Wat doen die mens aan die aarde?
DRIEHONDERD jaar gelede het die mens baie nader aan die natuur gelewe. Hy was oor die algemeen nie so bedreig deur veranderinge wat die mens aan die wêreldomgewing aangebring het soos hy vandag is nie. Die industriële omwenteling het toe nog nie begin nie. Daar was geen kragsentrales, fabrieke, motors of ander bronne van wydverspreide besoedeling nie. Dit sou vir die mens moeilik gewees het om hom voor te stel dat mense die hele aarde kan verderf.
Tog was ’n waarskuwing oor wêreldverwoesting selfs toe al wyd versprei. Daardie waarskuwing is in die laaste boek van die Bybel, en dit voorspel ’n tyd wanneer God in menseaangeleenthede gaan ingryp om “die verderwers van die aarde te verderf”.—Openbaring 11:17, 18.
Hoe bemoedigend is dit tog vir almal wat besorg is oor die hedendaagse mens se wanbestuur van die aarde om te weet dat die Skepper van ons pragtige planeet dit teen verderf sal beskerm! ‘Maar’, wonder jy dalk, ‘is die situasie werklik so kritiek dat God moet ingryp?’ Wel, beskou ’n paar feite en oordeel self.
Woude
Woude verfraai die aarde en bied voedsel en skuiling aan etlike miljoene verskillende spesies. Terwyl bome groei en voedsel vervaardig, verrig hulle ander noodsaaklike funksies, soos om koolstofdioksied te absorbeer en kosbare suurstof vry te stel. Daardeur, sê National Geographic, “bied hulle een teenmiddel teen die wêreldwye verwarming wat lewe op die aarde soos ons dit ken, bedreig”.
Maar die mens verderf sy wouderfenis. Noord-Amerikaanse en Europese woude sterf weens besoedeling. En die aanvraag van nywerheidslande vernietig tropiese woude op groot skaal. ’n Koerant van ’n Afrika-land het verduidelik dat “66 miljoen kubieke meter [tropiese hout in 1989] na verwagting uitgevoer sou word—48 persent na Japan, 40 persent na Europa”.
Ook brand boere in sommige lande woude om landbougrond te skep. Die swak woudgrond word gou uitgeput, en dan moet die boere nog dele van die woud afbrand. Volgens skatting het bykans die helfte van die wêreld se woude net in hierdie eeu verdwyn.
Oseane
Die aarde se oseane speel ook ’n belangrike rol in die suiwering van die atmosfeer, en die mens se aktiwiteite verderf hulle. Ontsaglike hoeveelhede koolstofdioksied word deur die oseane geabsorbeer. Fitoplankton absorbeer op sy beurt koolstofdioksied en stel suurstof vry. Dr. George Small verduidelik hoe belangrik hierdie lewensiklus is: “70 persent van die suurstof wat jaarliks in die atmosfeer vrygestel word, kom van plankton in die see.” Maar sommige wetenskaplikes waarsku dat fitoplankton ernstig uitgedun kan word weens osoonvermindering in die atmosfeer, wat glo deur die mens veroorsaak word.
Boonop stort die mens vullis, olie en selfs giftige afvalstowwe in die see. Hoewel sommige lande ingestem het om die hoeveelheid afval te verminder wat hulle in die see stort, weier ander om dit te doen. Een Westerse land het hom selfs die reg voorbehou om kernafval in die see te stort. Die bekende oseanograaf Jacques Cousteau waarsku: “Ons moet die oseane red as ons die mensdom wil red.”
Drinkwater
Die mens verderf selfs sy drinkwater! In arm lande sterf miljoene mense elke jaar weens besmette water. In ryker lande word waterbronne besmet deur, onder andere, messtof en plaagdoders wat in riviere inspoel en in grondwater insypel. In 1986 is 2,3 miljoen ton plaagdoders in die wêreld geproduseer en volgens berig neem dit toe teen ’n tempo van 12 persent per jaar.
’n Ander bron van besoedeling is chemiese stortplekke. “Die metaalkonka’s wat die chemikalieë bevat”, verduidelik Scientific American, “is niks minder nie as tydbomme wat sal afgaan wanneer hulle deurgeroes het.” Hierdie soort besoedeling, sê die tydskrif voorts, vind “wêreldwyd in duisende chemiese stortplekke” plaas.
Die gevolg? Oor die hele wêreld heen word riviere wat voorheen skoon was in industriele riole verander. Volgens skatting drink 20 miljoen Europeërs van die Ryn se water en tog is hierdie rivier so besoedel dat dit te gevaarlik is om slyk wat uit sy bedding gebagger word vir vulgrond te gebruik!
Boerderygebruike
Dit is verontrustend dat die mens selfs sy landbougrond verwoes. In die Verenigde State alleen is 20 persent van die grond wat vir besproeiing opsygesit is, beskadig, volgens Scientific American. Waarom? Omdat oormatige besproeiing die grond te sout maak. Talle lande het baie, kosbare grond op hierdie manier verloor. “Net soveel grond gaan nou vir produksie verlore weens versouting as wat weens nuwe besproeiingsprojekte begin produseer”, sê The Earth Report. ’n Ander algemene probleem is oorbeweiding, wat dalk bydra tot die uitbreiding van woestyne.
Te veel motors
Dit dan wat ons planeet se land en water betref. Maar wat van sy lug? Dit word ook verderf en daar is baie skuldiges. Beskou die motor, om maar net een voorbeeld te noem. Hier volg waarskuwings uit drie gesaghebbende wetenskaptydskrifte. “Motorvoertuie veroorsaak meer besoedeling as enige ander enkele mensebedrywigheid” (New Scientist). “Daar is tans 500 miljoen geregistreerde motors op die planeet . . . Ongeveer ’n derde van die olie wat die wêreld lewer, word gebruik om hulle tenks vol te maak. . . . Die aantal motors neem vinniger toe as die bevolking” (Scientific American). “Petrol is in al sy fases van produksie, gebruik en wegdoening ’n vername bron van omgewingsverslegting en -siekte.”—The Ecologist.
Ja, ons planeet word misbruik, verderf. Sy seë, drinkwater, landbougrond en selfs sy atmosfeer word in baie groot mate besoedel. Dit alleen dui sekerlik daarop dat die tyd naby is vir God om in te gryp en “die verderwers van die aarde te verderf” (Openbaring 11:18). Maar daar is ander, selfs erger, maniere waarop die aarde verderf word. Kom ons kyk wat dit is.
[Lokteks op bladsy 4]
“Ons moet die oseane red as ons die mensdom wil red.”—Jacques Cousteau