Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 7/1 bl. 14-15
  • “Hierdie huis is u huis”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Hierdie huis is u huis”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Waarom so gou weer aangebou?
  • Opofferings en milddadige bydraes
  • Toewydingsdag
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 7/1 bl. 14-15

“Hierdie huis is u huis”

“HIERDIE huis is u huis—ons het dit vergroot.” Hoe gepas het hierdie woorde die gevoelens opgesom van diegene wat pas tevore twee jaar se harde werk aan die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Australië voltooi het! Die woorde was tot Jehovah God gerig en het deel uitgemaak van ’n lied wat vir ’n spesiale geleentheid gekomponeer is. Watter geleentheid? Die toewyding van nuwe geboue by die Bethelhuis en -fabriek.

Waarom so gou weer aangebou?

Verbasend genoeg het ’n soortgelyke toewyding minder as sewe jaar tevore plaasgevind vir die destydse nuwe Bethelkompleks by Ingleburn, aan die suidwestelike buitewyke van Sydney, Australië. Waarom moes daar so gou weer aangebou word?

Om maar een ding te noem: die aantal Getuies in Australië het van minder as 32-000 in 1981 tot ’n hoogtepunt van 51 152 in Oktober 1989 toegeneem, en dit het ’n vermeerdering in die Bethelpersoneel genoodsaak. Daarbenewens was daar ’n dramatiese vermeerdering in die hoeveelheid lektuur wat Australië na ander takke stuur. Australië druk tans publikasies in 37 tale om te voorsien in die behoeftes van Fidji, Indonesië, Papoea-Nieu-Guinee, Nieu-Caledonië, Nieu-Seeland, Salomons-eilande, Tahiti, Vanuatu, Niue, Wes-Samoa, Tonga, Tuvalu en Wallis-eilande, asook Australië. Gevolglik het die Bethelgesin drasties toegeneem tot 164 lede.

Om in hierdie groeiende gesin se behoeftes te voorsien, is ’n nuwe kantoorgebou van drie verdiepings vroeg in 1987 voltooi, en dit het ekstra kantoorruimte voorsien wat dringend nodig was. Daarna het die Bestuursliggaam toestemming gegee dat nog drie verdiepings aan die fabriek en ’n woongebou van vyf verdiepings aangebou kon word. In Januarie 1988 is daar begin met werk aan die nuwe fabriekstoevoeging, wat 3 600 vierkante meter ekstra vloerruimte sou voorsien. ’n Paar maande later het die broers begin met die aanbousel aan die woongebou, wat 51 ekstra slaapkamers sou voorsien.

Opofferings en milddadige bydraes

Uitnodigings is aan gemeentes dwarsdeur die land gestuur vir vrywilligers wat tot twee jaar lank deel kon word van ’n “konstruksiegesin”. Die reaksie was oorweldigend, en vrywilligers met alle soorte ambagte het geredelik gereageer. Meer as 700 afsonderlike aansoekvorms is ontvang, en gedurende die konstruksietydperk het altesaam 270 vrywilligers aan die projek kom werk vir tydperke wat van twee weke tot feitlik twee jaar gewissel het.

Een Getuie het ’n grondverskuiwingsonderneming in die noordelike staat Queensland gehad. Hy het ’n gedeelte van sy onderneming verkoop, en hy en sy vrou was van die begin af lede van die konstruksiegesin. Hy het ’n groot kruipbandmasjiengraaf gekoop en het die meeste van die nodige uitgrawings gratis vir die Genootskap gedoen. Toe die meeste uitgrawings klaar was, het hy die masjien verkoop en toe aangebly om ander konstruksiewerk te doen. Dit is net een voorbeeld van die goeie, onselfsugtige gees wat almal gedurende die hele projek geopenbaar het.

Getuies het vragmotorbetonpompe beskikbaar gestel om die beton van 3 300 kubieke meter te giet wat nodig was vir die agt vloere in die twee geboue. Ander het die materiaal geskenk wat nodig was vir drie betonwatertenks van 22 000 liter, en Getuies wat by die fabriek werk, het hulle bydrae gelewer deur te help met die oprigting van die tenks.

Natuurlik was nie al die vrywilligers ervare ambagsmanne nie. Trouens, baie jong mans het nuwe vaardighede daar op die bouterrein geleer. ’n Paar het bekwame messelaars geword terwyl hulle gehelp het om die halfmiljoen stene te lê wat vir die projek nodig was. Ander het geleer om muur- en vloerteëls te lê, en een suster het binne ’n paar weke baie bedrewe daarin geword om muurpapier te plak.

Toewydingsdag

Toewydingsdag, Saterdag, 25 November 1989, het wolkloos en sonnig aangebreek—’n pragtige, laatlentedag. Die tweede vlak van die fabriekaanbousel is opgeruim om as die hoofsaal vir die toewydingsprogram te dien. Geslotekring-televisie het gedeeltes van die ander twee fabrieksverdiepings en die boekversendafdeling, die Bethelsaal en die Betheleetsaal met die program verbind. Dit het gerieflike binnenshuise sitplekke vir meer as 3 000 moontlik gemaak.

Vanweë beperkte ruimte is net diegene wat al ongeveer 40 jaar gedoop is saam met persoonlike gaste van die Bethel- en konstruksiegesin genooi. Verversings was gedurende die oggend beskikbaar, en ’n smaaklike kospakkie is op die middaguur voorsien. Om 9:00 vm. is die jaarvergadering van die Wagtoringgenootskap van Australië gehou, en al 21 lede van die Australiese korporasie was aanwesig. Nadat die noodsaaklike wetlike besonderhede afgehandel is, is ander genooi om by die vergadering aan te sluit, en almal was verheug om ’n toespraak deur Theodore Jaracz van die Bestuursliggaam te hoor.

Om 1:45 nm. is die toewydingsprogram ingelei deur Koninkryksmusiek wat 15 minute lank gespeel is. Die gehoor het dit geniet om verslae, interessante staaltjies, ondervindinge en toesprake deur drie lede van die Bestuursliggaam te hoor. Van die drie was dit Carey Barber en Daniel Sydlik se eerste besoek aan Australië. Broer Barber het gepraat oor die onderwerp “Die oes is die einde van die eeu”, terwyl broer Sydlik die tema “Gelukkig is die volk wie se God Jehovah is”, bespreek het. Broer Jaracz, wat as soneopsiener vir die Australiese tak gedien het, het die toewydingstoespraak gehou.

’n Genotvolle deel op die program was die sing van ’n lied met vier verse net voor die toewydingstoespraak. Die titel van die lied wat op Jesaja 60:22 (NW) gebaseer was, was: “Die kleine word ’n duisend.” Die woorde het waardering uitgespreek teenoor Jehovah dat talle vrywilligers die voorreg gehad het om ‘sy huis’ in hierdie deel van die wêreldveld te vergroot.

[Prente op bladsy 15]

Nuwe toevoeging tot Wagtoringdrukkery by Ingleburn, N.S.W., Australië

C. Barber

T. Jaracz

D. Sydlik

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel