Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 12/15 bl. 15-20
  • Moedig mekaar aan namate die dag nader kom

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moedig mekaar aan namate die dag nader kom
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Aangespoor deur die goddelike naam
  • Vervul met vreugde en heilige gees
  • Alle rede om aangemoedig te wees
  • Weerstaan ontmoediging van die Duiwel
  • Stel vaste vertroue in Christus se offerande
  • Aanmoediging namate die dag nader kom
  • Wat kan omtrent ontmoediging gedoen word?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Moedig mekaar al hoe meer aan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Hou aan om mekaar elke dag aan te moedig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
  • Spoor aan tot liefde en voortreflike werke—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 12/15 bl. 15-20

Moedig mekaar aan namate die dag nader kom

“Laat ons mekaar vermaan [“aanmoedig”, “NW”], en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”—HEBREËRS 10:25.

1, 2. Watter dag kom nader, en wat moet die gesindheid van Jehovah se volk wees?

DIEGENE wat vandag sê: ‘Kom en neem van die water van die lewe’, sonder hulle nie af nie. Terwyl die groot dag van Jehovah se oorwinning nader kom, pas hulle die Bybelse raad toe wat sê: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan [“aanmoedig”, NW], en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”—Hebreërs 10:24, 25.

2 Die Skrif profeteer van daardie “dag” as “die dag van die Here” (2 Petrus 3:10). Aangesien Jehovah die Allerhoogste, die almagtige God, is, kan geen dag sy dag oorskadu nie (Handelinge 2:20). Dit beteken die handhawing van sy soewereiniteit as God van die hele heelal. Daardie dag van ongeëwenaarde belangrikheid kom nader.

3. Hoe het Jehovah se dag vir die Christene in die eerste eeu nader gekom, en hoe vir ons wat vandag lewe?

3 Die apostel Paulus het Christene in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling vertel dat Jehovah se dag nader kom. Hulle het na die koms van daardie dag uitgesien, maar daardie dag was destyds meer as 1 900 jaar in die toekoms (2 Thessalonicense 2:1-3). Ten spyte daarvan is hulle aangemoedig deur die feit dat daardie dag beslis sou kom, en as die Christene in daardie oortuiging volhard het, sou hulle daardie geseënde dag ingaan (2 Timotheüs 4:8). Destyds het hulle daardie dag sien nader kom. Jehovah se dag het vir ons wat vandag lewe inderdaad nader gekom. Al die wonderlike vervullings van Bybelprofesieë staaf hierdie verblydende feit. Die naam van ons God, Jehovah, sal binnekort tot in alle ewigheid geheilig word.—Lukas 11:2.

Aangespoor deur die goddelike naam

4. Wie gaan volgens Openbaring 19:6 Koning word, en hoe weet ons wat sy naam is?

4 Die hele mensegesin moet belangstel in die goddelike naam. Today’s English Version sê: “Prys God! Want die Here, ons almagtige God, is Koning!” (Openbaring 19:6). Volgens daardie 20ste-eeuse Bybelvertaling is hy die Here, die almagtige God. Daardie vertaling, soos baie ander moderne vertalings, verstrek nie die naam van die goddelike Wese wat as Koning begin heers nie. Die goddelike naam word egter ingesluit in die uitroep “Halleluja!” (“Prys Jah”, of “Prys Jehovah”) wat in die Afrikaanse Bybel, die Revised Standard Version, die New International Version en in Moffatt se vertaling van Openbaring 19:6 gevind kan word. Vir die grootste gedeelte van ons Gewone Jaartelling is die goddelike naam in werklikheid in Bybelvertalings verswyg. Maar soos ons sal sien, het daardie naam God se volk grootliks aangemoedig, in eertydse sowel as hedendaagse tye.

5, 6. (a) Waarom moes Moses die naam ken van die God wat hy verteenwoordig het? (b) Hoe moes dit die Israeliete geraak het toe Moses die goddelike naam beklemtoon het?

5 Ons sal onthou dat die vraag oor wie Moses gestuur het by die volk opgekom het toe die allerhoogste God Moses na die nasie Israel gestuur het wat in Egipteland in slawerny was. Moses het verwag dat die lydende Joodse volk sou wou weet wat die naam van die God is wat hy verteenwoordig. In hierdie verband lees ons in Exodus 3:15: “Toe sê God weer eens vir Moses: ‘Dit moet jy vir die seuns van Israel sê: “Jehovah, die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur.”’ Dit is my naam tot onbepaalde tyd, en dit is die gedagtenis aan my van geslag tot geslag.”—NW.

