Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 10/15 bl. 22-25
  • “Staan vas as een kudde” in Tsjaad

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Staan vas as een kudde” in Tsjaad
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • In Ndjamena
  • Op pad na Pala
  • Die ywerige groep in Kélo
  • Koumra, Doba en Bongor
  • Verenig al is hulle afgeleë
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 10/15 bl. 22-25

“Staan vas as een kudde” in Tsjaad

Net soos hulle mede-Christene oor die wêreld heen waardeer Jehovah se Getuies in Tsjaad die jaarlikse byeenkomste wat vir hulle geestelike opbouing gereël word. Hier is die beskrywing van ’n reis na ’n reeks spesiale byeenkomsdae wat in die suide van hierdie ingeslote sentraal-Afrikastaat gehou is.

Weens die afstande en reisprobleme word byeenkomste in Tsjaad gewoonlik in klein groepies gehou en word die tyd wanneer hulle gehou word deur die weer bepaal. Van Junie tot September maak die reënseisoen dit moeilik en in sommige gebiede selfs onmoontlik om te reis. Die spesiale byeenkomsdae word gehou na die swaar reëns verby is. Die vakansieseisoen aan die einde van die jaar is gerieflik vir die groter streekbyeenkoms. En voordat die reëntyd in Junie weer begin, word die tweedaagse kringbyeenkomste gehou.

DIT was ’n warm en bedompige Sondagmiddag. Die Koninkryksaal in Ndjamena, die hoofstad van Tsjaad, was stampvol met 184 aanwesig. Ondanks die hitte het hulle met gespanne aandag geluister na die hooftoespraak: “Staan vas in een gees.” Daardie oggend was hulle verheug om te sien hoe drie individue hulle toewyding aan Jehovah God deur waterdoop simboliseer. Dit was die eerste van ses spesiale byeenkomsdae wat ek en ’n plaaslike reisende opsiener bevoorreg was om te bedien.

Die 267 Getuies in Tsjaad het die tema van die reeks: “Staan vas as een kudde” veral waardeer. Hulle woon ver van mede-Christene in ander lande af. Maar die feit dat hulle dieselfde geestelike voedsel ontvang en dat daar op dieselfde manier na hulle omgesien word, spoor hulle aan om eendragtig saam met hulle broers wêreldwyd aan te hou werk. Die praktiese raad van hierdie program het hulle ook versterk om vas te staan teen die sluwe invloed van Satan se wêreld en die winde van vervolging of teenstand.

In Ndjamena

Die eerste gemeente van Jehovah se Getuies in Tsjaad is in 1964 in Ndjamena gestig. Tans is daar meer as 90 verkondigers van die goeie nuus van die Koninkryk in die gemeente. Dit was ’n genot om jou oog oor die gehoor te laat gaan en so baie te sien wat al sedert die begin van die werk in Tsjaad steeds getrou dien. Een broer het drie vrouens gehad toe hy aanvanklik die waarheid van die Bybel leer ken het. Hy het spoedig besef dat hy sy lewe na Bybelstandaarde moet skik. Hy het wettig met sy eerste vrou getrou en van die ander geskei, maar reëlings getref om vir hulle te sorg. Hy is in 1973 gedoop en is sedertdien bedrywig in die diens.

Een ouere man wat ’n deel op die program gehad het, het ’n kwaai geloofstoets deurgemaak. In 1975 het die destydse regering dit verpligtend gemaak om aan sekere gebruike deel te neem wat op dodeverering gegrond is; enigeen wat geweier het om dit te doen, kon tereggestel word. Toe die broer vasgestaan en geweier het om sy geloof te verloën, het die owerheid na hom begin soek. Slegs ’n verandering in die regering op daardie kritieke tydstip het hom gered.

Op pad na Pala

Na Ndjamena het die reis na die suide begin om die vyf ander byeenkomste te gaan bedien. Ons het die roete dikwels vantevore gevolg, maar net gedurende die droë seisoen. Hierdie keer, laat in September teen die einde van die reënseisoen, was alles groen en welig. Dit was ’n aangename tyd om te reis. Ons het by een giersland na die ander verbygery. Die are aan die lang stingels aan weerskante van die pad was aan die ryp word. Hulle sou binnekort geoes, gedroog en in die keëlvormige kleigraanhouers geberg word wat oral op die platteland gesien kan word. Giers is die hoofvoedsel van die meeste Tsjadiërs. Hulle stamp dit fyn in ’n groot houtvysel met ’n stamper wat dikwels langer is as die persoon wat dit gebruik. Dan word die meel met kookwater gemeng en in ’n bol gevorm om saam met ’n sous geëet te word wat van okra of grondboontjies gemaak word.

