Die losprys—die Christendom se verlore leerstelling
DIE losprys, die opvatting dat Jesus in ruil vir die sondige mensdom gesterf het, is grondliggend tot die ware Christelike godsdiens. Tog kritiseer die Christendom se teoloë al lank die onderwerp en dryf die spot daarmee.
Waarom is dit so? Jesus het tog self in Markus 10:45 gesê: “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.”
Sommige het al beweer dat Jesus nooit daardie woorde geuiter het nie, dat dit ná sy dood onder die apostel Paulus se invloed versin is. Ander voer aan dat “losprys” hier beeldspraak is of dat die leerstelling van die Griekse mitologie kom! Gevolglik het die losprys feitlik uit die kerkleer verdwyn.
Maar jy wonder heel moontlik hoe vroeë Christene Jesus se dood verstaan het. Paulus sê vir ons in 2 Korinthiërs 5:14, 15: “Die liefde van Christus dring ons, omdat ons van oordeel is, dat een [mens, “NW”] vir almal gesterf het . . . sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.” Hoe sprekend eenvoudig was hierdie leerstelling tog—heeltemal vry van die ingewikkelde veranderings wat dit later uit die hand van kerkteoloë sou ondergaan.
Is dit moontlik dat Paulus hierdie leerstelling versin het? Nee, want hy verduidelik in 1 Korinthiërs 15:3: “In die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte.” Dit is duidelik dat Christene lank voor Paulus sy sendbriewe geskryf het reeds verstaan het dat Jesus se dood ’n offerdood was, ’n werklike prys wat betaal is om die sondige mensdom vry te koop, ’n losprys. Soos Paulus toon, het hulle boonop verstaan dat Christus se dood “die Skrifte” vervul het, dit wil sê, profesieë soos Psalm 22 en Jesaja 53 in die Hebreeuse Geskrifte, of “Ou Testament”.
Onbeantwoorde vrae
As jy die feite self wil ondersoek, sal jy vind dat afvallige leringe destyds kort na die apostels se tyd in die Christelike godsdiens ingesypel het (Handelinge 20:29, 30; 2 Timotheüs 4:3, 4). Tog het geloof in die losprysoffer van Christus voortbestaan, soos die geskrifte van vroeë Kerkvaders toon. Maar toe sommige latere teoloë in die losprysleerstelling gedelf het, het hulle met ’n paar moeilike vrae vorendag gekom, soos: Aan wie is die losprys betaal? En waarom was hierdie betaling nodig?
In die vierde eeu G.J. het Gregorius van Nyssa en ander die beskouing verduidelik dat die losprys aan Satan die Duiwel betaal is! Satan, het hulle geredeneer, het ’n houvas op die mens gehad, en hy is ’n losprys betaal om die mensdom te bevry. Maar ’n tydgenoot, Gregorius van Nazianze, het ’n baie groot leemte in hierdie teorie gesien. Dit het geïmpliseer dat God iets aan die Duiwel verskuldig was—hoe absurd tog! Die gedagte van ’n losprys wat aan die Duiwel betaal is, het nietemin veld gewen en eeue lank bestaan.
Kon die losprys aan God self betaal gewees het? Gregorius van Nazianze het gemeen dat hierdie gedagte ook probleme skep. Aangesien ‘ons nie in slawerny aan [God] is nie’, waarom moet daar aan hom ’n losprys betaal word? En, ‘kon die Vader behae skep in die dood van sy Seun’ deur ’n losprys te vra? Oënskynlik moeilike vrae wat blykbaar twyfel gewek het oor die losprys self.
Dood van die losprys
Jou ondersoek van hierdie saak kan jou dan na die vroeë 12de eeu neem. Anselmus, aartsbiskop van Kantelberg, het hierdie vrae in sy boek Cur Deus Homo (Waarom God mens geword het) probeer beantwoord. Die boek het geleer dat Christus se dood gedien het om goddelike geregtigheid te bevredig, maar nie as ’n losprys nie. Anselmus het gemeen dat as sonde op grond van ’n losprys vergewe word sonder om goddelike geregtigheid te bevredig dit daarop sal neerkom dat die sonde nie reggestel is nie. “Maar God kan nie na behore enigiets in Sy Koninkryk verkeerd los nie”, het Anselmus gesê. Hoe het God sake dan reggestel?
