Die komende slot van “die boek van die oorloë van Jehovah”
“Daarom word daar gesê in die boek van die Oorloë van Jehovah.”—NUMERI 21:14, “NW”.
1, 2. By watter eertydse geleentheid het Jehovah aan die Egiptenare getoon dat hy ’n Stryder-God is, en hoe het hy dit gedoen?
MIN mense besef vandag dat die God van die Bybel, Jehovah, ’n stryder, ’n krygsman, is. Hierdie feit is gedemonstreer toe hy sy volk van die ou tyd uit verdrukking in Egipte verlos het. Die onsigbare vyand van daardie volk, Satan die Duiwel, het Farao aangehits om hulle deur dwangarbeid te probeer uitwis. Toe Farao besef wat hy verloor deur die Israeliete vry te laat, het hy en sy leërmag hulle agternagesit.
2 Maar Farao het nie besef dat die God van die Israeliete ’n Stryder-God kon word om Sy volk te verlos nie. Toe daardie Egiptiese leër wraaksugtig deur die droë bedding van die Rooi See gejaag het, het die God van die bedreigde Israeliete opgetree en die wadrywers en perderuiters laat verdrink deur die opgedamde waters te laat terugval op die ontsnappingsroete wat wonderbaarlik vir die Israeliete oopgemaak is.—Exodus 14:14, 24-28.
3. As watter soort God het die Israeliete Jehovah in hulle oorwinningslied beskryf, maar watter feit ignoreer die nasies vandag?
3 Die jubelende Israeliete het, veilig op die oostelike oewer van die Rooi See, ’n oorwinningslied gesing wat hulle hemelse Verlosser geloof het: “Laat my sing voor Jehovah, want hy het hoog verhewe geword. Die perd en sy ruiter het hy in die see gewerp. My sterkte en my mag is Jah, want hy dien tot my redding. Dit is my God, en ek sal hom prys; my vader se God, en ek sal hom verhef. Jehovah is ’n krygsman. Jehovah is sy naam. Farao se strydwaens en sy leërmag het hy in die see gewerp, en die beste van sy vegsmanne het in die Rooi See gesink” (Exodus 15:1-4, NW). Daar by die Rooi See het Jehovah getoon dat hy ’n krygsman is wat opsienbare dinge kan doen. Hierdie feit word deur die wêreldse nasies geïgnoreer.
4, 5. Wie was die gemeenskaplike voorvader van daardie jubelende 12 stamme van Israel, wie se vriend het hy geword en weens watter eienskap?
4 Die profeet Moses, wat die leiding geneem het toe daardie geïnspireerde lied gesing is, het van Jehovah gepraat as “my vader se God”. Die Hebreër Abraham was ’n merkwaardige voorvader van die nasie Israel. Die 12 stamme van Israel het, deur Isak en Jakob en die 12 seuns van Jakob, uit hom voortgespruit. Abraham het getoon dat hy ’n voorbeeldige aanbidder van Jehovah God was. Hy was ’n man met sulke sterk geloof dat toe Jehovah vir hom gesê het om sy huis in Ur van die Chaldeërs te verlaat, hy sonder versuim vertrek het na die land wat Jehovah hom sou wys, met die vaste vertroue dat God Sy belofte sou vervul om dit aan hom en aan sy nageslag te gee.
5 Weens Abraham se uitmuntende geloof het Jehovah beloof om aan Abraham ’n “saad”, of nageslag, te gee waardeur al die geslagte van die aarde, met inbegrip van die geslagte wat vandag leef, hulleself sou seën (Genesis 12:2, 3; 22:17, 18, NW). Abraham is in so ’n intieme verhouding met sy God gebring dat hy “’n vriend van God” genoem is, en dat God self die getroue aartsvader “my vriend” genoem het.—Jakobus 2:23; Jesaja 41:8.
6. Al was Abraham ’n vreedsame swerwer in die Beloofde Land, hoe het hy getoon dat hy ’n vegter was wat op Jehovah vertrou het?
6 Al het Abraham soos ’n vreemdeling in die Beloofde Land rondgetrek, het hy getoon dat hy soos ’n vegter, ’n krygsman, kon optree. Eenkeer het vier naburige konings die Beloofde Land binnegeval en Abraham se broerskind Lot en Lot se gesin weggevoer. Sterk familiebande het Abraham beweeg om 318 van sy diensknegte te bewapen en, saam met versterkings van drie van sy plaaslike bondgenote, Aner, Eskol en Mamre, die plunderaars te agtervolg. Abraham en sy manne het in die nag ’n verrassingsaanval op die indringers gedoen en hulle, ondanks die feit dat hulle baie sterker was, verslaan. ’n “Slagting van die konings” het plaasgevind (Hebreërs 7:1, NW; Genesis 14:13-17). Abraham het Lot en sy gesin bevry en alles wat gesteel is, teruggekry.
