Soek jy verborge skatte?
“Mag genade en vrede vir julle vermeerder word deur die [juiste] kennis van God en Jesus, onse Here.”—2 PETRUS 1:2, vgl. “NW”.
1, 2. Watter faktore maak goud waardevol en duur?
WAAROM is goud so duur? Dit is maar ’n sagte metaal, en tog beloop die waarde daarvan honderde dollars per ons. Dit is weliswaar smeebaar en maak wel ’n mooi versiersel in die vorm van ’n ring of ’n armband (1 Timotheüs 2:9; Jakobus 2:2). Maar as jy in ’n woestyn verdwaal het en besig is om van honger en dors dood te gaan, sal jy dit nie kan eet of drink nie. In daardie situasie sal ’n brood of ’n bord rys en ’n glas water baie waardevoller as goud wees.
2 Waarom is goud dan so kosbaar? Vir eers is dit skaars en moeilik bekombaar. Byvoorbeeld, toe die Empire-goudmyn in Noord-Kalifornië in 1957 gesluit is omdat dit nie meer winsgewend was nie, het mynwerkers op ’n vertikale diepte van meer as 1 500 meter gewerk maar moes hulle drie kilometer skuins afsak om die goud te bereik. Tot op daardie stadium het die hoë goudprys die reusetaak om aan te hou goud soek die moeite werd gemaak.
3. Watter skat kan ons soek?
3 Ons kan egter na iets baie kosbaarders as goud delf. Wat is dit? Wyse koning Salomo het sowat 3 000 jaar gelede ’n antwoord gegee: “As jy na die insig roep, na die verstand [of, “onderskeidingsvermoë”, NW] jou stem verhef, as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind.” Stel jou voor dat nietige mense “die kennis van God” kan vind!—Spreuke 2:3-5.a
Waarom almal juiste kennis nodig het
4. Wat moet deel van ’n Christen se juiste kennis uitmaak?
4 Sedert die tyd van Christus het daardie noodsaaklike kennis uitgebrei sodat dit baie meer behels as wat vir die eertydse getroue Hebreeuse manne en vroue beskikbaar was. Soos Paulus dit gestel het: “Sodat die God van onse Heer Jesus Christus, die Vader van heerlikheid, julle ’n gees van wysheid en van openbaring in die juiste kennis van hom mag gee, sodat julle, deurdat die oë van julle hart verlig is, mag weet wat die hoop is waartoe hy julle geroep het, wat die glorieryke rykdom is wat hy as ’n erfenis vir die heiliges bewaar.”—Efesiërs 1:17, 18, NW.
5. Waarom moet die gesalfdes voortdurend op hulle kennis van God se wil let?
5 Destyds was dit direkte raad vir die heilige gesalfde broers van Christus, en dit is steeds vandag. As die sekondêre deel van die “saad” van die belofte is sulke mense spesiale teikens van Satan se geestelike ondermyning (Galasiërs 3:26-29, vgl. NW; Efesiërs 6:11, 12). Gesalfdes in die besonder moet hulle roeping vasmaak deur nie die vrye gawe van God se onverdiende goedheid te verwaarloos nie. Dit is waarom hulle hul geestelike kragte voortdurend moet versterk deur hulle juiste kennis van God se wil en Woord op te fris.—Efesiërs 3:7, NW; Hebreërs 6:4-6; 2 Petrus 1:9-12.
6. (a) Waarom het ons almal, hetsy ons ’n hemelse of aardse hoop het, juiste kennis nodig? (b) Wat is nodig om juiste kennis te verkry?
6 Wat van dié wat die hoop van ewige lewe op aarde het? Waarom is juiste kennis vir hulle van lewensbelang? Omdat daar nie verskillende grade van Christelike onkreukbaarheid is nie, asof daar ’n hoër standaard is vir die gesalfdes, wat ’n hemelse hoop het, as wat daar vir die ander skape is, wat ’n aardse hoop het (Johannes 10:16; 2 Petrus 3:13). Christelike beginsels is ewe geldig vir almal. Om daardie rede moet ons almal ons geestelike batterye gereeld met juiste kennis herlaai. Maar dit verg tyd en inspanning. Ons moet geestelike delfwerk doen, asof na verborge skatte.—Psalm 105:4, 5, vgl. NW.
Koop die tyd uit om te delf
7. (a) Watter hindernisse kan ons pogings om juiste kennis te verkry belemmer? (b) Wat kan die gevolge van geestelike nalatigheid wees?
7 Vandag lei die meeste mense ’n besige lewe, en dit lyk asof ons as Christene weens ons roosters vir Bybelvergaderinge, velddiens, sekulêre werk, huishoudelike take, skoolwerk, ensovoorts selfs besiger as die meeste ander is. Maar net soos ons elke dag tyd inruim om te eet, moet ons tyd opsysit om ons verstand en ons geestelikheid te voed. Jesus het geen leë opmerking gemaak toe hy Deuteronomium 8:3 aangehaal het nie: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Mattheüs 4:4). As ons ons geestelikheid verwaarloos, verwaarloos ons ons geestelike waardes en ons toekomshoop. Dan kan ons begin agteruitgaan en wankel. Hoe kan ons dus tyd inruim vir gereelde persoonlike Bybelstudie?
8. Watter Skriftuurlike raad help ons om persoonlike studie in perspektief te sien?
8 Die apostel Paulus se woorde is baie gepas: “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is. Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.” Ons kan Jehovah se wil verstaan alleenlik as ons deur middel van ons persoonlike studie op sy Woord ag slaan. En dit beteken dat ons ‘die tyd moet uitkoop’, oftewel ‘ons tyd ten beste moet benut’.—Efesiërs 5:15-17; Phillips.
9. Hoe kan ons tyd verloor wat vir persoonlike studie uitgekoop kan word? Vertel persoonlike ondervindinge.
9 As ons elke dag se ontbeerlike bedrywighede ontleed, hoe word ’n groot deel van ons vrye tyd bestee? Is dit voor die televisiestel? Daardie hipnotiese apparaat kan elke aand tussen twee en vyf uur van ons lewe steel! Hoeveel uur per dag kyk jý televisie? Weens die programme se klem op geweld en seks is hulle dikwels verderflik. En hulle is dikwels daarop gemik om “die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë” te prikkel en “die grootsheid van die lewe” te bevorder (1 Johannes 2:15-17). Maar baie het nie die wilskrag om die televisie af te skakel nie. Ja, hierdie moderne uitvindsel kan ons kosbaarste bate, tyd, verslind.
10. Waarom is dit vandag so belangrik dat ons ons tyd verstandig gebruik?
10 As ons eerlik met onsself is, sal ons erken dat dit gewoonlik moontlik is om tyd vir noodsaaklike bedrywighede soos Bybelstudie uit te koop. En in hierdie kritieke tye is persoonlike Bybelstudie wat tot juiste kennis lei noodsaaklik vir ’n Christen. Maar die feit dat meer as 41 000 persone verlede jaar uitgesit is, toon duidelik dat baie broers en susters hulle geestelikheid verwaarloos het. Om “die volle wapenrusting van God” te dra en in goeie toestand te hou, is nie net ’n terloopse saak nie. Net soos in die geval van ’n soldaat wat ’n letterlike wapenrusting dra, is dit ’n daaglikse plig.—Efesiërs 6:10-18; Romeine 1:28-32, vgl. NW; 2 Timotheüs 3:1.
11. Watter voorbeeld stel die Bethelgesin ten opsigte van georganiseerdheid vir gesinstudie?
11 Die meer as 9 000 lede van die 95 Bethelgesinne by die Wagtoringgenootskap se takkantore wat dwarsdeur die wêreld versprei is, het elke Maandagaand hulle gesinstudie. Hulle bestudeer Die Wagtoring ter voorbereiding vir die naweek se vergadering, en hulle het dikwels ook ’n Bybellesing of ’n klaskamersessie vir nuwe lede van die gesin. Ja, Maandag is die wêreldwye Bethelgesin se studieaand. Wanneer is dit jóú persoonlike of gesinstudietyd?—Hebreërs 10:24, 25.
Instrumente en hoe hulle gebruik kan word
12. Wat is party van die besondere studiekenmerke van die New World Translation of the Holy Scriptures—With References?
12 Net soos ’n mynwerker gereedskap vir sy werk het, het ons instrumente waarmee ons in die goudmyn van God se Woord kan indelf. Beskou byvoorbeeld die New World Translation of the Holy Scriptures—With References. Dit word tans in Duits, Engels, Frans, Italiaans, Japannees, Nederlands, Portugees en Spaans uitgegee. Die meeste van Jehovah se Getuies het dus ’n wonderlike instrument om juiste kennis van die ware God te verkry tot hulle beskikking. Hierdie Bybelvertaling bevat duisende kruisverwysings en talle voetnote. Dit het ook ’n aanhangsel van 36 bladsye met uitvoerige informasie oor ’n verskeidenheid belangrike Bybelvrae.b
13. Watter interessante feite oor die gebruik van “kennis” en “juiste kennis” in die Hebreeuse Skrifte en die Griekse Skrifte word onder ons aandag gebring?
13 Agter in die New World Translation-naslaanuitgawe is daar ’n indeks van die belangrikste Bybelwoorde. Hoe kan ons dit gebruik? As jy die uitdrukking “accurate knowledge” in jou eksemplaar naslaan, sal jy vind dat tien tekste daaronder aangegee word. Maar nie een hiervan is in die Hebreeuse Skrifte nie. Beteken dit dat die Hebreeuse Skrifte nie die belangrikheid van sulke kennis beklemtoon nie? Nee. Want onder die woord “knowledge” is daar 24 verwysings, waarvan 18 in die Hebreeuse Skrifte is. Die Hebreeuse taal het egter nie ’n spesiale woord vir “juiste kennis” nie. Daarom sal jy uit die verwysings sien dat dit partykeer die belangrikheid van meer as bloot algemene kennis beklemtoon deur “kennis” aan woorde soos “onderskeidingsvermoë” en “insig” te koppel of te praat van kennis wat “oorvloedig” is.—Daniël 1:4, NW; 12:4, NW; Jeremia 3:15, NW.
14. Watter interessante gedagtes verskyn onder “Knowledge” in Insight on the Scriptures?
14 Soos ons in die vorige artikel gesien het, het Bybelse Grieks ’n subtiele onderskeid tussen die twee grade van kennis getref. En terwyl ons delf, wil ons meer weet oor die verskil tussen hierdie twee uitdrukkings soos dit op Christene van toepassing is. Waarom is kennis, gnoʹsis, en juiste kennis, e·piʹgno·sis, lewensbelangrik vir Christene? Waar kan ons die antwoord vind? In die Bybelensiklopedie Insight on the Scriptures. Wat ’n skatkamer is hierdie bundels tog! Soek die inskrywing “Knowledge”. Daar sal jy ’n volledige artikel vind oor die woorde wat ons bespreek en oor die verwante eienskappe wysheid, verstand, onderskeidingsvermoë en denkvermoë. En ons het al hierdie “goud”, hierdie informasie, gevind deur net ’n paar Bybelstudiehulpe te gebruik! Maar dit is nie al nie.—Psalm 19:10, 11.
15. Watter ander navorsingsinstrumente het ons, en hoe kan dit gebruik word?
15 As jy ’n dieper studie van “kennis” en verwante terme wil maak, kan jy die indekse van die Wagtoringgenootskap se publikasies gebruik, wat in verskeie tale beskikbaar is. En net soos ons die tema “kennis” uiteengesit het, kan jy dieselfde prosedure vir honderde ander onderwerpe volg. Stel jou die skat van kennis onder Jehovah se naam voor! Wat ’n oorvloed juiste kennis is daar tog aangaande die Soewereine Heer van die heelal!—Psalm 68:19, 20, NW; Handelinge 4:24, NW.
16. Wat sê die Skrif oor geestelike delfwerk?
16 Watter pragtige “verborge skatte” kan ons tog vind met behulp van hierdie en ander studiehulpe wat deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee word! Wil jy die “goud” hê? Dink jy dit is die moeite werd? Sal jy die tyd inruim om daarna te delf?—Spreuke 2:1-5.
Wie neem die leiding in geestelike mynwerk?
17. Wat moet ons doen om kennis van God en Christus te verkry?
17 Wat is die sleutel tot die verkryging van hierdie kosbare kennis van God en Christus? Motivering—’n sterk verlange om ’n goedgekeurde posisie voor Jehovah en sy Seun te hê en ’n begeerte om die gawe van die ewige lewe te ontvang. Jesus het dit so gestel: “Bly vra, en daar sal aan julle gegee word; bly soek, en julle sal vind; bly klop, en daar sal vir julle oopgemaak word. Want almal wat vra, ontvang, en almal wat soek, vind, en vir almal wat klop, sal daar oopgemaak word.” Maar let op die voorwaarde. Jesus het gesê: ‘Bly vra, soek en klop.’ Dit is nie net ’n eenmalige ding nie. Die soeke na kennis moet volgehou word.—Mattheüs 5:6; 7:7, 8, NW.
18. Wie in die gesin moet die leiding neem in die soeke na juiste kennis, en waarom?
18 Wie moet in ’n Christengesin die leiding neem om na juiste kennis te delf? Paulus antwoord: “Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” Ja, die ouers, veral die vader, moet die leiding neem om waardering vir geestelike waardes te toon. En dit herinner ons weer eens aan die belangrikheid van ’n vaste reëling wat die gesin te wagte kan wees en waarna hulle kan uitsien.—Efesiërs 6:4.
19. Hoe kan gesinstudietye interessant gemaak word? Wat is jou gesin se ondervinding?
19 Gesinstudietye kan interessant gemaak word. As jy kinders het, kan jy hulle byvoorbeeld ’n tema laat kies en hulle dan na gelang van hulle ouderdom en vermoë vra om navorsing in verskillende publikasies te gaan doen. Dan kan julle na ’n halfuur of wat bymekaarkom en kyk wat elkeen oor die gegewe onderwerp uitgevind het. As ’n konkordansie beskikbaar is, kan ’n kind wat nog jonk is, tel hoeveel keer ’n sekere woord in die Hebreeuse Skrifte en die Griekse Skrifte verskyn. Een van die ouer kinders sal dalk ’n paar juwele in die Insight-bundels opspoor. Ouers weet wat hulle kinders se vermoëns is en hoe lank hulle kan konsentreer en moet die bespreking om hierdie faktore bou. Wees aanpasbaar en waarderend. Moedig jou gesin in hulle geestelike delfwerk aan—en openbaar die regte beweegrede.
Delfwerk met die regte beweegrede
20. Watter verkeerde beweegrede ten opsigte van ons persoonlike studie moet ons vermy?
20 Beskeidenheid is ’n Christelike deug (Spreuke 11:2; 1 Timotheüs 2:9). Moet ons dan studeer sodat ons kan spog met wat ons geleer het? Of moet ons ’n openbare vertoon van ons kennis maak en moontlik toon dat ander onkundig is? Of moet ons ons eie vertolkings of spekulasies verkondig? Paulus het gemaan: “Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.”—Romeine 12:3, NAV.
21, 22. Watter uitwerking moet ons juiste kennis op ons hê?
21 Kragtige inspanning en die toepassing van juiste kennis kan lei tot geloof, deug, selfbeheersing, volharding, godvrugtige toegewydheid, broederlike geneentheid en liefde. Petrus het getoon hoe belangrik hierdie dinge is toe hy geskryf het: “Want indien hierdie dinge by julle bestaan en oorvloedig is, sal dit verhoed dat julle òf onaktief òf onvrugbaar is met betrekking tot die juiste kennis van onse Heer Jesus Christus.”—2 Petrus 1:2-8, NW.
22 Ons kennis moet die hart raak. Dit moet ons beweeg om liefde vir God en ons naaste te toon en om produktiewe Christene ten opsigte van ons gedrag en bediening te word. Dit sal eenheid en ’n grondiger begrip van Christus se voorbeeld tot gevolg hê (Efesiërs 4:13, vgl. NW). Wat ’n wonderlike beloning omdat ons verborge skatte gesoek het!
[Voetnote]
a Dit is interessant dat die uitdrukking “die kennis van God” in Spreuke 2:5 in die Griekse Septuaginta met e·piʹgno·sis, of “juiste kennis”, weergegee word, een van die agt gebruike van daardie Griekse woord in die Septuaginta.
b Sien The Watchtower van 1 November 1985, bladsye 27-30, vir ’n breedvoerige verduideliking oor hoe die New World Translation-naslaanuitgawe ten beste benut kan word.
Vrae om oor na te dink
◻ Wat is volgens koning Salomo waardevoller as verborge skatte?
◻ Waarom is juiste kennis lewensbelangrik vir die gesalfdes en vir die ander skape?
◻ Hoe kan ons tyd uitkoop vir persoonlike studie?
◻ Watter spesiale instrumente het ons om na juiste kennis te delf?
◻ Wie moet die leiding neem in gesinstudie, en met watter beweegrede moet ons studeer?