Anselmus het aangevoer dat ‘sonde God tot oneer strek’ en gesê dat dit nie genoeg sou wees om “eenvoudig dít te herstel wat weggeneem is” deur Adam se sonde nie. Aangesien God beledig is, sal ’n losprys—selfs die losprys van ’n volmaakte mens—nie voldoende wees nie. “As die belediging in aanmerking geneem word”, het die geestelike aangevoer, “moet meer as wat weggeneem is, teruggegee word.” (Ons kursiveer.) Anselmus het aangevoer dat dit die dood geverg het van iemand wat “God sowel as mens” is!
Wat jou reaksie ook al op Anselmus se leer mag wees, dit het sy tydgenote oortuig en oefen in ons dag steeds ’n invloed uit. Anselmus het tegelykertyd nie alleen die Drie-eenheidsleerstelling versterk nie, maar het terselfdertyd, ten minste wat die Christendom betref, die losprys ’n doodslag toegedien! “Bevrediging” is die woord wat teoloë al hoe meer begin gebruik het, terwyl die woord “losprys” geleidelik iets onbekends geword het. Anselmus se teorieë is nietemin byna geheel en al op valse logika, nie op die Bybel nie, gebaseer. En geleerdes soos Thomas van Aquino het mettertyd met hul eie slim logika Anselmus se teorie van “bevrediging” begin weerlê. Bespiegeling het iets algemeens geword. Verlossingsteorieë het toegeneem, en die redetwis het verder van die Skrif af en dieper in menslike redenasie, filosofie en mistisisme in beweeg.
Die Hervorming en die losprys
Maar kom ons beweeg ’n bietjie nader aan ons dag. Toe die storm van die Protestantse Hervorming in die 16de eeu losgebars het, het ’n radikale groep, die Sociniane, ontstaan.a Hulle het ontken dat Jesus se dood hoegenaamd “redding vir ons verdien” en gesê so ’n opvatting is “bedrieglik, onjuis en baie verderflik . . . , teenstrydig met die Skrif en die rede” (The Racovian Catechisme). Aangesien God vryelik vergewe, is geen bevrediging van geregtigheid nodig nie. Christus se dood, het hulle beweer, verlos in die sin dat dit mense beweeg om sy volmaakte voorbeeld na te volg.
Die Katolieke Kerk, wat deur hierdie en ander ketterye aangeval is, het ’n teenaanval gemaak deur die Konsilie van Trent (van 1545 tot 1563 G.J.) te belê. Maar terwyl standpunte oor baie leerstellige kwessies ingeneem is, was die konsilie vaag en ontwykend met betrekking tot verlossing. Dit het gepraat van die ‘verdienste van Jesus Christus’ en het die woord “bevrediging” gebruik maar die woord “losprys” noulettend vermy. Gevolglik het die kerk hom glad nie tot enige duidelike skriftuurlike standpunt verbind nie. Die deur van bespiegeling het wyd oop gebly.
Waarom godsdiensleiers gefaal het
Sedert die Konsilie van Trent het teoloë—Katolieke sowel as Protestante—ontelbare verlossingsteorieë ontwikkel. (Sien venster op bladsy 7.) Maar geen eenstemmigheid oor die betekenis van Christus se dood is in sig nie. Teoloë is dit net eens betreffende hulle minagting van die skriftuurlike woord “losprys”, wat hulle verkies om te ignoreer, te kleineer of weg te praat. Die betekenis van Christus se dood word verduidelik in tegniese kliektaal, met ingewikkelde verdraaiings van bedrieglike logika en hoogdrawende woorde, soos “sedelike invloed” en “verteenwoordigende fisiese bevrediging”. Pleks van geloof in Christus se dood op te bou, het die Christendom se geestelikes sy folterpaal ’n verwarrende struikelblok gemaak.
Wat is die onderliggende rede vir hierdie volslae mislukking? Katolieke teoloog Bonifacius A. Willems skryf dit toe aan die feit dat teoloë “in sorgvuldig bewaakte afsondering opgelei” word—te ver verwyderd van die ware behoeftes van mense.b Sou jy nie met daardie beoordeling saamstem nie? Maar Jeremia 8:9 gaan verder en wys op die ware kern van die probleem: “Kyk, hulle het die woord van die HERE verwerp, en watter wysheid sou hulle hê?”
