar die versoeking het geen twyfel in die vinder se gedagte laat ontstaan nie”, het die koerant berig. Die vinder het verduidelik dat hy een van Jehovah se Getuies is, “en ons glo vas aan eerlikheid”.
In die derde geval het die persoon wat die kontant verloor het, “erken dat hy byna sy geloof in die menslike natuur verloor het”. Die man van die Getuie wat die bruin papiersak met die kontant gevind het, het vir die verslaggewer gesê dat Bybelonderrig die sleutel was: “Dit het dit vir my vrou maklik gemaak” om die geld in te lewer.
In nog ’n geval het twee Getuies wat van huis tot huis getuig het ’n verlore salariskoevert gevind. Toe hulle dit na die plaaslike polisiestasie geneem het, het die diensdoende sersant gesê dat geen verlore geld aangemeld is nie. Die Getuie het voorgestel dat die vonds oor die plaaslike radiostasie aangekondig word. Die polisieman het enigsins dronkgeslaan gelyk. Hy het gesê: “Jy doen baie moeite om hierdie geld terug te gee. Sê my, tot watter godsdiens behoort jy?” Toe die Getuie daarop antwoord, het die sersant gesê: “Ek het so gedink, want julle is die enigste mense wat eerlik genoeg is om soveel moeite te doen.”
Terwyl een van Jehovah se Getuies, W. K , van huis tot huis getuig het, is ’n uiters ongewone versoek tot hom gerig. Die huiseienaar en sy vrou was albei baie siek, maar moes daardie dag ’n banktransaksie doen. Hulle het die Getuie gevra of hy dit sou doen. Toe hy inwillig, het hulle hom R4 000 in kontant gegee om na die bank te neem. Met sy terugkeer van die bank moes hy eenvoudig vra: “Hoe kon julle my vertrou as julle my nie eers ken nie?” Die antwoord: “Ons weet, en almal weet, dat net Jehovah se Getuies vertrou kan word.”
Hoewel daar benewens Jehovah se Getuies beslis eerlike mense in alle lande is, lyk dit asof hulle so yl gesaai is dat hulle in die besonder gemeld moet word. Hoe dankbaar kan ons tog wees dat die Bybelleer oor eerlikheid voordelige en praktiese vrugte afwerp!