Babilon se val bekendgemaak in Japan
“GEVAL, geval het Babilon die [Grote], omdat sy al die nasies laat drink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery.” Daardie aangrypende aankondiging van die engel is vir die eerste keer in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling deur die apostel Johannes gehoor. Christengetuies van Jehovah het dit egter in ons tyd, tydens “die dag van die Here”, ten aanhore van die hele mensdom herhaal.—Openbaring 1:10; 14:8, vgl. NW.
Babilon die Grote is die wêreldwye stelsel van valse godsdiens, waarvan die Christendom die laakbaarste deel is. Jehovah se Getuies in alle wêrelddele verkondig al dwarsdeur “die tyd van die einde” moedig Jehovah se oordele teen haar (Daniël 12:4). Die Wagtoring se nommers van April en Mei verlede jaar het byvoorbeeld kragtige artikels bevat wat die skuld van valse godsdiens en haar komende vernietiging ontbloot het. Meer as 50 miljoen eksemplare van hierdie nommers is wêreldwyd versprei—’n kragtige verklaring oor die lot van Babilon die Grote!
Japan maak hom gereed
’n Voorbeeld van hoe geesdriftig Jehovah se Getuies oor daardie spesiale nommers was, kon gesien word in Japan, die vesting van die Sjinto-Boeddhistiese sektor van Babilon die Grote. In Japan het Ons Koninkryksbediening vir Desember 1988 die gemeentes in kennis gestel van ’n spesiale velddienskampanje wat vir April en Mei 1989 beplan is. Uitnodigings om hierdie spesiale tydskrifwerk te ondersteun is in daaropvolgende nommers van Ons Koninkryksbediening sowel as deur briewe aan die gemeentes en aan die liggame van ouere manne gerig.
Die reaksie was uitstekend. Met Jehovah se hulp het Japan gedurende daardie twee maande ’n getuienis ontvang soos nog nooit tevore nie.
Hulppionierdiens
Die aankondiging in Desember 1988 het hierdie woorde ingesluit: “Ons spoor julle aan om julle dit ten doel te stel om gedurende April en Mei, veral gedurende April, aan die hulppionierdiens deel te neem.” Hierdie gedagte is herhaal in Ons Koninkryksbediening vir Februarie 1989, waarin die broers aangespoor is om ‘hulle daaglikse rooster aan te pas sodat soveel toegewyde bedienaars moontlik gedurende April as hulppioniers kan dien’.
Die Getuies het hierdie herinneringe ter harte geneem. Die gevolg? ’n Onoortroffe hoogtepunt in die aantal hulppioniers. Daar was reeds teen Maart 1989 ’n hoogtepunt van 24 115 hulppioniers. Maar in April het daardie getal byna verdubbel tot 41 055. Werklik ’n merkwaardige poging!
In baie gemeentes het die meeste of al die verkondigers gedurende die twee maande van spesiale aktiwiteit aan die een of ander aspek van die voltydse bediening deelgeneem. Dit het dikwels heelwat organisasie geverg. Een huisvrou het nie gedink dat sy as pionier kan dien nie omdat sy hoog in die berge woon, sowat 900 meter hoër as die omliggende gebied, en daar nie juis goeie openbare vervoer is nie. Sy wou nogtans baie graag hulppionierdiens doen. Die ouere manne het dus gereël om haar met vervoer te help, en sy het saam met al die ander verkondigers in die gemeente ’n maand in die pionierdiens geniet.
Die goeie voorbeeld wat die ouere manne gestel het, kon gesien word in die Otsoeka-gemeente. Al die ouere manne en bedieningsknegte in hierdie gemeente met 77 verkondigers, wat geleë is in die stad Takatsoeki, Osaka-prefektuur, het onder die 73 getel wat aan die een of ander vorm van die pionierdiens deelgeneem het. Hierdie pioniers het ook al die jong gedoopte verkondigers ingesluit wat nog op skool is. Die pioniergees wat deur hierdie jong Getuies getoon is, was tipies van wat in baie gemeentes gesien kon word. Byvoorbeeld: Van die 23 gedoopte tieners in die Heiwadai-gemeente in die Tokio-prefektuur is 11 gewone pioniers en gedurende April het 11 hulppionierdiens gedoen. In daardie gemeente het altesaam 93 verkondigers gedurende daardie maand as pioniers gedien.