Die leerstelling van die losprys kan weliswaar ’n paar moeilike vrae laat ontstaan (2 Petrus 3:16). Maar pleks van antwoorde in die Skrif te soek, het teoloë menslike wysheid en logika gebruik (1 Korinthiërs 1:19, 20; 2:13). Hulle het hulle die reg aangematig om al die dele van die Bybel te verwerp wat nie by hulle opvattinge—of teorieë—pas nie (2 Timotheüs 3:16). Hulle het onskriftuurlike leerstellings, soos die Drie-eenheidsleerstelling, bevorder (Johannes 14:28). En hulle grootste mislukking is dat hulle die redding van die mens die belangrikste gemaak het, terwyl hulle belangriker geskille wat om God se naam en Koninkryk gaan, geïgnoreer het.—Mattheüs 6:9, 10.
’n Voorstander van die losprys
Sit nou asseblief jou ondersoek in die laat negentiende eeu voort. ’n Godvresende man genaamd Charles Taze Russell het hom van die hoofstroomteologie afgeskei en hierdie tydskrif—Die Wagtoring—begin uitgee. “Dit was van die begin af”, het Russell gesê, “’n spesiale voorstander van die Losprys.”
Die Wagtoring doen tot vandag toe steeds dieselfde. Dit gee al meer as honderd jaar lank betroubare skriftuurlike redes om aan die losprys te glo, en dit gee redelike, skriftuurlike antwoorde op die argumente van kritici. Ons nooi jou dus om weer eens te kyk na wat die Bybel oor die dood van Jesus en die betekenis daarvan sê.
[Voetnote]
a Sien “Die Sociniane—Waarom het hulle die Drie-eenheid verwerp?” in ons medetydskrif die Ontwaak! van 22 November 1988.
b Let egter op Willems se eie teorie in die venster hierbo.
[Venster op bladsy 7]
’N PAAR VOORBEELDE VAN VERLOSSINGSTEORIEË
◻ REKTORALE OF REGERINGSTEORIE: Die Nederlandse teoloog Hugo Grotius het dit in die 17de eeu ontwikkel om die Sociniane se teorieë te weerlê. Grotius het Christus se dood “as ’n soort wetlike transaksie beskou, waar God die rol van Rektor of Regeerder vervul en die mens dié van boosdoener”.—Hastings se Encyclopœdia of Religion and Ethics.
◻ NOODSAAKLIKE VERSOENINGSTEORIE: Protestantse teoloog Clarence H. Hewitt het in 1946 daarmee vorendag gekom. Hy het Christus se werk nie beskou as die betaling van die een of ander wetlike boete nie, maar dat dit ‘ons vrymaak van die oorheersing van die wet van sonde en die dood en tot bekering en godvrugtige berou beweeg, en ons sodoende in ’n posisie voor God stel waar ons vergifnis kan ontvang’.
◻ VERLOSSING DEUR CHRISTELIKE BROEDERSKAP: Rooms-Katolieke teoloog Bonifacius A. Willems (1970) stel “verlossing” gelyk daarmee dat ons “van ons egoïsme moet afsien en ons harte vir mekaar moet oopmaak”. Hy voeg by: “Die Christelike gedagte van substitusie of plaasvervangende lyding is dat ’n mens weet dat jy in solidariteit verbind is met die deur sonde geteisterde mensegeslag. . . . Die Kerk is dan die broederskap van diegene wat gereed is om in spesiale diens ter wille van ander te lewe.”
◻ SONDEBOKTEORIE: Katolieke teoloog Raymund Schwager het in 1978 daarmee vorendag gekom. Hy het die gedagte verwerp dat God “’n oog vir ’n oog sal vra”. Hy beskou Christus se offerande as ’n soort reiniging wat die mensegemeenskap in staat stel om uiting te gee aan sy ingebore gewelddadige neigings—en sodoende daarvan ontslae te raak.
◻ SOSIO-POLITIESE VERLOSSING: Baptisteteoloog Thorwald Lorenzen het in 1985 geskryf: “God verlang nie net godsdienstige vergifnis vir die sondaar nie, maar ook politieke bevryding vir die armes en onderdruktes. . . . Die dood van Jesus openbaar dus ’n God wat besorg is oor die genesing van alle aspekte van die menselewe.”
[Prent op bladsy 5]
Protestantse en Katolieke teoloë het talle teorieë oor verlossing en die losprys ontwikkel, maar wat leer die Bybel?