Vrae van lesers
◼ In Romeine 8:27 vertaal die New World Translation die Griekse woord froʹne·ma met “bedoeling” (Engels, “meaning”), maar in verse 6 en 7 word dit met “bedink” (Engels, “minding”) vertaal. Waarom is dieselfde Griekse woord op verskillende maniere vertaal?
Die konteks bepaal die twee vertalings wat gekies is.
Die Voorwoord van die New World Translation of the Christian Greek Scriptures (1950) het gesê: “Ons het aan elke belangrike woord een betekenis toegeken en het daarby gehou sover die konteks dit toegelaat het.” Party mense sal froʹne·ma nie as ’n belangrike woord beskou nie, want dit kom net vier maal voor. Dit is egter verwant aan woorde wat meer dikwels gebruik word. Een is fro·neʹo, wat beteken “om op ’n sekere manier te dink, ingestel te wees” (Mattheüs 16:23; Markus 8:33; Romeine 8:5; 12:3; 15:5, NW). Ander verwante Griekse woorde bevat die gedagte om praktiese wysheid en verstandigheid aan die dag te lê.—Lukas 1:17, NW; 12:42; 16:8; Romeine 11:25; Efesiërs 1:8.
The Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scriptures toon dat froʹne·ma vier maal in Romeine 8:6, 7, 27 voorkom en dat sy letterlike betekenis deurgaans “bedink” (Engels, “minding”) is. Grekiste Bauer, Arndt en Gingrich verduidelik froʹne·ma as: ‘denkwyse, geestesgesteldheid, doelstelling, begeerte, strewe’.—A Greek-English Lexicon of the New Testament and Other Early Christian Literature.
In Romeine hoofstuk 8 het die apostel Paulus Christene vermaan om nie volgens die onvolmaakte menslike vlees te wandel nie. Om dit te kan doen, moet hulle teen die neigings of begeertes van die vlees waak, sowel as teen die redenasies van ’n onvolmaakte hart. As hulle die dinge “bedink” wat in ooreenstemming is met God se heilige gees sal dit hiermee help.—Romeine 8:1-5.
Paulus het hierdie teenstelling gemaak: “Want wat die vlees bedink, beteken die dood, maar wat die gees bedink, beteken lewe en vrede; want wat die vlees bedink, beteken vyandskap teen God, omdat dit nie onderworpe is aan die wet van God nie” (Romeine 8:6, 7, NW). Hierdie twee verse praat van mense. Mense, veral Christene, moet nie hulle gedagtes op die dinge van die gevalle vlees rig, of sulke dinge “bedink” nie. Pleks daarvan moet hulle hul gedagtes rig op, of die dinge “bedink”, wat in ooreenstemming is met die gees en daardeur gestimuleer word.
Daarteenoor praat vers 27 van God self. Ons lees: “Tog weet hy [Jehovah] wat die harte deursoek, wat die bedoeling van die Gees is, want hy pleit in ooreenstemming met God vir heiliges” (NW). Ja, die “hy” wat hier genoem word, is Jehovah, die Hoorder van die gebed.
Die woord froʹne·ma kon in vers 27 as “bedink” (Engels, “minding”) vertaal word. Maar heilige gees is nie ’n persoon wat werklik dink of sy eie denkwyse het nie. Die gees is die werkende krag van God, wat weet hoe sy heilige gees werk om sy wil uit te voer. Daarbenewens verskil die gedagte van hierdie vers van dié van Romeine 8:6, 7. Daardie vroeëre verse het beklemtoon hoe nodig dit is dat mense hulle gedagtes en dade beheers. Maar Jehovah hoef nie te werk, of te sukkel, om homself te beheers nie. Hy weet wat onder inspirasie in die Bybel opgeteken is, soos Bybelse uitdrukkings wat sy wil vir sy aardse knegte toon. Dr. Heinrich Meyer lewer die volgende kommentaar op Romeine 8:27: “God sou in elke geval weet wat die doel van die Gees is.”
Gevolglik is die vertaling “bedoeling” in ooreenstemming met die konteks of strekking van Romeine 8:27, en dit word deur die Grieks toegelaat. The Translator’s New Testament gee dit soos volg weer: “Hy wat harte deursoek, weet wat die Gees beteken.”
◼ Waarom vertaal die New World Translation die Griekse woord pi·steuʹo soms met “glo” (soos die meeste ander vertalings) en ander kere met “geloof beoefen [of stel] in”?
Dit word gedoen om verskillende fyn betekenisverskille wat in die Griekse woord pi·steuʹo bevat word oor te dra.
Byvoorbeeld, A Grammar of New Testament Greek deur James Moulton sê dat die vroeë Christene “die belangrikheid van die verskil tussen blote aanvaarding . . . en persoonlike oortuiging” duidelik ingesien het. Albei hierdie gedagtes kan met die Griekse woord pi·steuʹo oorgedra word.
Die verskillende nuanses van die betekenis van pi·steuʹo moet uit die konteks afgelei word. Soms help verskillende grammatikale konstruksies ons om te sien wat die skrywer in gedagte gehad het. As pi·steuʹo byvoorbeeld bloot deur ’n selfstandige naamwoord in die datief gevolg word, vertaal die New World Translation dit gewoonlik eenvoudig met “glo”—tensy die konteks iets anders toon. (Mattheüs 21:25, 32; maar sien Romeine 4:3, NW.) As pi·steuʹo deur die woord e·piʹ, “op”, gevolg word, word dit oor die algemeen met “glo in” vertaal (Mattheüs 27:42, NW; Handelinge 16:31, NW). As dit deur eis, “aan”, gevolg word, word dit gewoonlik vertaal met “geloof beoefen in”.—Johannes 12:36, NW; 14:1, NW.
Laasgenoemde vertaling (wat ons daaraan herinner dat pi·steuʹo verwant is aan die Griekse woord piʹstis, “geloof”) is in harmonie met ’n kommentaar in An Introductory Grammar of New Testament Greek, deur Paul Kaufman. Hierdie werk sê: “’n Ander konstruksie wat algemeen is in die Nuwe Testament (veral in Johannes se Evangelie) is πιστεύω [pi·steuʹo] met εἰς [eis] en die akkusatief . . . Die hele konstruksie van εἰς plus die akkusatief moet vertaal word pleks van die voorsetsel εἰς as ’n afsonderlike woord te probeer vertaal. Geloof word beskou as ’n aktiwiteit, iets van mense doen, d.w.s., om geloof te stel in iemand.”