7-9. (a) By watter priester het Abraham aangegaan en watter seëning het hy verkry? (b) Hoe het Abraham getoon dat hy net deur die allerhoogste God verryk wou word? (c) Wie het aan Abraham die militêre oorwinning gegee, soos Melgisedek bevestig het?
7 Abraham het besef dat sy militêre ekspedisie alleenlik weens Jehovah God se hulp suksesvol was, en met sy triomfantlike terugreis, kon hy hierdie feit in die openbaar erken. Hy het geweet dat die goedgekeurde priester van sy God in die stad Salem was. Daarom het hy na daardie stad opgetrek. Die laaste gedeelte van Genesis hoofstuk 14 vertel ons wat toe gebeur het:
8 “En Melgisedek, die koning van Salem, wat ’n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring en hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy hom die tiende van alles. En die koning van Sodom sê vir Abram: Gee my die mense, maar neem die goed vir uself. Toe antwoord Abram die koning van Sodom: Ek hef my hand op tot die HERE, God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde, dat ek geen draad en geen skoenriem, ja, dat ek niks sal neem van alles wat uwe is nie, sodat u nie kan sê nie: Ek het Abram ryk gemaak. Niks vir my nie! Net wat die dienaars geëet het en die deel van die manne wat saam met my getrek het, Aner, Eskol en Mamre, laat dié hulle deel neem.”—Genesis 14:18-24.
9 Soos hierdie verse toon, het Melgisedek, die koninklike priester van die stad Salem, Abraham se oortuiging bevestig dat dit die allerhoogste God was wat vir hom en sy magte geveg het en hom die oorwinning gegee het. Koning-Priester Melgisedek het nie Jehovah se aandeel in die saak verklein nie.
Die boek van Jehovah se Oorloë
10. Waar word daar die eerste keer in die Bybel van oorlog melding gemaak, en waarom was dit net die begin van die oorloë wat Jehovah gewen het?
10 Die beskrywing in Genesis 14 van die inval in die Beloofde Land en hoe Abraham die gewapende invallers verslaan het, is die eerste keer dat daar van oorlog in die Heilige Skrif melding gemaak word. Meer as vier eeue voor Jehovah se daad by die Rooi See het hy dus getoon dat hy ’n stryder, ’n “krygsman”, is. Maar dit was net die begin. Baie groter en oortuigender oorwinnings sou volg, onder andere ’n finale oorwinning tydens hierdie “voleinding van die stelsel van dinge”.—Mattheüs 24:3, NW.
11. Wat is “die boek van die Oorloë van Jehovah”, maar waar anders is daar ’n oorvloed van verslae oor sy militêre prestasies?
11 Volgens wat in Numeri 21:14 opgeteken is, is ’n “boek van die Oorloë van Jehovah” geskryf. Hierdie betroubare verslag, of geskiedenis, van God se oorloë ten behoewe van sy volk, het moontlik begin met hierdie geveg ten behoewe van die getroue Abraham. Moses het van hierdie boek geweet maar gee ons geen verdere besonderhede daaroor nie. Ons word dus nie ingelig oor al die maniere waarop Jehovah gedurende die tyd wat deur daardie boek van die Oorloë van Jehovah gedek word, getoon het dat hy ’n krygsman is nie. Maar die grootste deel van die Heilige Bybel is geskryf vandat daardie boek gemeld is en dit gee ons baie verslae oor Jehovah se militêre prestasies.
Die Grotere Melgisedek—’n krygsman
12. Watter groter Ampsdraer van die allerhoogste God is deur Melgisedek voorafgeskadu, en watter psalm van Dawid is aan hierdie persoon as priester en krygsman gerig?
12 Nadat Abraham Kedor-Laomer en sy bondgenootkonings verslaan het, het Melgisedek hom geseën. Koning-Priester Melgisedek het profeties Iemand voorafgeskadu wat die Hoëpriester van die allerhoogste God, sowel as ’n magtige krygsman wat deur die Allerhoogste gesteun word, sou wees. Psalm 110, wat onder inspirasie deur die stryder-koning Dawid geskryf is, word tot hierdie Een wat groter as Melgisedek van Salem is, gerig wanneer dit sê: “U magtige septer sal die HERE uitstrek uit Sion en sê: Heers te midde van u vyande. Die HERE het gesweer, en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisedek. Die Here aan u regterhand verbrysel konings op die dag van sy toorn.”—Psalm 110:2, 4, 5.
13. As wie word die Een wat groter is as Melgisedek in Hebreërs hoofstukke 7 en 8 geïdentifiseer, en in watter heilige plek het hy ingegaan en met watter soort offer?
13 Die geïnspireerde skrywer van die boek Hebreërs het die identiteit van die Een tot wie hierdie woorde in werklikheid gerig is, geopenbaar toe hy gesê het: “Jesus [het] as voorloper vir ons ingegaan . . . , Hy wat volgens die orde van Melgisedek ’n hoëpriester geword het vir ewig” (Hebreërs 6:20). In die volgende hoofstuk van Hebreërs word Melgisedek van die ou tyd se grootheid verduidelik. Maar sy grootheid as priester word nietemin oortref deur die Een wat hy voorafgeskadu het, die verrese, verheerlikte Jesus Christus, wat in die heilige teenwoordigheid van Jehovah self ingegaan het met die waarde van ’n offer van veel groter waarde as enigiets wat Koning-Priester Melgisedek van Salem ooit kon aanbied.—Hebreërs 7:1–8:2.
14. Het die Grotere Melgisedek die geestelikes van die Christendom die reg gegee om aan die militêre ondernemings van sogenaamd Christelike nasies deel te neem?
14 Die koninklike priester Melgisedek het ’n krygsman, die seëvierende Abraham, geseën. Maar wat van die Grotere Melgisedek, die Stigter van die ware Christelike godsdiens? Die geestelikes van die Christendom beweer dat hulle Jesus Christus verteenwoordig wanneer hulle die leërs van sogenaamd Christelike nasies seën en vir hulle bid. Maar het Jehovah se Hoëpriester in die hemel die geestelikes in hierdie opsig gesteun? Het hy dus verantwoordelikheid aanvaar vir al die bloedvergieting wat gedurende die sogenaamde Christelike Eeu plaasgevind het, onder andere die bloed wat gedurende die Eerste en Tweede Wêreldoorlog vergiet is? Beslis nie! Hy het sy ware dissipels nooit die opdrag gegee om ’n deel van hierdie wêreld te word en aan sy bloedvergietende militarisme deel te neem nie.
Die Stryder-God maak ’n heerlike naam vir homself
15, 16. Wat het Jehovah vir homself gemaak toe hy vir sy volk geveg het om hulle uit Egipte te verlos?
15 Nehemia 9:10 praat van Jehovah se verlossing van die 12 stamme van Israel uit Egipte en sê: “U het tekens en wonders gedoen aan Farao en aan al sy dienaars en aan die hele volk van sy land; want U het geweet dat hulle vermetel teen hulle [die Israeliete] gehandel het, en U het vir U ’n Naam gemaak soos dit vandag is.”—Vergelyk Exodus 14:18.
16 Die profeet Jesaja praat van die kwaliteit van hierdie naam wanneer hy van Jehovah praat as die een “wat sy heerlike arm laat trek het aan die regterhand van Moses; wat die waters voor hulle uit gekloof het, om vir Hom ’n ewige Naam te maak”. En teenoor Jehovah sê hy: “Só het U u volk gelei, om vir U ’n heerlike Naam te maak” (Jesaja 63:12-14). Toe Daniël Jehovah gesmeek het om weer eens ten behoewe van sy volk op te tree, het hy hom aangespreek as die een “wat u volk uit Egipteland met ’n sterke hand uitgelei het en vir U ’n Naam gemaak het soos dit vandag is”.—Daniël 9:15; Jeremia 32:20.
17. Wie sal Jehovah uitstuur om in sy naam te veg, en wat sal hy dus aan al die nasies van vandag toon?
17 Jehovah God sal Jesus Christus, die Grotere Melgisedek, op die regte tyd as ’n kragtige krygsman uitstuur. Jehovah sal deur middel van hom vir homself ’n naam maak wat alles in die verlede, soos dit in die boek van die Oorloë van Jehovah of in die Hebreeuse Skrifte van die Heilige Bybel beskrywe is, oortref. In die laaste hoofstuk van die voorlaaste boek van die Hebreeuse Skrifte word ’n internasionale aanval teen Jerusalem voorspel. Volgens Sagaria 14:3 sal Jehovah dan “uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog”. Sodoende sal die God van die Bybel aan al die nasies van vandag toon dat hy nog die Stryder-God is wat hy in die dae van eertydse Israel was.
18, 19. Watter Jerusalem sal die skyf van ’n hewige aanval deur al die nasies wees?
18 Dit is iets wat nog voorlê. Maar watter Jerusalem sal so hewig aangeval word? Die Jerusalem van Sagaria se dag het nie die vervulling van daardie profesie beleef nie. Daardie stad is in 70 G.J. deur die leërs van Rome vernietig. Maar Jerusalem is herbou en vandag beskou die Christendom sowel as die vleeslike nasie Israel dit as heilig. In die Sesdaagse Oorlog van 1967 het vleeslike Israel die hele herboude aardse Jerusalem beset. Daar is egter glad geen bewys dat Jehovah God aan die stryd deelgeneem het nie. Sy gekroonde Koning, Jesus Christus, heers nie in aardse Jerusalem nie, en dit is nie meer ‘die stad van die groot Koning’, van Jehovah, nie.—Mattheüs 5:35.
19 Nee, hierdie amptelike hoofstad van die Joodse lid van die Verenigde Volke is nie die Jerusalem waarvan Sagaria se profesie praat nie. Sagaria praat eerder van die Jerusalem waarvan ons in die boek Hebreërs lees. Daar praat Paulus met gesalfde Christene en sê: “Julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele” (Hebreërs 12:22). Hierdie hemelse Jerusalem is niks anders as God se Messiaanse Koninkryk nie, wat vandag op aarde verteenwoordig word deur ’n klein groepie gesalfde Christene wat die hoop koester om medeheersers van Jesus Christus in daardie Koninkryk te wees. Hulle sal die skyf van die voorspelde aanval wees.
20. Watter woorde het koning Hiskia aan sy bedreigde volk gerig sodat hulle daarop kon steun, en op die woorde van watter Koning wat groter is as Hiskia steun Jehovah se Getuies vandag?
20 Maar hierdie persone en die groot menigte Christene met ’n aardse hoop wat uit al die nasies gekom het om saam met hulle ware aanbidding te beoefen hoef nie die uitslag van hierdie aanval te vrees nie. Toe die skrikwekkende leër van Sanherib, die koning van Assirië, gedurende die heerskappy van koning Hiskia teen Jerusalem gekom het, is die bedreigde Israeliete ’n kalmerende beskouing van die situasie gegee toe koning Hiskia vir hulle gesê het: “By hom is ’n vleeslike arm, maar by ons is die HERE onse God om ons te help en ons oorloë te voer!” Die gevolg was dat ‘die manskappe gesteun het op die woorde van Jehiskia, die koning van Juda’ (2 Kronieke 32:8). Wanneer die nasionale magte van hierdie wêreldstelsel Jehovah se hedendaagse Getuies bedreig, kan hulle op soortgelyke woorde van ’n koning groter as Hiskia, Jesus Christus, steun.
21. (a) Waarom sal die woorde van Jahasiël gedurende die komende aanval op Jerusalem onthou word? (b) Wat sal die gevolg wees van die slag wat dan sal plaasvind?
21 In daardie tyd sal ons die geloofversterkende woorde van Jahasiël die Leviet onthou: “Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die HERE by julle, Juda en Jerusalem! Vrees nie en wees nie verskrik nie; trek môre teen hulle uit, en die HERE sal met julle wees” (2 Kronieke 20:17). Ja, Jehovah sal deur daardie hele moeilike tyd met sy volk wees. Hulle veiligheid en redding sal daarvan afhang dat hy vir hulle veg. En dit sal hy beslis doen, deur middel van sy Stryder-koning, Jesus Christus! Die gevolg? Die algehele vernietiging van die Duiwel se sigbare organisasie op aarde.—Openbaring 19:11-21.
22. (a) Wat sal die triomfantlike slot van die boek van die Oorloë van Jehovah wees, en wat sal Jehovah daardeur vir hom maak? (b) Wat sal liefhebbers van Jehovah se naam weens sy oorwinning beweeg word om te doen?
22 Wat ’n heerlike naam sal God tog vir hom maak deur sy ontsagwekkende oorwinning in hierdie “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by Armageddon! (Openbaring 16:14, 16). ’n Nuwe hoofstuk sal as ’t ware by die boek van die Oorloë van Jehovah gevoeg word. Dit sal ’n triomfantlike slot, ’n grootse finale wees wat hierdie stelsel van dinge betref. Die hele boek sal toon dat die almagtige God nog nooit ’n geveg verloor het nie. Met watter vreugde sal liefhebbers van Jehovah se naam hom tog daarna loof! Dan sal die laaste vers van die boek Psalms inderdaad op ’n grootse manier vervul word: “Laat alles wat asem het, Jah loof! Loof Jah!”—Psalm 150:6, NW.
Hersieningsvrae
◻ Wat besef min mense vandag oor die God van die Bybel, Jehovah?
◻ In watter oorlog het Abraham geveg, en wie het aan hom die oorwinning gegee?
◻ Wat is “die boek van die Oorloë van Jehovah”?
◻ Wat sal die slot van “die boek van die Oorloë van Jehovah” wees, en wat sal die gevolg daarvan wees?