Ons het al hoe meer katoenlande gesien namate ons verder suid gereis het. Omdat die terrein in hierdie deel van die land plat is, het dit gelyk of die lande wat in blom gestaan het tot aan die horison strek. Binnekort sou hele gesinne in die lande wees om katoen met die hand te oes. Katoen is die vernaamste kontantproduk in Tsjaad. In 1988 is daar 133 000 ton geoes. Laat die middag het ons by die Lérémeer verbygery. Hier is die landstreek bergagtig en baie skilderagtig, veral hierdie tyd van die jaar. Omdat ons net op die regte tydstip daar was, kon ons vars karp koop wat ons sommer daar langs die pad gebraai het. Dit was ’n ete wat enige gasheer met trots sou voorsit.

Een ding wat dit moeiliker maak om gedurende hierdie seisoen te reis is die versperrings wat hulle oor die paaie plaas om die verkeer te stop as dit reën. Waarom? Om die paaie te beskerm. Ons hart het dus in ons skoene gesak toe ons bemerk dat die lug vorentoe skielik inkswart word. Die vooruitsig om in die reën langs die pad kamp op te slaan, het ons beslis nie aangestaan nie. En nog belangriker, ons sou dan laat wees vir die volgende spesiale byeenkomsdag. Gelukkig het die swaarste neerslag van hierdie laat reën nie op die pad uitgesak nie. Hoewel ons by verskeie versperrings ’n ruk lank moes wag, het ons laat daardie nag veilig en wel in Pala, ’n dorp met sowat 32 000 inwoners, aangekom. Wat ’n verruklike gesig het op ons gewag! Na die reën was die sterre en die Melkweg ’n skouspelagtige gesig in die maanlose hemelruim; ’n asemrowende gesig wat die meeste stadbewoners nooit te siene kry nie. Dit het ons herinner aan die rede waarom ons vasstaan—om die Grootse Skepper van die wonderlike heelal te eer.

Twee gemeentetjies en ’n afgesonderde groep het in Pala byeengekom. Drie jong broers het meer as 100 kilometer ver na hierdie byeenkoms toe geloop. Aangesien die byeenkomste in die suide klein is en daar min ouere manne is, is daar by die byeenkoms in Ndjamena opnames van dele van die program gemaak en hier voorgespeel. Dit verseker ’n hoëgehalteprogram selfs wanneer die bywoningsyfer klein is. Ons was verheug dat daar een doopkandidaat was.

Die ywerige groep in Kélo

Daarna was dit ’n kort reis na Kélo, waar 194 die program die Sondag bygewoon het. Talle gesinne met klein kindertjies het meer as 30 kilometer ver geloop om die byeenkoms by te woon. Twee pas toegewyde persone is gedoop. Gedurende die droë seisoen is die doopplegtigheid dikwels ’n probleem as die byeenkoms nie naby ’n rivier gehou word nie; daarom moes ’n hele aantal mense al in ’n vaatjie gedoop word. Maar die feit dat ons teen die einde van die reënseisoen daar was, het sake vergemaklik. Die broers moes nietemin meer as 20 kilometer ver ry om ’n geskikte doopplek te vind.

Een van die doopkandidate was ’n jong meisie wie se geloof swaar beproef is. Haar familie het haar ten huwelik beloof aan ’n man wat nie daarin belanggestel het om die Bybel te bestudeer nie. Boonop het hy ook verkies om volgens stamgebruike eerder as deur ’n wettige huwelik verenig te word. Omdat hy bereid was om ’n groot bruidsprys te betaal, het haar familie groot druk op haar uitgeoefen. Sy moes selfs ’n tyd lank op ’n ander plek gaan bly om die onskriftuurlike verbintenis wat haar familie wou bewerkstellig te vermy. Sy het deur al hierdie druk heen vasgestaan en goeie vordering gemaak. Vandat sy gedoop is, het die familie hulle teenstand gestaak. Ons dank Jehovah dat ons sulke getroues onder ons het.

Die broers hier het ander redes om Jehovah dankbaar te wees. Tsjaad het eers onder ’n wrede burgeroorlog en toe, in 1984, onder ’n ernstige hongersnood gely. ’n Plaaslike ouere man vertel dat hy op een stadium gedurende die hongersnood in die Koninkryksaal rondgekyk het en gewonder het of enige van diegene wat daar teenwoordig was nog oor ’n paar maande sou lewe. Maar Jehovah se organisasie het hulp in die vorm van voedsel voorsien en hulle benarde toestand verlig. Hulle waardering daarvoor word nou deur hulle ywerige diens weerspieël. Daar heers ’n sterk pioniergees in Kélo. Gedurende Oktober 1989 het meer as ’n derde van die Koninkryksverkondigers hulle sake so gereël dat hulle voltyds aan die predikingswerk kon deelneem.

Hulle ondervinding tydens die hongersnood het hulle geleer dat hulle ook vrygewig moet wees. Verlede jaar het ’n ouere man in die gemeente skielik siek geword en gesterf. Hy het ’n gesin van nege kinders, waarvan die jongste slegs ’n paar maande oud was, nagelaat. Sy vrou moes familiedwang om aan rouritusse deel te neem wat dodeverering insluit, trotseer. Die broers het aan haar die nodige ondersteuning gegee sodat sy die kwaai druk kon weerstaan. Toe het die gemeente saamgespan en vir haar en die jonger kinders ’n huis gebou, benewens ander materiële hulp wat hulle aan haar verleen het. Dit was gevolglik ’n baie goeie getuienis vir die dorp en het getoon watter geluk dit meebring wanneer Christelikheid beoefen word.—Handelinge 20:35.

Koumra, Doba en Bongor

Die volgende plek waarheen ons gegaan het, was Koumra. Gruispaaie het die reis van 300 kilometer baie makliker gemaak. Onderweg het ons deur die stad Moundou, ’n nywerheidsentrum met oor die honderdduisend inwoners, gery. Een-en-sewentig het die byeenkoms in Koumra bygewoon. ’n Jong broer wat nooit enige formele skoolopleiding ontvang het nie, het van die verhoog af gepraat. Hy het verduidelik hoe die program om te leer lees en skryf wat in die Koninkryksaal aangebied word, hom gehelp het en hom die nodige selfvertroue gegee het. Hy hou tans Bybelstudies met vier ander persone.

Na die spesiale byeenkomsdag in Koumra het ons teruggedraai in die rigting van Ndjamena, onderweg na Doba, die volgende plek wat ons sou aandoen vir die vyfde byeenkoms in ons reeks. Van die byeenkomsgangers is deur ’n laat reën oorval en moes die nag langs die pad deurbring. Almal het nogtans betyds aangekom vir die begin van die program in Doba. Een-en-vyftig was teenwoordig, en een persoon het hom laat doop.

Laastens is ons na Bongor. Dit is ’n gebied waar rys verbou word, en ons het ons verwonder oor hoe plat die terrein is. Die opkoms by Bongor het die totaalsyfer van diegene wat die program in Tsjaad gehoor het op 630 te staan gebring. En met nog twee wat gedoop is, is daar altesame nege persone gedoop.

Met ons aankoms terug in Ndjamena het ons ’n reis van bykans 2 000 kilometer voltooi. Dit was ’n genot om met knegte van God om te gaan wat al baie jare lank vasstaan, asook om talle nuwelinge te ontmoet wat wonderlike vooruitgang maak. Hulle ywer in die bediening was veral bemoedigend. Gedurende Oktober 1989 was daar ’n nuwe hoogtepunt van 267 verkondigers in Tsjaad, ’n 20-persent vermeerdering vergeleke met die vorige jaar.

Verenig al is hulle afgeleë

Ons reis deur die land het ons laat besef wat ’n groot uitdaging dit is om die goeie nuus te verkondig in ’n land waar daar meer as 200 tale gepraat word. Frans en Arabies is nou wel die ampstale van Tsjaad, maar by al die spesiale eendagbyeenkomste moes die program uit Frans in ’n ander taal getolk word. En tog kon baie wat na ’n byeenkoms gekom het, nie die taal van daardie streek praat nie; dus was dit nog ’n probleem om hulle te help om die program te volg.

Oral waar ons besoek afgelê het, het ons broers en susters ons gasvry ontvang. Die maaltye het gewoonlik uit ’n giers- of rysmeelbol en ’n kruiesous, waarvan ons vroeër melding gemaak het, bestaan. Soms het ’n jong meisie die kos op ’n skinkbord wat met ’n helderkleurige doek bedek was, gebring. Die skinkbord is grasieus op haar kop gebalanseer, en ’n mens moes haar grasie bewonder.

Die bevolking in die noorde van Tsjaad is oorwegend Moslems; die mense in die suide is hoofsaaklik Katolieke, Protestante of animiste. Die regering handhaaf ’n beleid van godsdiensvryheid, en ons is bly dat ons vryelik kan byeenkom.

Die spesiale byeenkomsdagprogram het die klein groepie Getuies in Tsjaad gehelp om te besef dat hulle waarlik in een kudde met hulle broers in ander dele van die wêreld verenig is, al is hulle geografies so ver van hulle af. Dit het hulle gehelp om ‘in een gees vas te staan’ ondanks die druk en teenstand wat hulle ondervind.—Filippense 1:27.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel