Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 10/15 bl. 21-23
  • Sal God ooit iets omtrent ongeregtigheid doen?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sal God ooit iets omtrent ongeregtigheid doen?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ongeregtigheid—Waarom is dit toegelaat?
  • Wanneer sal ongeregtigheid eindig?
  • “Wil dit sê dat God onregverdig is?”
  • Sal daar ooit geregtigheid wees?
    Nog onderwerpe
  • Jehovah het geregtigheid lief
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Die beste manier om op ongeregtigheid te reageer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • “Is daar onregverdigheid by God?”
    Kom nader aan Jehovah
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 10/15 bl. 21-23

Sal God ooit iets omtrent ongeregtigheid doen?

“DIS eenvoudig nie regverdig nie.” Die jong student was kenlik ontsteld en vol verontwaardiging nadat sy persoonlik ’n ooglopende bespotting van die gereg ondervind het. “As daar werklik ’n God is”, het sy voortgegaan, “hoe kan hy sulke ongeregtigheid toelaat?” Sou jy empatie met hierdie jong vrou gehad het? Waarskynlik. Maar sou jy ook haar beswaar kon beantwoord?

Toe jy ’n kind was, het jy miskien soms gemeen dat jou ouers toelaat dat jy onregverdig behandel word. Maar daardie oënskynlike onregverdigheid het nouliks bewys dat hulle nie bestaan het nie, nie waar nie? Net so bewys die feit dat God ongeregtigheid toelaat geensins dat hy nie bestaan nie.

Die jong student het egter geantwoord dat dit ’n heel ander saak is. Sy het daarop gewys dat ’n onvolmaakte mensevader dalk self ook ietwat onregverdig is. Of, hy herken onregverdigheid moontlik nie wanneer hy dit sien nie, omdat hy nie al die feite ken nie. Hy is dalk boonop, as gevolg van menslike beperkings, magteloos om enigiets te doen aangaande die ongeregtighede wat hy sien. Sy het aangevoer dat nie een van hierdie dinge van toepassing is op ’n regverdige God wat alwetend en almagtig is nie.

Jy meen dalk ook dat die toelating van ongeregtigheid eenvoudig nie met goddelike eienskappe strook nie. Maar het God miskien in sy uiterste wysheid ’n geloofwaardige rede om ongeregtigheid ’n tyd lank toe te laat?

Bybelskrywers het God beskou as iemand wat ‘geregtigheid en reg lief het’. “Al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie geen onreg is nie”, het Moses geskryf.—Psalm 33:5; Deuteronomium 32:4, NW; Job 37:23.

Behalwe dat Bybelskrywers Jehovah as ’n regverdige God beskou het wat geen behae in ongeregtigheid het nie, was hulle dit eens dat hy dit eendag sou uitwis. Jesaja het byvoorbeeld hierdie toestand voorspel: “Kyk, ’n koning sal regeer in geregtigheid, en die vorste sal heers volgens reg. En die reg woon in die woestyn, en die geregtigheid hou verblyf in die vrugteboord” (Jesaja 32:1, 16). Maar wanneer? En waarom het God ongeregtigheid in die eerste plek toegelaat as hy die wêreld daarvan wil bevry?

Ongeregtigheid—Waarom is dit toegelaat?

Daar was ’n tyd toe daar geen ongeregtigheid in die heelal was nie. Dit is maar sedert Adam en Eva onder druk van Satan die Duiwel in opstand gekom het dat die mensdom ongeregtigheid ken. Satan is nie onmiddellik ten tyde van die opstand vernietig nie. God het vir sy eie goeie doel ’n tydperk toegelaat waartydens die mens ongeregtighede sou pleeg, en dit was sodat diegene wat aan Hom toegewy is, getoets kon word en kon toon of hulle aan Hom getrou sou bly. Hulle keuse om handhawers van onkreukbaarheid te wees, sou wys dat Satan nie die vermoë het om alle mense teen God te laat draai nie. Met God se soewereiniteit aldus geregverdig, sou Satan se werke vernietig word en alle ongeregtighede uit die weg geruim word.

Indien God mense intussen kragdadig sou keer om onregverdig te handel, sou hy hulle van hulle wilsvryheid beroof. Deur toe te laat dat mense die onregverdige gevolge van ander se verkeerde dade ondervind, lig God daarbenewens toe hoe nadelig dit was dat Adam en Eva ten onregte teen goddelike voorskrifte gerebelleer het en dit deur hulle eie onvolmaakte standaarde vervang het. Deur toe te laat dat die mens maai wat hy gesaai het, help God opregte mense om te besef hoeveel beter dit is om dinge op sy manier te doen.—Jeremia 10:23; Galasiërs 6:7.

Mense se dade van geregtigheid of ongeregtigheid lewer boonop onthullende getuienis. Hierdie dade voorsien God van ’n akkurate grondslag waarop hy kan oordeel wie waardig is om op aarde in ’n nuwe wêreld te lewe wanneer volkome geregtigheid herstel is. Die volgende woorde dui hierop: “Maar as die goddelose hom bekeer van al sy sondes wat hy gedoen het, en al my insettinge onderhou en reg en geregtigheid doen, sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie.”—Esegiël 18:21.

Wanneer sal ongeregtigheid eindig?

Jehovah God se handelinge met die mens was nog altyd regverdig en is deur goedertierenheid gekenmerk. Wat God se getroue kneg Abraham van God gesê het toe hy nie kon verstaan waarom iets gebeur het nie, lig dit toe: “U sal tog nie so iets doen en die regverdiges saam met die goddeloses om die lewe bring nie! U sal tog nie die regverdiges soos die goddeloses behandel nie! Sal die regter van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie?” (Genesis 18:25, NAV). God se geregtigheid en goedertierenheid het met die koms van Christus verder na vore gekom. Die reëling van die losprysoffer deur middel van Christus Jesus het die weg vir almal geopen, Jood sowel as nie-Jood, om die ewige lewe te verkry. Dit het die apostel Petrus beweeg om te sê: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.”—Handelinge 10:34, 35.

Jehovah se Getuies verkondig ywerig dat God se Messiaanse Koning begin regeer het en dat die tyd naby is wanneer volkome geregtigheid op ons aarde herstel sal word.a Dit sal tot stand gebring word wanneer daardie Koning die huidige onregverdige wêreld vernietig en die mag van die wêreld se onsigbare god, Satan die Duiwel, verbreek. Die Bybel toon dat dit binnekort by “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” sal gebeur, wat oor die algemeen Armageddon genoem word.—Openbaring 16:14, 16.

‘God is nie onregverdig wanneer hy sy gramskap tot uiting bring nie’, en daarom sal Armageddon ’n regverdige oorlog wees (Romeine 3:5, NW). Christus Jesus en sy medeheersers, soos die apostels, sal daarna duisend jaar lank vanuit die hemel regeer (Openbaring 20:4). Miljoene mense wat in die verlede ongeregtighede verduur het, sal in ’n regverdige stelsel op die aarde, die mens se oorspronklike tuiste, opgewek word om vir die eerste keer in hulle lewens volmaakte regverdigheid te ondervind.

“Wil dit sê dat God onregverdig is?”

Die apostel Paulus het dit aangaande een van God se handelinge gevra. Die antwoord? “Natuurlik nie”, het Paulus geskryf. Paulus het mense met klei vergelyk wat deur ’n pottebakker gevorm word tot voorwerpe wat òf toorn, òf ontferming verdien, en hy het verduidelik: “Hoewel God gereed is om sy toorn te bewys en sy mag bekend te maak, verdra hy nietemin geduldig die mense wat hom toornig maak, hoe hulle ook al verdien om vernietig te word. Hy verdra hulle ter wille van daardie ander mense, teenoor wie hy lankmoedig wil wees, en aan wie hy die rykdom van sy heerlikheid wil bekend maak.”—Romeine 9:14, 20-24, The Jerusalem Bible.

Net soos die jong student wat vroeër gemeld is, vind jy dit miskien by tye moeilik om te verstaan waarom God ongeregtigheid in die algemeen of ’n spesifieke onreg toelaat. Maar wie is ons—die maaksels van sy hand—om sy lankmoedigheid en wysheid wat hy daardeur toon te bevraagteken? Jehovah God het aan Job gesê: “Wil jy werklik my reg verbreek, My veroordeel, dat jy gelyk kan hê?”—Job 40:3.

Ons wil nooit dááraan skuldig wees nie. Ons wil ons eerder verheug in die wete dat, hoewel ongeregtigheid steeds met ons is, die God van geregtigheid dit binnekort van die ganse aarde gaan verwyder.

[Voetnoot]

a Kyk bladsye 134-41 van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., vir bewys dat God se Koninkryk in 1914 sy onsigbare heerskappy oor die aarde begin het. Hierdie boek bevat ook ’n hoofstuk oor die onderwerp “Waarom het God goddeloosheid toegelaat?”

[Prent op bladsy 23]

Die feit dat ongeregtigheid toegelaat word, kan geensins gebruik word om te bewys dat God nie bestaan nie

Is dit God se skuld wanneer ’n dronk bestuurder weier om gesonde verstand, selfbeheersing en bedagsaamheid aan die dag te lê?

Die tyd is naby wanneer volkome geregtigheid op ons aarde herstel sal wees

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel