Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 8/15 bl. 4-7
  • Moet die noodlot jou lewe oorheers?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet die noodlot jou lewe oorheers?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Fatalisme se implikasies en God se eienskappe
  • Fatalisme en die feite
  • Fatalisme se dodelike gevolge
  • Oorheers geloof in die noodlot jou lewe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Is geloof aan die noodlot ’n Bybellering?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Is dit die noodlot of blote toeval?
    Ontwaak!—1999
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 8/15 bl. 4-7

Moet die noodlot jou lewe oorheers?

DIE enigste mens op die lys wat nie aan fatalisme geglo het nie, was Jesus Christus. Wat was sy beskouing?

Die eerste-eeuse biografieë van Jesus (die Bybelboeke Mattheüs, Markus, Lukas en Johannes) wys op sy oortuiging dat mense hulle toekoms, oftewel wat met hulle gebeur, kan beïnvloed.

Jesus het byvoorbeeld gesê dat God “goeie dinge gee aan die wat Hom bid” en die persoon wat “volhard tot die einde toe, hy sal gered word”. Toe Jerusalem se inwoners die waarskuwings geïgnoreer het waardeur hulle lewe gered kon word, het Jesus nie die noodlot vir hulle reaksie blameer nie. Inteendeel, hy het gesê: “Julle wou nie.”—Mattheüs 7:7-11; 23:37, 38; 24:13.

Ons kan ook uit Jesus se woorde oor ’n noodlottige ongeluk in Jerusalem sien wat sy beskouing was: “Daardie agttien op wie die toring van Siloam geval en hulle gedood het—dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon? Nee, sê Ek vir julle” (Lukas 13:4, 5). Let daarop dat Jesus nie die dood van daardie 18 mans aan die noodlot toegeskryf het nie, en hy het ook nie gesê dat hulle gesterf het omdat hulle goddeloser as ander was nie. Jesus het eerder geleer dat die mens sy persoonlike toekoms kan beïnvloed, in teenstelling met die Fariseërs wat die noodlot met geloof in die mens se wilsvryheid probeer versoen het.

Jesus se apostels het eweneens geleer dat redding vir almal beskikbaar is. Die apostel Paulus het geskryf: “Jy [ken] van kleins af die heilige Skrifte . . . wat jou wys kan maak tot saligheid [“redding”, NW].” En die apostel Petrus het gesê: “Vorm soos pasgebore babas ’n verlange na die onvervalste melk wat tot die woord behoort sodat julle deur middel daarvan tot redding kan groei.” (2 Timotheüs 3:15; 1 Petrus 2:2, NW; sien ook Handelinge 10:34, 35; 17:26, 27.) Hastings se Encyclopædia of Religion and Ethics sê dat tweede- en derde-eeuse skrywers soos Justinus, Origines en Ireneus ‘niks van onvoorwaardelike voorbestemming geweet het nie; hulle het wilsvryheid voorgestaan’.

Maar as so baie mense, onder andere baie Jode om hulle, aan verskillende vorme van fatalisme geglo het waarom het Jesus en die vroeë Christene nie geglo dat die mens se lot vasgestel is nie? Een rede is dat die idee deurspek is met probleme. Ons noem twee: Fatalisme strook nie met Jehovah God se eienskappe nie; dit word deur vasstaande feite weerlê. Daarbenewens kan dit jou huidige en jou toekomstige lewe in gevaar stel. As jy dit ondersoek, sal jy sien waarom dit so is.

Fatalisme se implikasies en God se eienskappe

Die filosoof Zeno van Citium het sy leerlinge in die derde eeu v.G.J. in Athene geleer om te “aanvaar dat die Noodlot se besluit op die een of ander verborge manier die beste is”. Maar Zeno het voor die implikasies van sy eie filosofie te staan gekom toe hy eendag agterkom dat sy slaaf gesteel het. Hoe so? Toe hy die dief slaan, het die slaaf gesê: “Maar dit was voorbeskik dat ek moes steel.”

Zeno se slaaf het gelyk gehad. As jy glo dat elkeen se lewenspatroon vooraf bepaal is, en jy verkwalik ’n man omdat hy ’n dief word, is dit soos om ’n lemoenpit te verkwalik omdat dit ’n lemoenboom word. Die man en die saad ontwikkel tog maar net volgens ’n program. Maar wat is die uiteindelike implikasie van so ’n redenasie?

Wel, as misdadigers bloot hulle noodlot volg, is die een wat hulle lot bepaal het vir hulle dade verantwoordelik. Wie sou dit wees? Fataliste sê dit is God self. As jy hierdie redenasie heelwat verder voer, moet God dus die Oorsaak wees van al die boosheid, geweld en verdrukking wat die mens nog ooit gepleeg het. Aanvaar jy dit?

’n Artikel in die Nederlands Theologisch Tijdschrift sê so ’n fatalistiese beskouing “impliseer ’n beeld van God wat, ten minste vir Christene, verwerplik is”. Waarom? Omdat dit die beeld van God wat deur geinspireerde Bybelskrywers aangebied word, weerspreek. Kyk byvoorbeeld na hierdie aanhalings uit die geïnspireerde boek Psalms: “U is nie ’n God wat behae het in goddeloosheid nie.” “Sy siel haat . . . die wat geweld liefhet.” “Hy [God se aangestelde Messiaanse Koning] sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld” (Psalm 5:5; 11:5; 72:14). Dit is duidelik dat fatalisme se implikasies en God se eienskappe heeltemal strydig is met mekaar.

Fatalisme en die feite

Maar wat van natuurrampe? Is hulle nie voorbeskik en gevolglik onafwendbaar nie?

Wat toon die feite? Let op die bevindings van ’n studie oor die oorsaak van natuurrampe, volgens ’n berig in die Nederlandse koerant NRC Handelsblad: “Tot dusver is aardbewings, oorstromings, grondstortings en siklone . . . altyd as natuurfratse beskou. Maar nadere ondersoek toon dat drastiese mense-inmenging in die natuur die omgewing se vermoë om homself teen sulke rampe te beskerm ernstig benadeel het. Gevolglik eis natuurrampe meer lewens as ooit.”—Ons kursiveer.

Die oorstroming in Bangladesj wat in die vorige artikel genoem is, is ’n goeie voorbeeld. Wetenskaplikes sê nou “die vernietiging van groot woudgebiede in Nepal, Noord-Indië en Bangladesj was ’n groot faktor by die oorstromings wat Bangladesj in die laaste jare teister” (Die tydskrif Voice). ’n Ander berig sê dat ontbossing veroorsaak het dat die oorstromings in Bangladesj toegeneem het van een oorstroming elke 50 jaar tot een elke 4 jaar. Soortgelyke mense-inmenging in ander wêrelddele het ewe rampspoedige gevolge gehad—droogtes, bosbrande en grondstortings. Ja, mense se dade—nie die raaiselagtige noodlot nie—veroorsaak of vererger dikwels natuurrampe.

Aangesien dit die geval is, moet mense se dade ook die teenoorgestelde doen: rampe teëwerk. Is dit die geval? Beslis. Beskou hierdie feite: UNICEF (die Verenigde Volke se kinderfonds) berig dat honderde kinders in die binneland van Bangladesj al jare lank blind word. Is dit deur die onveranderlike noodlot veroorsaak? Glad nie. Nadat werkers van UNICEF moeders oortuig het om hulle gesin nie net rys nie maar ook vrugte en groente te gee om te eet, het die oogkwaal begin afneem. Hierdie verandering van dieet het nou al honderde kinders in Bangladesj van blindheid gered.

Mense wat nie rook nie, leef eweneens gemiddeld drie tot vier jaar langer as rokers. Motorpassasiers wat sitplekgordels dra, het minder noodlottige ongelukke as dié wat dit nie dra nie. Dit is dus duidelik dat jou eie dade—nie die noodlot nie—jou lewe beïnvloed.

Fatalisme se dodelike gevolge

Soos reeds genoem is, kan fatalisme ook jou lewe kortknip. Hoe? Waar dit “grusamer voorbeelde van fatalisme” bespreek, sê The Encyclopedia of Religion: “In die Tweede Wêreldoorlog het ons Japannese selfmoordaanvalle met torpedo’s en selfmoorde in SS-kwartiere (Schutzstaffel-kwartiere) gedurende Hitler se regime gesien weens ’n beskouing oor die noodlot (Schicksal) wat kwansuis ver verhewe is bo die waarde van individuele menselewens.” En meer onlangs, sê dieselfde bron, “het godsdienstig geïnspireerde selfmoordaanvalle op teikens wat as bedreigings vir die Islam beskou word . . . amper daagliks in koerantberigte oor die Midde-Ooste verskyn”. Volgens sulke berigte het duisende jong soldate in die stryd getree met die oortuiging dat “as dit nie geskryf staan dat ’n mens gaan sterf nie, jy niks sal oorkom nie”.

Maar selfs gerespekteerde Moslemonderrigters maak beswaar teen sulke onverskillige gedrag. Een kalief het byvoorbeeld gesê: “Die een wat in die vuur is, moet hom by die wil van God berus; maar die een wat nog nie in die vuur is nie, hoef nie self daarin te spring nie.” Dit is jammer dat baie soldate nie die kalief se raad aangeneem het nie. Gedurende byna agt jaar van oorlog het daar nagenoeg 400 000 Iranese gesneuwel—meer oorlogslagoffers as wat die Verenigde State in die Tweede Wêreldoorlog gehad het! Dit is dus duidelik dat fatalisme jou lewe kan verkort. Dit kan selfs jou toekomstige lewe in gevaar stel. Hoe?

Aangesien ’n fatalis glo dat die toekoms so onvermydelik en onveranderlik is as die verlede, kan hy maklik ’n gevaarlike eienskap aankweek. Watter eienskap? Die Encyclopedia of Theology antwoord: “Die persoon . . . voel hulpeloos, ’n onbeduidende, ontbeerlike faktor in skynbaar onvermydelike maatskaplike prosesse. Dit veroorsaak ’n willoosheid wat alte gretig die bygelowige verklaring aangryp dat alles op ’n ontwykende maar almagtige noodlot berus.”

Wat maak willoosheid so gevaarlik? Dit lei dikwels tot ’n verlammende moedeloosheid. Dit kan die fatalis verhinder om enige inisiatief te neem of selfs om hierdie wonderlike uitnodiging van God te aanvaar: “o Almal wat dors het, kom na die waters . . . Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe” (Jesaja 55:1-3). As geloof in die noodlot die oorsaak is dat iemand nie “kom” en “luister” nie, sal dit tot gevolg hê dat hy nie die geleentheid kry om vir ewig in die komende, herstelde Paradys op aarde te “lewe” nie. Wat ’n hoë prys!

Waar staan jy dan? As jy in ’n gemeenskap grootgeword het waar fatalistiese idees die basis van mense se denke vorm, het jy dalk die oortuiging aangeneem sonder om dit te bevraagteken. Maar die argumente wat in hierdie artikel bespreek is, het jou moontlik gehelp om te sien dat jou huidige en jou toekomstige lewe grootliks deur jou eie dade bepaal word.

Soos jy gesien het, toon logika, die feite en bowenal die Heilige Skrif dat jy nie voor dodelike moedeloosheid moet swig nie. Ons moet eerder doen wat Jesus gesê het: “Stry hard om in te gaan deur die nou poort” (Lukas 13:24). Wat het hy bedoel? Een Bybelkommentator verduidelik: “Die woord [vir ‘stry hard’] word aan die Griekse spele ontleen. In hulle wedlope . . . het hulle gestreef, of gestry, of al hulle kragte ingespan, om te wen.” Pleks van tou op te gooi in die lewe, het Jesus ons aangespoor om niks minder as die oorwinning na te streef nie!

Skud dus alle willoosheid af wat deur geloof in die noodlot veroorsaak word. Begin die wedloop van die lewe hardloop soos God se Woord maan, en moenie toelaat dat fatalisme jou terughou nie. (Sien 1 Korinthiërs 9:24-27.) Versnel die pas deur spoedig te reageer op die geïnspireerde uitnodiging: “Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag.” Hoe kan jy daardie keuse doen? “Deur die HERE jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang.” As jy dit doen, sal dit tot oorwinning lei, want Jehovah sal “jou lewe en die lengte van jou dae” wees.—Deuteronomium 30:19, 20.

[Prent op bladsy 7]

Moses het nie die noodlot verkondig nie, maar het gesê: “Kies dan die lewe, dat jy kan lewe.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2021)
    Teken af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2021 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel