Die lig word gebring na afgeleë plekke in Bolivia
NOORD en oos van Bolivia se majestueuse berge lê uitgestrekte tropiese laaglande, oortrek met welige plantegroei. Dit word gesny deur onstuimige riviere wat kronkel deur oerwoude en pampas. Hoe is dit om die goeie nuus van die Koninkryk in sulke afgeleë gebiede te verkondig?
Verbeel jou jy ry in ’n groot kano wat van ’n uitgeholde boomstam gemaak is en van agter deur ’n motor aangedryf word. Dit was die ondervinding van ses voltydse bedienaars van Trinidad, ’n stad in die El Beni-deel van Bolivia. Hulle het hierdie tog beplan sodat hulle by riviernedersettings kon getuig wat nog nooit met die “evangelie van die koninkryk” bereik is nie (Mattheüs 24:14). Nadat hulle vaartuig ’n uitgestrekte massa glinsterende water deurklief het, het dit met ’n smal stroom langs in die rigting van die Mamoré-rivier begin vaar.
Een in die groep vertel: “Ons het amper die Mamoré bereik toe ons ontdek dat die laaste deel van die stroom droog is. Toe ons uit die boot klim, het ons tot by ons bobene in die modder weggesak! My vrou het haar skoene verloor terwyl sy probeer loskom het. Maar met die hulp van verbygangers kon ons die swaar kano uit die modder en tot op vaster grond sleep. Na twee moeisame ure het ons die Mamoré bereik.
“Ons het daarna sonder enige voorval met die rivier op gevaar, wat aan weerskante deur hoë oewers met welige tropiese plantegroei begrens is. Groot waterskilpaaie het van drywende stompe afgegly wanneer hulle die klank van die motor gehoor het, terwyl ons soms die geboë rûe van sierlike dolfyne bo die oppervlak gesien het. Ons eerste stilhouplek is aangedui deur ’n rookkolom van ’n vuur op die oewer wat aangesteek is om insekte af te weer. Nadat ons ons kano tussen ’n klomp takke vasgemeer het, het ons met die vriendelike mense oor die komende Koninkrykseëninge gepraat. Hulle het ons met vrugte en eiers oorlaai om hul waardering te toon.
“Terwyl die dag verbygegaan het, het ons by ander plekke stilgehou om meer waarheidsade te plant. Dit was donker teen die tyd dat ons San Antonio bereik het. Die dorpenaars het al gaan slaap. Maar toe hulle hoor dat ’n rolprent vertoon gaan word, het hulle hulle lampe begin aansteek. ’n Perd en ’n wa is ingespan om ons toerusting na die dorp te bring. Baie mense het deur middel van die rolprent sowel as persoonlik met Jehovah se Getuies kennis gemaak.
“Die volgende dag het ons aangehou om nuwe plekke te besoek. Op ’n hoë wal het vroue hulle klere, en selfs ’n baba, in reusagtige waterskilpaddoppe gewas. Hulle het nog nooit ons Bybelboodskap gehoor nie. Op een plek het klein vissies langsaan die boot hoog uit die water gespring, en baie het binne-in die boot beland. Nadat ons dus die rolprent vertoon het, het ons gebraaide vis geëet voor ons gaan slaap het. Teen die einde van die reis het ons baie lektuur in hierdie afgeleë gebied gelaat, en ons was tevrede dat ons baie mense gehelp het om die goeie nuus vir die eerste keer te hoor.”—Vergelyk Romeine 15:20, 21.
Getuienis van engeleleiding
Stel jou nou voor dat jy op soek is na een persoon in ’n dorp met 12 000 inwoners wat jy vir die eerste keer besoek. Buiten haar naam weet jy min van haar. Dit was die uitdaging waarvoor twee voltydse bedienaars te staan gekom het wat by Guayaramerín aangekom en gehoop het om ’n persoon te vind wat vroeër in ’n ander dorp die Bybel bestudeer en vergaderinge bygewoon het maar toe na hierdie dorp getrek het. Nadat die pionierpaar hulle bagasie by hulle verblyf besorg het, het hulle besluit om na die plaza te loop, waar daar skares mense was wat by tafels geëet of net staan en gesels het. Byna onmiddellik het ’n man die paartjie genader en ’n gesprek aangeknoop. Hulle het hom gevra of hy die vrou ken na wie hulle soek. “Nee”, het hy gesê, “maar my skoonma is een van Jehovah se Getuies.” Aangesien niemand van enige Getuies in die dorp geweet het nie, het hulle gedink dat hy dalk verward is.
Maar die volgende dag het hulle hierdie bejaarde dame besoek, wat in die bed was weens ’n gebreekte been. “Ek is een van Jehovah se Getuies, maar ek is nog nie gedoop nie”, het sy gesê. Toe hulle haar vra wie haar die waarheid geleer het, het sy na ’n portret van haar kleindogter teen die muur gewys en gesê: “Sy het.” Hulle kon skaars hulle oë glo! Dit was die jong vrou na wie hulle gesoek het! “Waarom het jou skoonseun gesê dat hy haar nie ken nie?” het hulle gevra. “O, sy is nou getroud, en hy ken net haar getroude van”, het sy geantwoord. Die kleindogter was op daardie tydstip nie daar nie, maar ’n Bybelstudie is daarna deur middel van briewe gehou. Die resultaat? Sy en haar ouma het hulle vir doop bekwaam. Hulle huis het as die Koninkryksaal vir ’n groeiende gemeente gedien, en die jonger vrou het as voltydse bedienaar baie mense na Jehovah se organisasie gerig.
Predikingswerk in die hartjie van die trope
Stel jou vervolgens voor dat jou vliegtuig neerstryk op ’n grasaanloopbaan in San Joaquín, diep in die hartjie van die Boliviaanse trope. Jy het ’n ongemaklike gevoel wanneer jy dink aan ’n geheimsinnige plaag wat, twee jaar gelede, ’n vyfde van hierdie dorp se bevolking uitgewis het.
Die pionierpaar wat per vliegtuig uit Trinidad aangekom het, het reeds ’n voorsmakie van die mense se gasvryheid gehad. Die man sê: “’n Bybelgesprek wat gedurende ons vlug gevoer is, het tot ’n uitnodiging gelei om verniet by ’n private huis te bly. Ons gashere het selfs ons etes teen ’n lae prys voorsien, wat ons in staat gestel het om al ons tyd aan ons predikingswerk te wy. Kort na ons aankoms is ons gesê om onmiddellik by die militêre barakke aan te meld. Toe die beampte uitvind dat ons nie revolusionêre is nie, maar Jehovah se Getuies, het hy buitengewone belangstelling getoon en ’n Bybel sowel as Bybellektuur geneem en op Die Wagtoring en die Ontwaak! ingeteken. Daarna het byna almal in die dorp aandagtig na die Bybel se belofte van volmaakte gesondheid in die nabye toekoms geluister.”—Openbaring 21:4.
Vier voltydse bedienaars wou van San Joaquín na San Ramón gaan, maar die enigste vervoer wat beskikbaar was, was ’n ossewa. Hulle het op lektuurkartonne gesit. Dit is spoedig uit fatsoen gedruk weens die gestamp van die tentwa met sy hoë houtwiele. Selfs die hoenders in die wa het merkbaar duiselig geword van rysiekte.
Nadat hulle tien uur lank deur die struikgewas voortgesukkel het, het hulle die punt bereik waar nie eens ’n voetpad die weg gewys het nie, en dit was besig om donker te word. Die drywer het die groep laat skrik toe hy sê: “Ek dink ons het verdwaal!” Hulle het net begin wonder: ‘Hoe kan ons in hierdie ruigte bly wat vervuil is van slange en gevaarlike wilde diere?’ toe die drywer byvoeg: “Maar moenie bekommerd wees nie. Die diere ken die pad.” Dit was so. Binne ’n uur het hulle presies by San Ramón uit die ruigte te voorskyn gekom!
Ook hier is baie dae daaraan bestee om die komende Paradys te verkondig aan ore wat nog nooit tevore daarvan gehoor het nie. Daar was geen Getuies wat hier gewoon het nie; nogtans het iets gebeur wat dit verander het.
’n Katolieke sendeling het die Getuies gevolg terwyl hulle van huis tot huis gegaan het. Op die een of ander manier het sy hulle verbygesteek, en hulle het haar raakgeloop in die volgende huis wat hulle besoek het. Hulle is verras deur haar vriendelikheid en het die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe by haar gelaat. Hoewel sy self nie werklik in die boek belanggestel het nie, het sy dit vir haar skoonsuster gegee, wat die inhoud daarvan verslind het, verder gestudeer het en later ’n gedoopte Getuie geword het.
Spanning op tropiese riviere
Stel jou nou voor dat jy aan die stuur van ’n rivierboot is en op gevaarlike, onstuimige waters vaar. Versteekte rotse, sandbanke en boomstompe, tesame met die skielike verskyning van ’n ontsaglike maalstroom, is net ’n paar van die gevare. Hierdie waters wemel van piranhas, sidderale en pylstertvisse. Dit was die uitdagings waarvoor die broers in Riberalta te staan gekom het wat vir rivierbevolkings in die gebied moes getuig.
Hulle het ’n boot genaamd Luz de los Ríos (Lig van die riviere) gebou om hierdie afgeleë plekke te bereik. Gedurende die besoek van die streek- en kringopsiener is daar besluit om die boot op ’n proefvaart te neem. Alles het goed gegaan totdat die dak aan ’n oorhangende tak vasgehaak het. ’n Sterk stroom het die boot teen ’n boom wat omgeval het, geswaai. Soos ’n swaard het ’n skerp, gebreekte tak deur die kant van die boot gesteek—en amper die streekopsiener se vrou deurboor! Water het ingestroom en die boot het omgeslaan, en sy passasiers het in die malende waters beland. Die streekopsiener en sy vrou kon boonop nie swem nie! Met die hulp van diegene wat kon swem, het hulle die oewer veilig bereik. Maar die boot het geheel en al verdwyn. Dae later is dit vyf kilometer stroom af opgespoor. Al die besittings wat daarop was, waaronder 20 kartonne lektuur, het verlore gegaan.
Die Boliviaanse vloot het gehelp om dit weer vlot te maak, en na weke van herstelwerk was die boot weer gereed om sy inwydingsvaart te voltooi. Die gespanne vaart het begin met slegte weer en motormoeilikheid.
By die eerste plek waar die broers vasgemeer het, is hulle gekonfronteer deur ’n groep Evangeliste, wat gespot het: “Julle ou bootjie is nie geskik vir hierdie rivier nie!” ’n Poging om skyfies te vertoon is gedwarsboom deur ’n stukkende kragopwekker. Terug op die rivier het die Getuies uitgevind dat ander bote verbygevaar het en oor luidsprekers gewaarsku het van die komende “valse profete”. Dit was ongetwyfeld die werk van die Evangeliste. Maar dit het net die mense se nuuskierigheid verskerp.
Hoewel hierdie besoek ’n einde gemaak het aan die valse propaganda van die eintlike valse profete, was die broers gespanne, want ’n vaart van 21 dae na Fortaleza het nog vir hulle voorgelê.
Langs die pad het hulle vir die hoof van ’n afgeleë stam getuig; hy het aandagtig geluister. ’n Bybeltoespraak wat deur een van die pioniers gehou is, het ’n groep bedroefdes in ’n afgesonderde oopte vertroos met die ware hoop vir die dode. ’n Bejaarde man met ’n lang, wit baard het sy innige waardering uitgespreek, en hy het gevra hoe hy tien jaar lank op ons tydskrif kon inteken! In Fortaleza het 120 persone voordeel getrek uit die Genootskap se skyfieprogram.
Hoe tevrede was hierdie pioniers tog dat hulle die lig van die waarheid na afgeleë plekke gebring het! Daar is ongetwyfeld geen veiliger en bevredigender manier om jou lewe te gebruik as om die Skepper van die lewe self, Jehovah God, te dien nie.—Psalm 63:4, 5.
[Kaart/Prente op bladsy 26]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
BOLIVIA
Guayaramerín
Riberalta
Fortaleza
San Joaquín
San Ramón
Trinidad
San Antonio