’n Dag van spesiale bedrywigheid
Die Japannese uitgawe van Ons Koninkryksbediening vir Maart het die broers met hierdie woorde aangespoor: “Tydskrifwerk word nie net op die tweede en vierde Saterdag nie maar op elke Saterdag van die maand ondersteun. Die broers lê prysenswaardige ywer aan die dag. Ook in April word tydskrifwerk vir elke Saterdag gereël, maar wend asseblief ’n spesiale poging aan om 8 April as tydskrifdag opsy te sit sodat almal op daardie dag aan die tydskrifwerk kan deelneem. Hierdie tydige nommers moet oral versprei word, sodat almal wat wil hoor ’n waarskuwing kan ontvang.”—Jesaja 61:2; Openbaring 18:4, 5.
Die Japannese uitgawe van Ons Koninkryksbediening het in Februarie hierdie noodsaaklike werk beklemtoon. Dit het gesê: “Laat elke Getuie van Jehovah in Japan—nou meer as 130 000—op die tweede Saterdag, 8 April, aan die tydskrifwerk deelneem.” Ouere manne is aangespoor om verskillende vorme van tydskrifwerk dwarsdeur die dag te reël sodat soveel moontlik daaraan kon deelneem. Danksy die positiewe reaksie van die ouere manne en die heelhartige ondersteuning van die res van die verkondigers was die dag uiters geslaag. Ons kan sê dat die verkondiging van Jehovah se oordele oor Babilon die Grote op daardie dag in Japan ’n klimaks bereik het.
Die ouere manne in die Oesjioda-gemeente in Jokohama het byvoorbeeld velddiens gereël wat 13 uur sou duur, van 7:00 vm. tot 8:00 nm. Daar was onder meer twee periodes vir straatwerk, sowel as tye om mense te besoek wat vroeër nie tuis was nie en om gewone huis-tot-huiswerk te doen. Die meeste verkondigers kon aan ten minste een van hierdie aspekte van die diens deelneem, en heelparty het aan omtrent al die beplande bedrywighede deelgeneem.
Deurlopende diens is ook in die Jonan-gemeente, Foekoeoka, gereël. Reëlings is getref om van 8:00 vm. tot 9:00 nm. te werk, met net ’n kort pouse om twaalfuur. Daar was onder meer tyd vir huis-tot-huiswerk, om sakegebied en winkelsentrums te besoek en om terug te gaan na waar niemand by vorige besoeke gevind is nie. Party Getuies in daardie gemeente het daardie dag tot agt uur in die predikingswerk deurgebring!
Die heelhartige reaksie van die broers is in die Wakajama-prefektuur gesien, waar al 55 verkondigers in die Kainan-gemeente aan die bedrywighede op die spesiale dag deelgeneem het. Een suster wat daar woon, ’n gewone pionier, het op 7 April ’n baba gehad. Het dit haar verhinder om op 8 April te getuig? Nee. Sy het die tydskrifte daar in die hospitaal aangebied! ’n Broer uit die Osaka-prefektuur wat genoodsaak was om op 8 April na sake by sy werkplek om te sien, het ’n soortgelyke gees aan die dag gelê. Hoe kon hy aan die spesiale bedrywigheid deelneem? Hy het sy werkplek sy gebied gemaak en vyf intekeninge verkry.
’n Suster in die Saitama-prefektuur wou baie graag aan die spesiale bedrywighede daardie dag deelneem, maar sy moes saam met haar ongelowige man na Asahikawa, byna 1 300 kilometer daarvandaan, reis. Sy het egter nie moed opgegee nie. In Asahikawa het sy en haar twee kindertjies na die stasie gegaan en daar, buite die stasie, het sy gekry waarna sy gesoek het: ’n groep verkondigers van die plaaslike gemeente wat besig is om velddiens te doen. Sy kon saam met hulle aan die dag se bedrywighede deelneem.
Straatwerk
Die Japannese uitgawe van Ons Koninkryksbediening het ouere manne aangespoor om veral straatwerk vir 8 April te reël, en dit was ’n uitsonderlike kenmerk van daardie spesiale dag. Dit het toevallig daardie dag oral in die land hard gereën, maar dit het nie die broers se geesdrif geblus nie. Die meeste het dieselfde gees aan die dag gelê as drie gestremde susters in die Minamata-gemeente, Koemamoto-prefektuur. Hulle het die slegte weer ondanks hulle ouderdom—65, 80 en 85—getrotseer en was ’n groot aansporing vir die res van die gemeente; hulle het ook die aandag van baie verbygangers getrek.
Terwyl een suster in die Kasjiwa-Wes-gemeente straatwerk gedoen het, het sy ’n man gevra: “Het jy al ooit van Babilon die Grote gehoor?” Toe sy die April-nommers van die tydskrifte aangebied het, het die man gesê: “Ek stel nie belang nie” en weggeloop. Maar toe hy by die spooroorweg kom en gaan staan, het hy gemompel: “Wat is Babilon die Grote?” ’n Broer wat daar naby straatwerk gedoen het, het hom gehoor, saam met hom met die pad af geloop en verduidelik wat Babilon die Grote is. Die man het die tydskrifte aanvaar.