6 Toe hierdie inligting vir die Israeliete beklemtoon is, het dit hulle beslis grootliks bemoedig. Die enigste ware God, Jehovah, het hulle van verlossing verseker. En hoe aanmoedigend was dit tog om die vooruitsig te hê om God te leer ken op ’n tydstip toe hy die betekenis van sy persoonlike naam sou demonstreer—en hom nie hooghartig sou afsonder nie!—Exodus 3:13; 4:29-31.

7. (a) Hoe weet ons dat Jesus se dissipels die goddelike naam geken het? (b) Hoe is God se naam op die agtergrond geskuif?

7 Die dissipels van die Heer Jesus Christus is ook grootliks aangemoedig deur die goddelike naam, Jehovah, en wat dit verteenwoordig het (Johannes 17:6, 26). Gedurende Jesus se aardse bediening het hy die goddelike naam beslis nie op die agtergrond geskuif nie, en dit was nie sy doel dat sy eie naam, Jesus, voorrang moes geniet nie. Eers na die begin van die voorspelde afvalligheid van die ware Christelike geloof is die goddelike naam op die agtergrond geskuif, ja, is dit feitlik uit Christelike gesprekke uitgewis (Handelinge 20:29, 30). As die naam van die Seun van God eers groter prominensie gegee word as dié van die Vader, sodat Sy naam oorskadu word, sou naam-Christene vind dat hulle aanbidding van die Vader al hoe onpersoonliker word, dat dit die hegtheid van ’n gesin kortkom en gevolglik nie juis baie aanmoedigend is nie.

8. Wat was die volgehoue uitwerking van die aanvaarding van die naam Jehovah se Getuies op God se volk?

8 Daarom was daar rede vir onuitspreeklike vreugde toe die Internasionale Bybelstudente wat met die Wagtoringgenootskap geassosieer was in 1931 die naam Jehovah se Getuies aangeneem het. Dit was nie net verblydend nie, maar dit was ook uiters aanmoedigend. Derhalwe kon die Bybelstudente met hulle nuwe naam mekaar aanmoedig.—Vergelyk Jesaja 43:12.

9. Hoe voel ware Christene oor die Een van wie hulle Getuies is?

9 Ware Christene van vandag vind dit dus gepas om die Een wie se voorspelde Getuies hulle is te identifiseer, soos Jesus Christus hulle Leier gedoen het toe hy hier op aarde was (Openbaring 1:1, 2). Ja, hulle identifiseer hom alleen as die een wie se naam Jehovah is.—Psalm 83:18, NW.

Vervul met vreugde en heilige gees

10-12. (a) Wat sou die uitwerking van die werkende krag op Jesus se navolgers wees? (b) Hoe wil die vreugdevolle Getuies van Jehovah mekaar behandel?

10 Jesus Christus het in sy afskeidswoorde aan sy apostels gesê: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”—Mattheüs 28:19, 20.

11 Let op dat pas opgeleide Christene in die naam van die heilige gees gedoop moes word. Hierdie heilige gees is nie ’n persoon nie, maar is die werkende krag van Jehovah God, wat hy deur middel van Jesus Christus gebruik. Met Pinkster het Jehovah God, deur Jesus, hierdie werkende krag op die toegewyde volgelinge van Jesus Christus uitgegiet (Handelinge 2:33). Hulle is met hierdie heilige gees vervul, en een van die blyke, of vrugte, van die heilige gees is vreugde (Galasiërs 5:22; Efesiërs 5:18-20). Vreugde is ’n stimulerende eienskap. Die dissipels moet met die vreugde van die heilige gees vervul word. Die apostel Paulus se gebed is uiters gepas: “Mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!”—Romeine 15:13.

12 Omdat die hedendaagse Getuies van Jehovah, met inbegrip van die “groot menigte”, met hierdie verblydende gees vervul is, sal hulle mekaar in hierdie onvriendelike stelsel van dinge wil aanmoedig, ja, hulle sal beweeg word om dit te doen. Daarom praat die apostel Paulus van “’n uitwisseling van aanmoediging”.—Openbaring 7:9, 10; Romeine 1:12, NW; 14:17.

Alle rede om aangemoedig te wees

13. Watter redes het ons om aangemoedig te wees en om mekaar aan te moedig?

13 Aangesien Christene hulle te midde van hierdie stelsel van dinge bevind waarvan die heerser en god die een is wat alles teenstaan wat regverdig is, moet hulle mekaar in die wêreldwye Christengemeente, wat vervul is met die heilige gees van Jehovah God, aanmoedig (Hebreërs 10:24, 25; Handelinge 20:28). Ons het alle rede om aangemoedig te wees. Ja, hoe dankbaar is ons tog dat ons juiste kennis het van Jehovah en van Sy Seun en van die werkende krag wat hulle gebruik, die heilige gees! Hoe dankbaar is ons tog vir die hoop wat hulle bied! Ons aanbidding is dus met vreugde vervul. Die apostel Paulus het vir die Christene aan wie hy sy brief gerig het, gesê dat hulle mekaar moet aanmoedig en opbou in hulle allerheiligste geloof. Hulle moes dit ‘des te meer doen namate hulle figuurlik sien hoe die dag nader kom’. Daarbenewens, wanneer die politieke magte van hierdie aarde die sogenaamde Christelike godsdiens, en al die ander valse godsdienste, uitwis, sal die situasie vereis dat ons mekaar selfs meer moet aanmoedig.

