Jehovah het my krag gegee
Soos vertel deur Ekumba Okoka
EK IS in ’n “Christelike” huis in ’n Sentraal-Afrikaanse land gebore en het grootgeword met ’n liefde vir God. My pa was ’n ywerige lekeprediker en ek het dikwels saam met hom gegaan wanneer hy dienste in die kerk of bidure in private huise gelei het. Aangesien ek na ’n getroue jong seun gelyk het, het ander lekepredikers my gekies om langs die priester die Mis te bedien. Hulle het selfs vir my gesê dat ek waarskynlik sal studeer om self ’n priester te word.
Maar saans was ek ’n voorsanger en -danser in ’n plaaslike orkes, die Matumba-Ngomo. In daardie hoedanigheid het ek saam met die jong mans en vroue van ons gebied aan allerhande onsedelike dade deelgeneem. Maar ek het ten spyte daarvan daarna uitgesien om net een vrou te hê en uiteindelik hemel toe te gaan om saam met die “heiliges” te lewe. Ek het nie gedink dat dit nodig is om veranderinge in my lewe aan te bring nie, want volgens die Katolieke leer is my sondes elke Saterdagaand vergewe wanneer ek gaan bieg het.
Moeilikhede begin
In 1969, toe ek op kollege was, het ek pyne in my gewrigte begin voel. Ek het nie geweet wat dit veroorsaak nie, maar dit het in die maande wat gevolg het, vererger. Ondanks die feit dat my ouers bekende Katolieke was, het hulle besluit om my na verskeie fetisjiste te neem, wat gesê het dat iemand my getoor het, maar dat ek danksy hulle gebede en medisyne genees sou word. Ek het nogtans mank begin loop en teen 1970 kon ek skaars loop, selfs wanneer ek op ’n kierie geleun het. Teen daardie tyd het ek gedink dat ek nie meer lank sou kon loop nie.
In Februarie 1972 het my pa eindelik besluit om my na die hospitaal in Wembo Nyama te neem. Ek was so lank in die hospitaal dat hulle my die eienaar begin noem het! Mense het na die hospitaal gekom, hulle is genees, het weggegaan en het dan weer later met ’n ander kwaal teruggekom, en ek was nog steeds daar! My pa moes huis toe gaan vir die rysoes, maar teen hierdie tyd was ek getroud en het twee kinders gehad, en my dierbare vrou het vir my gesorg en het ’n werk gesoek sodat sy in ons behoeftes kon voorsien, al was sy maar net 21.
Ek was nietemin baie terneergedruk oor die hele situasie. Toe ek 24 was, het ek nog steeds vererger terwyl dit goed gegaan het met my vriende, van wie baie nou ’n goeie werk gehad het. Dit het vir my gelyk asof dit vir almal beter sou wees as ek my lewe neem. Gevolglik het ek al my besittings onder my kinders en my broers uitgedeel, sonder om hulle te vertel wat ek in gedagte gehad het. Ek het niks vir myself oorgehou nie, behalwe my geliefkoosde hemp waarin ek begrawe wou word.
Die begin van ’n nuwe lewe
Toe het een van Jehovah se Getuies in die bed langs my beland. Al was hy blind in die een oog en in gevaar om die gesig in die ander een te verloor, het hy gou vir my uit die Bybel oor Jehovah en die Koninkryk begin getuig. Na ’n paar dae het hy die hospitaal verlaat, maar hy het my in die sorg gelaat van ’n paar Getuies wat hom besoek het. Na verdere gesprekke moes hulle ook weggaan, maar een van hulle het aangehou om oor die pos met my te studeer. Hy het my ook verskeie publikasies vir Bybelstudie gegee, en ek het dit geniet om hulle te lees.
Sodoende het ek geestelike voedsel gekry, en my depressie het geleidelik in geluk verander. Dit het gelyk asof my kerk my al die tyd “suur” gegee het om te drink, maar nou het ek die water van die lewe in oorvloedige mate ontvang. Ek het Jehovah uit die diepte van my hart gedank omdat hy my van bygelowige oortuigings, soos die Drie-eenheid, die onsterflikheid van die siel, vrees vir die dode en vooroueraanbidding, bevry het.
Teen hierdie tyd wou ek die hospitaal verlaat. Toe hoor ek dat twee gesinne van voltydse bedienaars na Wembo Nyama aangewys gaan word en daarom het ek besluit om te bly tot hulle kom. Hoe bly was ek tog toe hulle my uiteindelik in my hospitaalbed kom opsoek het! Nou kon ek my Bybelstudie persoonlik voortsit en nie meer oor die pos nie.
Na ’n paar dae het ek hulle gevra of hulle vergaderinge in ’n Koninkryksaal hou soos ek in die tydskrifte gelees het. Hulle het my vriendelik vertel dat hulle al hulle vergaderinge hou in die hutjie waarin een van hulle bly. Hulle het ook gesê dat hulle my graag op ’n fiets daarheen sou neem! Ondanks verskriklike pyn in my ruggraat en al my gewrigte het ek al die vergaderinge met vreugde bygewoon. Toe ek aan die vereistes voldoen, kon ek selfs van April 1974 af as ’n ongedoopte verkondiger elke maand ’n rapport ingee.
Drie maande later het ek my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer. Ek het vir die mediese personeel van die hospitaal, vir die pasiënte, vir die Protestantse sendelinge wat kom besoek het en vir my familielede—ondanks die voortgesette teenstand van laasgenoemdes—getuig. Ek het in hierdie tyd getuig terwyl ek op my bed gelê het of in ’n rolstoel gery het wat die hospitaal vir my beskikbaar gestel het tot ek my eie kon koop.
Volharding het seëninge meegebring
Ondanks die teenstand van my familie het ek volgehou om in Jehovah se weg te wandel en is ek ryklik geseën. My vrou het haar standpunt vir die waarheid ingeneem en is in 1975 gedoop. Ons het besluit om in Katako Kombe te gaan woon, waar daar reeds ’n gevestigde gemeente was. My ouers was bekommerd oor ons omdat iemand vir hulle gesê het dat alle Getuies in 1975 doodgemaak sou word. Toe ons weier om op te hou om met Jehovah se Getuies om te gaan, het hulle opgehou om vir ons kos te stuur, en ons het in groot materiële nood verval. Ek onthou dat my seuntjie eenkeer van die honger inmekaargesak het nadat ons ’n dag en ’n half sonder kos was. Maar toe het ons Christenbroers vir ons vis en meel gebring. Later het my ouers ons weer begin help, maar ons broers het nooit opgehou om ons materieel by te staan nie.
In Februarie 1975 is my regterarm verlam en het dit begin uitteer. Maar ek het my geloof behou en ek was vasbeslote om aan te hou om Jehovah met vreugde te dien. Ek is bly om te sê dat my arm later weer sterk geword het, en ek kan dit vandag nog beweeg, wat my in staat stel om my Bybel oop te maak en die Genootskap se publikasies te gebruik.
Moedig voor die owerhede
In 1977 het die plaaslike kommissaris my aangekla voor die streekraad, wat kort tevore ’n spesiale pionier in ’n nabygeleë gemeente in hegtenis geneem het. Eendag het ’n soldaat met ’n dagvaarding my kom haal. Ek het saam met my gesin gebid, die gemeente aangemoedig en toe saam met hom gegaan. Danksy Jehovah se gees kon ek ’n moedige antwoord gee op die aanklagte, en na ’n lang bespreking met die burgerlike en militêre owerhede is ek saam met die spesiale pionier vrygelaat.
’n Paar maande later is ek deur ’n ander kommissaris ontbied en, met Jehovah se hulp, kon ek weer eens die goeie nuus met vreugde en vrymoedigheid verdedig. Ek het ’n lang gesprek met hierdie persoon gehad en aan die einde daarvan het hy my rolstoel persoonlik uit sy kantoor gestoot. Toe sê hy saggies: “Kom vanaand na my huis toe.” Na ’n paar besoeke kon ek ’n Bybelstudie met hom begin. Uiteindelik het ek sewe tuisbybelstudies met mense in gesagsposisies gehou. Die meeste van hulle het die gemeentelike vergaderinge wat plaaslik gereël is, bygewoon.
Spesiale diens
Ek het Jehovah gevra om my te help om, ondanks my siekte, my belofte na te kom om hom met al my krag te dien. Sonder om amptelik in te skryf het ek probeer om aan die vereistes vir ’n hulppionier te voldoen. Jehovah het my gehelp om dit reg te kry, en daarom het ek aansoek gedoen om hierdie diens van Junie tot Oktober te verrig. Toe het die Genootskap my aansoek om gewone pionierdiens aanvaar, en ek het in November 1976 met hierdie diens begin. Ek was oorstelp van vreugde toe ek in September 1977 ’n toewysing ontvang het om saam met die gemeente in Katako Kombe as spesiale pionier te dien.
Hoe kon ek dit regkry? Ek het die gebied met die hulp van my liewe vrou en die broers in die gemeente in my rolstoel gedek. Soms het ek selfs alleen uitgegaan op krukke. Een of twee maal het ek geval. Dan het ek maar net op die grond gelê en wag totdat iemand wat verbygaan my ophelp en my krukke vir my teruggee. Ek het altyd die vasberadenheid van Jesus se apostels en dissipels onthou (Handelinge 14:21, 22; Hebreërs 10:35-39). Elke keer as ek geval het, het ek gebid dat Jehovah my nie ontmoedig sal laat word nie, maar my eerder die krag sou gee om aan te hou om hom te dien. Ek het altyd die wonderlike belofte onthou wat in die profesie van Jesaja opgeteken is, dat “die lamme [sal] spring soos ’n takbok”.—Jesaja 35:6.
Hoe meer ek my diens vergroot het, hoe meer kon ek my fisiese gebreke te bowe kom. Ek het in 1978 die voorreg gehad om die Koninkryksbedieningskool in Lubumbashi by te woon, wat beteken het dat ek altesaam 2 000 kilometer per vragmotor, boot en trein moes reis. Jehovah het werklik vir hierdie reis sterkte vir my vermenigvuldig (Jesaja 12:2; 40:29). Nou kan ek selfs—met groot moeite—tot 100 meter ver loop sonder krukke. Ek is oortuig dat Jehovah my gebed destyds in 1973 verhoor het en my die krag gegee het om hom met vasberadenheid te dien.
Nuwe toewysing
In 1984, na sewe jaar in die gemeente in Katako Kombe, het ek ’n nuwe toewysing ontvang om saam met die Lodja-Centre-gemeente te werk. ’n Jaar later het ons ’n nuwe boekstudie 12 kilometer daarvandaan begin, en kort daarna nog een 30 kilometer van daardie een af. Hierdie laasgenoemde groep is gou as ’n afgesonderde groep erken en in 1988 is dit as ’n gemeente aanvaar, waar ek tans as ouere man dien.
Die pionierdiens was baie goed vir my, in geestelike en fisiese sin. As ek op my krukke velddiens doen, kan ek die oefeninge doen wat die dokters vir my aanbeveel het. Ek is nou baie sterker as toe ek begin pionier het, en my begeerte is om met hierdie werk tot die einde toe vol te hou. Ek is gretig om te sien hoe Jehovah my sal help om te “spring soos ’n takbok” in ’n tyd wanneer ek nie meer die skerp pyne van hierdie siekte hoef te verduur nie.
Met my hele hart dank ek ons hemelse Vader, wat my krag, moed en die voltydse diens gegee het. Ek is nou 36 jaar oud, en na 11 jaar in die pionierdiens hoop ek om voort te gaan, wat die toekoms ook al inhou. Ek is vasbeslote om al my lewenskrag te gebruik om die groot God Jehovah te loof en te prys.