Party gemeentes het nooit tevore straatwerk gedoen nie. Maar sedert 8 April het hulle dit ’n gereelde deel van hulle bedrywighede gemaak. En geen wonder nie! Straatwerk is ’n baie suksesvolle manier om mense te vind wat andersins nie bereik kan word nie. Een suster in Naha, Okinawa, het straatwerk gedoen buite ’n kantoorgebou waar Jehovah se Getuies nie mag ingaan om te getuig nie. Sy het 12 tydskrifte binne ’n uur versprei deur met diegene te praat wat in die gebou ingegaan en dit verlaat het.
’n Suster in Moeroran, Hokkaido, het buitekant afdelingswinkels in die middestad straatwerk gedoen. Sy het vir ’n man wat die tydskrifte aanvaar het, gesê: “As jy meer wil leer, kan ons jou by jou huis besoek.” Hy het haar sy adres, sy telefoonnommer, ’n kaart van hoe om by sy huis uit te kom en die tye wanneer hy tuis is, gegee! Die week daarop het sy en ’n broer hom besoek en gesien dat hy in ’n woonstelblok woon waar Jehovah se Getuies nie toegelaat word om gereelde besoeke te doen nie. Die jong man is deur sy persoonlike Skriflesing oortuig dat die Christendom nie God se goedkeuring geniet nie. Hy het na die ware Christelike godsdiens gesoek en was bly om met ’n gereelde tuisbybelstudie te begin.
’n Verkondiger in Kawasaki het gedurende die middag van 8 April straatwerk gedoen. Die laaste persoon met wie sy gepraat het, was ’n jong vrou wat gesê het dat sy voorheen die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer het. Haar ouers het haar egter teëgestaan en sy het later universiteit toe gegaan en in ’n koshuis gaan bly. Sy het dus haar studie gestaak. Maar danksy straatwerk het sy haar Bybelstudie met graagte hervat en woon sy reeds vergaderinge by.
Tydskrifverspreiding
Omdat soveel die spesiale bedrywighede ondersteun het, was die tydskrifverspreiding—veral die verspreiding van dié met die oordeelsboodskappe teen Babilon die Grote—uitstekend. ’n Gemeenteverkondiger in die Osaka-prefektuur het 205 tydskrifte gedurende April versprei. In die Kagosjima-Oos-gemeente het 14 verkondigers elkeen meer as honderd tydskrifte versprei, terwyl die afgesonderde groep van 12 verkondigers in Ogawa, Ibaraki-prefektuur, altesaam 1 388 tydskrifte gedurende April versprei het.
Verlede April is daar 3 293 266 tydskrifte in Japan versprei—92 persent meer as in April 1988! Hoe kragtig is Jehovah se oordeelsboodskap teen Babilon die Grote tog verkondig!
Krag bo die normale
Soos alle Getuies van Jehovah, was die Japanse Getuies beslis positief en ywerig, veral gedurende die lente van 1989. Hulle ondervindinge lewer duidelike bewys dat Jehovah hulle ywer geseën het en hulle pogings om sy oordele teen valse godsdiens te verkondig gesteun het. Dit was vir party nie maklik om daaraan deel te neem nie; nogtans was hulle vasbeslote en het Jehovah hulle ywer geseën. Baie woon in gebiede wat dikwels gedek word, maar hulle het dieselfde gees van dringendheid en geesdrif as hulle broers in ander gebiede aan die dag gelê. Die woorde van Jesaja is deurentyd waar bewys: “Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.”—Jesaja 40:29.
Hulle ondervindinge het hulle ongetwyfeld herinner aan die woorde van die apostel Paulus: “Ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die krag bo die normale van God sal kom en nie uit onsself nie” (2 Korinthiërs 4:7, NW). Ja, wanneer iemand die Christelike bediening, “hierdie skat”, eerste in sy lewe stel, ervaar hy “die krag bo die normale” wat God gee. Mag Jehovah sy knegte in Japan en in alle ander lande bly gebruik om ’n deeglike getuienis te gee voor die einde kom.—Mattheüs 24:14.
Vanjaar sal Die Wagtoring se nommers van April en Mei voorbladreekse hê oor “Wie sal die mensdom na vrede lei?”, “Wêreldvrede—Wat sal dit werklik beteken?”, “Miljoene wat nou dood is, sal weer lewe” en “Armageddon—Wanneer?” Beplan gerus om hierdie inligting onder jou bure se aandag te bring. Maak seker dat soveel mense moontlik bewus gemaak word van die wonderlike goeie nuus wat God vir ons dag in die Bybel bewaar het.