14. Wie moet mekaar aanmoedig, en hoe?

14 Terwyl die ouere manne die leiding neem om die kudde in hulle afsonderlike gemeentes aan te moedig, moet alle Christene mekaar aanmoedig, soos Hebreërs 10:25 ons vermaan. Trouens, dit is ’n Christelike vereiste. As jy ’n lid van ’n gemeente is, gee jy hierdie aanmoediging? Jy wonder dalk: ‘Hoe kan ek? Wat kan ek doen?’ Ten eerste, word al die ander broers en susters nie deur jou blote teenwoordigheid by vergaderinge en jou ondersteuning van die Christelike reëling aangemoedig, net soos jy ook aangemoedig word wanneer jy ander sien wat die gemeentelike vergaderinge getrou bywoon nie? Hulle kan ook aangemoedig word deur jou voorbeeld van getroue volharding. Jy kan ’n besielende voorbeeld stel as jy in die Christelike lewenswandel volhard, en ondanks die probleme en moeilikhede van die lewe nie moed opgee nie.

Weerstaan ontmoediging van die Duiwel

15. Waarom het die Duiwel “groot woede”, en vir wie?

15 Ons is nie die enigste persone wat weet dat Jehovah se dag naby is nie. Satan die Duiwel weet dit ook. Openbaring 12:12 vertel ons dat daar nou wee vir die aarde is, “want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het”. Soos Openbaring 12:17 toon, is sy groot woede gemik teen diegene “wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou”. Dit ly geen twyfel nie—die Duiwel wil ons ontmoedig! En hy weet net hoe om dit te probeer doen. Hy ken ons swakhede en probleme, en hy spits hom daarop toe.

16. Waarom gebruik Satan ontmoediging as ’n wapen?

16 Waarom gebruik die Duiwel ontmoediging as ’n wapen? Omdat dit dikwels werk. Selfs iemand wat direkte teenstand en vervolging verduur het, kan ’n slagoffer van ontmoediging word. Satan wil Jehovah God smaad en probeer bewys dat hy kan veroorsaak dat mense Hom ophou dien. (Spreuke 27:11; vergelyk Job 2:4, 5; Openbaring 12:10.) As hy jou kan ontmoedig, sal hy jou moontlik in jou diens aan God laat verslap; hy kan selfs veroorsaak dat jy ophou, dat jy nie meer aan die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk deelneem nie.—2 Korinthiërs 2:10, 11; Efesiërs 6:11; 1 Petrus 5:8.

17. Hoe was die negatiewe gevolge van ontmoediging in Moses se dag sigbaar?

17 Die negatiewe gevolge van ontmoediging kan gesien word in die geval van die Israeliete in eertydse Egipte. Nadat Moses met Farao gepraat het, het daardie tiran hulle las vergroot en hulle selfs meer verdruk. God het vir Moses gesê om die Israeliete te verseker dat Hy hulle beslis sou verlos, hulle Sy volk sou maak, hulle die uitkoms sou bied en hulle na die land van die belofte sou bring. Moses het die kinders van Israel hiervan vertel. Maar Exodus 6:8 berig: “Hulle het nie na Moses geluister nie, uit ongeduldigheid [“ontmoediging”, NW] en weens die harde diens.” Hierdie reaksie het selfs Moses ontmoedig om met Farao te praat soos hy beveel is, totdat Jehovah Moses oortuig en aangemoedig het.—Exodus 6:9-12.

18. Waarom is daar ’n groot behoefte dat God se volk ontmoediging wat deur die Duiwel veroorsaak word, moet teëwerk?

18 Satan die Duiwel weet goed watter negatiewe uitwerking ontmoediging op ’n kneg van God kan hê. Soos Spreuke 24:10 sê: “Het jy jou ontmoedig betoon op die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees” (NW). Aangesien ons so diep in die tyd van die einde lewe, moet ons geestelik sterk wees. Dit is erg genoeg dat ons teen ons onvolmaakthede, swakhede en foute wat ons kan terughou, moet stry; maar omdat Satan hierdie foute probeer uitbuit, het ons hulp nodig.

Stel vaste vertroue in Christus se offerande

19. Wat sal ons help om ontmoediging teë te werk, en waarom?

19 ’n Groot hulp in hierdie verband is die voorsiening van die losprys wat Jehovah deur middel van Jesus Christus gemaak het. Ons kan oorwinnaars wees deur vaste vertroue in die losprys aan te kweek. Dit is gevaarlik om hierdie voorsiening gering te skat. Ja, solank ons onvolmaak is, sal ons nog altyd te kort skiet, of sondig. Maar ons hoef nie ontmoedig te raak en moed op te gee, te voel dat daar geen hoop is en sodoende in Satan se strik trap nie. Ons weet dat ons ’n volle offer vir sondes het. Die losprys kan sondes verwyder. As ons van die “groot menigte” is, moet ons vaste geloof en vertroue daarin hê dat ons ons klere in die bloed van die Lam kan was en wit maak.—Openbaring 7:9, 14.

20. Hoe toon Openbaring 12:11 dat die groot ontmoediger, die Duiwel, oorwin kan word?

20 In Openbaring 12:10 word Satan beskryf as “die aanklaer van ons broeders . . . wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag”. Hoe kan ons so ’n bose aanklaer en haatlike ontmoediger oorwin? Vers 11 van daardie hoofstuk gee die antwoord: “Hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.” Jehovah se volk moet gevolglik vaste vertroue in die losprysoffer, die bloed van die Lam, behou. Hou die aanmoediging wat van die getuieniswerk kom sterk en neem gereeld daaraan deel om almal wat jy kan van die goeie nuus van God se Koninkryk te vertel.

21. Hoe kan ons onwetend ’n deel hê aan die Duiwel se werk om ons broers te ontmoedig?

21 Soms kan ons selfs onwetend ’n deel hê aan die Duiwel se werk om ons broers te ontmoedig. Hoe? Deur te krities te word, te veeleisend te wees of deur alte regverdig te wees (Prediker 7:16). Ons het almal tekortkominge en swakhede. Ons moenie ons aandag soos die Duiwel daarop toespits nie. Ons moet eerder aanmoedigend van ons broers en van Jehovah se volk as ’n georganiseerde groep praat. Ons wil aanhou om mekaar aan te moedig en mekaar sodoende nooit ontmoedig nie.

Aanmoediging namate die dag nader kom

22, 23. (a) Waarom moet ons dit nie net aan die ouere manne oorlaat om bronne van aanmoediging te wees nie? (b) Hoe kan opsieners in die Christengemeente aangemoedig word?

22 Ons moet dit ons vaste voorneme maak om mekaar altyd aan te moedig namate die dag nader kom. Moedig ander aan deur jou getroue voorbeeld en woorde van vertroosting. Boots Jehovah en die Heer Jesus Christus in hierdie opsig na. Moet dit nie net aan die gemeentelike ouere manne oorlaat om die bron van aanmoediging te wees nie. Selfs ouere manne het aanmoediging nodig. Hulle het swakhede, net soos die res van die kudde, en hulle het met dieselfde probleme te kampe om in ’n verdorwe wêreld in die behoeftes van hulle gesinne te voorsien. Daarbenewens het hulle wat Paulus beskryf het as die sorg vir die gemeentes (2 Korinthiërs 11:28, 29). Hulle het ’n groot werk—hulle het aanmoediging nodig.

23 Julle kan diegene wat die leiding neem in die Christengemeente grootliks aanmoedig deur met hulle saam te werk. Dan sal julle die raad van Hebreërs 13:17 volg: “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers [“diegene wat onder julle die leiding neem”, NW] en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.”

24. Wat moet ons in hierdie dag van ontmoediging doen, en waarom?

24 Ons lewe in ’n dag van ontmoediging. Mense se harte beswyk inderdaad van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom, net soos Jesus voorspel het (Lukas 21:25, 26). Aangesien daar soveel probleme is wat ’n mens kan terneerdruk en ontmoedig, moet ons “mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate [ons] die dag sien nader kom”. Volg die apostel Paulus se goeie raad in 1 Thessalonicense 5:11: “Bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen.”

Hoe sou jy antwoord?

◻ Waarom moet Christene mekaar aanmoedig, selfs meer as voorheen?

◻ Hoe het kennis van die goddelike naam Jehovah se volk aangemoedig?

◻ Hoe kan ons mekaar aanmoedig?

◻ Waarom moet ons dit vermy om ’n deel te hê aan die Duiwel se werk om ons broers te ontmoedig?

[Prent op bladsy 17]

Ouere manne neem die leiding om die kudde in hulle gemeentes aan te moedig

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel